Klassiek reeks: Toorberg. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068785
Скачать книгу
opstal in en Ouma Magtilt is agterna. Sy kon hoor hoe Ella hardop dink in die gang af: haar en Abel se baasskap van Toorberg is vervloek. Toorberg moes na ’n ánder seun gegaan het, ’n dromer wat ook een middag om Ella se hand in die populierbos gevra het, ’n warm somersmiddag toe Abel weg was op tarentaaljag in die Vlei en toe Ella met haar gitswart oë, helder soos ’n fontein se water, gelag en gesê het: “Nee, De la Rey, ek het jou nie lief nie. My hart trek na jou broer toe, na Abel Moolman. Dis hóm wat ek wil hê.”

      Ouma Magtilt hou vir Ella dop waar sy ’n paar tree van haar af sit en kort-kort aan haar kortgeknipte hare vat. Ella het haar bos hare afgesny die oggend toe die vyf daggaplantjies blaar gewys het in die fyntuin. En as Ella oor haar dagboek buk, dink Ouma Magtilt aan al die baie woorde wat Ella daar geskryf het terwyl haar man buite in die warm son arbei en skreeu op sy werkers, die weer dophou en sy grensdrade bewaak asof hy StamAbel is. Asof die impi’s nog in die klowe skuilhou. Asof daar nog koors broei in die borrelinge van die Toorfontein.

      Al daardie woorde, Ella Coetzer, dink Ouma Magtilt, en steeds sit jy sonder nageslag. Al die dae in hierdie huis, en steeds geen erfgenaam nie. Al jou nagte alleen in die bed terwyl Abel se Land Rover voor die weduwee se huis staan vir die hele distrik om te sien, en steeds het jy nie ’n seun met die krag van ’n StamAbel nie.

      Later dwaal Ouma Magtilt na die fyntuin waar sy opeens Abel se Land Rover en stem hoor. Toe storm Ella met ’n streep bediendes op haar hakke by die agterdeur uit. Hulle hardloop met wapperende rokke en bonsende voorskote deur die hekkie wat na die populierbos lei.

      5

      Die dag waarop sy ondersoek amptelik begin, staan die magistraat vroeg op. Hy trek die gordyne van die hotelvenster oop en kyk na die gruisgat teen die koppie. Dit is vroegmôre, maar reeds kan hy die vragmotors met vragte gruis die skuinste sien uitkruie. Hy skuif die venster oop en doen sy asemhalingsoefeninge voor die oop raam. Gesonde arm hoog bokant die kop, die stompie gemaklik daarnaas; nóg komiekliker omdat hy ’n langmoufrokkie aanhet. Dan afbuk en die tone raak met die hand, die stompie swaaiend saam in die frokkiemou wat leeg voor hom flap. Dan weer, met ’n diep teug lug, opwaarts. Sodra hy begin sweet, hou hy op. Hy gaan sit op die rand van die bed en met sy middelvinger voel hy die gepols in sy stompie. Toe sy hart bedaar, haal hy die blikkie salf uit die bedkassielaai en begin dit stadig aanmasseer. Hy bad, skeer en trek hom lig maar netjies aan. Hy maak die deur agter hom toe en stap na onder. Met die afkom by die trap, kyk die ontvangsdame op na hom: hy kan nie anders as om soos ’n toeris te voel nie.

      “Môre, Edelagbare,” groet sy toe hy verbystap. Hy knik. In die eetlokaal is dit net hy en ’n jong paartjie. Nadat hy met ’n sny roosterbrood die laaste bietjie eiergeel uit sy bord opgevee het, steek hy met sy een hand behendig ’n sigaar aan. Die paartjie hou op om in mekaar se ore te fluister en kyk nou openlik nuuskierig na hom. Voor hy sy koffie klaar gedrink het, staan hulle op en stap uit. Die jong man het breë skouers en nou heupe; ook die meisie is goed gebou. Hul arms vleg inmekaar en by die deur soen hy haar op die voorkop.

      “Nog iets, Edelagbare?” vra die kelner by hom. Hy skrik; hy was reeds weer besig om vrae in sy gedagtes te formuleer. Die volledige Moolman-stamboek is op sy versoek aan hom voorgelê. Ook ander stukke – onder meer ’n verslag van die veiligheidstak oor die bedrywighede van Oneday Riet, die kleinseun van Floors Moolman. Voor sy reis en weer op die trein het hy dit sorgvuldig gememoriseer. Hy ken die stake van die stamboek paraat. Van buite kan hy StamAbel se kinders opnoem, ook die afstammelinge van sy seun Floors Moolman.

      Hy’t die vorige aand, nadat hy lank op die veranda gesit het, met skemertyd na sy kamer gestap en ’n kommissiejoernaal geopen. Agterin het hy die stamboek volledig geteken en as addendum notas aangeheg oor die enkele dokumente wat hy as vertrekpunt sou kon gebruik: die koerantberig wat net ná die insident in die plaaslike koerant verskyn het, die polisieverslag, die veiligheidstak se memorandum, twee foto’s van die toneel, ’n motiveringsverslag vir die afwesigheid van ’n ballistiese verslag, ’n beëdigde verklaring deur die plaaslike hof se beheeraanklaer en die plaaslike landdros se verslag-in-kamers.

      “Nee dankie, kelner,” sê hy. Hy laat ’n fooitjie onder sy bord en stap na buite. Hy kan voel hoe oë hom volg en hy hou in die skaduwees op pad na die hofgebou. Die ontvangsdame het ongemerk uit haar hokkie gesluip en op die hotelstoep kom staan. Gretig volg sy die gang van die afarm-magistraat en gaan teleurgesteld na haar pligte terug toe hy buite sig raak.

      By die hofgebou se voordeur stap hy onder die vlag van die Republiek deur. Later het die mense vertel dat daar dié oggend geen wind was nie, maar dat die Republiekvlag en die vlag van Justisie daarnaas uitbundig begin klapper het met sy aankoms by die hof. Hy stap verby die klerk van die hof se toonbank en volg die rigtingbordjie na die aanklaers se kantore. Wanneer hy presies vasgestel het waar dié kantore geleë is, begin hy na die landdroste se kantore soek. Toe hy dié opgespoor het, soek hy die latrine, en daarna die kinderhof, die hofselle, die karige hofbiblioteek en die parkeerterrein. Nadat hy eers ’n ruk in die deur van die blinde hoftelefonis se kantoortjie gestaan en kyk het hoe behendig die man se vingers die lyne wissel en deurskakel, is hy uiteindelik tevrede.

      Hy stap terug na die hotel en bel die hofgebou uit sy kamer. Die blinde operateur skakel hom deur na die hooflanddros. “Dit is die magistraat op kommissie,” sê hy. “Ek sal ’n ruk op u dorp vertoef om die Moolman-verslag-in-kamers na te gaan. Kan u asseblief ’n motor aan my beskikbaar stel?” Hy weet watter vrese sy stem by die hooflanddros moet opwek. Hy ken dit: die merieteverslae, die omsigtige, nimmereindigende prosedures, die stempels en die rapporte, die kommissies en die rangordes.

      “Baie dankie,” groet hy.

      Hy is gereed om te begin.

      6

      Dit is nie dikwels dat ’n motor die Stiefveld se mense besoek nie. Kaatjie Danster kom dadelik uit haar huisie toe sy die dreuning hoor. Sy sien die son op die dak van die motor blink en gaan staan opgewonde bo-op haar kinders se konynhok met haar hand bokant haar oë. By die hek van die breed uitgetrapte bokpad Stiefveld toe hou die motor stil. ’n Man met ’n af arm klim tydsaam uit om die konsertinahek oop te maak. Hy sukkel bietjie om die hek weer in te haak, maar wanneer hy klaar is, staar hy oor die Vlei uit asof dit sy eie wêreld is. Hy druk ’n sigaar in sy mond en steek dit met sy een hand só vinnig aan dat Kaatjie kon sweer hy gebruik twee.

      Ná ’n rukkie klim hy terug in die motor en dit kom opgekruie na Kaatjie-hulle se huis. Só ’n honderd tree weg raak die paadjie te klipperig en die bottelskerwe te baie. Die motor hou stil. Die sink van die konynhok begin Kaatjie se voete brand, want die son sit al hoog, maar sy bly haar oë noutrek om die twee mans te peil wat uit die motor klim en na die Stiefveldhuisie aangestap kom. Shala is die berg in met sy bokke en die groter kleinkinders is by Amy O’Leary, Posmeester Moolman se vrou, se skool. Dit is net sy en Meisie Pool en die baba wat by die huis is. Ná Druppeltjie du Pisani se ongeluk het Meisie na die Stiefveld teruggekom om na Oneday se kinders om te sien.

      Sodra die twee mans dertig tree weg is, sukkel Kaatjie van die hok af en skommel die huisie in. “Meisie, jou slegvel,” skel sy, “vee uit die herd en gooi die pot onder my bed uit! Hier kom twee witmans aan. Dis sweerlik speurders. Vandag keer hulle weer die matrasse om vir Oneday se papiere.” Sy gaan staan voor die gekraakte spieël bo die wasskottel in haar afskorting en knoop haar doek oor. Sy druk haar hare onder die doek in en haal ’n paar skoene uit die kis onder die bed. Toe die magistraat saggies aan die buitedeur klop, kom sy van agter die afskorting asof sy heeldag daar was en groet: “Goeiemôre, menere.”

      Die magistraat en die assistentklerk van die hof, wat aan hom toegewys is as motorbestuurder, buk die huisie binne.

      “Ek soek mevrou Kaatjie Danster,” sê hy.

      Sy staan nader. “Dis die ou vrou wat u voor u sien, meneer. Is u twee sersante?”

      “Nee.” Die magistraat skud sy kop en glimlag. “Nee,” sê hy weer. Kaatjie wag. Agter die afskorting begin die baba huil. Daar hang nog stof en as in die lug soos Meisie Pool vinnig die herd skoongevee het. Die magistraat kyk na Kaatjie se helderblou oë, die verrimpelde bruin vel. Hy sien hoe krom die hande is wat sy om haar elmboë hou, die voete in die skoene ook.