Klassiek reeks: Toorberg. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068785
Скачать книгу
het, die kolganse teen Toorberg se kranse roep.

      “Veertien maande,” sê die magistraat. Hy kyk om hom: na die herd met die ysterpot vol koue pap langs die bondels fyn hout, die afgeslagte konyn aan ’n haak langs die vuurmaakplek, die kombuiskas met patroongeknipte koerantvelle waarop blikbekers en -borde en enkele stukke porselein gerangskik staan. In die hoek staan ’n kitaar met ’n voos kol soos die speler se vingers daaroor gestryk het. ’n Klos velle hang van ’n balk. “Wie se kitaar is dit?” vra hy.

      Kaatjie Danster skrik. “Dis myne,” sê sy vinnig.

      “Kan u speel?” Die magistraat glimlag.

      “Nee, meneer. Ek ken nie snare nie.”

      “Maar dit lyk of daar ’n hand oor hom was.” Die magistraat stap na die kitaar en tel dit op. Hy bestudeer die snare van naderby.

      Kaatjie Danster trek haar oë nou. “Dis my jongste seun s’n,” sê sy ná ’n ruk. “Oneday Riet. Hy is van die kerk.”

      “O.” Versigtig maak die magistraat weer die kitaar teen die muur staan. Die klerk draai ongemaklik rond. “Ek wens ek kon speel,” sê die magistraat en beduie na sy arm.

      Kaatjie trek haar oë op skrefies. “Dis die eerste magistraat wat in die Stiefveld kom,” sê sy.

      “Daar’s ’n rede.” Die magistraat se oë speel met haar. “Sodra u ons nooi om te sit, sal ek u meer vertel.”

      “Meisie Pool!” roep Kaatjie na die afskorting. Meisie kom skaam uit. Sy’t intussen rooi lipstiffie aangesit, maar die baba op haar arm het dit oor haar wang gesmeer.

      “Middag, Edelagbare,” groet sy.

      “Middag.”

      “Meisie, bring die sitbankies van buite in. Die Edelagbares wil praat. Kook water. Toe, toe, steek brand die herd!” Kaatjie begin ineens skarrel en die magistraat en die klerk gaan sit op die bankies wat Meisie van buite aandra.

      Terwyl hulle op die koffie wag, kom sit Kaatjie voor die magistraat. Sy vou haar arms en trek haar doek laag oor haar voorkop.

      “Hier kom nie aldag wit mense nie, Edelagbare,” sê sy.

      Die magistraat trek sy skouers op. “Ek hoop nie u gee om nie, mevrou Danster.”

      Sy skud haar kop driftig. “Dis vir my ’n eerbare dag.”

      “Kyk,” en die magistraat steek ’n sigaar aan, “die regering het my gestuur om die saak van Noag du Pisani te ondersoek.”

      Hy wag op Kaatjie se reaksie. By die herd het Meisie, baba op die heup, die vuur begin aanblaas. Kaatjie kyk na Meisie, dan na die magistraat.

      “’n Jaar terug was hier al ’n wetsman,” sê sy dan sag.

      “Die regering het gesê ek …” Die magistraat beduie na die klerk: “Ons moet weer kom luister.”

      Kaatjie trek haar skouers op. “Almal weet tog als. Dis in die oopte in. Dit was van die begin af só. In die oopte. Met die groot treurigheid was daar ’n predikant, ’n witte, en my eie seun ook, Oneday Riet. En daar was sersante. Daar was baie getuies. Die hele familie was daar tesame. Dis in die oopte. Hoekom wil die regering nou weer kom krap in onse lewens? Abel het juis half kêns beginne raak ná die ding en Ella Moolman was self ’n ruk lank ’n affêre van ’n mens.” Sy skud haar kop en trek weer die doek laag oor haar oë, asof sy die frons op haar voorkop wil wegsteek.

      “Hoe meer getuies, hoe verder wyk die waarheid,” sê die magistraat.

      Kaatjie antwoord nie. Sy hou haar gesig bot.

      “Ek moet u getuienis afneem, mevrou Danster,” hou hy sag vol en vryf oor sy stompie. “Sal u my vertel wat u weet?”

      “Ek en my kinders sal die hof vertel net wat ons gesien het met onse eie oë, Edelagbare. Verder, soos dit die hof behaag, sal ons nie deelneem aan die agtervelders se geskinder oor dié saak nie.”

      “Ek versoek u net om u samewerking te gee. Dan mag dit nie nodig wees om u te daag om amptelik voor my te getuig nie.” Hy blaas die sigaarrook saggies uit. “Ek sien in die verslag dat u die laaste persoon was wat Noag du Pisani lewend gesien het?”

      “Ek het hom gesien, ja, Edelagbare, waar hy staan en luister in die niet in of die wind ’n stem het. Ek het hom gesien, ja, en hy was reeds dood. Ek kon dit voel in my lyf. Hy was reeds dood, tóé al. Of hy was naby die dood.”

      “Wat bedoel u?” Die magistraat leun vorentoe. Die bankie kraak onder hom.

      “Ek het hom vir dood aangesien.”

      “Maar hy’s eers drie dae later dood.”

      Kaatjie kyk die magistraat in die oë. “Só sê die mense,” sê sy. Meisie Pool gooi koffie in bekers en gee dit aan. Die magistraat proe aan die soet, sterk koffie. “Ek hoop Magistraat hou van bokmelk,” sê Kaatjie. “Dis al wat ons hier in die Stiefveld het. Dis my seun Shala se boerdery. Hy hou ons vlees en been aanmekaar met sy trop boerbokke.”

      Die magistraat knik.

      “En was u by toe die seun sterf?”

      “Niemand is seker wanneer Druppeltjie die gees gegee het nie, Edelagbare. Party sê dis op die aand van die tweede dag, ander sê dis die oggend van die derde dag. Ek self weet nie. Ek sweer nie by ’n dood wat ek nie aangesien het nie.” Sy hou haar oë op skrefies en suig aan die beker.

      Hulle drink in stilte. Oplaas vra sy: “Gaan Edelagbare ook by die groothuis vra, by Ella en Abel?”

      “Ek gaan almal besoek, mevrou Danster,” sê die magistraat. “Elke persoon wat getuie was by die episode. Dit is my werk om uit te vind wat gebeur het.” Hy sit sy leë beker op die misvloer neer.

      “Ja, dis jammer dat Toorberg so geslaan word met maer jare,” sê Kaatjie. “Dit maak die lewe vir almal net taaier.”

      “Goed, mevrou Danster.” Die magistraat slaan met sy hand op sy knie. “Kan u nou vir my sê wat daardie laaste dag gebeur het?”

      Kaatjie sit haar beker langs syne neer. Die blikbekers stamp liggies teen mekaar. “Watter dag, Edelagbare?”

      “U weet tog.”

      “Die laaste dag?”

      Die magistraat knik. “Die laaste dag in die bos.”

      “Ek het anderpad gekyk, na die stamme,” sê Kaatjie Danster. “Ons het almal anderpad toe geleef, hier op Toorberg. Ek het nie gesien nie.”

      “Het u gehoor?”

      “Ja, ek het gehoor, ek kon nie anders nie, ek hoor nou nog. Ek word partykeer in die nag wakker, dan dink ek dis oorle OuAbel se sweep wat so in die vleie klap, dan besef ek dis daardie skoot wat my so in my nagmerries bly ry. Nee, Edelagbare, ek het gehoor.”

      “En u het niks gesien nie.”

      “Niks nie, Edelagbare.”

      “Toe die skoot klap, het u nie gekyk nie?”

      “Nee, Edelagbare. Ek het bly eenkant kyk.”

      “Was u nie nuuskierig nie, mevrou?” Die magistraat staan op, stap na die herd en draai om na Kaatjie, kyk af na haar. “Dis tog sekerlik natuurlik dat u opgekyk het?”

      “Anderpad, Edelagbare, anderpad.”

      “En nadat die skoot al ’n ruk agter die rug was?”

      “Toe het ek die ander vrouens gaan help om KênsTillie vas te hou, Edelagbare. Sy’t losgebreek waar sy opgesluit was en sy was weer aan die skuim om die mond, en ons moes haar vashou sodat Ella haar die daggatee kon ingee om kalmte in haar te bring.”

      “Waar was dit?”

      “Op die werf.”

      “En waar was Abel Moolman toe?”

      “Ek