Klassiek reeks: Toorberg. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068785
Скачать книгу
haar rug na hom gedraai. “Mense is mense. En KleinKitty is ’n pragtige kind, met haar potblou oë.”

      “En bruin vel,” het Posmeester teruggeroep voor hy die deur agter hom toegeklap het.

      Amy sug as sy daaraan terugdink. Posmeester se Moolmanbloed loop diep in hom, dink sy toe sy sy broer De la Rey se verkyker agter die kamerdeur gaan ophang. Dis die verkyker waarmee De la Rey as kind glo die voëls beloer het. Nou kyk Posmeester deur die verkyker as hy die dag weemoedig voel en terugverlang na Toorberg se werf. Vir haar en Koevert sê hy dat hy soggens na die weer teen Toorberg kyk. Maar met ’n pyn oor haar hart weet sy dat hy die werf van sy kinderjare bespied met ’n verlange wat sy met haar hand kan voel as hy van buite af terugkom en sy oor sy voorarm streel en die hoendervel onder haar vingertoppe voel. Sy weet dis van verlang dat hy hoendervel kry, selfs op die warmste somersoggend.

      Dis dié dat die bogkind van ’n snuiter wat die vorige dag die biltongsak op haar drumpel kom neersit het met die woorde “Tante Amy, dis die vruggebruik”, haar so kwaad gemaak het. En toe Posmeester vir ete huis toe kom en vra wie dit was wat so wild draaie op die gruis voor die huis gegooi het, was sy opnuut kwaad toe sy sien hoe sak Posmeester se kop. “O, dis die biltong,” is al wat sy gesê het.

      Die hele aand het hy by die oop venster biltong gekerf en geluister na die boormasjien op Toorberg se werf, tot sy hom later gevra het om die venster toe te maak – die lig lok lusernmotte en muskiete in.

      Maar een van die Moolmans sal haar Koevert nooit wees nie. Hulle is te trots om te deel. Destyds, toe sy as jong onderwyseres in die kloosterskool op die dorp begin skoolhou het, het Posmeester in die geheim by haar in die losieshuis kom kuier. Tóé al het die mense haar gewaarsku teen die Moolmans se trotsheid. Toe Posmeester uiteindelik om haar hand gevra het, het sy die kloostermoeder gaan spreek. In die karige kantoortjie in ’n dakkamer van die vervalle ou klooster onder die peperbome het die ou non met skerp blou oë na haar gekyk en haar bleek hande gevou. ’n Oomblik het sy afgekyk. “Amy,” het sy gesê, “die Moolmans is ’n trotse, hegte familie. Hulle is stoer Protestants. Hulle is baie familievas. Vir hulle is eergister soos gister, en van gister praat hulle of dit vandag is. Die dooies begrawe hulle nooit nie. En hulle vergeef nie.”

      Sy het nie begryp wat die ou non vir haar wou sê nie. “Dit mag wees dat dié jong man ’n uitsondering is, maar of hulle hom gaan toelaat om ’n uitsondering te wees, is ’n vraag wat miskien vóór die huwelik eers beantwoord moet word.”

      Dis al wat die kloostermoeder wou sê. Sy’t beloof om vir Amy te bid, met haar bleek hande ’n kruis geslaan en geglimlag toe sy opstaan om vir Amy te groet. Die non se hand was koel. “Julle moet vir Vader Diephuys kom spreek,” het sy gesê. “Gesels met hom ook.”

      Toe die ou non jare daarna oorlede is, het sy en Posmeester reeds in die onderveld gewoon. Tydens die begrafnis het sy weer die skerp reuk van peperboombessies gekry en sy was jammer dat sy nie versigtiger geluister en mooier nagedink het nie.

      Nou bekruip die inhaligheid ons ook, dink sy. Kyk met hoeveel bitterheid word die biltong ontvang – en sy’s self die bitterste van almal. ’n Bitterheid wat sy nooit sou vermoed het toe sy jare terug op die dorp die legendes van StamAbel moes aanhoor nie. Reeds in sy tyd, het die mense vertel, het die smouse se kapkarre tougestaan by Toorberg se hek. Hulle’t geweet StamAbel koop alles wat van ver af kom of ’n Hollandse handelsmerk dra. Hy’t drie klaviere vir Ouma Magtilt se musikale vingers gekoop; hy’t veertig gewere besit, een vir elke dier of inboorling wat kruip op die veld. By ’n Italiaanse smous het hy ’n voorraad hoesstroop gekoop wat ’n honderd jaar sou hou en waarop Posmeester en sy broers – en Ella se kinders glo ook – grootgemaak is. Hy’t ’n teleskoop aangeskaf wat op ’n pakmuil se rug vasgemaak moes word wanneer hy die dag die gier gekry het om teen Toorberg uit te klim en van bo af oor sy rykdomme uit te kyk. By ’n Russiese Jood het hy later jare goudaandele in die myne in die Noorde gekoop. Hy’t snuifdose, silwerstiebeuels, koperkrane en Spaanse saals gekoop. Ook ’n vergrootglas vir sy oudag as hy nie meer die Bybel met die blote oog sou kon lees nie.

      Amy het grootoog na al hierdie stories geluister, want dié wêreld was vir haar nuut. Ook, is aan haar vertel, het StamAbel op ’n dag besluit om al die diere op die plaas te brandmerk met ’n groot A. Die dag toe StamAbel die brandyster by ’n reisende Jood gekoop het, het die kuddes teen die hange, in die valleie en op die vlaktes glo al ’n voorgevoel gekry. Hulle het onrustig begin raak en, het die agtervelders vertel, ’n troppie van tweehonderd van StamAbel se vetste hamels het Toorberg uitgehardloop en sienderoë aan die ander kant by die steil kranse afgeboender, tot op die wilde turksvye onder op die vlakte van die Kamdeboo. Twee weke lank het die aasvoëls daar gedraai.

      Met die aanbring van die groot A op al die lewende hawe kon jy volgens oorlewering dae daarna nog die reuk van geskroeide vleis veertig myl onder die wind ruik. Elke vel op Toorberg is gebrandmerk en uiteindelik, teen die aand van die vierde dag, was StamAbel tevrede.

      Maar twee maande later het ’n goudsmid by Toorberg aangedoen en StamAbel het hom permanent aangestel om sy voorletters in goud op al wat besitting is op Toorberg aan te bring – op elke saal, teen elke meubelstuk, onder die koppies en borde. StamAbel het glo goudstof laat kom van die myne in die Noorde waar hy sy aandele gehad het. En toe ’n besoekende smous die goudsmid eendag met een van StamAbel se stewels sien werk, het die distrik besef dat StamAbel se rykdom sy kop aangetas het. “Geen man kan soveel besit en oopkop bly nie,” het hulle gesê.

      Die kêns Moolmanbloed is in daardie jare gevestig, maar het eers weer in KênsTillie behoorlik uitgeslaan. “So word die sondes van die vaders besoek aan die kinders, tot in die derde en die vierde geslag,” het Amy destyds gesê toe Tillie op tweejarige ouderdom haar eerste stuipe kry. “Dit kry jy nou van hovaardigheid.” Eers het Abel en Ella vir DwarsAbel gehad, wat met die vlek van onvrugbaarheid oor sy oor gebore is. Toe is daar die rits doodgebore kinders, en heel laaste, toe Ella se senuwees al wou ingee, was daar Tillie.

      Tillie, wat van die begin af onrustig gedwaal het waar sy nie moes nie en eendag byna onder een van die busse by die Halte beland het. Tillie, wat eers begin kalmeer het toe die Slams aanbeveel het dat hulle haar soggens en saans daggatee gee. Dié tee is getrek van opgekookte daggapitte wat in Ella se fyntuin gekweek is, voor almal se oë, onwettig soos dit ook al was. Dit is medisinaal, het die mense gesê. Tillie, wat toe uiteindelik met Waterwyser gaan lol en geboorte gegee het aan die arme Druppeltjie.

      Druppeltjie was so stief soos Kaatjie Danster se kinders en kleinkinders, en haar eie Koevert met sy skewe skouers. Al hierdie stiefkinders, dink Amy bitter, bly op die rand van Toorberg. Wég kan hulle nie kom nie, maar deel is hulle ook nie.

      “Julle is vervloek deur julle bloed,” het sy eendag aan Posmeester gesê en soos gewoonlik het hy nie geantwoord nie. Net één keer het sy hom iets hoor sê teen sy familie. Dit was nadat hy, oorlede Andries Riet en Waterwyser du Pisani op ’n keer by Abel gaan pleit het vir erkenning van hul kinders in sy testament, want iemand het Ella hoor sê dat Abel besluit het om die vruggebruikklousule uit sy testament te skrap. By dié vergadering het Abel beloof dat die Skaamfamilie op die Stiefveld kan bly boer vir die volgende honderd jaar. Hy’t egter geweier om Waterwyser du Pisani, wat sy dogter sonder huwelik in die ander tyd gebring het, eens in die oë te kyk. Vir Posmeester Moolman, sy eie bloedbroer, het hy gesê dat hy die stuk serwituut al langs die spoorlyn af vir Koevert sou byhuur as Koevert sinnigheid sou hê in ’n klompie beeste. Die beeste kon hulle afbetaal en as Koevert eers op sy eie voete was, kon hy die serwituut se huur by Abel oorneem.

      Koevert en Posmeester het die aanbod aanvaar en selfs ’n brandyster in die vorm van ’n posstempel vir Koevert gesweis. Maar dit was nie lank nie of die treine trap al Koevert se beeste dood en jare nog moes Amy uit haar skoolgeld afbetaal aan die dooie beeste. Een van die busbestuurders het vir Posmeester gesê: “Nou het jou Toorbergfamilie die laaste skuld aan jou betaal.”

      Posmeester het ver weg gekyk en gesê: “Familie van my is hulle nie. Gespuise het hulle geword – Abel en Ella in daardie huis.” ’n Dag later het hy sy eerste breinfloute gehad en moes Koevert hom begin help op die Halte.

      Toe Amy haar kom kry, staan sy in die slaapkamer met die hangertjie van die Heilige wat die ou non aan