Klassiek reeks: Toorberg. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068785
Скачать книгу
verte aanstryk met die voetpaadjie wat bokant die skure teen die koppie afloop na die ondervlak en die Halte. Sy word ook al oud, dink Ella terwyl sy die figuurtjie dophou. Sy moet al naby die tagtig wees en kyk hoe fluks loop sy nog. Hulle is darem ’n taai nasie. Toe onthou Ella dat dit die einde van die maand is en dat Kaatjie Danster waarskynlik op pad is om haar pensioen by Koevert Moolman te gaan afhaal.

      Soos Kaatjie Danster se familie, is De la Rey ook ’n StiefMoolman – mense wat deur OuAbel en Abel se trots verstoot is eenkant toe. Waarom sou hy nóú terugkom, wonder Ella. Destyds het sy as jonggetroude vrou by Ouma Olivier gehoor dat De la Rey eintlik OuAbel se lieflingseun was, nie Abel nie. De la Rey sou Toorberg erf, want hy was die oudste, en in sy stap en sy hoogmoed kon jy sien dat hy StamAbel se kleinkind was. Hy was taai en trots, maar terselfdertyd eenkant en stil, veral toe hy ouer word en een been hom al meer pla. Almal het aanvaar dat hy eers sou gaan leer, maar later sou terugkeer om Toorberg te boer.

      Iets het egter in sy kleintyd gebeur, het Ouma Olivier vertel, wat hom verander het. Ella het nie ingevra nie, maar toe Abel met De la Rey se eerste besoek vertel van die osskietery, het sy begryp. Die sensitiewe kind het so groot geskrik toe hy sy pa in die middel van die kraal kom kry met drie dooie osse om hom en nog vier wat teen die mure brul en maal, dat hy van daardie dag nóg meer van ’n ingedagte geaardheid gekry het. Sy vrees vir vleis het gemaak dat hy beesslagtye in die tuishuis op die dorp gaan bly het – ’n stil, senuweeagtige seun wat sy pa teleurgestel en voëls deur ’n verkyker dopgehou het. Ná skool is hy weg universiteit toe en hy’t nooit weer teruggekeer nie – nie eens vir ’n tussenverkiesing of ’n Nuwejaarsfees op Toorberg nie.

      Abel moes die broek van sy ouer broer dra en volgens die grondbriewe in die akteskantoor het OuAbel, die dag toe De la Rey universiteit toe is, in die geheim volle titel en alleeneienaarskap van Toorberg aan Abel oorgedra. Dit het Abel eers ontdek toe OuAbel jare later oorlede is en Abel die sleutel van die kluis in die studeerkamer ten aanskoue van die ondernemers van sy oorlede pa se nek afgehaal het. Dit was OuAbel se manier, het Ouma Olivier ná sy dood gesê, om De la Rey so gou moontlik uit sy lyf te sny.

      Maar heeltemal uitsny kon OuAbel nie die loslopers van sy stam nie. StamAbel se testament het bepaal dat elke Moolmanvrou en Moolmanman wat nie op Toorberg boer nie, geregtig was op Toorberg se vrugte, en dié bepaling, só het hy voorgeskryf, moes opgeneem word in elke erfopvolger se testament tot in allerewigheid. Lewenslank het al die ander Moolmans ná hul mondigwording twee dosyn eiers en ’n slagding per week ontvang, ook ’n kan afgeroomde melk, een mud koring per kwartaal, dertig kilogram biltong per slag- of jagseisoen, een afgeslagte springbok uit die winterveld, ’n kas kwepers uit die laning in kwepertyd, ’n mandjie perskes uit die boord in persketyd, daagliks soveel groente uit die groentetuin as wat nodig sou wees vir ’n gesin met ses seuns. En ’n laaste bepaling wat die nageslagte verskriklike soektogte in die Toorberg besorg het: ’n pint bergskilpadsop gekook van die sagvleisies van ’n Toorbergse bergskilpad een keer per jaar – vir die medisinale kwaliteite daarvan.

      Elke Abel sou hierdie goedere aan sy bloedmense voorsien. Dit was die dinge wat die Moolmans sou herinner aan hul heimat en hul sterfplek – die familiebegraafplaas waar al die Moolmans in testamentêre opdrag van StamAbel begrawe word met hul voete na die Ooste sodat hulle, as die Wederkoms aanbreek, met die regopsit reguit in die nuwe môre kan inkyk. Dominees oor baie generasies het die Moolmans berispe oor dié heidense gewoonte. Dit was Abel wat ’n einde aan die klagtes gemaak het met die opmerking aan ’n jong domineetjie dat hulle die mense uit nétheid so begrawe – sodat almal dieselfde lê.

      Selfs ná De la Rey se wegraak moes daar steeds aan hom vruggebruik gegee word. Kort ná sy mondigwording het ’n telegram van hom van die universiteit gekom waarin hy sy wense vir sy vruggebruik uiteengesit het. Die biltong wou hy niks mee te doen hê nie. Die groente, vrugte, eiers en melk moes gaan na die klooster op die dorp, die vangery van die bergskilpad het hy as sonde beskou, die slagding moes hulle nie slag nie, die springbok mog nie geskiet word nie en die mud koring moes teruggesaai word.

      Gebind deur die testament van sy pa en sy oupa, moes Abel jare lank groente, vrugte, eiers en melk by die klooster laat aflewer. Met De la Rey se eerste besoek aan Toorberg – kort voor hy weer die niet in is – het Abel een aand die studeerkamerdeur agter hulle toegemaak en Ella het gehoor, waar sy in die sitkamer gesit en hekel het, hoe Abel met De la Rey spook om skriftelik afstand te doen van dié bepaling.

      Sedert Posmeester se skelm trouery met die Katolieke goewernante Amy O’Leary en OuAbel se doodsbedbitterheid daaroor, wou Abel niks van die Katolieke geloof hoor nie. Hy’t nie eens die nonne toegelaat om na die Skaamfamilie in die Stiefveld te ry wanneer hulle by die plase aandoen in hul ou kombi nie. “Heidense pikkewyne,” het OuAbel altyd gesê, “wat nie onder die hand van ’n man wil lewe nie.”

      Maar De la Rey het voet by stuk gehou en Abel het opnuut gedreig om met die testamente van StamAbel en OuAbel na die hoogste hof te gaan om al die moeilike klousules van nul en gener waarde te laat verklaar. De la Rey het vasgestaan en ’n volle twee dae het hy en Abel nie aan tafel met mekaar gepraat nie.

      Dié gedagtes kry Ella terwyl sy vir Kaatjie Danster dophou totdat die ou vrou oor die kim van die koppie verdwyn. Die hele oggend sit Ella só, asof die voetspoor so swaar op haar gemoed lê dat sy nie kan opstaan nie. Buitendien het sy onrustig geslaap. Die boormasjien het die hele nag deur gestamp en een keer, so teen drieuur, was daar ’n geroep. ’n Oomblik het sy gedink dat hulle ’n aar gebreek het. Maar dit het weer stil geraak en met ligdag het sy gehoor dat dit ’n muishond was wat tussen die vure om die boormasjien deur gehardloop het. Toe hy tussen die bene van ’n boorman beland, het hy só ’n vreeslike stank gelos dat dit nie eens met paraffien afgespoel kon word nie.

      Teen middagete hoor sy Abel se Land Rover aankom. Sy gaan weer na die slaapkamer en druk haar hare reg voor die spieël. Aan die geure uit die kombuis ruik sy dat die boud gaar is. Sy gaan wag op die veranda met die hoop dat daar goeie nuus sal wees. Miskien het hulle ’n nuwe wateraar ontdek onder die kranse.

      Abel hou voor die waenhuis stil. Hy en die geoloog spring uit en hardloop na die voordeur. ’n Oomblik wil Ella se hart in haar bors spring van vreugde en sy roep uit: “De la Rey het ook nog vandag hier aangekom!” Maar dit lyk of Abel nie hoor nie en toe hy by haar verbyhardloop die huis in, sien sy sweetkolle op die blaaie van sy kakiehemp.

      Die geoloog kom staan voor haar, pluk sy helm af en sê: “Mevrou Moolman, ’n vreeslike ding het gebeur.”

      4

      Ouma Magtilt is weer waar sy altyd op die sonstoep gesit het, half onder die skaduwee van ’n varing. Sy’s in haar rystoel wat al jare lank stukkend op die solder lê. Met medelye kyk sy na haar kleinseun se vrou wat die huis gereed maak vir die dwalende De la Rey. Sy weet De la Rey se voetspoor is niks anders as ’n voorspooksel nie. Van baie dophou in stilte het sy die geaardheid van Ella Moolman goed geken.

      Vandat die Coetzers van Altydsomer gereeld Sondagmiddae oorgery het om saam met die Moolmans in die skaduwees van Toorberg se bome piekniek te hou, het sy en StamAbel op hul stil togte om die werf gestaan en kyk na dié pragtige kind met die gitswart oë en die pruilmondjie so rooi soos ’n roos. “Dis ’n vrou vir ’n Moolman daardie,” het StamAbel gesê toe Ella Coetzer as opgeskote dogtertjie haar rokkie hoog bo haar knieë opgelig en kaalvoet geplas het in die helder Oogwater van Toorberg.

      Later jare het Ella steeds saamgekom – nou as fyn jong vrou met groot pupille wat na die dooies kon kyk of hulle jou raaksien, sodat Ouma Magtilt en StamAbel dikwels geskrik het: hét die jonge Ella se swart oë nie ’n oomblik op hulle vasgesteek nie? Maar die volgende oomblik het sy weer weggekyk, na ’n skoenlapper of blom wat die jong Abel of De la Rey aan haar gewys het. Die jong Abel het van kleins af al om Ella Coetzer gedraai. As sy haar lappop tydens die piekniek teen ’n populierstam sitmaak, het Abel sy kleiosse ingespan en hulle laer laat trek, al óm die pop. “Kyk,” het StamAbel aan Ouma Magtilt gefluister, “hy steek nou al sy kleim af. Hy’s ’n Moolman.”

      En al het De la Rey ook om die gunste van die swartoog-Ella gewedywer, het Abel, so sterk soos ’n lat en so vinnig soos ’n bok, uiteindelik die stryd gewen. Dit was aan hom – sy in ’n sysagte rok van die beste satyn en hy in ’n fluweelbroek