Klassiek reeks: Toorberg. Etienne van Heerden. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624068785
Скачать книгу
wat steeds moeder gevoel het van al die bedrywige lewendes op Toorberg se werf, het gevoel dis góéd so. En sy’t dankbaar gevoel, want die dae toe sy op die wakis van StamAbel se voorste wa gesit het, kon sy nie in die toekoms inkyk nie. Toe die derde geslag uit haar lende só ’n mooi jong vrou soos die skone Ella Coetzer van Altydsomer aankeer, so galant en dapper boonop, en so mooi beloof en sweer, het Ouma Magtilt diep en dankbaar gerus.

      Vir haar was dit nooit maklik nie. Sy kon nie eens onthou wanneer StamAbel haar om haar hand gevra het nie – nie in daardie wilde dae van laer trek, siek kinders en kommando-ekspedisies teen die swart impi’s nie. Tussen een ekspedisie en die volgende, terwyl haar eie ma geel van die koors in ’n watent gesterwe het, moes die roekelose StamAbel Moolman met sy swart baard haar in die verbygaan gevra het om te trou.

      Sy kan nie onthou nie. Daar was waens in ’n kring, vlamme, dansende swart lywe en die skeurslae van gewere. Dun assegaaie wat deur die lug aangespikkel kom, impi’s wat met knopkieries teen hul skilde dreun-stamp, kinders wat in die laer huil, beeste wat om en om maal en honde doodtrap. Van die beeste het neergeslaan, die seil van die wa het vlamgevat, ’n man het haar omgestamp en in hul wa het haar ma na haar geroep. Sy’t weggekruip van die wawiel af, waar sy aan ’t voorlaai was vir haar pa, en by die wa ingekyk. In die geflikker van vlamme het haar ma regop gesit; wild gestaar. Haar ma is reeds ter helle, die vagevure in, het Ouma Magtilt gedink. Toe sy by haar kom, was sy reeds dood. Sy’t die kombers oor die geel gesig getrek en eers die volgende môre, terwyl ’n patrollie te perd uit is om die impi agterna te jaag en uit te wis, en die agterblywende mans begin het om die gewonde beeste keelaf te sny, het ’n vrou van die buurwa gekom om haar ma uit te lê. Eers toe die vrou die kombers wegtrek, het hulle die steel van die assegaai wat tussen die derde en vierde ribbetjie ingesak het, gesien.

      Ses maande later is sy en StamAbel met twee waens die wildernis in. Maande lank het sy bedags skud-skud op die voorste wa se wakis gery. Om haar, tot aan die horison, was daar soggens troppe wild. Smiddaens kon sy op die kimme van die rante soms impi’s sien wat hulle dophou. En sommige nagte, ná hulle die waens reghoek getrek en ’n takmuur gebou het, het die nag om hulle al wyer geraak, al stiller. Nie eens ’n kriek het geskree nie, net die asem in haar bors en StamAbel se hand wat vryf oor sy geweer. Totdat Ouma Magtilt later gevoel het dat sy die vrees in haar kan uitskree sodat die hele wildernis kon hoor en haar kom eis.

      Maar hulle het al dieper die land ingedring. StamAbel het al verder verspied bedags en haar onder die wakende oog van die mak pandoer Jan Swaat gelaat. Sy’t Jan Swaat nooit heeltemal vertrou nie; hy’t die ontwykende oë van ’n moordenaar gehad. Eenkeer, toe StamAbel ’n ent vorentoe gery het om die wêreld van ’n koppie af te verken, het sy hom betrap terwyl hy haar met sy dun geel oë sit en betrag.

      “Siejy, pandoer!” het sy hom toegesnou. “Kyk jy weg. Sien nie weer ’n wit vrou so aan nie, gehoor jy my.” Hy’t omgedraai, hout gebreek en ’n vuur aangesteek. Die aand het sy vir StamAbel vertel en hy’t uitgegaan na waar die pandoer kaalgat onder sy skerm gelê het en hom ’n loesing met sy seekoeisambok gegee.

      “Soja,” het StamAbel gesê toe hy terugkom. “Die droster is op sy plek gefoeter.”

      Die hans-Boesman, wat haar pa op ’n ekspedisie in ’n drif gevang en aan StamAbel as trougeskenk gegee het, het sy meer vertrou. Sy kliktaal kon sy nie verstaan nie, maar hy’t gou en vinnig geglimlag, en maanligaande het hy op die grond gehurk en heen en weer gewieg onder die maan. Soms het hy ’n vuurtjie gemaak en al in die rondte gedans, soos ’n kwêvoël wat pronk. Op sy eie, met ’n stuk sening in sy kies en sy gedagtes by sy wilde mense wat iewers in die veld rondkruip. Waar, het Ouma Magtilt soms gewonder as sy die geel mensie dophou terwyl hy onvermoeid teen StamAbel se stiebeuel draf, waar kon sy mense wees?

      Later jare sou sy ook so vanuit die stil hoeke van die groothuis vir Ella Moolman dophou – dié vrou wat so getrou die buie en versugtinge van Abel Moolman verduur. ’n Vrou wat skielik in die gang kan stilstaan en luister, haar hand uitsteek en digby Ouma Magtilt se wang aan die gordyne voel. Dan sou Ella glimlag, asof sy ’n geheim in haar hou, en verder stap. Dikwels dwaal sy net deur die huis, van kamer tot kamer. Hier en daar skuif sy aan ’n meubelstuk, verhang ’n prent, stryk oor gordyne of klop ’n kussing uit.

      Abel was maar selde tuis. Bedags in die veld met sy Land Rover, óf buite op die werf, met net sy stewels se geknars oor die gruis of die blaf van sy stem hoorbaar. Soms het hy na die begraafplaas gekom en bly staan waar sy langs Ouma Olivier lê en lank na hul stene gekyk: die vroue wat sy vrou voorafgegaan het. Wat hy gedink het, het sy nie geweet nie. Wat almal wel geweet het, is dat elke Moolmanman ná die forse StamAbel swaar sou dra aan sy naam. Want in manlikheid sou geen man ooit die wilde StamAbel kon nadoen nie. Sy dink aan sy ferm, gierige treë soos hy die fondamente van Toorberg se opstal vir haar afgetree het. “Nee, stop!” het sy geroep. “Dis genoeg, daardie kamer is groot genoeg!” Hy het na haar gekyk, gelag in sy swart baard en met ’n vonkel in die oog nog vyf tree by gegee. “Dis dat jy jou lyf maklik kan draai,” het hy gesê. Uiteindelik, toe die smous met sy string waens die Engelse sinkplate aflewer, was dit die grootste opstal in die kontrei. En die grootste, so het hulle gehoor, noord van die Hottentots-Holland.

      En nou is dit Ella se opstal. Hulle het hier en daar verbou. ’n Nuwe kosyn of wat is ingesit, die badkamers is opgeknap en die kombuis het Abel nuut laat aanbou. Ouma Magtilt se buitekombuis word nog net gebruik as Ella seep kook of beesslag. Dit is Ella wat nou agter die bediendes loop wat op hul knieë die vloere blink vryf, of die koper poets, of met lang verestoffers reik na die hoë plafonne. Dit is nou Ella wat deur die roostuin loop en die dooie blare uitknip, wat in die fyntuin pietersielie pluk op dieselfde plek waar sy, Ouma Magtilt, én Ouma Olivier gebuk het om dit te doen. En dit is Ella wat ná die onvrugbare DwarsAbel en vier doodgeborenes, die eerste Moolmandogter die lewe ingebring het – KênsTillie, wat gereeld in die huis verdwaal en met ’n gesig so mooi soos haar ma s’n staan en huil agter die deure.

      Dis ná elkeen van die dooie babas uit Ella se bed gedra is, dat Ouma Magtilt nader gegaan en bekommerd gekyk het hoe die swart oë al swarter raak, die pupille al groter, die are op die arms met die leliewit vel al meer geswolle en blou. Ella het haar hare langer laat groei met elke swangerskap totdat dit later op haar heupe gehang het. Uitgesprei om haar kop, het die hare by die rande van haar en Abel se dubbelbed afgehang. Só, met haar geil hare om haar, het sy Abel keer op keer weer dapper ontvang totdat sy weer boep gestaan en geboorte gegee het – uiteindelik aan Tillie Moolman. Tillie wat met die naelstring om die nek en met geen hulp naby nie ’n ruk ter helle was, maar weer wakker geword het; meer verward as haar ma, volgens sommige mense mooier, en met al die neuke van die Moolmans in haar klein lyfie opgegaar.

      Vir Abel was KênsTillie die verskriklikste ding wat uit sy lende kon kom. Dis ’n vloek van Bo, het hy geglo. En toe sy haar eerste woorde begin sê en dis ’n vreemde, onverstaanbare deurmekaarspul, en sy in kringe begin kruip soos ’n hondsdol meerkat en sy niks doen wat ander babas doen nie, het Abel die Slams laat kom. Die Slams het toorsakkie in die hand op die werf gestaan en kyk na die swartoogbaba. Toe sy met ’n duiwel in die oog na hom opkyk, het hy dadelik gesê: “Sy sal tot in haar oudag kalmte gevoer moet word.” Uit sy knapsakkie het hy vyf daggapitjies gehaal en hulle vir vyftien pond elk aan Abel verkoop. Gewone daggapitjies was dit nie – dit was die saad van ’n moetieplant wat reeds geslagte lank in die tuin van ’n toordokter in Mosambiek groei.

      Die ma van die kind, het die Slams beduie, moet self die vyf pitte plant in haar fyntuin. As al vyf pitte opkom, sou die kind nooit reg dink nie. As vier opkom, was daar kans dat sy jaarliks bietjie genade mag kry. As drie opkom, was die moontlikheid daar dat sy, as sy kalm gehou word, eendag sou regkom. As net twee of een opkom, sou sy doodsekerlik regkom, en as nie een van die pitte opkom nie, maar al vyf vrot in die aarde, dan was almal verkeerd om te dink dat die kind mal is, want dan was sy geseën met die Derde Oog en kragte uit die Duisternis. Toe het hy aan Ella beduie hoe sy die sade van die daggaplante moes oes en tee daarvan opkook, drie maal ’n dag, vir twintigjaar lank. Tot die kind ophou dink in kringe, het die Slams gesê en sy kop geskud vir die baba wat al in die rondte, sonder ophou, op Toorberg se werf kruip.

      Ella het die saadjies geplant en toe sy een môre opstaan en na buite gaan, het al vyf daggaplantjies hul eerste groen lootjies deur die kluite gedruk gehad. Ouma