Dan swaai die kamera terug na Fabienne se bed. Haar oë is nou oop maar glasig, soos Yann as hy met sy oorfone na Marilyn Manson of die Dandy Warhols luister. Sy staan verdwaas op, vou die wit laken soos ’n mantel oor haar skouers, en sweef geluidloos deur die stil huis. Die maanlig stroom deur die groot vensters (almal presies ewe groot) in die sitkamer, spoel oor die bosse bont blomme wat Fabienne se ma op die koffietafel en die klavier gerangskik het, en laat Fabienne se gesig ligblou en amper deurskynend lyk. Onthou, sy het weke laas behoorlik geëet. Sy is teen hierdie tyd so bleek soos ’n lyk en so lig soos ’n spook.
In die sprankelende skoon kombuis (nie ’n krummeltjie op die vloer om te wys dat die liewe Camille heeldag voor die stoof staan en sweet het om die ondankbare Fabienne se lewe te probeer red nie) trek sy ’n laai oop en haal ’n vlymskerp vleismes uit. Zoem in op haar bewende hand met die lem wat silwer flits in die maanlig. Op hierdie punt sal daar seker ’n stukkie dramatiese musiek opklink om die spanning te verhoog. Gaan sy haar pa se tande uitslag? Haar ma se groen vingers afkap? Haar ousus se slukderm uitpluk?
Fabienne sweef terug na haar kamer, trek die laken van haar skouers af en sprei dit op die vloer oop, gaan staan in die middel van die laken en sny haar polse met die skerp lem. Sy draai in die rondte en swaai haar arms sodat haar bloed oral op die laken spat. Sak kreunend inmekaar en skryf – met haar laaste bietjie krag – haar naam in bewende bloedletters onder in die regterhoek van die laken.
Só verander Fabienne haar dood in ’n kunswerk.
Hoe’s dáái vir ’n dramatiese klimaks, juffrou Liebenberg!
Nee, jeg, dis heeltemal te grillerig.
Ek weet Shakespeare was mal oor bloederige eindes, maar ek is nie Shakespeare nie. Ek is nie eens Stephen King nie. My kop begin draai as ek net aan bloed dínk.
Ek is ’n meisie wat te veel vrae vra. Miskien moet ek eerder ’n speurverhaal skryf. Verlore verfkwas? Gesteelde stillewe? Vol tergende vrae soos: Wie het die stillewe gesteel? Wat is die sin van ’n stillewe? Noudat ek daaraan dink, wat is die sin van die lewe?
4. Fabienne verloor haar vader
Ek was nog nooit so dankbaar dat ek in die een-en-twintigste eeu lewe nie. Ná ’n enkele aand sonder elektrisiteit, almal van ons koulik saamgekoek om die koolstoof in die kombuis, wéét ek dat ek enige vorige eeu sou gehaat het. G’n wonder die meisies het aanmekaar flou geval of waansinnig geword nie. Wat anders was daar om te doen?
Ons was gisteraand uitgelewer aan mekaar se geselskap. Sonder televisie, rekenaar, telefoon of enige van die ander moderne masjiene wat ons gewoonlik so wonderlik teen mekaar beskerm. Ons was so verveeld dat ons ’n vasvraspeletjie begin speel het. ’n Skielike floute of ’n vinnige vlaag waansin sou ’n welkome afwisseling gewees het.
Die vasvraery het glad nie gewerk nie. Die punt van so ’n speletjie is tog om mekaar se algemene kennis te toets, maar nie een van ons se kennis is juis algemeen nie. Beyers weet alles van teater, van Shakespeare tot die nuutste toneelstukke op Broadway, en Mana weet alles van elke skildery op aarde, waar die skilder gebore is en watse kos hy graag geëet het. Yann kan ure lank praat oor moderne musiek en ek kan amper net so lank praat oor boeke. Maar nie een van ons weet enigiets van oorloë of ontdekkingstogte of klippe of kieme of al die ander onderwerpe waaruit “algemene kennis” veronderstel is om te bestaan nie. Selfs die twee kleintjies se kennis is ongesond beperk. Tibo het ’n obsessie oor TV, ken elke sepie en dokkie en aanbieder se naam, en Amos is mal oor towenaars en toorkuns, van Houdini tot Harry Potter. Maar moenie vir hulle vra wat is die hoofstad van Pakistan nie!
Nie een van ons weet wat is die hoofstad van Pakistan nie.
Nie een van ons kon enigiemand anders se vrae beantwoord nie.
“Hier’s ’n maklike een!” het Yann ná ’n halfuur uitgeroep. “Selfs die oumense sal die antwoord ken! Wat’s die naam van die album wat Nirvana wêreldberoemd gemaak het?”
“Die oumense” het vraend na mekaar gekyk.
“Ek weet! Ek weet!” het Tibo gegil.
Dis wat hy elke keer gedoen het. Teen dié tyd het niemand eens meer na hom gekyk nie.
“I don’t care!” het ek uitgeroep.
“Ag nee, Hanna, moenie só wees nie,” het Mana gesê. “As jy nie die antwoord ken nie, kan jy mos maar raai.”
“Maar dis die antwoord! Is dit nie?”
Ek het vraend na Yann gekyk. Hy het sy kop mismoedig geskud. Die twee oumense kon nog vergewe word vir hulle onkunde. Dis sy tienderjarige stiefsuster se onnoselheid wat hom verpletter het.
“Nevermind,” het hy gemompel. “Ek dink ek gaan eerder slaap.”
“Ag nee, Yann!” het Mana gekeer. “Moenie só wees nie! Gee vir ons die antwoord!”
“Dis die antwoord, Mana. Nevermind. Dis die naam van die album.”
“O.” Mana het net ’n oomblik afgehaal gelyk. “Toe maar wat, môreaand sal ons dit makliker maak. Wanneer laas het julle Naam, van, dorp, dier gespeel?”
Yann het met ’n uitdrukking van afgryse na haar gestaar.
“Is dit die een waar jy ’n letter van die alfabet kies?” wou Amos weet. “En dan skryf jy allerhande woorde neer wat met die letter begin?”
“Ek sal liewers lees,” het ek vinnig gesê. “Ek het baie boeke saamgebring.”
Of aan my nuwe idee vir ’n speurverhaal werk. Stillewe. Hou die titel eenvoudig, het ek besluit. Hou die sinne kort. Die wind waai koud. Iewers blaf ’n hond. Dié soort van ding.
“Jy kan heeldag lees, Hanna. Saans is die lig te swak.” Mana het haar voorbeeldige klaskapteinstem aangeplak. “Saans moet ons sáám iets doen. Die hele gesin.”
“Watse gesin?” het Yann gevra en soekend om hom rondgekyk.
“Élke aand?” het ek geprewel.
Liewe leser, ek weet nie of ek hierdie vakansie gaan oorleef nie. Ek weet nie of ek elke aand Naam, van, dorp, dier kan speel sonder om waansinnig te word nie. Of minstens nou en dan flou te val nie.
Ek wens ek kon vir Sharon bel. Haar soebat om ’n paar dae vroeër te kom. As Sharon eers by ons is, sal my ma ons nie kan dwing om elke aand te maak of ons ’n gesin uit ’n vorige eeu is nie. Maar Beyers se selfoon werk nie hier op die berg nie. Ons is heeltemal afgesny van die buitewêreld. Soos ’n gesin uit ’n vorige eeu.
Ek wens ek kon vir Gavin bel. Hom vra of ons nie maar die fees tot volgende jaar kan uitstel nie. Ek het veertien verjaardae sonder hom gevier. Ek kan nog ’n jaar wag.
Aan die ander kant, troos ek myself, hy sal seker geïmponeer wees met Sharon. Hy sal dalk selfs ’n bietjie meer geïmponeer wees met mý oor ek vir Sharon as beste vriendin kon inkatrol. Dis hoe ek soms aan Sharon dink. Soos ’n vet vis wat per ongeluk – per geluk! – deur ’n onbeholpe visser gevang is.
Sharon is baie mooier as ek. Sy trek baie beter aan as ek. Haar gesin het baie meer geld as myne. Ons het heeltemal toevallig op ons eerste dag op hoërskool langs mekaar beland. Ek het ’n aanmerking oor ’n onderwyser gemaak waaroor sy haar ’n papie wou lag. Ons het besluit ons hou van mekaar. Dit was so eenvoudig soos dit.
O ja, amper vergeet ek, daar’s nog ’n verskil tussen Hanna Hoekom en Sharon Bester. My vel is die kleur van melk met ’n titseltjie flou tee bygeskink. Sharon is helfte koffie, helfte melk. Goeie koffie, moet ek seker bysê. Duur koffie. Alles aan Sharon lyk duur.
Mana sê in die ou dae het witmense omtrent altyd meer geld gehad as mense van enige ander kleur. Sy dink dis fantasties dat die teenoorgestelde deesdae moontlik is. Ek ook, natuurlik. Maar ek moet erken soms kyk ek nogal afgunstig