Of miskien sal ek haar soms, net so nou en dan, laat wonder of haar ma nie eerder ’n mallerige kunstenares moes gewees het nie. Net om haar bietjie interessanter te maak. Tot dusver klink sy darem te veel soos ’n drip. So kom ons maak vir Fabienne kunstig. Besonder kunstig. Maar sonder ’n kunstenaar se morsige persoonlikheid.
Op die ouderdom van twee teken sy ’n volmaakte stokmannetjie. Op ses skilder sy stillewes, blomme uit haar ma se tuin wat haar pa dadelik herken, daardie een is ’n roos en daardie ’n affodil en daardie ’n magrietjie! So dis normaal dat sy soms sal wonder waar haar talent vandaan kom. Met ’n ma wat heeldag in die grond rondgrawe en ’n pa wat heeldag in ander mense se monde rondgrawe.
En dan word sy een oggend wakker, ná ’n eienaardige droom oor ’n meisie met die naam Hanna Hoekom wat saam met ’n spul wilde broers in ’n spektakel van ’n huis woon, en sy onthou dat die meisie se ma ’n woeste boskasie van ’n haarstyl gehad het wat met verfkwaste bo-op haar kop vasgesteek was. En haar eerste verwarde gedagte is: Miskien is daardie verfkwasvrou my ma? En dan vryf sy oor haar oë en skuif regop en besluit dit was net ’n nagmerrie.
Maar die saadjie van twyfel is geplant. Daardie aand aan tafel, terwyl hulle sappige biefstuk en gebakte aartappels eet, kyk sy na haar pa wat nooit enigiets teken nie (behalwe tjeks) en haar ma wat nooit enigiets verf nie (behalwe haar lippe soggens voor die spieël) en sy kry die kriewelrige gevoel dat sy nie aan hierdie tafel hoort nie. Sy druk dit dadelik dood, die ry miertjies wat deur haar maag marsjeer, en vra wat is daar vir nagereg. Tuisgemaakte sjokolademousse, antwoord haar suster met ’n trotse glimlag. Camille het ’n slag in die kombuis, veral met soetgoed, en gewoonlik is Fabienne mal oor haar suster se poedings. Maar vanaand proe die mousse soos modder …
“Het jy nie my Harry Potter gesien nie?” wil Amos weet toe hy by my kamer inbars.
“Het jy nie my toe deur gesien nie?” vra ek met my kwaaiste stem. “Dink jy dis ’n kafee dat jy sommer kan instorm sonder om te klop?”
“Ja, oukei, ek’s jammer, maar ek soek my Harry Potter!”
“Jy gaan dit nie in my kamer kry nie.”
Hy kyk nogtans rond asof hy hoop dat die boek op ’n toweragtige manier in my kamer beland het. Dalk afgelewer deur een van Hogwarts se posuile.
“Mana het gesê ons moet boeke saamvat, want daar’s nie TV in die huis op die berg nie en nou …”
“Daar’s ook nie ligte in die huis op die berg nie,” val ek hom in die rede. “Ons gaan almal saans by kerslig sit en lees soos in die Middeleeue.”
“Maar ek kan nie my Harry Potter kry nie!”
“Ek’s nie verbaas nie. Jou kamer is so deurmekaar dis ’n wonder dat jy elke aand jou bed kry.”
“Ek sweer dis Tibo wat dit weggesteek het!”
“Jou bed?” vra ek met ’n lieftallige glimlaggie.
“Tj’aag, jy’s simpel, man.” Hy gluur na my waar ek kruisbeen op die bed sit, klaar aangetrek, my tas gisteraand al klaar gepak, soos gewoonlik die enigste een in die gesin wat gereed is om te vertrek wanneer ons veronderstel is om te vertrek. “Wat skryf jy?”
“Niks met jou uit te waai nie.”
“Jou lewensverhaal?” vra hy met ’n gevaarlike grinnik wat hom nogal soos sy ouer broer laat lyk.
“Iemand anders se lewensverhaal. Gaan soek jou boek op ’n ander plek.”
“Is daar towenaars in jou storie?”
“Ja,” lieg ek sonder dat ek weet hoekom, miskien net oor daar skielik iets soos belangstelling oor sy sproetgesig flikker. “Towenaars en tandartse.”
“Tandartse?”
Die flikkering verdwyn oombliklik. Hy gee haastig pad uit my kamer. Los my nogal gekrenk op my bed.
“Dis in elk geval nie ’n storie vir agtjarige seuntjies nie!” roep ek agterna.
Wel, noudat ek daaraan dink, dis miskien nie nodig om Fabienne se pa ’n tandarts te maak nie. Hy kan mos iets meer opwindends wees? Ek bedoel nou nie ’n towenaar nie, maar sê nou maar iemand wat in die buitelug werk. Met ’n maandelikse salaris. Die salaris is belangrik. Iets soos ’n bosbouer of ’n wildbewaarder of so iets?
Nee. Met so ’n pa sou Fabienne nie in ’n stad kon woon nie. Sy sou iewers in die boendoes moes gaan sit en ek sou dit nie kon vat nie. Ek bedoel sy sou dit nie kon vat nie.
Dis erg genoeg dat ek die volgende drie weke in die boendoes moet deurbring. Omtrent ’n uur van die naaste beskaafde dorp af! (Met beskaaf, liewe leser, bedoel ek bloot ’n plek met verkeersligte en ’n paar winkels.) En dit oor my ma nog nooit ’n wittebrood gehad het nie. Die eerste keer was sy te naar. En die tweede keer – nou ja, selfs Mana is nie mal genoeg om saam met ’n proefbuis te wil wittebrood hou nie.
Toe sy laas jaar met Beyers getrou het, het dit gelyk of sy wéér nie ’n wittebrood gaan hê nie. Daar was nie geld nie, nie met die groter huis wat gekoop moes word nie, en selfs as hulle dalk nog iewers geld in die hande kon kry, sou hulle nie weet wat om met al die kinders te maak nie. Toe bied ’n vriend van Beyers vir hulle die huis op die berg aan, heeltemal verniet, vir so lank as wat hulle dit wil hê. Vir omtrent ’n minuut, een van die langste minute in my lewe, dog ek hulle wil hê ons moet vir altyd daar gaan woon.
Beyers het die nuus vir ons aan tafel meegedeel (die slegste nuus in hierdie huis word altyd aan tafel meegedeel, gewoonlik terwyl ons sop eet) en toe begin almal gelyk gil en skreeu.
Ek wil nie soos Josef op ’n berg gaan sit nie! Dit was Moses wat op die berg gesit het! Ek sal ’n eetstaking hou! Ha-ha, jy kla elke halfuur jy’s honger! Nou maar dan kan jy ’n eetstaking hou! Ek wil nie ’n eetstaking hou nie! Ek wil nie na ’n ander skool toe gaan nie! Ek dog jy haat jou skool! Ek haat my skool maar ek sal enige ander skool nog méér haat! Ons sal almal saam ’n eetstaking hou! Ek wil nie ’n eetstaking hou nie!
“Ons wil nie daar gaan wóón nie!” het Beyers gebulder. Hy doen dit nie baie nie, maar as hy dit die slag doen, bulder hy soos net ’n akteur kan bulder. Koning Lear in ’n loeiende storm. “Ons wil net ’n vakansie hou!”
’n Paar oomblikke was dit onheilspellend stil om die tafel. Ons het almal dikmond aan ons aartappelsop geslurp.
“Hoekom?” wou Yann wantrouig weet.
“Ons het nog nooit almal saam vakansie gehou nie.”
“Dit pla mý nie,” het Yann gesê. “Pla dit vir julle?”
Hy het na my gekyk. Asof hy ’n bondgenoot soek. Dit was die eerste keer dat hy met iets anders as verveling of minagting na my gekyk het.
“Ag, nee wat,” het ek dadelik gesê, “ek kan lewe sonder ’n gesinsvakansie.”
“In ’n huis sonder TV!” het Tibo in afgryse uitgeroep.
“Is dit ’n spookhuis?” wou Amos weet. Die enigste een wat effens opgewonde geklink het.
“Dis soos ’n wittebrood,” het Mana ons ingelig. “Ons het ’n wittebrood nodig, almal van ons, om mekaar beter te leer ken.”
Toe begin almal weer gelyk gil en skreeu.
Ek sal eendag my eie wittebrood reël, dankie! Ha-ha, saam met wie nogal? Beslis nie saam met jóú nie! ’n Wittebrood sonder TV? Dis die simpelste idee wat ek nóg gehoor het! Gaan ons almal in dieselfde bed slaap? Ek wil niemand aan hierdie tafel beter leer ken nie! Kom ons hou ’n eetstaking! Ek wil nie ’n eetstaking hou nie!
Mana