Mana het pas by my kamer ingestrompel. Haar roesblonde boskasie selfs woester as gewoonlik, paniek oor haar hele gesig.
“Hanna, ek het jou hulp nodig, anders gaan ons nooit vandag wegkom nie.”
“Ek het gewéét dit gaan gebeur. Ek is die enigste een in hierdie gesin wat ooit …”
“Ek weet,” knip sy my kort. “Jy’s die enigste een wat ooit betyds klaar is vir enigiets, dis dié dat ek jou vra om te help. Die res skarrel soos afkophoenders rond. Amos soek sy boeke en Tibo kry nie ’n enkele sokkie wat by enige ander sokkie pas nie en Yann …”
“Ons is op pad na die gramadoelas,” mompel ek. “Wie dink Tibo gaan omgee as hy ’n onpaar sokkies dra?”
Maar ek ken klaar die antwoord.
“Jy ken vir Tibo.”
Ek ken vir Tibo. Sy kamer lyk miskien soos ’n hoenderhok, maar hy’s nogal ’n netjiese kuiken as dit by klere kom. Die vere maak die voël, glo hy. Hy sal nie eens vir een van sy Action Men ’n onpaar sokkies aantrek nie.
“En Yann is briesend oor sy Marilyn Manson-CD verdwyn het,” gaan Mana aan. “Hy dink dis sy pa wat dit weggesteek het. Nie dat ek sy pa sou kwalik neem nie. As ons drie weke lank na Marilyn Manson moet luister …” Die manier waarop sy dit sê, haar grys oë net ’n bietjie té groot gerek, laat my vermoed dat sý die CD weggesteek het. “En nou het Pampoen en Patat ook nog verdwyn. Moet die geskarrel in die huis wees wat hulle laat vlug het.”
Slim honde, dink ek. Dis wat ék ook moes gedoen het.
“Seker bang hulle word in die agterplaas toegesluit,” sug Mana. “Niemand het vir hulle verduidelik hulle gaan saam nie.”
“Miskien is dít juis waarvoor hulle bang is. Miskien is hulle ook nie lus vir hierdie wittebrood nie.”
Mana kyk smekend na my. Sy dra groen stewels met skerp punte. Dit lyk soos iets wat sy by ’n kabouter gesteel het. Dis om die oog ondertoe te lei, het sy nou die dag verduidelik, om die aandag van haar swellende maag af te trek. Ongelukkig werk dit nie, want haar rok is selfs meer opvallend as haar skoene. Groot pers en rooi blomme wat onmiddellik die oog terug boontoe lei. Die grootste, rooiste blom pryk presies in die middel van haar massiewe maag.
“Wil jy nie asseblief tog na hulle gaan soek nie, Hanna?”
“In die reën?”
“Dit reën glad nie meer so hard nie. Hulle moet iewers in die buurt wees. Kruip seker in iemand se tuin weg.”
En voor ek verder kan teëstribbel, swaai sy om en vlug by die kamer uit.
“Ek gaan nóóit alles in die kar gelaai kry nie!” kla Beyers halfpad teen die trap op.
“Dis mos hoekom ons die sleepwaentjie saamvat,” troos Mana.
“Ons het nie ’n sleepwaentjie nodig nie, ons het ’n treintrok nodig. Al daardie beddegoed! En ses bokse vol kos!”
“Jy weet hoe die kinders kan eet!” roep Mana halfpad teen die trap af. “Die kos gaan binne drie dae op wees!”
“Kan ons nie ’n paar bokse op die dak vasmaak nie?” roep Yann uit die kombuis.
Dadelik benoud dat hy nie genoeg gaan hê om te eet nie.
“Ek sou eerder ’n paar kinders op die dak wou vasmaak,” mompel Beyers toe hy verby my kamerdeur stap. “Die bokse gaan minstens nie heelpad kla hulle is verveeld nie.”
Ons gaan soos vlugtelinge uit ’n Oos-Europese oorlog lyk, besef ek toe ek Mana se rooi reënjas aan die kapstok in die voorportaal gryp. Berge bedek my en bome val op my. Ons geroeste kombi staan in die oprit langs die huis met ’n geleende sleepwaentjie agteraan gehaak. Ek sal sterf van verleentheid as iemand wat ek ken hierdie petalje moet sien. Die bagasiebak en die waentjie is klaar volgepak en die helfte van die bagasie moet nog in. En natuurlik die ses mense en twee honde.
Dis nou te sê as ek die twee honde kan opspoor, dink ek terwyl ek deur ons onkruidbegroeide tuin stap. Ek knip die hekkie agter my toe en kyk rond in die blinknat teerstraat. Die berg se krom rug is toegewikkel in ’n tjalie van mis.
“Pampoen! Patat!” roep ek met ’n mond vol reën. Ek klink soos ’n groentesmous. “Patat! Pampoen!”
As dit nie vir hierdie twee honde met hulle simpel name was nie, sou Mana en Beyers mekaar dalk nooit ontmoet het nie. Mana se Pampoen is ’n middelslag-basterbrak, moeilik om te beskryf, skraal soos ’n windhond, lieftallig soos ’n labrador, met ’n gladde bleekgeel vel soos ’n pampoen wat net-net begin ryp word. Beyers se Patat is ’n groot, wollerige, kwylerige gedoente, ’n kruis tussen ’n poedel en ’n beer, die kleur van ’n borriepatat se skil. Mana en Beyers het elk met ’n hond teen die berg gaan stap, toe ruik die honde mekaar. Liefde met die eerste snuif, kan jy maar sê. En soos enige jong verliefdes probeer die twee troeteldiere toe natuurlik dadelik wegkom van hul preutse oppassers. Ruk los en laat spaander, met Mana en Beyers wat skreeuend agterna storm.
“Pampoen! Pampoen!” gil Mana.
“Patat! Patat!” bulder Beyers.
Toe bots hulle amper teen mekaar.
“Is jou hond se naam Pampoen?”
“En joune Patat?”
“Ons kan hulle laat kleintjies kry,” stel Beyers voor, “en ’n groentewinkel begin. Dink net! Aartappeltjie en Worteltjie en Skorsie …”
“En miskien meer eksotiese name vir die dogtertjies?” sê Mana. “Iets soos Aubergine of Courgette?”
Toe begin hulle lag.
En toe hulle ophou, toe is dit heeltemal te laat om die honde uitmekaar te hou.
Hulle hét toe kleintjies gekry en ons hét vir al vier kleintjies groentename gegee. Maar ons moes hulle weggee aan normale mense wat vir hulle normale name gegee het. Smartie en Stoffel en Wollie en Whisky.
Ek wéét dit klink soos iets wat Walt Disney uitgedink het. Perdita en Pongo in ’n Londense park. Pampoen en Patat teen ’n Kaapse berg. Maar ek kan nie help nie, liewe leser, dis die waarheid en soms is die waarheid nogal corny.
Onwaarskynlik, dis die woord wat Mana graag gebruik. Sy sê die werklikheid is baiekeer meer onwaarskynlik as enige storie. As ek so na haar kyk, dink ek sy moet reg wees, want sy’s meer onwaarskynlik as enige ma wat ek nog in ’n storie teëgekom het.
Dis waarom ek nie sal omgee as juffrou Liebenberg sê Fabienne se lewe klink darem ’n bietjie dik vir ’n daalder nie. Gee my eerder ’n ma met groen vingers as ’n ma met groen hare. Ja, soms vergeet Mana om haar verfkwaste te was voor sy hulle in haar hare druk, dan loop sy rond met ’n kop vol eienaardige kleure. As sy sien ek skaam my dood, bedek sy haar hare met een van haar slap hansworshoede. Dan skaam ek my éérs dood. Gee my eerder ’n pa met bloed op sy vingers as ’n pa met maskara op sy wimpers. Gee my eerder Fabienne se fantastiese tande!
Intussen loop ek in die reën en roep na twee honde met onwaarskynlike name. Toe ek hulle eindelik sien, voor die laaste huis in die doodloopstraat, skrik ek my boeglam. Dis die huis wat aan die Heks van Endor behoort. Ons noem haar die Heks van Endor, want sy het toutjiesrige grys hare en ’n skerp neus en sy hou meer van katte as van kinders. Ek kan glad nie verstaan hoe Pampoen en Patat aan die verkeerde kant van haar toegerankte draadheining beland het nie, maar hulle het twee van haar swetterjoel katte in ’n kaal wilgerboom opgejaag en probeer nou hulle bes om die katte uit die boom te blaf. Die heks staan op haar stoep, brandmaer in ’n swart kamerjas, en gooi skoene na hulle.
“Pampoen! Patat!” roep ek dreigend. “Kom dadelik huis toe.”
Die honde voel duidelik vere vir my dreigende stem.
“Ekskuus, mevrou?” roep ek, want dit lyk nie of sy my sien nie.