’n Eerstepersoonverteller is self ’n karakter in die verhaal – gewoonlik die hoofkarakter (main character).
Woorde soos “ek”, “ons”, “my” kom gereeld voor.
Die illusie van werklikheid (reality) en geloofwaardigheid (credibility) word deur hierdie tipe verteller geskep.
Die tipe verteller gee net sy/haar eie gedagtes en ervaring (experience). Die leser kry dus nie die ander karakters se perspektief nie. Aan die ander kant kan hierdie gebrek aan perspektief die spanning (suspense) verhoog, wat tot voordeel van die verhaal kan wees.
Derdepersoonverteller (third person narrator)
Kenmerke:
’n Derdepersoonverteller is as ’t ware onsigbaar (invisible) en is nie ’n karakter in die verhaal nie.
Hy of sy verwys na die karakters deur hul name of voornaamwoorde (“hy”, “sy” of “hulle”) te gebruik.
So ’n verteller kan soms alwetend (omniscient) en alomteenwoordig (omnipresent) wees.
Hy of sy ken gewoonlik die karakters beter as wat hulle hulself ken, wat hulle dink en beplan, hoe hulle voel en hoe hulle gaan optree.
Die leser kan sien wat in al die karakters se gedagtes omgaan.
Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom as roman
Die soort roman waarmee ons hier te doen het, is die jeugroman (youth novel) en dit teiken tienerlesers. Hoe ouer die tiener word, hoe minder stel hy/sy belang in verhale wat nie geglo kan word nie, soos diere wat praat en mense wat soos Superman kan vlieg. Tieners kan hulle beter inleef in verhale wat gaan oor dinge wat hulle ken en wat ook met hulle kan gebeur.
In Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom skep die verwysing na bekende plekke soos Kaapstad, Tafelberg, Piketberg, die illusie dat dit ’n ware (true) verhaal is. Die moderne tiener kan maklik identifiseer met moderne dinge soos selfone en viertrekvoertuie (4X4s) en moderne temas soos homoseksualiteit en proefbuisbabas (test tube babies). Die verbeelding (imagination) waarmee hierdie temas in die verhaal hanteer word, betrek (involve) die leser op ’n interessante manier.
Hierdie verhaal word vanuit die perspektief van die eerstepersoonsvertelling gedoen. Hanna Hoekom is die hoofkarakter en die “stem” wat die verhaal die hele tyd vertel. Ons weet die hele tyd wat sy dink en wat haar emosies is, maar ons weet net so min soos sy wat die ander karakters dink en ervaar. Omdat sy so ’n fyn waarnemer (observer) is en die leser dit duidelik kan raaksien, skep haar vertelling vertroue (trust) by die leser.
1. Fabienne se fantastiese tande
Liewe leser. Dis hoe ek my lewensverhaal wou begin. Toe kom loer Tibo oor my skouer en sê ek is simpel, dis nie hoe mens ’n storie begin nie.
“Wat weet jy?” vra ek hom. “Hoeveel stories het jy al geskryf?”
Tibo is agt. Gans te oud vir sy ouderdom, soos my ma altyd sê. Hy’s my halfbroer. Ek het ook twee stiefbroers.
“Wie wil jy hê moet jou storie lees?” vra Tibo.
“Nie jy nie,” snou ek hom toe. “Loop speel met jou poppe.”
Hy speel nie rêrig pop nie. Wel, ek het hom laas jaar eenkeer betrap dat hy my ou Barbie-pop aantrek, maar toe ek hom daaroor terg, het Mana woedend geword. Mana is my ma. Sy hou daarvan dat ek haar op haar naam noem. Sy glo dis sleg vir mens se gesondheid om normaal te wees.
“Niks verkeerd daarmee as seuns met poppe speel nie!” het sy uitgeroep.
“Maar jy’t niks daarvan gehou toe ék met ’n Barbie gespeel het nie,” het ek gesê. “Hoekom is dit nou skielik oukei as hý met ’n Barbie wil speel?”
“Dit het te doen met rolle,” het Mana met rollende oë gesê. “Ek sal nie daarvan hou as Tibo rugby speel nie, maar as jy wil rugby speel …”
“Ek wil nie,” het ek vinnig gekeer.
Ek kon al sien hoe staan sy langs ’n modderige rugbyveld met een van haar hansworshoede op die kop en ’n termosfles vol groen tee onder die arm. Tussen al die ander normale ma’s en pa’s.
“Ek weet. Maar ás jy sou wou …”
“So as ék mal genoeg is om my nek te breek in ’n skrum is dit oukei? Solank Tibo net nie sý nek …”
“Jy weet dis nie wat ek bedoel nie!”
Mana het haar kop so wild geskud dat ’n verfkwas uit haar hare geval het. Binne-in haar bord sop. Sy’t die kwas uit die pampoensop gevis en min gepla verder geëet.
“Ek wil nie met poppe speel nie,” het Tibo stuurs gesê. “Ek het die pop net jammer gekry oor sy so kaal daar lê, toe trek ek vir haar klere aan.”
“Dis nie so erg nie, Tibo,” het ek probeer troos. “Gavin het ook altyd sy suster se poppe aangetrek.”
Tibo het my aangekyk of daar paddas by my mond uitgeval het.
Gavin is my pa. Hy dra meer grimering as my ma. Nee, nou laat ek hom soos ’n drag queen klink. Hy hou van ’n bietjie maskara as hy saans uitgaan, dis al. My ma dra glad nie grimering nie. Sy’t nie ’n rooi mond of pers ooglede nodig om raakgesien te word nie. Nie met ’n spul verfkwaste wat soos ystervarkpenne uit haar kop steek nie.
Tibo het in elk geval nooit weer, sover ek kon agterkom, met my Barbie gespeel nie. Deesdae speel hy met Action Men, sulke tawwe seunspoppe wat kamoefleeruniforms dra. Maar nou die dag toe ek my gelukbringerpen onder sy bed soek, ontdek ek ’n Action Man in ’n aandrok vol blinkertjies. Met ’n goue handsakkie oor sy gespierde plastiekarm gehaak. Ek het gesê as hy nie dadelik my pen teruggee nie, vertel ek vir Yann daarvan.
Dis wreed, ek weet, ek skaam my. Maar dit het gewerk. My pen met die sebravelpatroon het wonderbaarlik langs die tandeborsels in die badkamer verskyn. Hierdie huis is ’n oerwoud, sê Yann. En hy’s die koning van die oerwoud.
Terug by Tibo se vraag: Ek sou natuurlik wou hê miljoene mense moet my storie lees.
Maar toe Tibo vanaand aan tafel vir Yann vertel dat ek my lewensverhaal begin skryf het, proes Yann in sy preiesop. Ons eet gereeld sop. Dis goedkoop en gesond, sê Mana, en mens kan dit van enigiets maak. Soms, veral teen die einde van die maand, proe haar sop of dit van dooie akkedisse gemaak is.
“Wie wil nou ’n veertienjarige skrywer se storie lees?” vra Yann en lag dat die sop spat.
“Vyftienjarige,” lig ek hom in. “Oor ’n paar dae is ek vyftien.”
“Mens sou dit nooit raai nie,” sê hy met sy oë iewers onder my ken. Min of meer waar my borste sou gewees het as ek borste gehad het om van te praat. Yann is my sestienjarige stiefbroer. Hy glo dis sleg vir mens se gesondheid om nice te wees.
“Daar wás al tienderjarige skrywers wat beroemd geraak het,” stry ek terwyl my wange warm word. “Wat van Anne Frank of … of …”
“Anne Frank het ’n lewe gehad waarin iets gebéúr het. En sy moes doodgaan voor sy beroemd geword het.”
Goed. Anne Frank was ’n vrot voorbeeld. Só graag wil ek nou ook nie beroemd wees nie.
“Almal het ’n lewe waarin iéts gebeur,” troos Beyers toe hy sien hoe bek-af ek na my preiesop staar. “En die res maak jy mos maar op. Skryf jou storie, Hanna.”
Beyers is my stiefpa. Ek sou graag wou sê my bose stiefpa, maar ek kan nie so openlik lieg nie, nie eens in ’n storie nie. Hy’s die beste man wat my ma nog ooit in haar lewe gehad het. Toe ek dit ’n paar maande gelede vir hom sê, kort ná hulle getrou het, lyk hy kamma in die gesig gevat.
“Ek’s die énigste man wat jou ma nog ooit in haar lewe toegelaat het. Kyk net na my voorgangers.