“Hoe weird?”
“Ag, niks te besonders nie. Hy’s maar net ’n snaakse ou dier. An acquired taste. Maar genoeg nou daarvan,” sê sy en begin deur haar trui aan haar arms krap. “Ons moet hierdie kombuisgordyne van jou gehang kry. Toe jy gisteraand daai koek met jou hande eet, kon ek alles sien en mens wil nie altyd hê jou bure moet weet jy kan vingeralleen enorme dele van ’n onskuldige Black Forest-koek wegpak nie.”
“Hoe kon jy sien?” vra ek geskok.
Sy wys met ’n maer vingertjie by die venster uit. “Kyk, daar is my slaapkamervenster.”
Ek kyk, maar dis baie ver weg. Die erwe in hierdie straat is almal groot.
“Dis baie ver . . .”
“Ek weet, ja. Ek moes my verkyker gebruik om behoorlik te kon sien. Waar’s die gordyne?” Sy kyk na die spul bokse asof glibberige slange daaruit gaan spring.
Ek weet nie hoekom ek my nié vervies nie, maar ek doen nie. Dalk is ek net so dankbaar vir die geselskap dat dit die klein merrie se streke oorskadu. Daar is iets in haar waarvan ek hou. As al die mense op hierdie dorp soos Lenta de Waal is, gaan dinge dalk beter wees as wat ek verwag het. Dit sal beslis nie vervelig wees nie.
“Watse werk doen jy?” vra ek terwyl ons gordynringetjies inryg.
Sy lag. “Ek is Mevrou Doktor, dis al. Maar moenie jou misgis nie, ek is ’n genius. Net ’n arm genius, en dit maak ’n moerse verskil aan jou toekomsplanne. Ek praat ook nie van daai tipe arm van nie Nikes en designer-klere kan bekostig nie. Ek praat van die tipe arm dat ek op veertien weggehol het van die huis af omdat my ma se boyfriends te veel met my gevroetel het. Sy’t nie gedrink nie, maar sy’t baie ander stront gebruik. Ek dink sy’s nou dood – ek het nog nooit lank genoeg teruggekyk om seker te maak nie. Dit was daai tyd al ’n wonder dat sy nog geleef het.”
Sy vat nog ’n hand vol ringetjies. “En wat doen jy?”
My kop voel dik en ek wonder of dit die buurvrou se Rescues of bloot die buurvrou se skuld is.
“Ek gee skool, wiskunde. Maar op die oomblik is ek werkloos.”
“Ek was mal oor wiskunde toe ek op skool was. Dis so ’n skoon, logiese vak. Dinge is óf reg óf verkeerd. Daar is net in wetenskap plek vir iets so mooi steriel. Die lewe is te morsig en vuil om eers ’n metafoor uit wiskunde aanmekaar te kan slaan. Iewers in daai sin stink tog ironie, of hoe?”
Haar brein spring van een ding na die volgende en alles gebeur heeltemal te vinnig vir my geRescuede kop. Sy put my uit, en vir die eerste keer vandat ek hierdie gypsy-lewe begin leef het, wens ek ’n buurvrou kan tog net resepte uitruil of iets. Praat oor ’n groentetuin of hoe om vlekke uit te kry.
“Is so, ja. Ek gaan die gordyne ophang. As ek op die toonbank onder die venster staan, sal ek kan bykom. As jy so gaaf sal wees om vir ons tee te maak?” vra ek.
“Ek sal. Hoe vat jy dit eintlik?” vra sy hierdie keer.
Eintlik vat ek dit swart en bitter, maar dis baie sleg. Ek weet nie hoekom ek dit so drink nie.
“Nes jy dit gemaak het is reg.”
Ek hang die geel gordyntjies en sy maak die tee en vir ’n salige tydjie heers daar stilte in die kombuis. Dolly se gesnork waar sy op haar kombersie lê, is die enigste geluid. Die arme hondjie was seker nog nooit so ontspanne nie. Ek vermoed Lenta het meer as een Rescue in daai stukkie oorskietvleis gedruk.
Toe ek van die toonbank af klim, sien ek ’n dun rooi streep op die teëls. Dit lyk na bloed en dit stop by Lenta se voet.
“Jy bloei!”
Sy kyk af na waar bloed deur haar kous syfer. “Ag hel, al wéér. Ek het my raak geskeer met een van daai donnerse Minora-blade-skeermesse. Reg op my hak. Die ding bloei nou al vir dae. Jy moet my badkamermat sien!”
Sy tel die voet met haar hand op tot dit amper voor haar gesig is om beter te kan sien. Ek wonder of sy ballet doen, of joga of iets.
“Ag jis, gee vir my ’n ou vadoek, ek sal vir jou een terugkoop.”
Ek gee vir haar ’n nuwe vadoek aan. Dis al wat ek het. Nuwe huis, nuwe vadoeke. Dis een van die min luukshede wat ek my vir my kombuis gegun het. As mens baie trek, koop jy na ’n ruk nie meer vir elke nuwe huis allerhande nuwe goed nie. Jy besef dat ’n nuwe blyplek nie ’n nuwe begin is nie.
Sy draai die vadoek met vaardige hande om haar regterenkel. “Het jy nog een waarsonder jy vir die dag kan klaarkom?”
Ek gee nog een aan. ’n Heldergele waarvan ek eintlik baie hou.
Sy vee die bloed van die vloer af op, dan die paar druppeltjies wat op die kas gespat het toe sy haar voet so woes opgelig het. Dan sommer die rot se bloedspatsels in die hoek ook.
“Wat is jou naam?” vra sy.
“Maggie. Maggie Greene.” Ek voel half skuldig omdat ek my nog nie voorgestel het nie.
“Gaaf. Drink jy jou tee, Maggie Greene, dan gaan ek huis toe en begin met aandete. Kom so seweuur om, dan eet ons saam. Die doktor is ook weg tot die naweek.”
“Dit sal lekker wees, dankie.”
“Is jy allergies vir enigiets?”
“Nee, maar ek eet nie graag sprouts nie.”
Sy lag. “Wié hou regtig daarvan? Pretensieuse stronte.”
Ek wonder hoe oud sy is en hoe sy al vir donkiejare met die dokter getroud kan wees. Sy lyk jonger en jonger hoe meer ek van haar sien.
“Hoe oud is jy?” vra ek toe sy by die agterhek uitstap met die vadoek nog steeds om haar enkel. Dit moet seer wees, maar haar gesig wys glad nie dat sy bloei soos iets by die slagpale nie.
“Ek is sewe-en-twintig. En jy?”
“Een-en-veertig, gister. Hoe lank is jy al getroud?”
“Tien jaar volgende maand, maar dalk maak ons dit nie so ver nie, want ek sweer ek gaan daai ou nar nog in sy slaap doodmaak.”
Sy mompel die laaste sin, maar ek hoor dit tog.
“Hoe oud is hy?”
“Drie-en-vyftig.” Met dié stap sy weg.
Watse drie-en-veertigjarige dokter trou met ’n sewentienjarige? Ek hou sommer klaar nie van die man nie. Vieslike ou skepsel. Ek kan netsowel met ’n matrikulant gaan staan en trou, maar omdat ek ’n vrou is, sal ek beslis op So se voorblad beland – met ’n inlasfoto van die matrikulant toe hy in graad nege was.
Ek is bly die dokter is nie tuis nie. My sintuie is al so lank beroof van menslike kontak dat ek net een nuwe kennis per dag kan bemeester. As ek die man ook byvoeg, moet ek weer die kalmeerpille invaar voor slaaptyd.
Witter as sneeu
Iewers nadat Lenta weg is, raak ek aan die slaap. Vir ’n verandering op ’n opgemaakte bed in my nuwe slaapkamer. Dinge gaan duidelik beter by Wapadslaan 52.
My selfoon se gelui maak my halfses wakker. Ek het geweet hy gaan vandag een of ander tyd moet onthou hy het ’n vrou. Hom aspris nie gebel nie, want ek wou sien hoe lank dit hom vat.
Ek tel die selfoon van die bedkassie op sonder om te kyk wie dit is en is skoon verbaas om Talia se stem te hoor.
“En hoe gaan dit daar in diep, donker Afrika?” spot sy. “Ek skaam my dood omdat ek nie gister gebel het nie.”
Sy klink deesdae so gelukkig, dit maak my amper bang vir haar onthalwe. Dis die einste Talia wat my eenmaal vertel het daar is ’n universele hersteller van balans wat sorg dat mense nie té gelukkig of té mislik is nie. As dinge te veel na die een kant toe val, stuur hy iets om die skaal se balans te herstel.
Ek wonder wanneer daai bliksempie