Ek skuif ’n swaar boks oor die vloer. Ek weet dis die breekgoed. Toe ek dit begin uitpak, hou ek aan om met Dolly te praat asof sy ’n mens is. Asof ek die aarde se mislikste skepsel is, om so my hartsdinge met ’n mank hond te bespreek.
“Marilyn Monroe het iets gesê soos dat as mense haar nie op haar slegste wil hê nie, verdien hulle haar beslis nie op haar beste nie. Ek dink altyd aan Marilyn wanneer Mark my so grensloos irriteer. Dat die weg-werk nou maar een van sy slegte dinge is en daar is baie goeie goed ook. Ek weet ek is gelukkig wanneer hy hier is . . . Die ding is net, dis nie lekker om so min gelukkige tye te hê nie. Ek soek meer. Ander vrouens sien hulle mans so baie dat hulle die tye geniet wanneer hulle nie saam is nie. Wanneer Mark by die huis is doen ek niks, gaan ek nêrens, praat ek met niemand anders nie. Omdat ek elke oomblik wil geniet, Dolly.”
Ek kyk na die hond. Sy lyk nie beïndruk met my kak nie.
“Eintlik weet ek glad nie of dit méér goed of meer sleg is nie. Dalk sal dit makliker wees vir my om te glo dis meer goed as ek jóú kan oortuig? Dit voel asof ek myself net sal kan oortuig as iemand anders dit ook glo.”
Die uie is bruin en die vleis geseël. Ek draai die plaat se hitte laer en begin die wortels en aartappels skil en opsny. Die wortels kan nou al in, maar die aartappels moet nog ’n ruk wag.
Ek haal twee borde en messe en vurke uit die kas waarin ek dit so pas gepak het en sit dit op die tafel. The power of positive thinking. Ek kry twee glase en twee koppies ook. Én twee wynglase. Dan besef ek ek gaan die kratte met wyn wat ons saamkarwei het, moet soek.
Alles moet perfek wees wanneer hy hier aankom. So perfek soos dit kan wees tussen al die bokse. Dalk bly hy ’n bietjie langer as alles mooi en lekker en reg is. Dalk is dit dan vir hom moeiliker om te gaan, as ek kan bewys ek is die bly werd.
Die tyd sleep aan. Teen sesuur is my bredie reg en die wonderlikste Black Forest-koek ooit staan eenkant op die gedekte tafel. Ek en Dolly sit en kyk na die kombuishorlosie asof dit ’n tydbom is. Mark is by die Vuurkloof-kantoor. Dis maar twee ure se ry van Voortrekkersrus af, en hy ry nooit ná agt in die aand nie. Dus moet hy nou op die pad wees as hy huis toe kom.
Hy móét op pad wees. Groot asseblief. As die bliksem nou nog steeds agter sy lessenaar sit, weet ek nie hoeveel duiwels my gedagtes sal bevlieg nie. Ek wens ek was minder geseënd met ’n tong wat ditself in toom kan hou. Dalk as ek te kere gaan soos ’n mal mens kry ek beter resultate. Maar nee. Al wat ooit my woede wys, is die dinge wat ek dink – en niemand kan dít sien nie. So dit traak niemand, minste van almal vir Mark Greene.
Seweuur kom. Ek skep ’n klein bakkie waterblommetjiebredie op omdat my senuwees dit nie meer kan hou nie.
Halfagt.
Kwart voor.
Stilte heers in die kombuis. Ons luister vir karre, vir honde wat blaf. My hand streel en streel oor Dolly se sagte lyfie. Ek moes myself al telkemale herinner dat elke hond wat blaf, nie vir Mark Greene blaf nie.
Tien voor.
Vyf voor.
Agtuur.
Kwart oor.
Dalk is daar padwerke. Mis of iets. Reën op die pad?
Halfnege.
Ek gryp na my selfoon asof dit ’n suurstofmasker is in hierdie ellende. Dalk lê hy halfdood langs die pad! Dalk bel ek net betyds om ’n ambulans te ontbied!
“Skat?”
“Maggie!”
Hy het vergeet. Hy ry nie. Hy lê nie dood langs die pad nie. Ek weet nie hoekom ek altyd bang is hy lê halfdood langs die pad nie. Dis asof my klein brein net nie kan aanvaar hy gee nie ’n moer om nie. Asof daar ’n groter rede móét wees. Hy kán nie net eenvoudig van my vergeet asof ek van geen belang is nie.
Hy praat en praat, vra om verskoning en maak beloftes.
“Dis reg. Ek sien jou dan oor die naweek,” beëindig ek die gesprek.
Ek staan lank na die feestafel en kyk. Twee van alles, nogal. Laat dit vir my ’n les wees: Don’t tempt fate. The power of positive thinking sal elke keer teen fate verloor. Die pad wat jy sal stap, is vooraf bepaal. Ons misgis ons as ons dink ons het ’n sê.
Ek trek die moerse koek oor die tafel tot voor my en ek huil. Ek glo nie daar is nog iemand wat kan huil tot sy ruk en snik soos ek nie. Ek het dit tot ’n kuns verfyn: om al die bitterheid in my bors deur my oë te laat loop. Daar was ’n tyd toe ek selde gehuil het, maar nie meer nie. Nou kan ek met drama en tragedie en oorgawe huil soos niemand anders wat ek ken nie.
Ek maak my regterhand bak en druk dit in die perfekte koek in. ’n Sagte, taai glibberigheid kriewel tussen my vingers deur. Ek hou my hand stil en begin my vingers beweeg. Ek grou en krap in die koek se binneste tot dit ’n gemors van room, kersies en chocolatekoek is voor ek ’n hand vol in my mond druk. Een, twee, drie, baie hande vol.
Ek eet daaraan tot dit opmaak vir die vrees wat ek saans alleen in hierdie huis voel. Tot dit opmaak vir die kouete van elke nag alleen slaap. Tot dit die seer in my en die stilte om my vol maak.
Toe gaan was ek my hande. Die icing sit soos kleigrond onder my naels en ek krap die sagte vlees rou soos ek die herinnering probeer wegwas. “Ek’s jammer, Dolly,” sê ek. “Soms raak ek ’n bietjie hartseer, dan gedra ek my soos ’n barbaar. Dis darem hier, agter geslote deure. Jy sal jouself nooit op straat vir my hoef te skaam nie.”
Ek tel haar op en gaan sit voor die rekenaar om te kyk vir e-pos.
DalenaVS: Geluk met jou verjaardag!!! Was jy in die afgrond in bederf?
Dis Talia se ma op Google Chat.
Ek begin tik oor hoe Mark nie eers onthou het om my geluk te wens nie, maar vee dit uit. Dan begin ek tik oor hoe hy nie huis toe gekom het nie, maar vee dit ook uit.
Maggie7: Dis heerlik sover. Ek het ’n hondjie gekry.
Dis net ’n halwe leuen. ’n Mens lieg nie sommer vir hierdie vrou nie. Sy weet alles.
DalenaVS: Nou vir wat sit jy dan op die internet? Gaan kuier met jou man, jy sien hom so min!
Ek oorweeg dit om ’n verduideliking te tik, maar ek weet dis te laat. Sy weet wat aangaan en ek moet eerder los voor ek haar ontstel.
Maggie7: Nag, tannie.
DalenaVS: Nag, Maggie.
Ek sit die rekenaar af en gaan skep nog ’n bakkie bredie. Partykeer eet ek vir dae niks en dan kom daar ’n dag wanneer ek genoeg eet om ’n klein koshuis Ethiopiërs ’n week lank te voed. Wanneer ek nie eet nie, is dit omdat ek vergeet. Só toegeweef in myself dat ek van basiese oorlewing vergeet.
Ná ’n paar uur se TV kyk gaan ek badkamer toe en vee die maskaratrane en koekstrepe met ’n waslap van my gesig af, voor ek dit op my kopkussing kry. My vel voel droog en grof en ek sit room aan, sommer die eerste ding wat voorkom. Ek vat te veel en vryf wat oorbly aan my hande.
Die lyne op my palms het baie verander deur die jare. Daar het soveel bygekom, ander het verander en my hande lyk nie meer soos ek hulle onthou nie. Dalk voorspel dit wel die toekoms. Is dít hoekom daar soveel nuwe lyne is? Omdat alles slegter uitgedraai het as wat ek gedink het dit sou wees?
Ag, dis seker maar net van skottelgoed was en wasgoed ophang in die koue. Of bossies uittrek in die tuin. Ons mag mos nie mense in diens neem daarvoor nie, Mark se ma sal iets oorkom. Dalk lyk my hande soos hulle lyk omdat ek amper nooit room aansit nie.
Ek is moeg, en dis nie die tipe moeg wat ’n goeie nagrus sal wegvat nie. Ek is moeg tot in my siel. Soms is dit so erg . . . Ek weet nie meer of ek van my lewe hou nie.
Ek het nie familie nie, net ’n tante iewers in die Noord-Kaap wat ek nog nooit ontmoet het nie. My enigste vriendin (en haar ma) bly baie ver weg. My stiefseun is in ’n koshuis en as ek hom nie bel nie, praat ons nooit. My man is nie eenhonderd persent