Anderkant die spieël. Melissa Scharneck. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Melissa Scharneck
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800726
Скачать книгу
sy andersheid is nie meer belowend nie. Dit gee my nie meer hoop nie. Die einste dinge in hom wat ek bewonder het, het ’n doring in die sagte vlees onder my voet geword.

      Die straat is doodstil en verlate, maar dit voel tog asof mense na my kyk. Dalk staan ’n paar tannies agter hulle kantgordyne en wonder wat op aarde dié vreemde nuweling besig is om te doen.

      Ek weet self nie juis nie.

      Ek weet net ek kry koud, die wind sny deur my warmste baadjie. Ek het hierdie baadjie vandat ek een en twintig was. Ek moes al knope vervang en gate stop, maar vir die laaste twintig jaar hou dit my warm. My ma het vir my die baadjie op haar Woolworths-rekening gekoop. Dit het daai tyd ’n fortuin gekos, maar dit was die prys werd, want dit kon my nog altyd beskerm. Tot vandag. Vandag is die wind sterker as die baadjie.

      Ek vou die baguakaart oop.

      My vriendin Talia se ma het dit vir my per e-pos gestuur. Ek dink sy kry my uit die verte jammer.

      Talia Prinsloo is my beste vriendin, ons het saam gewerk by Hoërskool Vuurkloof, en haar ma is Dalena Vorster-Swart. Dalena kan enigiets en alles doen en sal Superwoman op haar neus laat kyk. Sy weet op ’n onverklaarbare wyse wanneer mense hulp nodig het en dan help sy. Maak nie saak wat fout is nie.

      Op een of ander manier moes sy besef het my lewe het ontaard in iets minder as perfek, en geeneen van Dalena se geliefdes durf minder as perfek van die lewe aanvaar nie. Al gee sy my soms ’n gatkramp met haar aardighede, is ek tog dankbaar om onder haar geliefdes getel te word.

      Met die baguakaart, die stel reëls wat aangeheg was aan die e-pos en ’n boek oor feng shui wat sy vir my gepos het, is ek veronderstel om my nuwe huis ontvanklik te maak vir positiewe energie. Soos die mense in die Ooste dit glo doen. Dis moeilik om te verstaan. En om kop te hou oor wat waar is en wat waar moet wees.

      Die hemel help my, ek weet net ek is bly my huis is aan die regterkant van die straat en nie aan die linkerkant nie. Ook dat ek in ’n vertikale straat en nie ’n horisontale straat bly nie, want anders sou ek nie my kop van my gat kon uitken nie.

      Die kaart wys vir jou watter deel van jou huis wat is. Dit deel die huis in nege dele en elke deel verteenwoordig ’n aspek van jou lewe. Soos die liefde, jou werk, jou gesondheid en so aan. Maar dan moet die dele ook pas by die windrigtings en soos ek sê, as hierdie huis nie presies gestaan het waar dit staan nie, was ek verlore. Dan sou die bagua-indeling nie by die windrigtings gepas het nie.

      Dan het ek my dalk, soos niemand nog ooit voor my, afgevee aan Dalena se idees oor die feng shui van Wapads­laan 52.

      Uiteindelik sien ek iets op die kaart wat sin maak: The front entrance must be located on this side of the map.

      Dankie tog, nou kan ek vanaand rapporteer my werk is gedoen. Dalena deel vir my takies uit asof sy op suicide watch is . . . Vandag moet jy nog niks uitpak nie, vee net die huis en maak seker dis skoon voor jy begin. Hang vir vandag net jou gordyne en maak seker die kantgordyne is nie skeef nie. Ek dink jy moet vandag buite jou tuinhek gaan staan en begin kyk wat pas waar, met die baguakaart, natuurlik.

      Dit gaan nou al vir meer as twee weke so aan.

      Soos ek die vier tree terug na die tuinhek vat, hoor ek ’n geneul soos ’n baba s’n uit die laventelbos kom. Raak ek nou heeltemal van my trollie af? Cabin fever het natuurlik ingeskop toe ek agterkom my nuwe dorp se hoofstraat is net seshonderd meter lank.

      Of dalk werk die Voltaren wat ek vanoggend gevat het net nie goed saam met die twee Grandpas en die knoffelpil nie.

      Dit voel nog steeds asof mense deur hulle kantgordyne loer en dit maak my ’n bietjie skaam om behoorlik ondersoek in te stel na wat onder die laventelbos skuil. Ek skop na ’n hopie droë blare wat onder die bos lê. Daar kom die kreungeluid weer. Die bos begin sommer bewe ook.

      Ek vat ’n tree terug soos dit iemand betaam wat dink sy word heeltemal koekoes.

      ’n Slang kan nie sulke geluide maak nie, kan dit?

      Ek het eenmaal slange met armpies gegoogle. Sulke dinge bestaan. Iets wat soos ’n slang met armpies lyk, was daai aand besig om deur my bad se uitlaatgat ín te klim. Ek was koud van vrees. Dit was toe ek nog op Vuurkloof gebly het, sonder ’n man. Die einste Dalena het kort voor twaalf in haar kar geklim en my kom red van die gedierte. Al waartoe ek in staat was, was om die badkamer­deur toe te trek.

      Dit was tussen die deur se toetrek en Dalena se aankoms dat ek gegoogle het. Met my skootrekenaar op my skoot, bo-op die eetkamertafel.

      Dit was al die tyd ’n vlermuis. Agterna het ek gemaak asof ek ’n regte drol voel omdat ek gedink het dis ’n slang met armpies (mens kry blykbaar glad nie slange met armpies in die Vuurkloof-area nie), maar heimlik was ek oneindig dankbaar vir Dalena se hulp. Want of dit ’n slang was wat vir my die middelvinger kon wys of ’n piepklein vlermuis, ek sou ewe bang wees.

      Ek kyk besluiteloos na die laventelbos. Dit kan tog nie ’n kind wees nie. Kan dit? Ag, Here, asseblief tog, moet asseblief nie dat ’n desperate ma haar kind hier in my laventelbos kom los het nie. Ek weet nie of ek dít sal kan oorleef nie.

      Ek kruip kop eerste, agterstewe in die lug, onder die laventelbos in. Fancy nuwe jeans en al. Ek vat en voel nog tussen die droë blare en takke toe ’n mank hondjie uit die bos strompel. So ’n troebel ligbruin kleur, maar dis moontlik net van vuil wees, want plek-plek is daar wit haartjies wat uitsteek. Dis nie ’n babahondjie nie, ek sou raai dit het lankal ophou groei. Die hondjie sal met gemak in ’n skoenboks pas – mét die deksel op.

      Ek het nog altyd gedink ek is ’n katmens, maar toe ek die vuil brakkie sien, weet ek van beter. Dis wat ek ma’s al hoor sê het: ek het altyd gedink ek soek ’n dogtertjie, maar toe ek hoor dis ’n seuntjie, toe weet ek van beter.

      Dalk is hierdie hondjie so na as wat ek aan ’n kind gaan kom. Ek is aan die verkeerde kant van veertig en ek weet dis nie ongewoon nie: mense wat diere kry in plaas van kinders . . . Ek het net nooit gedink ék sal een van hulle wees nie. Daar is baie kategorieë waarin ek nooit besef het ek val nie.

      Sou dit die nuwe antidepressant wees wat hierdie oordinkery veroorsaak? En dalk daai sterker Trepiline wat ek nou saans vat. Of die Azor. Die Azor kom eintlik nog van my ou dokter af en die ander goed van die nuwe ou. Ek weet nie of ek dit alles saam moet gebruik nie, maar as ’n pil kan help vir wat ek het, moet ek maar sluk.

      Sonder wik of weeg tel ek die vuil dingetjie op en vat dit in huis toe.

      Die hond stink. Ek weet nie of dit na vrot vleis of ’n muf koolkop ruik nie, maar ek draai dadelik die badkrane oop. Daar is vir my niks erger as iets wat stink nie. Dit was nie benede my om die skool se toilet spray onder my arms te spuit as ek op ’n warm dag begin stink het nie. Ek moet seker iets in my handsak begin saamdra. Toilet spray kan nie goed wees vir ’n mens se vel nie. Daar is baie hoër drukking in daai blikkies as in gewone onderarmsproei.

      “Ek gaan beslis nie ry en soek vir ’n plek wat honde­sjampoe verkoop nie. Is dit dieremishandeling as ek jou met Pantene was?” vra ek, en besluit sommer self dis heeltemal aanvaarbaar om ’n hond met mensesjampoe te was.

      En wat dan? Kos? Die hond het kos nodig. Ék het kos nodig.

      Ek sal die huis móét verlaat. Al wat ek het is koffiegoed, ’n pak maalvleis en ’n sak lemoene. Iewers is daar Salticrax ook. Salticrax is my gunstelingsoutkoekie. Daai sogenaamde gesonde goed wat met rys gemaak word is van die duiwel. Dan vat ek eerder my kanse met hoë bloeddruk en ongesonde maagvet.

      Ek was die hond en besef dis ’n dogtertjiehond. Net daar doop ek haar Dolly. (Darem nou nie met water of olie nie, só mal is ek nog nie.)

      Hoekom ek haar Dolly noem, weet die hemel alleen. Ek het nog altyd gedink Dolly is een van die skurfste name wat bestaan. Dit laat my dink aan ’n tannie in curlers wat op haar voorstoep sit met ’n sigaret wat van haar linkermondhoek af hang en ’n brandewyn-en-coke in die hand terwyl sy jou ma se onderlyf beswadder.

      Tog lyk hierdie hondjie vir my soos ’n Dolly. Nou nie daai Dolly nie, ’n ander een. Een wat oulik en klein en fraai is. Soos ’n pop. Veral