“Ja, mevrou, waarmee kan ons help?” antwoord ’n gelukkig klinkende mannetjie.
Ek raak amper kluisenaaragtig opgewonde oor die afleweringsdiens. Dit beteken ek sal eers môre die huis moet verlaat, dalk eers volgende week. Dalk hoef ek nooit weer my erf te verlaat nie.
“Ek wil graag ’n kilogram, nee wag, twee kilogram lamsvleis hê, ’n sak sout – van daai nuwe kristalgoed wat so gesond is, swartpeper, ’n sak uie, ’n sak aartappels . . . Het julle waterblommetjies?”
“Net in ’n blik, mevrou.”
“Twee blikke daarvan, asseblief, ’n sak tamaties, ’n pak basmatirys, ’n paar huisies knoffel – so drie, ’n bottel olyfolie, ’n 500 gram gesoute botter, ’n vars witbrood, ’n sak wortels, grondboontjiebotter – die growwe soort, appelkooskonfyt . . . gevriesde ertjies, ’n tweeliter-Coke, ’n tweeliter-melk, ’n sak hondekos vir klein honde en ’n blik ook, enige geur wat lekker lyk. En een van daai kouspeelgoed vir honde. Het julle so iets?”
“Ons het, mevrou. Sal dit al wees?”
“Uhm . . . maak julle bakkery dalk koeke? As ek nou een bestel, sal ek dit vandag nog kan kry?”
“Ja, mevrou, maar dit sal seker eers heelwat later in die dag wees.”
“Dis reg, maar ek gaan die ander goed binne die volgende uur nodig hê. Sal julle omgee om twee maal af te lewer?”
“Glad nie, mevrou. Watter soort koek wil u bestel?”
Ek trek my asem in. Hoopvol.
“ ’n Black Forest-koek?”
“Ek plaas u bestelling dadelik. Die kruideniersware sal voor elf-dertig by u wees en die koek behoort teen vieruur by u te wees. Kan mevrou my asseblief net gou uithelp met die hoeveelhede? Hoe groot moet die sak hondekos en die olyfolie en . . .”
“Dit maak nie saak nie,” sny ek hom af. “Wat ook al jy stuur, sal reg wees. Kies asof jy vir jouself koop. Kan jy dit vir my doen?”
“Natuurlik. Ek maak so.”
Dit klink glad nie asof hy dink ek is getik nie. Inteendeel, hy is net so vriendelik soos toe ons begin praat het.
“Ek . . . Dankie.”
Ek groet en druk die foon dood. Dit voel of ek kan huil so dankbaar is ek. Ek het nie gedink hierdie dorp sal enigiets hê wat ek soek nie, en kyk nou. Dinge lyk klaar beter. Dalk werk alles tog hierdie keer uit.
Met al die heen-en-weer-trekkery het ek grootgeword. Ek het nooit gedink ’n tyd sal kom wanneer ek volwasse voel nie, maar ek voel nou so. Asof ek maar te goed weet hoe oorlewing ’n mens kan uitput. Asof ek na jongeres kan kyk en glimlag terwyl ek in my binneste sê: Wag maar, eendag sal jy sien. Eendag sal jy verstaan.
Té diep in die donker woud
“Hoe gaan dit daar, my skat?” vra ek toe Mark uiteindelik, ná die vierde probeerslag, die telefoon optel. My maag is sommer op ’n knop getrek. Ek haat dit om te voel dat ek hom pla terwyl hy werk, maar ek kon dit nie meer hou nie.
Ek móét weet of hy nog vanaand huis toe kom. Hy het nog glad nie ’n nag in ons nuwe huis geslaap nie en ek moet weet. Ek bly nou al vir meer as twee weke alleen hier.
“Baie bedrywig, en daar?”
Ek hoor papiere wat geblaai word in die agtergrond. Dit laat my moordgedagtes dink. Sy volle aandag is nie eers by my wanneer hy met my praat nie! Elke keer wanneer hy langs my sit en ek kom agter hy’s eintlik myle ver weg, dink ek aan lelike maniere waarop Rattex en Vim gebruik kan word.
Ek wonder of hy dink ek is ook bedrywig. Dat ek vingeralleen huis opsit dat die biesies bewe. Hy gaan diep teleurgesteld wees as hy hier aankom en sien ek kamp uit op ’n matras in die sitkamer. Voor die TV en langs die rekenaar.
“Ek gaan maar aan. Ek kook vir ons iets spesiaals vir vanaand,” skimp ek.
Sekerlik as hy nie huis toe kom nie, sal hy nóú iets sê?
“Vanaand? Ek probeer my bes, Maggie, maar dinge gaan baie beroerd hier. Ek weet nie of ek nou al die kantoor kan verlaat nie, maar ek probeer regtig hard, my skat. Ek mis jou ook. Ek sal jou later in die dag bel as ek dit nie kan maak nie, maar ek sal probeer.”
Hy klink so gespanne. My eerste man is mos dood aan ’n hartaanval op kantoor. Toe hy nog baie jare jonger was as wat Mark nou is. Ek hou dus régtig nie daarvan as dit klink asof Mark te hard werk nie, maar daar is min wat ek daaraan kan doen.
Eintlik is dit boggherol, nie mín nie. Hy laat my geen sê toe oor hoe lank, hoe hard of wáár hy werk nie.
“Dis reg, my skat. Ek weet jy probeer, en ek mis jou ook. Soos ek sê, ek maak vir ons iets spesiaals vir ete en as jy hier uitkom, sal ek regstaan met ’n bredie wat jou mond sal laat water.”
Ek glimlag aspris terwyl ek praat, sodat hy nie moet hoor hoe omgekrap ek eintlik is nie. Ek hoop dit klink reg, want dit voel beslis nie of dit reg lýk nie – eerder soos ’n grynslag. Hierdie is nié wat ek in gedagte gehad het toe ek getrou het nie. ’n Mens trou mos omdat jy ’n permanente vriend en vertroueling wil hê. As ek ’n huwelik verwag het soos die een wat ek gekry het, het ek eerder vir ’n penmaat in die tronk begin skryf.
“Ek het vroeg vanoggend met Rudi gepraat,” verander ek die onderwerp. “Hy sê hy geniet die koshuis. Maar ek mis hom vreeslik.”
Ek mis die kind so baie, dit vreet soos suur aan my hart, maar dit was nie regverdig om te verwag hy moet ’n derde keer in twee jaar van skool verander nie. Maar tog . . . as ek my sin kon kry, sou ek hom saambring en net minder trek, maar sy pa is meer ambisieus as Macbeth. Mark sal nie rus tot die hele land van sy prokureursfirmas voorsien is nie.
Rudi is Mark en Juliet se seun. Ek is dol oor hom, al sou ek nie sê hy is dol oor my nie. Maar hy respekteer en verdra my darem. Dis meer as wat ek soms van sy pa kan sê. Die twee het een ding in gemeen: hulle vergeet van my sodra hulle my nie sien nie. Out of sight, out of mind.
“Hy het my gisteraand gebel,” sê Mark. “Ek kon nie regtig praat nie. Eintlik kan ek nou ook nie praat nie, my skat, maar ek sal vanmiddag van my laat hoor, of ek sien jou vir ete vanaand. Moet gaan. Lief vir jou!”
Dis darem belowend. Dis nie ’n reguit nee nie.
Die voordeurklokkie lui, ’n morbiede weergawe van iets waarop Mozart eenmaal trots was.
Tog nie die bure nie? dink ek beangs.
Gelukkig is dit net die blitsvinnige afleweringsdiens van die dorp se Pick n Pay.
Wanneer het ek so menssku geword? Ek was nie altyd so nie, onderwysers kan dit nie bekostig nie. Met Mark se geld is dit nie juis nodig vir my om te werk nie, en toe hy die laaste keer vir my sê ons gaan trek, het ek nie eers by die departement aansoek gedoen vir ’n verplasing nie. Dis dom, maar ek het net nie kans gesien om weer by ’n nuwe personeelkamer in te stap nie.
Ek het my eie geld ook. Van die huis wat ek op Vuurkloof verkoop het en die geld wat ek by gebrek aan ’n prettige lewe gespaar het. Maar ek gebruik dit nie. Mark deel sy geld eerder as sy tyd met my en ek vat dit. Dis beter as niks.
Met Dolly op my hakke loop ek kombuis toe. Die eerste boks wat ek oopmaak, het gelukkig amper alles in wat ek nodig het. ’n Groot kastrol, ’n snyplank, messe, houtlepels.
Ek kap die uie en sit dit op die stoofplaat om te verbruin. “Jy sotéér die uie,” praat ek met myself in my ou huishoudkunde-onderwyseres se stem.
Die klomp kombuisbokse kan darem sekerlik uitgepak word sonder die feng shui-riglyne? Dis nie asof ek die kombuis kan rondskuif nie, die kaste is ingebou. Tussen die kokery deur begin ek die goed uitpak. Dolly sit op ’n kombuisstoel oorkant die tafel en kyk na my. Sy lyk verveeld, so ek begin maar gesels.
“Ek het ’n man, Dolly, sy naam is Mark.