“Ons wil dit hê voor die skool begin.”
“En waar gaan julle soveel vandaan kry?”
“Pa het mos gesê mens kry geld as jy hard werk. Wel, dis wat ons gaan doen!”
Sy ouers kyk mekaar verbaas aan. “Werk” is ’n woord wat nog nooit vantevore deel van Trompie se woordeskat was nie.
Vroeg die volgende oggend ry Trompie na Blikkies se huis toe. Sy maat spring op sy fiets en die twee rooi gevaartes sit af na Dawie toe.
Dawie het ’n buitekamer. Die drie seuns sit daar en gesels. Hulle het Rooie met opset nie gaan haal nie. Hy kan mos nie by wees terwyl hulle besluit hoe om geld te kry om vir hom ’n fiets te koop nie.
“My pa sê mens moet hard werk vir jou geld,” sê Trompie. Die ander twee trek suur gesigte. Werk is nou nie eintlik iets waarvan die Boksombende hou nie.
“Ek weet dis nie lekker nie,” sê Trompie, “maar wat anders kan ons doen?”
“Ons gaan ons moet dood werk om genoeg geld vir ’n fiets te verdien,” kla Blikkies sommer al by voorbaat.
Trompie sug ook by die blote gedagte daaraan en vertel dan maar vir sy maats dat sy pa die geld vir hulle in ’n bankrekening sal sit.
“Dis ’n goeie plan,” sê Dawie. “As ons net iewers geld in die hande kan kry.”
Trompie besluit om sake in sy hande te neem.
Hy haal sy klein sakboekie en ’n kort potlood uit sy hempsak. Al die transaksies vir Rooie se fiets moet in hierdie boekie neergeskryf word.
Trompie lek die potloodpunt, skryf sy naam bo-aan ’n bladsy, Blikkies s’n bo-aan die volgende en Dawie s’n bo-aan die derde. So ja, nou is alles in die haak.
Hy lek die potloodpunt weer en dan vra hy: “Hoeveel geld het jy, Blikkies?”
“Ek? Nie ’n sent nie. Ek het alles op kougom uitgegee.”
Blikkies byt ’n stukkie kougom tussen sy tande vas en trek dit met sy voorvinger en duim lank uit. Nou kan sy maats dit mos sien.
“Hoeveel het jy, Dawie?”
“Niks nie,” kom die antwoord, “maar ek kry môre weer sakgeld.”
“Ek ook,” sê Trompie.
Hy skryf tydsaam op Blikkies se bladsy: Niks geld nie. Op Dawie s’n skryf hy: Kry môre sakgeld, en op syne ook. Bo-aan ’n ander bladsy skryf hy: Totaal, en daaronder: Sal môre weet.
“Vandag het ons nog niks nie,” sê Trompie, “maar môre sal ons darem iets hê.”
“Wat help ’n ietsie hier en ’n ietsie daar?” sê Dawie. “’n Fiets is ’n baie duur ding.”
“Weet julle wat dink ek?” vra Blikkies skielik.
“Nee, wat?” wil Trompie weet.
“Ek dink ons moet eers na oom Jorrie se winkel toe gaan en uitvind presies wat ’n fiets kos. Miskien is dit goedkoper as wat ons dink.”
“Of duurder,” sê Dawie swaarmoedig.
Trompie steek sy hand op. Hy vra vir stilte. Hy dink. Hy kyk na sy skoenpunt wat al ingeduik is van al die klippe, blikke en graspolle wat hy so loop en skop.
Blikkies en Dawie kyk afwagtend na Trompie. Hy sit doodstil. Hy dink diep. Dan helder sy sproetgesig op. Hy pluk sy pet van sy omgekrapte hare af en gooi dit hoog die lug in. Dan vang hy dit behendig en skree opgewonde: “Ek het hom, ouens, ek hét hom!”
“Wat?” vra Blikkies. “Jou pet?”
“Nee, man, ek het ’n plan. Ek het julle mos gesê ek sal iets uitdink.”
Die twee seuns sit nader aan Trompie. Sy oë skitter ondeund.
“Ons gaan sien oom Jorrie,” sê hy, “en ons koop die fiets op skuld.”
Blikkies en Dawie kyk hom verbaas aan.
“Ja, dis wat ons gaan doen, ouens!” sê Trompie opgewonde. “Ons vra vir oom Jorrie of ons die fiets kan afbetaal!”
Sy twee maats dink ’n paar oomblikke daaroor na, dan sê Blikkies: “En waar gaan ons geld vandaan kry om dit af te betaal?”
“Ons spaar elke maand dat dit klap sodat ons aan die einde van die maand genoeg geld het om die paaiement te betaal. Dis so maklik soos dit.” Trompie wonder hoe hulle dit gaan regkry, maar hy sê niks dáárvan nie.
Die seuns verkas dadelik na meneer Jordaan se fietswinkel in die hoofstraat. Klein Dawie sit voor op die fiets by Blikkies.
Toe hulle by die winkel instap, sê Trompie: “Laat ek praat, ouens. Ek weet mos hoe besigheid werk.”
Meneer Jordaan sit agter ’n toonbank. Hy loer oor sy bril na die drie seuns.
“Môre, oom Jorrie,” sê Trompie vriendelik.
“Môre, Trompie,” sê die ou man. “Wat kan ek vir julle doen?”
“Ons wil ’n fiets koop, Oom. Een soos my pa vir my hier gekoop het.”
“Dis goed, ja. Ek het nog een. Hier staan hy.”
Met verlangende oë kyk die drie seuns na die fiets. “Rooie slaan sowaar dood neer as ons dié ding vir hom gee,” mompel Trompie.
Hy sien al hoe hulle vier met hul rooi fietse (Dawie en Rooie se fietse sal natuurlik ook moet rooi geverf word) die wêreld platjaag.
Maar dan sien Trompie die fiets se prys en sy oë rek. Dis ’n geweldige spul geld.
Hy maak keel skoon en glimlag vriendelik vir die winkeleienaar. “Ons het ongelukkig nie genoeg geld om dit kontant te koop nie, Oom.”
“Nie?”
“Nee, oom Jorrie. Ons wil dit asseblief op skuld koop.”
Meneer Jordaan haal sy bril af en maak dit skoon. Hy sit dit weer op en loer daaroor na die drie seuns. Hy weet Trompie se pa is die bankbestuurder en die ander twee se pa’s is suksesvolle sakemanne.
“Ek dink ons kan dit so reël, Trompie. Wil julle die fiets in paaiemente afbetaal?
“Net so, Oom.”
“Wel, ek sal dit vir julle maklik maak. Julle betaal ’n deposito en dan betaal julle die res oor ses maande af. Hoe klink dit?”
“Top, oom Jorrie, ons bring sommer binne ’n paar dae vir Oom die … die …”
“Deposito?”
“Ja, die deposito.”
Toe die seuns buite is, sê Trompie opgewonde: “Sien julle – dit was maklik.”
“Maar waar gaan ons die deposito vandaan kry?” vra Blikkies terwyl hy sy kougom van die een kies na die ander versit.
Dit ís nogal ’n probleem! Dawie demp Trompie se geesdrif nog verder wanneer hy sê: “Dit gaan ’n lelike storie afgee om vir ses maande daai paaiemente af te betaal.”
Toe die drie verby die bank ry, kyk Trompie ingedagte na die wit gebou. Dan rem hy en hou stil. Blikkies en Dawie maak ook so.
“Wat nou?” vra Dawie.
“Ek dink sommer aan iets.” Trompie kyk fronsend na die bank.
“Al weer,” sug Blikkies.
“’n Bank is mos ’n plek waar daar baie geld is, nè?”
“Dis reg,” sê Blikkies, “maar hoe gaan ons daarvan kry?”
“Wel,