Uiteindelik sê hy met ’n hees stem: “Rooie, jy is my vriend en jy gaan dit vir altyd bly.”
“Myne ook,” sê Blikkies.
“En myne,” piep Dawie.
“Ek weet, ouens,” sê Rooie, “maar noudat julle op julle fietse rondjaag, voel ek so bietjie, julle weet – uitgestoot.” Hy glimlag moedig.
“Jy moet nooit so voel nie,” sê Trompie hard. “Jy’s een van ons!”
“Ek weet,” sê Rooie sag, “maar ek reken noudat drie uit die vier lede van die Boksombende fietse het, moet die vierde een maar liewer uit. Daar is nie meer plek vir hom nie.”
“Nonsens!” snou Trompie hom toe.
“Dis wat ek ook sê,” beaam Blikkies.
“En ek!” voeg Dawie by.
“Rooie …”
“Ja, Trompie?”
Daar is ’n ver kyk in Trompie se oë. “Ons gaan ’n plan maak. Ons sal sorg dat jy ook ’n fiets kry!”
“En sommer gou.” Blikkies spoeg sy grashalmpie uit.
“Vir seker,” sê Dawie.
“Kyk, julle bere,” sê Rooie en sy stem is hees, “julle praat nou van iets wat onmoontlik is. Julle weet tog self ’n fiets kos ’n hoop geld.”
“Ja, maar as Trompie sê ons gaan ’n plan maak, sal alles regkom,” paai Dawie. “Jy ken mos vir Trompie. Het hy al ooit gesê hy sal iets doen en dit dan nie reggekry nie, hè?”
“Ja, maar hierdie storie is heeltemal anders …”
“Ek sê jou, Rooie, ons gaan vir jou ’n fiets kry!” sê Trompie beslis.
“Hoe?”
“Ek weet nog nie, maar ons sal ’n plan maak.”
Trompie het sowaar al weer belowe om iets aan te pak wat baie moeilik gaan wees om uit te voer. Rooie is heeltemal reg. ’n Nuwe fiets is ’n duur ding. Waar op aarde gaan hy, Blikkies en Dawie ooit genoeg geld vandaan kry?
“Los dit liewer,” sê Rooie. “Ons het nog nooit probeer om geld in te samel nie. Ons kon verlede jaar nie eens genoeg kry om vir die sirkus te betaal nie.”
“Ons het nog steeds daar ingekom!”
“Maar ons het nie betaal nie. En nog ’n ding, Trompie,” gaan Rooie verder, “sê nou julle pa’s wil help om vir my ’n fiets te koop? Ek sê nie hulle sal nie. Ek sê net, sê nou hulle wil – dan sal my pa nooit ja sê nie. Hy sê hy kan goed genoeg vir sy gesin sorg met sy twee hande.”
Ja-nee, dink Trompie, sy vriend se pa is baie trots en koppig. Hy sê egter beslis: “Vergeet van hierdie hele fietsbesigheid, Rooie. Ek belowe ons sal jou oral saamvat en nooit weer stry oor wie jou moet oplaai nie. En ek belowe jy gaan een van die dae jou eie fiets hê – nog voor die skool begin!”
“Dankie, ouens,” sê Rooie. “Ek sal nie weer kla nie. Maar los liewer die idee om vir my ook ’n fiets te kry. Dis hopeloos.”
Rooie staar voor hom uit. Sy oë blink. Hy voel vir die eerste keer sy gesin is nie van die gegoede klas nie en dat dit miskien nog die einde van hulle vier se vriendskap gaan beteken.
Hy staan op en mompel: “Ek moet my pa in die winkel gaan help.”
Rooie stap vinnig weg. Die ander staar hom agterna. Hy lyk alleen en verlate soos wat hy al verder wegbeweeg. Hy knip die nattigheid in sy oë weg. Hy moet vergeet daarvan om ’n fiets te wil hê. Dit sal tog nooit gebeur nie.
2
Trompie die sakeman
Dié aand is Trompie buitengewoon stil by die huis. Hy dink diep – dit gaan harde werk kos om vir Rooie ’n fiets te kry!
Meneer Toerien sit en koerant lees. Mevrou Toerien sit en lees. Trompie se suster is fliek toe. Hy kan nie verstaan wat die kêrels aan Anna sien nie. Dis nou weer ’n jong boer van die distrik wat aanhoudend by haar kom kuier. Hy is glo ryk. Sy naam is Piet de Wet.
Trompie het nog nie veel met hom te doen gehad nie. Sy suster het hom die dood voor die oë gesweer as hy ooit by hulle in die geselskap kom sit. Asof hy wat Trompie is alewig moleste maak! Hy weet mos hoe om hom in geselskap te gedra.
Trompie dink daaraan dat hy miskien op die een of ander manier met hierdie Piet de Wet kan onderhandel. Hy is mos ryk, en Trompie het geld nodig – sommer baie geld.
“Trompie …”
“Ja, Pa?”
“Waaroor dink jy so ernstig?”
“Geld, Pa – groot geld.”
“So?”
“Ja, Pa. Geld is darem ’n snaakse ding. As jy dit het, kan jy enigiets koop, en as jy dit nié het nie, wel … dan het jy ook niks nie.”
“Dis reg,” sê sy pa glimlaggend, “maar dit is maklik om genoeg geld te kry vir wat jy nodig het.”
“Hoe, Pa? Hoe doen ’n mens dit?” Trompie is nuuskierig om te hoor wat die bankbestuurder gaan sê.
“Jy moet hard daarvoor werk!”
Die seun dink hieroor na. Dan sê hy: “Maar Pa, daar is dan mense wat hard werk en nog steeds nie geld het nie.”
“Dis mense wat meer spandeer as wat hulle verdien.”
“Nee Pa, nie almal nie. Rooie se pa het nie geld nie en ek dink nie hy spandeer meer as wat hy verdien nie.”
Mevrou Toerien kyk van haar leeswerk af op en glimlag. Sy wonder hoe haar man die bankwese en ekonomie aan Trompie gaan verduidelik.
“Kyk, seun,” sê hy, “Rooie se pa is nie ryk nie, maar hy is hardwerkend en eerlik en ek glo hy verdien genoeg as skoenmaker om vir sy familie te sorg.”
“Ek weet hulle ly nie honger of so nie, maar …” Trompie bly stil. Sy voorkop is geplooi. Meneer Toerien sit sy koerant neer. Hy ken sy seun. Iets is verkeerd.
“Wat is dit, Trompie?”
“Pa, hoekom het ek en Blikkies fietse, en Dawie kry een van die dae ook een – maar Rooie kan nie een kry nie?”
Dit is ’n moeilike vraag. Meneer Toerien aarsel eers en dan sê hy: “Rooie se pa verdien waarskynlik nie genoeg geld om vir sy seun iets so onnodigs soos ’n fiets te koop nie. Onthou, jy het joune ook maar net gekry omdat ek belowe het ek sal vir jou een gee as jy graad sewe slaag.”
“Ja, maar Rooie het ook deurgekom, so hoekom kry hy nie een nie? Dis onregverdig.”
“Miskien sal hy nog eendag ’n fiets kry.” Meneer Toerien tel sy koerant weer op.
“Ek gaan alles doen wat ek kan om te sorg dat Rooie ook een kry. Hy is my vriend, Pa weet.”
Dit is weer stil in die Toeriens se sitkamer. Trompie sit en dink. Dan sê hy skielik: “Pa, kan ek ’n rekening by Pa se bank oopmaak?”
Meneer Toerien lag. “Enige tyd. Maar wat gaan jy daarin sit?”
“Geld natuurlik!”
“En waar gaan jy dit vandaan kry?”
“Ek en Dawie en Blikkies