Die twaalfjarige Laetitia kom groet hom met ’n handdruk. Sy lyk vanaand deftig in haar wit rok en haar golwende rooibruin hare is netjies geborsel.
“Goeienaand,” sê haar pa.
“Goeienaand,” antwoord sy.
Hy knik goedkeurend. Hulle sal die naweek waarskynlik nie meer as dit met mekaar praat nie. Sy vrou glimlag. Sy geniet altyd die verhouding tussen haar man en Laetitia.
Berrie het sy donkerblou pak aan en lyk verbasend baie na Josef. Hy is nie heeltemal so lank nie, maar is darem ook nog nie sewentien nie.
Lavrans se oë is ook swart soos sy pa en Richard s’n, maar sy hare is goudgeel. Die gesin se baba wou so graag na Keurboslaan se kosskool toe kom dat hy die private skooltjie in die dorp op horings geneem en verskeie pakke by sy streng ma gekry het. Uiteindelik is daar besluit om hom liewer sy sin te gee. Almal by die groot skool het gou geleer die sewejarige Lavrans is taamlik vindingryk. Maar vanaand is hy alles wat ’n ouerhart kan begeer: pragtig skoon, bedees en beleef.
Ruyssenaer en Willemse groet die hoof met ’n eenvoudige “Goeienaand, doktor”. Hulle hou te veel van hom om te kere te gaan oor hoe wonderlik dit is om hom weer te sien. Soos almal wat die Serfonteins goed ken, weet hulle hy het genoeg sonde met die teatrale Amanda. Omdat hy haar reeds vroeër gegroet het, maak die hoof glad nie oogkontak met haar nie. Sy vrou frons lig en smeek hom met haar oë om meer genaakbaar teenoor Amanda te wees, maar hy kom eerder na waar sy sit en bied sy arm aan.
Helen Serfontein staan op en stap saam met haar man en die res van hulle gaste na die eetkamer. Toe hulle daar kom, is sy nie verras om te sien Amanda het agtergebly nie. Die gasvrou het egter nou genoeg van hierdie onsin gehad.
“Josef,” beveel sy, “gaan sê vir Amanda haar sop word koud.”
Doktor Serfontein gedra hom baie goed aan tafel. Hy sit oorkant sy vrou, en al eet hy min, gesels hy wanneer nodig. Hy aanvaar dit ewe kalm dat Amanda as enigste vroulike gas wat nie familie is nie, langs hom moet sit. Fräulein sit aan sy linkerkant. Hy kan met haar gesels omdat sy ’n intelligente vrou is wat al baie lank deel van die gesin is. Sy gewone afgetrokkenheid kwets haar soms, maar nie vanaand nie.
Uiteindelik is die maaltyd verby, en die geselskap bevind hulle weer in die salon.
“Sal almal my verskoon?” vra die hoof terwyl hy net na sy vrou kyk.
“Alte seker,” antwoord sy. “Millie, Geer en Bertrand kom oor, dan gaan ons musiek luister. Jy sal dit kan hoor terwyl jy langsaan werk.”
“Dankie, dit sal mooi wees. Maar voor ek begin skryf, wil Josef eers ’n paar minute kom gesels. Kom, Josef. Goeienag, almal.”
Amanda se oë swem in trane. Sy kyk na die hoof se vrou, maar Helen lyk heeltemal ongeërg. Hoe is so iets moontlik?
Wanneer hulle in die studeerkamer kom, bied doktor Serfontein vir Josef ’n sigaar aan.
“’n Hollandse een – lekker!”
“Oom Eugene bring dit altyd … So wat is nuus?”
“Pa vra nog. Groot dinge!”
“Ek weet die owerheid wil jou in die Veiligheidspolisie gebruik. ’n Lektorskap is ’n goeie dekmantel daarvoor. Jy kan as wiskundige oorsee gaan sonder dat daar enige vrae gevra word. As sportman natuurlik ook.”
Josef vergeet van sy goeie sigaar. “Het hulle dan met Pa gepraat?”
Die hoof knik sy kop.
“Zum Donnerwetter nochmal!” sê Josef.
Hy staan op van waar hy gaan sit het.
“Hoekom moet ek nou by hierdie James Bond-besigheid betrokke raak?” vra hy. “Ek wou by die Lugmag aansluit … en nou dit! Hoekom?”
“Want jy beskik oor die nodige eienskappe. Jy moet net leer om stil te bly.”
“Wat sal gebeur as ek iets verklap of verbrou? Skiet hulle ’n mens?”
“Nee, dis ’n werk soos enige ander. As jy bewys jy het nie ’n aanleg daarvoor nie, word daardie dienste nie weer van jou verlang nie, dis al. En jy sal die lektorskap behou omdat jy die kwalifikasies het.”
“Ek verstaan nou dat Pa ook al lankal …”
“Jy het nie nodig om enigiets te verstaan nie. Doen jou eie werk,” val doktor Serfontein hom in die rede.
“So dis in orde met Pa?”
“Het ek ’n keuse? Maar nie jou ma of enigiemand anders mag daarvan te hore kom nie. Dit weet jy.”
“Ja … Dis nogal vreemd, die hele ding.”
“Dis hoe die wêreld deesdae is. Jy het self so gesê, onlangs toe jy met jou graad teruggekom het. Moet net nie die fout begaan om te veel te dink nie. Doen net wat van jou gevra word – wanneer die dag kom. Intussen moet jy jou werk aan die universiteit met oorgawe aanpak, nes ons hier op skool doen. Dit gaan oor jongmense se toekoms, en jy is daar om hulle te help.”
“Dis baie gevra van een mens.”
“Miskien, maar julle Keurboslaners is goed gebrei daarvoor.”
“Ja. Werk tot jy nie meer kan nie, doen meer as wat een mens kan, en doen dan nog dubbeld soveel,” sê Josef met sy gewone glimlag.
“Dis reg.”
“Mag ek minstens soms met Pa daaroor praat?”
“Nee, tensy dit jou opdrag is.”
“Dis maar goed Amanda wil niks van my weet nie. Hoe kan ek trou as ek weet ek gaan gevaarlike goed aanvang? Dis nie reg teenoor ’n vrou nie.”
“’n Mynbestuurder se werk is gevaarliker … Sy sal moet uithou, soos alle getroude vrouens. Sy mag buitendien niks daarvan weet nie.”
“Hoekom maak Pa altyd of ek en Amanda gaan trou? Pa weet mos ons is nie regtig verloof nie. Sy wil my nie hê nie.”
“Jy het die verlowing openbaar gemaak, wat ook al jou bedoelings was. Julle kan in elk geval nie gou trou nie. Moenie dink jy en die ander kinders gaan ’n fortuin erf nie. Behalwe die geld wat op jou ma se naam geplaas is, word alles vir liefdadigheid belê.”
“Ek weet nie so mooi nie. Oom Oscar sê hy belê Pa se privaatgeld uit die boeke hier in Suid-Afrika, en dat Pa nou in eie reg ’n miljoenêr is, afgesien van wat Pa by meneer Maxim geërf het.”
Josef glimlag. Die dae dat hulle oor geld gestry het, is verby.
“Dit mag wees. Oom Oscar speel met geld soos ander mense kaart speel. Maar tussen julle ses verdeel, sal dit in elk geval nie ’n fortuin wees nie, indien geld dan nog enige waarde het. Julle moet elkeen maar hard werk, en deesdae moet ’n vrou haarself ook kan onderhou. Niks is meer veilig nie. Amanda moet haar eers kwalifiseer soos Tessa gedoen het, en soos Dian ook gaan doen.”
“Amanda het allerhande snaakse idees,” mompel Josef skielik verleë.
“Sy sal mettertyd daarvan moet vergeet. Sê asseblief vir jou ma ek gaan liewer nou boontoe.”
Josef bestudeer die kalm gesig en besef opnuut hoeveel mense-kennis agter die streng voorkoms skuil.
“Goed,” sê Josef en gaap soos ’n regte skoolseun.
Strelende musiek kom van langsaan terwyl die hoof na sy woonstel gaan.
Daar leun hy oor die tralies en roep na Wotan. Hy kry ’n sagte geknor as antwoord.
“Bravo!” sê hy.
Toe hy by die sitkamer se deur ingaan, hoor hy: “Hei, broer …”
Die hoof ignoreer die stem.