“Helen sal hom kan help.”
“Ja, maar nie nou nie. Eers later. Stuur Brian en Loggenberg asseblief hierheen met die magasyn se sleutel.”
“Hier is dit.”
“Dankie, maar stuur hulle in elk geval asseblief. Ek sal jou nie langer ophou nie.”
Toe die seniors inkom, is die hoof besig om te skryf.
Hulle staan voor die lessenaar en wag tot hy opkyk.
“Waar het die juniors die sleutel gekry?” vra hy.
“Kommandant Bierman het sy reënjas gistermiddag in die seniors se kleedkamer opgehang toe hy ná ons oefening van die skietbaan terugkom,” sê Brian. “Die kleintjies het hom dopgehou en gesien hy sit die sleutel in sy sak. Terwyl hy by meneer Dempers gaan koffie drink het, het hulle die sleutel toe ‘geleen’ soos Felix dit stel.”
“Vreemd dat kommandant dit nie gemis het nie,” sê Loggenberg.
“Hy is weg Swaziland toe vir die skietwedstryde by Hlatikulu,” sê die hoof wat ook frons. “Ek gaan nie nou oor julle nalatigheid praat nie. Dit kan wag tot Dinsdagaand. Ek wil ook nie nou die juniors spreek nie. Skryf hulle name neer.”
“Dis nie nodig nie, doktor,” sê Brian. “Dis die Bende.”
Die hoof verslap ’n bietjie. “Hoekom het hierdie skool altyd ’n bende?” vra hy. “Jare gelede was dit jou oom s’n, toe joune, en nou begin heelwat jonger seuns al daarmee … Nou maar goed. Dis genoeg.”
Josef en Amanda daag die aand voor die ander op en gaan groet die hoof dadelik. Hy ontvang hulle met ’n “Goeiemiddag”, maar groet hulle nie met die hand nie en kyk so gou moontlik weg van Amanda se smekende oë af.
“Sal Pa miskien later vir my tyd hê?” vra Josef. Hy probeer kliphard om nie verwytend te klink nie.
“Sekerlik. Kom gerus ná ete, dan rook ons ’n sigaar.”
“Dankie. Waar is al die ander?”
“Het jy jou ma al gaan groet?”
“Nee, ons het dadelik hierlangs gekom.”
“Jy behoort haar eers te gaan groet.” Die hoof glimlag effens. “Sy sal jou kan sê waar Bernard en Lavrans hulle bevind. Jy moet Lavrans tog ordentlike rugbyreëls leer. Hy wil die seuns hier laat sokker speel nadat hy dit op televisie gesien het. Dit kan sy lewe kos.”
Josef lag. “Goed, maar hy luister eerder na Riek as na my. Ek sal nogtans probeer. Is Riek al hier?”
“Nee, hy en sy maats en die meisies is nog op pad. Hy het van Carolina af gebel.”
Sonder dat die hoof dit sê, weet Josef en Amanda hy verwag van hulle om nou te gaan.
“Ek moes nie gekom het nie!” hoor hy Amanda sê nog voor sy en Josef op die stoep is.
Toe Richard ’n rukkie later alleen in die studeerkamer aankom, kry hy ’n handdruk. Die hoof kyk ondersoekend na sy ewebeeld. Hy is nie tevrede met wat hy sien nie. Richard se swart oë lyk moeg, en daar is ’n nuwe strengheid op sy gesig.
“Die meisie is by Mamma, en Ruys en Wim ook,” sê Richard. Hy klink baie ouer as een-en-twintig. “Ek het maar al ouma se boodskappe vir Mamma gegee.”
“Dis goed. Ek is dankbaar julle oupa het toegelaat dat ons die rondawels daar in sy tuin bou. Nou het julle almal huisvesting. Bring Laetitia weer moeilikheid huis toe?”
“Nie sover ek weet nie, Pa. Het sy dan nie mooi om verskoning gevra toe sy laas terug is ná sy geskors was nie?”
“Of dit mooi was, is ’n ope vraag,” sê die hoof. “Oom Eugene het haar teruggeneem en bygestaan, en volgens hom het sy so ’n produksie daarvan gemaak dat hy bang was sy word weer geskors.”
“Sy is ’n regte rakker. Ek kan nie dink sy is net twaalf nie. Ruys en Wim wil Pa graag kom groet wanneer dit geleë is.”
“Ek groet almal eerder gelyk net voor die aandete. Ek sal eers gaan verklee.”
“Pa wil in die kamer wegkruip,” beskuldig Richard hom skertsend. “Hier kom pla hulle Pa te maklik.”
“Wel, ek het tog alles daarbo, selfs apparaat vir oefeninge, wat so noodsaaklik is wanneer ’n mens ure lank agter ’n lessenaar moet sit.”
“Ja,” sê Richard effens onseker.
Hy weet sy vriende wat hy huis toe bring, vind dit vreemd dat die gesinshoof vir hom ’n aparte woonstel bo die nuwe besoekersvleuel laat bou het. ’n Klein buitetrap lei van die huis se boonste balkon af soontoe. Danster sorg daar vir die hoof.
“Pa kom tog eet?” vra Richard.
“O ja, vra die ander solank om my te verskoon. Dian en Laetitia sal verstaan, en hopelik my oudskoliere ook. Bernard en Lavrans is glo nou tuis.”
“Ruys en Dian loop met swaar ooglede rond,” sê Richard. “Hulle was gisteraand by ’n partytjie.”
Die hoof weet Richard wil iets onder sy aandag bring, miskien selfs op Ruyssenaer se aandrang. Hy gaan saam met sy seun uit na die stoep en hulle bewonder Keurboslaan se asemrowende mooi blou en pers berge en silwer strome.
“Gaan hulle dikwels saam uit?” vra hy.
“Ja. Sy is baie skaam, soos Pa weet, maar sy’s gewoond aan Ruys ná al sy jare hier. Miskien beteken dit vir hom meer, maar hy sê altyd sy is ’n baba, en dis hoe hy haar behandel.”
“Ek dink jy weet wat ek van hom dink. Ek is bly Dian is met so iemand bevriend … Wie neem jy uit? Jy hoef my nie te antwoord nie.”
“Nee, dis goed. Soms neem ek Amanda uit. Almal dink sy en Josef is verloof, so niemand nooi haar ooit nie. Ek en sy en Ruys en Dian gaan baie saam uit, maar wanneer Monica by die hospitaal afkry, skeur ons Wim van sy viooloefening af weg en hy speel derdemannetjie.”
Die hoof reageer nie op die naam Monica Betts nie. Sy studeer tans verpleegkunde en hy keur sy seun se vriendskap met haar goed.
Richard en Monica was albei maar vier jaar oud toe hulle saam in die kleuterskool op die dorp was. Mevrou Serfontein het besef die tingerige meisie met haar blou oë en stringetjies geel hare sou swaarkry. Die dorp se elegante dames sou nooit vergeet wie en wat Monica is nie. ’n Paar dae ná haar geboorte op ’n eensame plaas in Swaziland het haar pa haar ma doodgeskiet en toe selfmoord gepleeg.
Olga Betts het ’n baie slegte reputasie hier in Keurboslaan gehad. Bitter teleurstellings in haar jeug het haar heeltemal van stryk gebring, maar doktor en mevrou Serfontein het haar gehelp en haar later aangestel as huismoeder by hulle tehuis vir behoeftige meisies op Greylingsdrift hier naby. Sy verstaan hoe om streng, maar nogtans met genade op te tree. Danksy doktor Serfontein is sy toegelaat om die kindjie wat ook ’n verstoteling soos sy sou word, aan te neem.
“Monica, jy is twee maande ouer as Riekie. Pas hom asseblief op,” het mevrou Serfontein daardie oggend buite die kleuterskool gesê om die dames wat soveel respek vir haar het, te laat sien die meisie is haar beskermling.
Maar dis Richard, al was hy ook so klein, wat vir Monica opgepas het – en so het dit deur die jare aangehou. Hulle was albei omtrent dertien toe sy vir die eerste keer die waarheid gehoor het. Haar aangenome ma het Monica geleidelik daarop voorberei, en hulle liefde vir mekaar het verhoed dat die kind heeltemal ineenstort, maar dit was Richard se rustige: “Ek het dit altyd geweet” wat haar moed gegee het om aan te gaan en die wêreld in die oë te kyk. Die feit dat Riekie dit altyd geweet het en nogtans haar vriend was, het vir Monica geweldig baie beteken.
Terwyl hulle daar staan en mymer, steek die hoof ’n sigaret aan en kyk na die profiel langs