“Thea Seegers, die Nederlandse dame by wie party van julle spraakklasse neem? Nee, ek ken haar nie persoonlik nie … Sy is ’n knap kunstenaar. Ons woon soms haar opvoerings by as ons in die stad is.”
“Dis vreemd dat Pa en Ma haar nie ken nie.”
Die hoof kon geantwoord het dat hulle nouer kennismaking opsetlik vermy, maar hy is op sy hoede. Hy is bo alles ’n skrywer en mensekenner, en hy vermoed waaroor dit gaan.
“As ons nie oorsee is nie, woon ons hier taamlik afgesonder van die stadslewe,” sê hy. “Toe mevrou Seegers van Holland gekom het, het ons die seniors per bus na ’n paar opvoerings gestuur, veral toe sy dele uit groot werke voorgedra het. Was jy nie self in jou laaste kwartaal op skool by een nie?”
“Ja, maar toe het ek haar nie persoonlik geken nie.”
“En nou ken jy haar goed?”
“Ja, ek het by haar begin klas neem omdat dit vir my so moeilik is om voor ’n gehoor te praat. Iemand wat Teologie studeer, moet daardie swakheid oorwin. Louis neem by haar klas omdat hy hou van toneelspeel, en Jan omdat hy ook vir predikant wil studeer.”
“O ja?” sê die hoof net.
“Ek het gewonder of Mamma nie vir mevrou Seegers hiernatoe wil nooi nie.”
“Om voor te dra?”
“Nee, eintlik as huisgas, as …”
Doktor Serfontein besef hierdie selfbeheerste seun van hom is desperaat.
“Bespreek dit met jou ma,” antwoord die hoof. “Ek moet nou gou maak.”
Met ’n knik van die kop is hy weg.
Amanda kom by die salon uit. Sy staan aan die voet van die buitetrap en kyk hom agterna.
“Hy is so alleen,” fluister sy verlangend.
“Wie? Tog nie Pa nie,” sê Richard.
“Ja. Hy is so afgesonder van die hele mensdom.”
“Nee wat. Almal hang aan hom en kyk in sy oë tot ek soms wonder hoe hy dit uithou.”
“Jy verstaan nie!”
“Dis waar. Kom ons gaan maak reg vir aandete.”
Die hoof is dankbaar toe hy by sy woonstel se balkon kom sonder dat iemand hom voorkeer. Hy is baie bekommerd oor Richard, maar sal tot later wag om met sy vrou daaroor te praat. Hy het sy dogters se vrolike stemme uit haar kamer gehoor toe hy daar verbyloop. Hulle het altyd baie om vir hulle ma te vertel.
Hy wil ’n uur se strawwe oefening doen, dan bad en aantrek.
Maar net toe hy by sy sitkamer wil ingaan, groet iemand hom vanuit ’n onverwagte rigting. Naby hierdie vleuel van die huis groei daar ’n besonder groot wildevyeboom. Een tak strek tot by die balkon, maar nie naby genoeg dat iemand daarvandaan kan oorklim nie. Vanaf hierdie tak kom daar weer ’n seunstem.
“Hoesit, broer!”
Doktor Serfontein kyk met sy gewone erns na die jong man in die vyeboom. “Goeiemiddag,” sê hy en gaan by die sitkamer in.
“Hoe’s dinge nou?” wil Carolus weet.
Na die ontmoeting in die laan kon hy nie rus voor hy na die Serfonteins se huis kom kyk het nie. Hy weet self nie hoekom nie. Hy het net gekom, en toe sien hy die boom. Hy het nie geweet wie bly in hierdie deel van die groot huis nie.
Binnekant praat doktor Serfontein oor die huistelefoon.
“Ja, Roelof?” antwoord sy vrou dadelik.
“Weet jy waar Richard is?”
“Hy is hier by my. Riekie, dis Pa.”
“Ja, Pa?”
“Sal jy Wotan en Siegfried vir my leen?”
“Maar hulle is mos nou Pa se honde vandat ek so min hier is.”
“Bring hulle dan dadelik na die vyeboom hier onder my balkon, asseblief.”
Richard vra nie vrae nie.
Intussen maak die hoof hom reg vir oefeninge en trek sy kamerjas aan. Hy kom weer uit net toe Richard opdaag met sy twee Duitse wolfhonde, die taamlike ou Wotan en sy seun Siegfried. Albei honde en twee tefies en hulle nakomelinge behoort aan Richard. Net lede van die gesin en Danster kan naby hulle kom. Deur die digter blare sien Richard iemand in die boomtakke skuil. Hy besef dadelik sy pa wil die persoon vaskeer.
“Achtung!” beveel hy die honde. “Aufpassen!” Dan sê hy op balkon toe: “Pa moet Siegfried kortvat. Praat maar skerp, want hy’s nog baie jonk en verskeur enigiets wat voorkom … Lausejunge!” sê Richard verwytend vir die jong hond.
“Dis goed, dankie. Danster moet hulle kos en water hiernatoe bring. Hulle gaan lank moet waghou.”
“Geen probleem nie. Hulle sal nie weer vannag eet nie, net water drink.”
“Reg so. Hulle is gehoorsaam aan my as jy weg is, maar wanneer hulle regte baas hier is, moet ek sy toestemming vra.”
Richard groet met ’n handgebaar en stap terug huis toe.
Die hoof leun nog steeds oor die tralies.
“Wotan! Siegfried!” sê hy asof hy met twee vriende praat. Albei honde kyk op. Hy wys na die boom. “Schau nach oben! Nicht absteigen lassen.”
Albei honde antwoord knorrend.
“Groovy!” sê Carolus in ’n poging om te spot. “Dit lyk of jy hulle hipnotiseer. Hoe kry jy dit reg?”
“’n Dier of mens kan net op dié manier beheer word as jy van hom hou.”
“Hoekom praat jy Duits met hulle? Dit is mos Duits?”
“Niemand weet hoekom reageer diere beter op Duits as ander tale nie. In enige sirkus ter wêreld, of dit nou ’n Engelse of Franse of selfs ’n Russiese een is, sal jy hoor die bevele word dikwels in Duits gegee.”
Ná doktor Serfontein se verduideliking voel Carolus gemakliker. “Sal hulle my byt as ek afklim?” vra hy heel vrolik.
“Beslis.”
“Hoekom wil jy my hier hou?”
“Ek het jou nie genooi om te kom nie. Klim gerus af wanneer jy wil.”
“Maar wat van die honde?”
“Hulle hoort mos hier.” Met hierdie woorde gaan die hoof binnetoe.
Carolus probeer versigtig afklim, maar met sy eerste beweging knor die honde onder die boom. Hulle geel oë staar na hom uit die toenemende donker asof hulle hóm wil hipnotiseer.
“Nou ja,” sê hy effens bewerig, “kom ons kyk wie word eerste moeg.”
Dit voel vir hom na baie lank voor die hoof weer op die balkon verskyn, aangetrek en op pad ondertoe.
“Ek sê … broer!” roep hy uit.
“Ek is en was en sal ook nooit jou broer wees nie.”
“Ons noem almal so. Ons is mos broers – almal is gelyk. Ons is wêreldburgers en vry om te doen wat- …”
“Verskoon my.”
Die hoof is weg voor Carolus kans kry om asem te skep.
3
DIE BOOMKLIMMER
Toe die gasheer in die salon opdaag, geniet almal reeds ’n ligte skemerkelkie. Die hoof het goeie rede om trots te wees op sy gesin en hulle vriende.
Josef en Richard is altyd onder die aantreklikste jongmans in enige geselskap. Die lenige Ruyssenaer met sy breë skouers en ligbruin hare wat altyd half deurmekaar lyk, is op sy eie manier ook heel aansienlik. Die spot lê van kleins af altyd vlak in sy oë. Willemse