“Ja, nè? Sodra ek uit die skool is, steek ek my bakkies agter ’n yslike baard weg. Dalk gaan dit dan makliker met my.”
“Dit sal, want jy hou deesdae jou oë oop, nie soos toe jy hier aangekom het nie. Hoekom het jy jou destyds soos ’n bobbejaan gedra? Toe Jan Serfontein jou eers ‘Poggenpoel’ en toe ‘Pog’ genoem het, wou jy hom in stukke skeur!”
“Dit het te doen met sielkunde en dis geleerde goed, ver bo jou vuurmaakplek. Gaan vra jou oom daaroor uit as jy weer na die Afdeling vir Sielkundige Ondersoek toe gaan.”
Iemand het lank gelede ’n etiket met dié woorde op, bo die onderwysers se kantoordeur opgeplak terwyl meneer Spaulding daar aan diens was, juis omdat die sielkunde wat daar toegepas word, so vreemd van aard was. Die hoof het summier en sonder enige emosie beveel dit moet daar bly.
“Jan was ’n beter sielkundige as my oom,” sê Brian nou. “Hy het jou gou reggeruk met sy spottery.”
“Ja-nee, Jan is ’n gawe ou. Hy sal ’n agtermekaar predikant uitmaak. Bly jy liewer by die Grieks wat verlede jaar hier ingevoer is om ons kultuur te bevorder. Doktor noem dit Klassieke Dissipline, en ’n mens kan die hoofletters sommer in sy stem hoor.”
“Grieks, verbeel jou! Vroeër het net die ouens wat vir predikant wou gaan leer dit geneem … Watter seuns bly die naweek hier?”
“Almal uit Namibië, die Wienands en ek en jy.”
“Maar jou ma bly dan nou op die dorp?”
“Ja, en ek sal heeldag by die huis wees, maar saans kom slaap ek hier. Solank Rex en Manlius Wienand op skool bly, gaan jy my hulp nodig kry. My ma wil nie hê ek moet snags by die huis slaap nie. My leeglêer-broer is in die omgewing, en as hy by haar kom kos en geld vra, gaan ek hom foeter.”
“Jou broer?”
“Ja, Carolus. Hy is mos kastig ’n hippie. Hy en sy verslonsde vriende slenter die hele wêreld vol en noem dit ‘vryheid’.”
“Maar ek dag jy is die oudste.”
“Ek is. Rolie het nou eers vyftien geword.”
“Wat doen die polisie daaraan? So ’n jong ou kan mos nie rondflenter nes hy wil nie.”
“Hy het graad vyf deurgekom toe hy skaars tien was, en van toe af maak hy soos hy lekkerkry. Hy het my pa se laaste jare vergal. Hy het selfs ’n tyd lank saam met daai groep daggarokers in Knysna se bosse gebly.”
“Klink my hy is net so slim soos jy.”
“Baie slimmer. Hy en sy vriende lê nou daar in die kloof rond. Hy het by die hospitaal gehoor ons ma kom ná Pa se dood hiernatoe. Sy huil haar gedaan oor die skande. Sy vriende drom daar om die huis saam terwyl hy inkom en alles vat wat hy wil hê. Almal behalwe die Conradies langsaan kyk my ma-hulle al skeef aan.”
“Weet doktor daarvan?”
“Hy weet altyd van alles, maar ek het hom self ook gaan vertel.”
“En wat sê hy?”
Loggenberg glimlag effens. “Jy ken hom mos. ‘Dankie vir die inligting. Sê vir jou ma sy hoef haar nie te bekommer nie. Dis al, dankie.’”
“Dalk beplan hy iets met Carolus.”
“Ek weet nie. My broer was van kleins af so dwars.”
Brian klop Loggenberg op die skouer. “Jammer, Pog. Maar wat ook al gebeur, ek staan by jou. As die klein pes hier naby kom, versuip ons hom in die kuile.”
“Kom ons gaan stort,” sê Loggenberg skor.
Seuns van alle ouderdomme stap in die gange verby die seniors. Die skool is twee jaar gelede vergroot, en hier is nou soveel baddens en storte dat niemand lank vir ’n beurt hoef te wag nie. ’n Gebrul laat Brian en Loggenberg in hulle spore vassteek.
“Haai, julle!”
Die onderwyser wat voor sy kamerdeur staan, het witblonde hare soos Brian. Meneer Bertrand Spaulding wat vanjaar koshuis-diens doen, het ook nog sy kamerjas aan.
“Kom hierso!” beveel hy. “En hardloop as ek julle roep.”
Die twee seniors is die langste seuns in die skool, maar die vooraanstaande komponis en dirigent is net so lank.
“Is julle miskien geskors? Niemand het my daarvan gesê nie.”
Loggenberg, waarskynlik die slimste skolier wat nog ooit op Keurboslaan was, besef maar te goed hy moet sy ken uitstoot sodat meneer Spaulding hom daarop kan slaan.
“Geskors waarvan, meneer?” vra hy dus.
“Van julle hoof- en onderhoofseunskap,” sê die onderwyser nes Loggenberg verwag het.
“Nog nie, meneer,” sê Brian ewe sedig.
“O, nog nie, nè? Hoor julle hoe gaan die seuns daar in die storte te kere? Ek is seker doktor kan dit daar oorkant by sy huis hoor.”
“Dit gaan vandag ’n bietjie wild, meneer,” sê Loggenberg, “omdat hulle vir die naweek huis toe gaan.”
“Hoe heerlik vir hulle arme ouers. I don’t think!” boots meneer Spaulding vir Beswetherick, een van die hoof se persoonlike vlieëniers, na. Beswetherick het saam met die hoof, meneer Spaulding en ander goeie vriende, vir Brian en ’n ander senior, Alberts, uit die land Akan gaan red. Die twee seuns was op pad terug van Europa af en het daar in ’n uiters benarde posisie beland. As die hoof se reddingspoging misluk het, sou meneer Spaulding hierdie groot, fris kêrel nie vandag kon staan en berispe het nie.
“Du mein guter Niederdeutscher Kolonialer Arbeitsabheilung!” skree hy. “Kyk deur daardie venster! Julle stap mos nou so lekker en vertel vir mekaar julle geheimpies.”
Die seuns beweeg haastig tot by die gangvenster langs die onderwyser se kamer.
Buitekant stap ’n streep seuns wie se ouderdomme wissel van elf tot dertien. Heel voor is Felix Krynauw, die seun van dokter Eugene Krynauw, die hoof se aangetroude neef. Deesdae word die skoolseuns se hare ’n bietjie langer gedra as toe dokter Krynauw ’n skolier was. Felix s’n is liggeel soos sy pa s’n, en dit blink in die sonlig. Hy marsjeer en skree bevele soos hy nog nie by die Voortrekkers mag doen nie. Sy neef, Bernard Elsenach, wat altyd stadiger as ander mense reageer, buig sy rooibruin kop onder die minagtende woorde.
“Hulle kon mos nog nie gebad het nie,” sê meneer Spaulding. “Hoe kan julle dit toelaat?”
Die juniors het voor ’n klein geboutjie gaan stilstaan. Felix haal iets uit sy sak. Dis waarskynlik ’n sleutel, want hy begin die deur oopsluit.
“Die gewere!” roep Brian geskok uit. “Waar kry hulle die sleutel?”
“Kom!” sê meneer Spaulding. “Die wapens is veronderstel om nie gelaai te wees nie, maar daar lê al hoeveel mense ses voet onder die grond weens ’n koeël wat iewers agtergebly het!”
Hy en die seuns hardloop by die twee stelle trappe af.
In die magasyn staan die jong seuns vertwyfeld voor die rakke. Hulle is al so dikwels teen gewere gewaarsku. Felix steek huiwerig ’n hand uit.
“Los dit!” roep meneer Spaulding hard uit.
Die juniors lyk skielik baie klein.
“Vandag word julle stadig uitmekaar gepluk, en daarna weer met ’n stomp naald aanmekaar gelas – en dalk word die verkeerde bene aan die verkeerde bolyf vasgewerk,” sis meneer Spaulding.
Maar die seuns kyk skielik verby hom na die deur waar die hoof se breë skouers bo sy lenige liggaam dit vir hulle onmoontlik maak om te vlug.
“Goeiemôre, meneer Spaulding,” sê die hoof.
“Môre,