“Hoekom? As skolier hier het ons min vir jou gedoen. Jy behoort jou te skaam – as jy nie vertroetel en bewonder word nie, lieg jy onbeskaamd en vlug vir jou probleme.”
“Sang is nie soos ander dinge nie, doktor. As ’n mens sleg voel, trek jou keelspiere toe en jy kan nie sing nie. Wat moes ek gedoen het?”
“Jy was daar om te luister en te leer. Dink jy meneer Spaulding het dit geniet om te gaan soebat dat die operahuis jou opneem?”
“Ek sal dan maar weer weggaan,” sê Lourens effens hardkoppig.
“Nee, kom vertel eers vir meneer Spaulding hoe jy hom in die skande gesteek het. Wees nege-uur by die skool.”
Daarmee stap die hoof weg.
Lourens se eerste reaksie is om sommer dadelik die bus stad toe te haal, maar hy weet hy sal dit nie kan doen nie.
Terwyl die seniors sukkel om die slaap van hulle af te skud, is die skool se jongste skolier lankal wakker. Lavrans Serfontein lê en dink. Hy is maar sewe, en dus ’n jaar jonger as sy maats, Dolf Krynauw, Pietie Elsenach en Wappie (oftewel Walter) Olivier. Dolf en Pietie is volgens hom sy “kamma-neefs”. Wappie is die jongste van vier Oliviers, ’n oud-Keurboslaner se seuns.
Lavrans speel saam met Dolf, Wappie en ’n paar ander klasmaats ’n nuwe rugby wat hy self ontwerp het. Gedurende sy vakansie oorsee het hy op televisie sokker gekyk, en hy reken party van die sokkerreëls sal ’n groot verskil aan rugby maak. Hoekom dan die bal nié met die kop stamp nie? Hoekom nié vorentoe aangee nie? Vir Lavrans lyk dit sommer verspot dat een van jou eie span vlak voor jou staan, en jy mag die bal nie na hom uitgee wanneer iemand op jou afstorm nie. Wanneer moontlik gaan hy en sy maats die nuwe speletjie agter die bosse oefen waar niemand hulle kan sien nie. Hy kyk na Wolmarans, sy kamerprefek, wat in die hoek van die slaapsaal lê en snork.
Mevrou Mostert, die huismoeder, het altyd in die kamer langsaan geslaap, maar hier is onlangs heelwat aangebou en meer seuns is toe opgeneem. Tuis het Lavrans sy ma hoor sê mevrou Mostert behoort nou ’n rustiger lewe te hê. ’n Hyser is ingebou sodat sy nie meer met die trap na die derde vloer hoef op te klim nie. Sy het ’n gerieflike woonstel op die grondvloer, en die prefekte maak beurte om hier bo diens te doen. Net buitekant die deur is ’n huis-telefoon sodat die prefek vinnig vir mevrou Mostert kan laat weet as daar iets met iemand skort.
Dis darem jammer Wolmarans is so ’n streng prefek. Lavrans wil sy manskappe ook graag vroeg laat opstaan soos Felix Krynauw (Dolf se elfjarige broer) en sy maats maak. Lavrans weet nie wat die groteres in die mou voer nie, maar hulle dink ook dis tydmors om te bly lê wanneer dit al lig is.
Die jongste Serfontein weet sy pa staan voor dagbreek op. Hy moet dit doen om al sy verpligtinge te kan nakom. Die skoolhoof is uniek en volg sy eie kop. Baie mense sê byvoorbeeld dis verkeerd om seuns van agt reeds kosskool toe te stuur, maar hy stem nie saam nie. Iemand wat nie reeds van jongs af daar skoolgaan nie, word later moeilik toegelaat en almal wat enigsins kan, wil graag by Keurboslaan inkom.
Lavrans dink aan sy pa, soos hy dikwels doen.
Sy ma is vriendelik en vol liefde as jy gehoorsaam is, maar baie kwaai as jy jou nie gedra nie. Dis maklik om met haar te gaan praat, al was jy soet of stout. Maar sy pa lewe ’n bietjie apart van hulle gesin. ’n Mens kan hom nie “Pappa” noem nie. Dit klink net verkeerd.
Die hoof verskyn selde aan tafel. As hy ontbyt toe kom, is hy baie stil; nogtans is daar soms ’n glimlag in sy streng oë wanneer hy na hulle ma kyk, asof hy en sy ’n geheime grappie deel. As een van die kinders slegte tafelmaniere het, praat hy nie daaroor nie. Dis hulle ma wat die skuldige aanspreek, maar eers later sodat hulle pa dit nie hoef te hoor nie.
Dikwels verlaat die hoof die tafel voor die ander omdat hy so besig is. Dan sê hy altyd: “Verskoon my asseblief”, en soms stap hy om die tafel om verby sy vrou se stoel te loop. Partykeer neem hy haar hand en druk dit vir ’n oomblik teen sy lippe. Die res van die dag sien sy hom dan nie weer nie.
Doktor Serfontein straf sy kinders nooit nie en hy liefkoos hulle ook nie, maar nogtans het hulle hom eindeloos lief. Die gesin se tweede oudste seun, Richard, wat reeds op universiteit is, is die een by wie Lavrans die meeste aandag kry. Onlangs toe hy Lavrans in sy arms vasgehou het, het hulle pa gefrons, maar Richard het net op sy kalm manier gesê: “’n Kind het dit partykeer nodig.”
Die hoof was nie kwaad nie. Dit het byna gelyk of hy wou glimlag. Dis vir Lavrans buitendien altyd mooi hoe sy pa en Richard net met hul oë ’n hele gesprek kan voer. Richard en Lavrans is blond soos hulle ma, maar hul oë is albei swart soos hulle pa s’n. Sulke oë kan darem baie dinge sê, dink Lavrans. Hy weet natuurlik nie hoeveel daar in sy oë gelees kan word nie.
Die jongste Serfontein is altyd baie tevrede wanneer alles tuis mooi glad verloop. As daar soms moeilikheid is, spring sy hart soos ’n voël in ’n kou rond en hy kan nie lekker eet of slaap tot daar weer vrede is nie.
Daar begin Wolmarans nou uiteindelik roer.
Die klok vir opstaan gaan netnou lui.
Aan die ander kant van die gebou, op die tweede verdieping, gooi die onderhoofseun sy komberse af en staan moeisaam op wanneer die klok skril lui.
Pieter Loggenberg is groter as omtrent enige ander seun van sy ouderdom, en is reeds oral in die land bekend as ’n sportman. Nogtans verg dit wilskrag om op te staan. Daarvan het hy gelukkig ook meer as genoeg. Doktor Serfontein het hom en drie ander seuns, Alberts, Verryne en Logan, etlike jare gelede uit verbeteringskole gehaal en hierheen gebring om te sien wat Keurboslaan se geleenthede vir hulle kan doen.
Al vier seuns kom uit erg behoeftige gesinne en het ’n kriminele rekord gehad. Alberts het as kind al aan ’n gevaarlike bende behoort. Maar omdat die vier besonder intelligent is, is hulle gekies vir die eksperiment wat ’n groot sukses was. Loggenberg se pa is onlangs oorlede nadat hy duur mediese behandeling gratis by die hoof se broer gekry het. Nou het doktor Serfontein mevrou Loggenberg na Keurboslaan laat kom en ’n huis vir haar laat regmaak. Sodra sy effens herstel het ná haar man se lang lyding, kom sy die skool se koshuismoeder help. Pieter sal vir sy skoolhoof baie meer doen as om net op te staan en sy daaglikse pligte aan te pak.
“Toe-toe, julle!” jaag hy die ander sewe in die kamer aan. ’n Paar seuns roer onwillig onder die appelgroen komberse.
Loggenberg draai om en kyk in die spieëltjie bo sy wasbak.
“Deksels,” sê hy vies terwyl hy sy skeergoed uithaal. Soos party van die skool se sewentienjariges moes hy ook onlangs begin skeer. Omdat sy hare donker is, moet hy dit elke dag doen, terwyl Brian Spaulding, die blonde hoofseun, net elke paar dae van ’n ligte dons ontslae hoef te raak.
Loggenberg skeer gou en tog sorgvuldig, soos hy alles doen.
Dan kyk hy weer om na die jongeres. “Komaan!” sê hy.
Hy gaan pluk ’n paar se komberse van hulle af.
“Aag, man,” steun Berrie, die hoof se derde seun. “Jy’s wreed, Pog!”
“Ja, ek is wreed orraait!” sê Loggenberg in sy stem wat deesdae so diep en gekultiveerd soos die hoof s’n klink. Hy hou daarvan om soms met daardie stem en aksent ’n platvloerse uitdrukking te gebruik. “Ek smyt nie net jou komberse op die vloer nie; ek gaan ook sorg dat jy jou bed behoorlik opmaak, pleks van net regtrek.”
Die ander begin ook opstaan.
“Haai!” skree klein Felix Krynauw skielik so vrolik soos ’n haantjie wat die dag sien breek. “Ons hoef nie beddens op te maak nie. Ons gaan vir die langnaweek huis toe! G’n wonder ek het so vas geslaap nie.”
“Dis waar,” sê Loggenberg. “Vou alles netjies op en los die lakens en kussingslope aan die voetenent van die bed sodat dit later na die washuis gevat kan word.”
“Ons hoef nie eens vanoggend enige oefening te doen nie!” lag die swartkop Rex Wienand, wat ook sestien is, nes sy neef Berrie.
“Gaan vat ’n koue stort,” sê Loggenberg. “Jy