Hoofseun Richard #7. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153836
Скачать книгу
gewone seun te gedra,” het meneer Papenfus gesê.

      Meneer Joubert was uit die veld geslaan. “Maar wat presies doen hy?”

      “Ek sê mos: Hy’t ’n slegte invloed op die ander leerlinge. Jy moet natuurlik ’n deel van die skuld dra. Jy het hom te laat kosskool toe gebring. Al die reise saam met jou, en ’n lewe soos ’n volwassene terwyl jy vergaderings in Europa of Amerika bywoon, het Lourens groot skade berokken.”

      “Ek was … ons was albei … so verlore ná sy ma se dood,” het die vertwyfelde pa gesê. “Ek gaan binnekort weer op reis. My sake vereis dit. Ek dag hy sou hier …”

      Hy kon nie verder praat nie.

      “Ek dink daar is nog een kans vir Lourens,” het meneer Papenfus getroos. “Ek het eergisteraand met doktor Serfontein op Keurboslaan gepraat, en hy sal hom ’n kans daar gee.”

      “Keurboslaan? Ek het reeds daar aansoek gedoen omdat dit die beste skool in die land is, maar daar was nie plek nie.”

      “’n Mens moet jou kinders daar inskryf sodra hulle gebore word. Maar ek was lank een van doktor se personeel, en ons dien nou saam in die provinsiale Rugbyraad. Hy hanteer soms so ’n probleemgeval. As daar dan niks aan te doen is nie, gee hy vir die ouers ander raad.”

      Dit was ’n geweldige skok vir meneer Joubert, en hy het daarna lank en hard met sy seun gepraat. Lourens het begin agterkom die wêreld draai nie net om hom nie, maar hy wou dit nog aan niemand erken nie – veral nie homself nie.

      Hy stap agter die ander seuns aan tot by die skoolgeboue.

      Toe hy hier opdaag – in ’n motor met bestuurder wat sy pa in Johannesburg gehuur het – het niemand hom verwelkom nie. Die skoonmaker wat na die voorportaal gekom het, het gesê al die onderwysers is besig en hy moet maar gaan kyk hoe die kinders rugby speel.

      Daar langs die veld kon Lourens net sowel ’n boom gewees het.

      Gewoonlik word nuwe leerlinge hier baie vriendelik gegroet, maar Richard hanteer vandag sy saak in opdrag van die hoof. Die seniors is ’n span wat mekaar sonder veel woorde verstaan, veral die Serfonteins. Een woord aan Jan, Lourens se klaskaptein, is genoeg.

      Lourens staan nou alleen in ’n lang gang, en hy weet nie watter kant toe nie. Een van meer as ’n dosyn deure gaan oop en ’n bruinkopseun van sy ouderdom kom uit en stap dadelik verder.

      “Ekskuus,” sê Lourens die eerste keer in baie jare.

      “Ja?” vra Jan beleefd, maar sonder belangstelling.

      Lourens draai sy aansienlike persoonlike magnetisme aan en glimlag vriendelik.

      “Dis ’n snaakse plek wat julle hier het. Niemand het nog ’n woord met my gepraat nie.”

      “Hier’s min tyd vir rustig gesels,” sê Jan. “Ons is heeldag aan die draf. Ek het nou ’n ekstra Duitse les.”

      “O, ek praat gelukkig vlot Duits.”

      “Ek nie. Verskoon my.”

      “Ja, maar … wat moet ek nou doen?”

      “Nee, ek weet nie. Vra vir iemand.”

      “Wie?” Lourens sukkel om aan te hou glimlag.

      “Seker die koshuisonderwyser. Af anderkant toe, derde deur links.”

      Jan verdwyn haastig.

      Die derde deur links is van pragtige donker hout, soos al die deure. Bokant die deur is ’n bordjie waarop in Gotiese letters staan:

      Lourens klop.

      “Ja? Binne!” sê ’n man se stem.

      Die onderwyser lyk effens moeg, maar dis die geval met baie mense hier waar almal deur die hoof se werkywer aangevuur word.

      Meneer Burger betrag die seun goedig, soos sy geaardheid is, maar met geen besondere belangstelling nie. Weereens voel dit vir Lourens asof sy eie persoonlikheid teen ’n glasoppervlak afgly. “Goeienaand,” sê hy nogtans met sy breedste glimlag. “Is dit die koshuisonderwyser se kantoor?”

      “Goeienaand. Ja, dit is.”

      “O, maar buite staan dat dit ’n sielkundige afdeling is.”

      “My kollega, meneer Spaulding, is die deskundige op daardie gebied. Ek roem nie op my kennis van sulke sake nie. Meneer Spaulding is nie nou hier nie. Jy sal jou sielkundige probleme dus later moet kom openbaar.”

      “O, ek makeer niks op daardie gebied nie,” sê Lourens selfvoldaan.

      “Wat soek jy dan hier?” kom dit taamlik verveeld.

      “Ek is die nuwe leerling.”

      Lourens verloor byna sy kalmte, maar hy besef dit sal ’n bewys van swakheid wees.

      “Watter nuwe leerling? Ons het dié kwartaal glo vyf.”

      “Ek het eers vandag gekom.”

      “Dus ’n dag laat. Dit bemoeilik alles. Ek sou jou nie as ’n leerling herken het nie.”

      Lourens voel tevrede. Hy weet hy lyk nie soos ’n skoolseun nie. “Hoekom nie?” vra hy nogtans.

      “Wel, jy is ’n jong seun, sowat vyftien …”

      “Ek is sestien!” vlam Lourens op, nou weer van stryk gebring.

      “O? Jy kom my jonger voor. Nietemin, vandat jy hier ingestap het, het jy nog nie een keer ‘meneer’ gesê nie. Dus het ek aanvaar jy bring ’n boodskap van iemand op die dorp.”

      Lourens stry teen blinde woede, maar behou tog sy vals glimlag. “U besef natuurlik nie,” sê hy, “ek was nog altyd net in buitengewone skole waar die personeel en leerlinge op gelyke voet is en saamwerk om …”

      “Jammer om jou te onderbreek. Ek is druk besig.”

      Voordat Lourens dit mooi besef, het meneer Burger opgestaan en die vertrek verlaat.

      Buite gaan staan die onderwyser vir ’n oomblik en glimlag by homself. Die hoofseun kom aangestap.

      “Oom lyk in oom se noppies,” sê hy informeel aangesien hulle alleen is.

      “Nee, Riek. Glad nie. Ek glimlag meer uit jammerte vir die nuwe kêrel, Joubert.”

      “Ek het hom by die rugbyvelde gesien. Dis erg dat ons hom so moet behandel.”

      “Moenie nou begin kleinkoppie trek nie. Ek weet jou hartjie is klein, maar dis jou pa se skool hierdie en dis hoe hy dit wil hê.”

      “Ja, ek weet. Ek probeer sy opdragte uitvoer.”

      “Jou pa doen dit in Joubert se belang. Ek het in die verlede al soms gedink hy is te streng, maar op die ou end was hy meestal reg.”

      “Ja, oom.”

      Richard gaan maar verder sy gang.

      Lourens staan nog steeds alleen in die sielkunde-afdeling se kantoor. Sy gedagtes is in ’n warboel. Een ding is egter seker: hy het nog nooit so verlate gevoel nie. Selfs sy pa dink nie meer deesdae hy is watwonders nie en hier ignoreer almal hom basies.

      ’n Groot man kom haastig in en stamp die deur toe.

      Sy ligte hare lê agteroor soos ’n leeu se maanhare. Hy sien Lourens nie raak nie. Hy gaan na die tafel waar hy sy kollega se dokumente rondskuif op soek na iets wat hy self daar laat lê het.

      “Goeie alwetende kleefskulp!” brom hy.

      Lourens sien ’n gulde geleentheid om homself weer te laat geld. Geen ander seun op kosskool kan tog soveel soos hy weet nie.

      “Wanneer het u laas Strauss se opera Die Egiptiese Helena gesien?” vra hy soos een wêreldkenner aan ’n ander. “Die alwetende kleefskulp kom daarin voor.”

      “Wat? O, ek het dit verlede week in Parys gedirigeer,” antwoord meneer