Rynault trek sy skouers op, maar stap dan na Jurie.
“Komaan, julle drie,” sê hy. “Ek en my maats sal julle wys waar alles is. Julle kan julle vriend die sukkelaar later alles vertel, as hy nog lewe.”
’n Hele optog volg Rynault en die nuwelinge.
Toe Jurie uiteindelik in die konsertsaal opdaag om sy eerste Aand-godsdiens by te woon, draai sy kop met alles wat hy gesien het – die gimnasium, die laboratorium en ’n sterrewag, verbeel jou!
Nou staan hy tussen die seuns van sy eie ouderdom en luister na die orrelmusiek van die galery daar bo. Hy wonder of die ander drie nuwelinge ook soos hy voel, besiel deur soveel mooi dinge, maar nogtans bang omdat hulle nie inpas nie.
Logan is bleek genoeg om te kan omdop. Alberts kyk selfbewus rond en Loggenberg staan met sy kop tussen sy skouers ingetrek. Jurie wonder wat die uitslag by die prefekteraad se vergadering was.
Lede van die personeel begin op die verhoog verskyn. Die eerste een is meneer Adolf Serfontein. Hy trek baie op sy broer, maar al is hy ’n paar jaar jonger, lyk hy heelwat ouer. Sy hare is grys en daar is lyne op sy gesig wat sy broer s’n nie het nie. Saam met hom stap ’n man met ligte hare en ’n bril.
“Dempers,” fluister Rynault. “’n Goeie ou.”
Nou kom ’n gesette meneer in. Hy is nie so netjies soos sy kollegas nie en sy bril sit skeef, maar hy glimlag vir die seuns onder in die saal en almal glimlag terug.
“Burger,” sê Rynault. “’n Doring. Hy’s al eeue hier … Nou kom almal. Daardie een met die ligte hare is Denys – musiek, veral klavier. Spaulding, die senior musiekman, speel die orrel. Daar’s Venter en Geer – gawe ouens! Geer gee sport en Venter meestal Wiskunde, maar ook ’n bietjie van alles. Daai twee is vriendelik, maar vrek streng. En daardie maer, donker man is Lambrecht, die visehoof, ook van toeka se dae af al hier. Die een by hom is nuut. So dis natuurlik Brink. Hy’s nog lekker jonk.”
Nou kom mevrou Mostert, die huismoeder, en saam met haar ’n aantreklike donkerkopmeisie van so ongeveer twintig.
“Barbara Venter, ou Venter se suster,” sê Rynault. “Oulik. Sy is die skool se sekretaresse in die plek van ou juffrou Stobbs wat afgetree het en nou op die dorp bly.”
Twee dogters verskyn en kom staan langs mevrou Mostert. Die veertienjarige is sag en beskeie en kruip ’n bietjie agter haar donker hare weg. Die negejarige het rooibruin hare wat om haar kop golf. Haar gesiggie is stroef en beslis.
“Dis Dian en Tiesjie, my niggies,” fluister Rynault. “En hier kom tannie Helen en Lavrans. Ek dink hy’s vier.”
Mevrou Serfontein dra ’n swart fluweelrok sonder enige juweliersware. Net aan haar linkerhand is daar ’n trouring en ’n ander ring met ’n groot smarag wat selfs van ver af soos ’n groen ligvonk blink. Dis die eerste maal in Jurie se lewe dat hy ’n vrou met so ’n kroon goue hare in lewende lywe sien. Die pragtige gouekopseuntjie se hand is vas in hare.
Nou daag die hoof op en neem sy plek op die verhoog in. Hy woon selde ’n partytjie by, maar hierdie keer het sy vrou hom blykbaar vasgekeer, want hy dra ’n aandpak. Om hom so daar te sien, is die hoogtepunt van Jurie se dag.
Die koor op die galery begin met die eerste gesang. Dit is vir Jurie ’n nuwe ervaring. Is dit seuns of engele daar bo? Hy het nog nooit ’n seun met so ’n soet sopraanstem hoor sing nie, wat nog van ’n hele koor?
Jurie voel trane in sy oë opwel. Hy kyk gou rond om te sien of iemand hom dalk dophou en kry nog ’n verrassing. Alberts se oë is nie vol trane nie, maar hulle skyn met ’n kinderlike verwondering en verbasing wat ongewoon vir die parmantige Alberts is.
Is dit die musiek wat hom so meevoer?
2
NOG ’N NUWELING
Jurie slaap die eerste nag nie goed nie.
Richard kom later as die jongeres bed toe. Hy skakel sy bedlampie aan en wanneer hy in die bed is, lees hy eers in ’n swart boekie.
Hy kyk ná ’n rukkie op na waar Jurie met oop oë lê.
“Kan jy nie slaap nie?” vra Richard.
“Nee …”
“Dis ’n vreemde gevoel, so op ’n nuwe plek. Probeer diep en stadig asemhaal … Pla my lig jou?”
“O, nee.”
“Ek sal dit netnou afskakel.”
Jurie lê en kyk vol bewondering na die sterk, jong gesig oorkant hom en raak so aan die slaap. Maar dit bly ’n rustelose nag.
Die klok lui al baie vroeg vir opstaan. Richard sê almal moet hulle wit sportklere aantrek en gimnasium toe gaan.
Hier trippel die seuns rond of skynboks met mekaar om op te warm.
Dan daag menere Geer en Venter op.
“Hallo, snuiter!” sê meneer Venter vir Richard wat hy al van die hoofseun se geboorte af ken.
Jurie is verbaas dat selfs ’n onderwyser die prinslike Richard so kan aanspreek, maar Richard antwoord opreg en hartlik: “Goeie-môre, meneer!”
’n Baie groot man daag nou op. Meneer Spaulding het witblonde hare soos sy nefie Brian, en dieselfde amandelvormige oë wat hy by sy ma, ’n Russiese sangeres, geërf het. Hy en sy broer, Brian se pa, het hier grootgeword, en hy verkies die pos op Keurboslaan bo ’n skitterende loopbaan in die musiekwêreld.
Bertrand Spaulding is bekend as een van die beste jong hedendaagse dirigente en, soos pas weer, gaan dirigeer hy dikwels groot orkeste in Europa of Amerika, maar hy bly nog steeds aan by die skool waar hy al die orkeswerk, kore, harmonie en komposisie waarneem. Meneer Denys en besoekende musikante van Johannesburg gee privaatonderrig in verskillende instrumente.
“Lekker gekuier oorsee?” vra meneer Venter wat ’n ou skoolmaat van Spaulding is.
“Aag wat.”
“Was Parys so koud soos hierdie plek?”
“Parys is nie juis vir sy koue bekend nie.”
Meneer Spaulding knipoog oordrewe, en meneer Venter lag lekker.
“Grootprater, jy!” sê hy.
“Kry end,” sê meneer Geer ongeduldig vir sy kollegas. “Staan julle nuwe mense dáár waar ek julle kan sien.”
Jurie het nog nooit so gesukkel nie. Al probeer hy hoe hard, is hy elke keer laat met die bewegings. Loggenberg se reflekse werk heelwat vinniger as Jurie s’n. Alberts doen so min moontlik, behalwe wanneer meneer Geer na hom kyk. Logan kruip agter Jurie weg, soos dit nou sy gewoonte word.
Kort ná die begin van die klas daag Josef Serfontein, die hoof se oudste seun, op. Hier sien ’n mens weer die pa se lengte en lenigheid en die ma se groen oë. Jurie het reeds gehoor hy is tweede jaar op universiteit en studeer B.Sc. of so iets geleerds.
Josef is glad nie soos Richard nie. Hy bars soos ’n haastige trein by die deur in. “Ag nee,” sê hy sommer tussendeur meneer Geer se skerp en ritmies bevele, “moenie sê ek is laat nie. Skuus!”
“Wanneer was jy al ooit betyds?” verwyt die onderwyser. “Ek hoop jy’s aangespreek omdat jy gisteraand die Godsdiens gemis het.”
“O, deeglik,” sê Josef stralend, “al kon ek bewys die fiets het gerol op pad terug van die tennistoernooi by Mbabane. En om alles te kroon, is ek toe veroordeel tot drie uur se brug speel!”
“Gaan jy nou oefen of aanhou klets?”
“Ek kom om te oefen! Ons het volgende week proewe en dit sal ’n skande wees as ek nie gekies word nie.”
Jurie