Hoofseun Richard
Theunis Krogh
Human & Rousseau
1
DIE NUWELING
Jurie Verryne word persoonlik deur meneer Pretorius, die proefbeampte, na die stasie geneem. Al is hy reeds veertien jaar oud en kom hy uit ’n verbeteringskool, gaan doktor Serfontein hom nou by Keurboslaan Seunskool inneem. Hoekom die hoof dit doen, is nog ’n raaisel, maar Jurie stap in die skool se amptelike drag by die stasiegebou in. Hy het ’n tas vol nuwe klere en ’n bietjie sakgeld.
“Sien jy die seuns wat ook roos-en-grys kleurbaadjies dra? Volg hulle maar net,” sê meneer Pretorius. “Jou trommel is vooruit gestuur. Tot siens, Jurie, en laat ons net die beste van jou hoor. Die lewe lê oop voor jou.”
Jurie weet nie hoe om te antwoord nie. Dan vang sy oë ’n foto op die voorblad van die koerant in meneer Pretorius se hand.
Die onderskrif sê die polisie soek na ene David Glennis. Die foto is van ’n jong man wat hom aan diefstal, inbraak en poging tot moord skuldig gemaak het. Die skuldige is heel aantreklik, met fyn gelaatstrekke. Net sy oë staar effens abnormaal na die kamera.
Jurie kom agter meneer Pretorius sien waarna hy kyk en lyk baie ernstig. “Dis waarheen onverantwoordelikheid lei,” sê die proefbeampte.
“Ja, meneer.”
Meneer Pretorius stap weg sonder om weer te praat, en Jurie volg ’n klompie seuns wat voor hom stap. Hulle gaan by ’n trap af en weer by ’n ander een op na die perron vanwaar die trein na Breyten sal vertrek.
Hier hardloop, roep en stoei die seuns. Laggende stemme klink oral op.
“Haai, Ryno!” hoor Jurie.
Hy sal later leer hierdie lid van die groot Serfontein-familie se naam is eintlik Rynault.
Rynault is ’n seun van die hoof se broer Edward, ’n mediese dokter. Hy het donker hare en swart oë wat soms regdeur ’n mens kan kyk.
“Haai, Theo!” sê hy. “Het jy dalk my ellendige boetie gesien?”
“Daardie Denys-mannetjie?” vra Theo Killian, wat soos so baie Keurboslaners ’n voormalige leerling se seun is. “Nee. Ek het genoeg moeite met my eie ellendige boetie.”
“Van Rensburg is darem al twaalf. Denys is maar net nege en ek moet heeltyd agter hom aan hardloop terwyl ouboet Jan hom regmaak om volgende jaar hoofseun te wees.”
“Dis ’n mooi grap met julle Serfonteins,” spot Killian. “Kyk net hoe kies doktor sy eie seuns die een ná die ander as hoofseun.”
“My oom kan maak soos hy wil. Hy besit elke korreltjie sand om daardie skool en niemand kan hom rondbeveel nie.”
“Nee, en as die inspekteurs kom, is dit gewoonlik oudleerlinge van hom, so al wat hulle sê is: ‘Ja, doktor’ en ‘Reg, doktor.’ Niemand waag dit ooit om ‘Nee, doktor’ te sê nie!”
Beyers Serfontein, die beroemde snydokter Martin Serfontein se seun, kom aangedraf. “Haai! Was die tweeling hier by julle?” vra hy.
“Nee. Hier kom hulle nou uiteindelik.”
Ben en Klaas Serfontein, veertien jaar oud soos die ander van hulle groep, is die hoof se tweelingbroers, die bekende wiskundiges Frans en Emil, se seuns. Die pa’s het met susters getrou. Dit was ’n dubbele bruilof en die seuns is ’n jaar later byna op dieselfde datum gebore. Hulle lyk so verbasend baie na mekaar met hulle ligte hare en blou oë – wat nie kenmerkend van die Serfonteins is nie – dat hulle “die tweeling” genoem word. Die neefs gee nie om nie, want hulle is in elk geval omtrent altyd by mekaar.
Jurie staan eenkant en bekyk al die seuns. Hulle het nog nooit enigiets kortgekom nie. Hulle moes hulle oë nog nooit vinnig laat sak as iemand vir hulle kyk nie. Wat sal hulle dink van sy tuiste wat so armoedig is, van sy pa wat kort-kort werkloos is en sy ma wat haar so vir al hulle kinders afsloof?
“Hier’s die uitverkorenes!” skree iemand bo die geraas.
Ongeveer elf jong mans het met die trap opgekom.
’n Mens moet ’n paar keer kyk om seker te maak hulle is nie onderwysers nie. Net die skooldasse wys hulle is leerlinge. Almal is groot en sterk ná al die jare op Keurboslaan waar soveel klem op liggaamlike opvoeding gelê word. Die groep het reeds ’n kwartaal se diens agter die rug, en word as die beste span prefekte in baie jare beskou.
Die grootste van almal sou in enige geselskap aandag trek. Richard Serfontein, die sewentienjarige hoofseun, is besonder lank, nes sy pa. Hy het sy pa se klassieke gelaatstrekke en die Serfonteins se swart oë. Maar hy het sy ma se goudgeel hare geërf. Dis ’n besondere kleur wat in helder lig soos gepoleerde metaal skyn. By al hierdie uitsonderlike eienskappe is daar egter ook tekens van stille skugterheid in Richard se houding.
Jurie kyk na hom en kan nie ophou staar nie. Dis die eerste keer dat hy so iemand teëkom.
Die trein beweeg stadig in en ’n gestoei ontstaan om by maats uit te kom. ’n Prefek wat amper so lank soos Richard is, maar met ’n effense slap houding wat iets van sy lengte afneem, blaas op ’n fluitjie en kry ’n mate van orde totdat die trein stil staan.
“Volgens graad,” sê Richard met ’n besonder diep manlike stem. Hy het nie nodig om hard of kwaai te praat nie. “Klim van die voorkant af in die waens.”
Buitengewoon ordelik gehoorsaam almal totdat net die prefekte, Jurie en drie ander seuns op die perron oorbly.
“Ruys, gaan kyk of die ander passasiers darem plek kry,” sê Richard. “Daar is nooit baie op dié nagtrein nie, maar nogtans. Daan, gaan jy saam.”
Ruyssenaer knik sy kop en klim in die trein saam met Daniël Krynauw, ’n blonde sewentienjarige wie se oom, dokter Eugene Krynauw, die hoof se aangetroude neef en intiemste vriend is – as doktor Serfontein ooit met enigeen intiem kan raak.
“Stil! Hier kom hy!” hoor Jurie van die vensters waar ’n klomp seunskoppe uitsteek.
Keurboslaan se hoof lyk nog net soos altyd: groot, sterk, lenig en tot in die kleinste besonderheid korrek aangetrek. Sy gesig is baie aantreklik, al is die uitdrukking streng.
Die prefekte staan beskeie voor hom en sê bedees: “Goeienaand, doktor.”
“Goeienaand,” sê hy met ’n diep stem net soos Richard s’n. “Alles in die haak?”
“Ja, doktor,” sê Richard.
“Is die vyf nuwe seuns hier?”
“Net vier, doktor. Lourens Joubert het nie opgedaag nie. Dominee Borneman het Logan self gebring.”
Jurie sien die ander nuwe seuns nou eers raak.
Hulle is anders as dié wat by die vensters uitleun. Hulle kyk niemand in die oë nie.
Jurie kyk maar weer na die hoof. Hy weet nie hy skep ’n goeie indruk met sy gesonde kleur en reguit blik nie.
Hierdie man is doktor Roelof Serfontein!
Jurie het baie oor hom gelees in die brosjures wat doktor André Smit vir hom gestuur het sodat hy ’n blik op sy nuwe lewe kon kry. Smit het hom ondersoek om seker te maak die seun sal sy groot kans ten volle kan benut. Hierdie doktor Serfontein was in sy jong dae ’n bekende sportman. Hy is nou wêreldbekend as skrywer en het ’n fortuin by sy peetpa in Amerika geërf. Nogtans staan hy hier op die stasie en kyk die vier onbekende seuns aan asof hulle werklik van belang is.
“Wie is Verryne?” vra hy.
“Ek, doktor,” kom dit byna fluisterend van Jurie.
Die hoof weet alles van sy verlede. Wat dink hy van iemand soos ek, wonder Jurie. Hy weet nie hoe dit gebeur nie, maar skielik vang Jurie Richard se blik, en sonder om te verstaan hoe, weet hy wat Richard vir hom probeer sê.
Jurie lig sy kop en kyk reguit, maar nie voorbarig nie, in die hoof se oë.
Doktor Serfontein se wenkbrou flikker effens en