Maar meneer Spaulding is reeds buite in die gang.
Lourens moet byna hardloop om hom in te haal. “Ekskuus tog, meneer,” sê hy.
Meneer Spaulding steek dadelik vas. “Ja?”
“Kan u my asseblief sê wat ek moet doen?”
Meneer Spaulding ondersoek die aantreklike gesig en die oë wat meer verraai as wat Lourens besef. “Wanneer het jy hier aangekom?”
“Vanmiddag, meneer.” Lourens het nou besef hierdie “meneer” is die towerwoord wat alle deure oopsluit. “Ek is slegs deur ’n skoonmaker ontmoet en …”
“Almal word deur die skoonmakers ontvang wanneer hulle die eerste dag van die kwartaal opdaag.”
“Ja, maar dan is hulle almal bymekaar …”
“Kom ons kyk eers wat jy kan doen voor jy ons begin leer hoe om ’n skool te bestuur. Jy was veronderstel om in Johannesburg na die stasie te gaan en saam met al die ander skool toe te kom.”
Meneer Spaulding lyk of hy weer wil aanstap. Lourens sluk en sluk weer.
“Ek is jammer as ek moeite veroorsaak het, meneer. Dit was nie opsetlik nie.”
Lourens probeer sy sjarme aandraai, maar deskundiges op dié gebied het al bloutjies met meneer Spaulding geloop.
“Hierjy! Jan Serfontein!” roep die onderwyser.
Dis eienaardig hoe Jan oral verskyn net wanneer hy benodig word. Richard het dieselfde eienskap gedurende ’n rugbywedstryd; hy is nie eintlik ’n uitblinker nie, maar hy is altyd byderhand om ander se foute reg te maak.
“Ja, meneer!” sê Jan nou.
“Hierdie jongman is ’n nuwe leerling. Hoe hy heet, weet ek nog nie, want hy het homself nie voorgestel nie. Dalk tref jy dit gelukkiger.”
“Ekskuus!” sê Lourens die hoeveelste keer vandat hy hier aangekom het. “Ek het net aanvaar meneer ken my naam.”
“So? Op watter gebied het jy dan vir jou naam gemaak?”
“Ek het gedink u as koshuisonderwyser sal al die nuwe leerlinge se name ken.”
“Ek het al baie verdra, en dit met ’n geduld wat my nie kenmerk nie, maar my kontrak vereis nie dat ek deur jou op my pligte gewys word nie,” sê meneer Spaulding kil. “Jan, wys vir ons gas waar hy kos kan kry en kyk of daar vir hom slaapplek is.”
“Wat ís jou naam?” vra Jan toe hulle alleen is.
“Lourens Joubert,” kom dit kortaf en sonder sjarme.
“Dan is alles maklik. Daar’s ’n etiket met jou naam op bokant ’n bed in Ruyssenaer, die onderhoofseun, se kamer. Dis jou slaapplek. Wat kos betref: Dis nou koffietyd. Trek daai jas uit en hang dit hier in die kleedkamer. Jy kan my tweede kleurbaadjie leen. Dis seker ’n bietjie klein vir jou, maar daarsonder kom jy nie in die eetsaal nie.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.