Hy is bekommerd oor die klasse in hierdie plek wat soveel van ’n gewone hoërskool verskil. Hy het gehoor die ander wat lankal hier skoolgaan, leer van graad ses af Latyn.
“Ek hoop julle nuwe mense is slim,” sê Beyers Serfontein.
“Ek is allesbehalwe,” sê Alberts verveeld.
“Julle beter iewers ekstra breinselle vandaan kry,” waarsku Rynault. “Hulle moes daardie banke spesiaal vir julle indra en dit maak die klas gans te vol. Julle kan nie hier sit en net suurstof gebruik nie. Dis die middelskool, van graad ses tot nege, se sterklas dié, en dit gaan so bly!”
Jurie is verras. Rynault en sy maats is so vrolik en uitgelate dat hy nooit gedink het skoolwerk is vir hulle belangrik nie.
“Hoe gaan dit met jou, Poggen … Loggen … Wat jou van ook al is?” vra Beyers.
Loggenberg se klein ogies word dadelik weer effens wasig. “Hou jou bek,” brom hy.
Die dierlike geknor, meer as die woorde self, skok die ander en in die kort stilte wat daarop volg, kom ’n onderwyser by die klas in.
Die feit dat dit die nuwe onderwyser is, stem die klas weer vrolik. Hulle mag die sterklas wees, maar dit beteken glad nie hulle is zombies nie!
Hulle betrag die onderwyser met honger oë terwyl hulle hom nogtans beleefd groet.
Meneer Lambrecht kom saam in om die nuwe leerkrag voor te stel.
“Meneer Brink is meneer Bekker se plaasvervanger,” sê hy. “Ons is bly meneer Bekker het elders ’n hoofskap gekry, maar ons is jammer ons het hom verloor. Nietemin verwelkom ons meneer Brink hartlik en hoop sy verblyf hier gaan lank en aangenaam wees, en dat hy ook soos ek vir geen geld ter wêreld van Keurboslaan sal wil weggaan nie.”
“Ja, meneer!” sê die koor.
“Hy het so ’n trop kinders, hy sal dit nie kan bekostig om te trek nie,” fluister Brian vir Rynault.
Meneer Lambrecht hoor die gefluister, maar nie die woorde nie.
Hy haas hom terug na sy eie klas en laat dit aan meneer Brink oor om self klaar te kom. Niemand kan hom in elk geval met hierdie klas help nie.
Die nuwe onderwyser haal diep asem. Dan begin hy die rooster aflees en almal antwoord bedaard.
“Die vier nuwe seuns, staan op,” sê hy aan die einde. “Julle is taamlik agter by hierdie leerlinge, maar julle is volgens ouderdom hier geplaas. Julle kry later by meneer Dempers ’n rooster van ekstra klasse wat julle sal help om in te haal. Sit maar.”
Sover gaan dit goed met meneer Brink.
Nou begin praat hy sommer om te praat, soos ’n mens maak as jy senuweeagtig is.
“Spaulding,” sê hy nadat hy weer na die rooster gekyk het. “Praat jy ook so goed Afrikaans soos jou oom?”
Al wat die nuwe onderwyser van die Spauldings af weet, is dat hulle nie oorspronklik Afrikaans is nie. Van die res van hulle verlede weet hy niks nie, en die wakker Brian kom dit dadelik agter.
Hy kom stadig regop en laat val sy kop vorentoe. “Pardon?” sê hy.
Die hoof het hom al dikwels belet om dié Engelse woord alleen te gebruik. Doktor Serfontein dring daarop aan dat ’n mens in volsinne praat en “I beg your pardon?” sê. Maar hy is nie nou hier nie!
“Jy praat tog seker ’n bietjie Afrikaans?” vra meneer Brink effens geskok.
“Come again?” kom dit van Brian.
“Meneer, hy …” begin Rynault, maar die leuen steek in sy keel vas en hy klap sy hand oor sy mond.
“Is jy dan nie al ’n geruime tyd hier op skool nie?” vra meneer Brink in Engels.
“O ja, maar ek besit geheel en al geen taalgevoel.”
Die ander seuns weet nie waar om te kyk nie. Brian is uiters begaafd in tale. Sy oom en pa praat tot vandag toe altyd met mekaar Russies, en Brian se Afrikaanse ma het die taal ook aangeleer, daarom is selfs hy vlot in Russies.
“Dis uiters onbevredigend,” sê meneer Brink, “aangesien al die onderrig in dié skool in Afrikaans is. Dit verbaas my eintlik.”
Brian trek sy skouers op.
Die onderwyser dink vir ’n oomblik en sê dan: “Ek sal vier eenvoudige vrae op die bord skryf. Antwoord jy dit skriftelik, nie net met ’n paar woorde nie, verkieslik ’n paragraaf. Intussen gaan die klas met die voorgeskrewe werk aan.”
Meneer Brink skryf vinnig op die swartbord en die seuns lees die vrae grinnikend:
“Doen maar jou bes,” sê meneer Brink. “Kry jy nie ekstra lesse nie?”
“No, Sir. My father is too poor to pay for that,” sug Brian.
Die ander stik van die lag, behalwe die nuwe seuns wat Brian verbaas aankyk. Het hulle hom dan nie vlot en perfek Afrikaans hoor praat nie?
Die klas het reeds ’n kwartaal se harde werk agter die rug en meneer Brink is meer as tevrede met hulle vordering.
Brian konsentreer intens op sy taak. Hy laat sy mond so wyd oophang dat sy mangels byna sigbaar is. Sy lippe beweeg koorsagtig. Wanneer hy uiteindelik begin skryf, steek hy sy tong so ver uit dat dit amper aan sy regteroor raak. Af en toe sien ’n mens aan sy gesig dat ’n salige ingewing hom beetgepak het.
Toe die periode verby is, staan hy sugtend op en gee die papier vir meneer Brink.
“Nou toe, dis darem ’n begin,” moedig die leerkrag aan. “A, hier kom meneer Dempers. Ek sal jou sinne later nasien.”
Brian buig, te gedaan om te kan praat – in watter taal ook al.
Meneer Dempers is ’n ervare onderwyser en ’n leerling het jare laas met hom probeer gekskeer. As iemand dit wou waag, sou menere Bertrand Spaulding, Venter en Geer, sy eertydse leerlinge, hulle aangeraai het om daarvan te vergeet.
Die onderwyser begin nou rustig met sy les in algemene kennis.
Skielik hou hy op om vrae te vra.
“Beyers!” sê hy, want ’n mens is verplig om die talle Serfonteins op hulle voorname te noem.
“Meneer?”
“Gee vir my daardie briefie wat Leenderd vir jou gegee het en wat oorspronklik van Spaulding af kom.”
“Briefie, meneer?” vra Beyers kastig onnosel.
Meneer Dempers kom na hom toe, nie dreigend sover Jurie kan sien nie, maar Beyers gee dadelik vir hom die stukkie papier en hy lees dit.
“Wat is dit?” vra die onderwyser.
Brian sug.
“Meneer, dis my Afrikaanse les,” sê hy. Hy weet hy kan meneer Dempers nie flous nie. “Ek moes daardie sinne op die bord beantwoord.”
“Hoe so?”
“Want my Afrikaans laat veel te wense oor, meneer.”
“Het jý dit vir meneer Brink gesê?”
“Meneer, ek dink hy’t dit self uitgevind.”
“O … Gaan skryf jou antwoorde daar, elkeen onder die betrokke vraag, sodat die hele klas dit kan geniet. En dalk kom doktor in en kan hy dit ook geniet!”
Brian steun onwillig.
“Toe-toe!”
Brian stap vorentoe en begin gehoorsaam skryf.
Hy werk by Brits Brootkas (he sows oats).
Ek laaik dit weri baya, ja.
Die klas giggel, maar hou dadelik op toe meneer Dempers na hulle kyk.
Die man wat al die spietse maak.
Ek