“Ja, meneer.”
“Hy sal dus later van hom laat hoor.”
Die les word hervat.
Jurie het dit nie gewaag om saam te lag nie, maar hy beskou Brian se poging as die hoogtepunt van humor, en betrag die groot kwart-Russiese seun met groot bewondering.
Die middag is die rugbyproewe. Jurie vind uit hy is weer eens te stadig vir alles.
Ruyssenaer word aangesê om hom en die ander drie die basiese beginsels van die spel te leer.
Naby die veld waarop hulle gaan oefen, staan iemand wat Jurie nog nie gesien het nie. Dis ’n seun van so sestien, effens stewiger as die gewone Keurboslaner. Hy dra ’n groot, warm jas. Wat vir Jurie vreemd is, is dat niemand na sy kant toe kyk nie, al glimlag hy soms op ’n neerbuigende manier asof hy iets van rugby af weet en hierdie oefening vermaaklik vind. Dis Lourens Joubert, wat die hoof vir Richard as ’n bedorwe brokkie beskryf het.
“Oë hierdie kant toe,” beveel Ruyssenaer.
“Rugby is heilig in hierdie skool. Dis hoekom daar vandag tien spanne oefen. Die spel self is eenvoudig. Daar sien jy twee pale. Al wat jy moet doen, is om die bal – dis die ding wat ek hier vashou – agter jou teenstanders se pale te gaan neersit, verkieslik reg in die middel sodat iemand wat goed skop, nie met die doelskop sal sukkel nie. Makliker kan dit nie wees nie.”
Jurie is nie seker of hy hiermee saamstem nie, maar luister aandagtig.
“Een of ander swernoot kom dalk in jou pad staan, maar dan systap jy hom net en hardloop vir die vale,” gaan Ruyssenaer voort. “Party ouens sal agter jou aanhol, maar jy moet net vinniger hol, dis al. As jy die bal agter jou eie pale gaan neersit, maak jy sommer daar op die plek jou testament. Die skeidsregter hou spesiaal papier en ’n pen daarvoor.
“Die belangrikste is vir eers om die bal te leer vang en netjies vas te hou, en dit nie te laat val nie. Daar’s vir elke posisie ’n afsonderlike naam, soos flank, losskakel en ’n klomp ander. Maar dit maak nie nou saak nie. Jy sal mettertyd baie name kry – by die sportonderwyser en by my, nie by die kaptein nie, want hy gaan teologie studeer. Toe, begin!”
Jurie hardloop, val, staan op en val weer. Hy gryp na bene waar hy hulle sien, en dikwels behoort hulle aan ’n speler in sy eie span. Hy word met meer name geseën as wat hy ooit tuis op straat geleer het.
“Ja-nee, ek is goed, nè,” sê Ruyssenaer toe Jurie hom ’n slag verstom aankyk. “Dis net ’n geleerde mens wat stringe groot woorde kan gebruik sonder om een daarvan twee keer te gebruik.”
In ’n stadium bevind arme Logan hom met die bal in sy hande, sonder die vaagste benul hoe dit daar gekom het.
“Hardloop, jou nikswerd, of ek verwurg jou en skeur jou met my kaal hande aan stukke!” skree Ruyssenaer.
Logan se moed begewe hom. Hy nael soos die wind. Sy skraal liggaam sny deur die lug. Hy is van die veld af en verby die skoolgeboue voor iemand hom kan voorkeer.
Richard kom aangedraf vanwaar hy ’n ander span afgerig het. “Wat makeer, Ruys?” vra hy.
“Het jy daardie outjie se spoed gesien?” vra die onderhoofseun.
“Ek kon dit nie glo nie. Hoekom het hy weggehol?”
“Miskien het hy ’n dringende afspraak.”
Richard se halwe glimlag waarvoor ’n mens dikwels net soos vir sy pa s’n tevergeefs wag, verskyn nou.
Hy gaan terug na sy eie klompie spelers.
“Nou ja, dis genoeg vir vandag, julle hopelose spul,” sê Ruyssenaer. “Julle is in elk geval pootuit. Verryne, gaan agter jou maat aan en bring hom terug met die bal. Dit behoort nie aan hom nie.”
Jurie hardloop om die skoolgebou en bly dan staan.
Logan het hom in die hoof vasgeloop.
Die seun sidder en bewe so dat hy byna omslaan.
“Waarvoor is jy nou eintlik bang?” vra die hoof wat blykbaar pas iets anders gesê het toe Jurie opdaag.
“Ek … weet nie …”
“Ek ook nie. Iemand wat so vinnig kan hardloop, hoef nie bang te wees nie. Gaan trek nou aan voor jy verkoue kry. Verryne, neem die bal terug na die persoon wat julle afgerig het.”
Maar Jurie bly nog staan en kyk doktor Serfontein agterna terwyl hy na sy huis toe wegstap.
’n Maer man in armoedige klere kom agter ’n bos uit en keer die hoof voor. ’n Donkerrooi vlek trek die hele regterkant van die man se gesig skeef sodat die hoek van sy mond hoog, byna naby die oog, sit. Dit lyk vir Jurie of die man met hierdie afgryslike litteken gebore is.
Die hoof staan stil en luister bedagsaam na wat die man sê. Dan draai hy om en stap saam met hom weg. Hulle kies koers na die plaas. Dit is dus iemand wat hulp nodig het.
“Kom,” sê Jurie vir Logan toe hy doktor Serfontein nie meer kan sien nie. “Hou op om so te bewe. Wat makeer jou?”
“Jy dink ek is ’n lafaard, maar ek dink aanhoudend … wat sal gebeur as die ander agterkom ek is nie soos julle nie? Ek was in ’n verbeteringskool …”
“Bly stil,” sê Jurie bars. “’n Mens vertel nie sulke dinge nie!”
Logan swyg en kyk smekend op na Jurie se duister gesig.
Nou verstaan Jurie alles. Logan is iemand soos hyself, en die ander twee nuwelinge dalk ook. Hy kan aanvoel hulle is nie soos die ander Keurboslaners nie.
“Moet nooit weer daaroor praat nie,” beveel hy Logan. “Dis jou eie saak.”
Jurie gaan terug en gee die bal vir Ruyssenaer wat staan en gesels met Boet Lambrecht, meneer Lambrecht se seun en ’n medeprefek.
“Moes jy hom disnis slaan om dit te kry?” vra hy vir Jurie.
“Nee, die hoof was daar …”
“Nou ja, dankie, hoor.”
Jurie bevind hom langs Loggenberg. “Van waar af kom jy?” vra hy.
Hy verwag die gewone “Hou jou bek!” maar Loggenberg antwoord eenvoudig: “Pretoria.”
Dit sê niks nie. Jurie wonder of Loggenberg ook iemand soos hy en Logan is. Indien wel, dan is Alberts ook. Hy ril al van die begin af wanneer Alberts naby hom kom. As Alberts ’n jeugmisdadiger is … maar Jurie is ook een. Hy het gesteel en … Soos ’n weerligstraal tref die gedagte hom: Voel ander mense dan oor my soos ek oor Alberts voel? Dat ek vuil is, en ’n gemors? Nee … nee!
Lourens Joubert wat agterna stap, sien hierdie jong seun se gesig wat so blosend was, het nou bleek geword en sy oë kyk wild rond asof hy ’n skuilplek soek.
Het hy hom te moeg gespeel? Lourens kon sien hy is onervare.
Richard verskyn skielik langs Jurie.
“Moeg, Verryne?” vra sy sterk, kalm stem.
Jurie het nie geweet hy is naby nie.
“Ná ’n stort en warm koffie is jy weer pure man,” sê die hoofseun. “Het jy daarna iets om te doen?”
“Nee.”
“Kom doen dan vir my ’n werkie in die prefektekamer. Daar is lyste wat almal ’n paar keer oorgeskryf moet word. Jy’s nuut hier is, so jy’t nog nie soveel verpligtinge soos die ander nie. Bring Logan sommer saam.”
“O, goed. Baie dankie!”
“Dis ek wat vir jou moet dankie sê.”
Jurie draf doodgelukkig agter die ander aan.
Lourens het nog nooit in sy sestien jare so vreemd gevoel nie.
Sy pa is onlangs ontbied na Grant College waar Lourens ’n kosganger was en deur meneer Papenfus, die hoof, in kennis gestel dat