Madeliefies van staal. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795704253
Скачать книгу
te koop?” fluister sy vererg, vergeet skoon om Engels te praat.

      Hy skud sy kop, strek sy hand uit om haar aan die arm te vat en trek haar nader. “Soccer. Last night. My team won.”

      Hy los haar arm en vir ’n paar sekondes staar sy hom aan. Toe kom die kloutjie by die oor.

      “O!”

      Die bakker beduie sy moet haar mandjie aangee en pak haar goedjies een vir een op die toonbank. En sonder rede voel sy skielik verleë, soos om ’n manspersoon agter die toonbank by die vroue se onderklereafdeling te vind.

      Sy haal haar kredietkaart uit en kirts! trek hy dit deur die masjientjie en kirts! skeur hy die papiertjie af en gee dit vir haar. Sy teken haar naam, gee dit vir hom terug en met nog ’n kirts skeur hy die kwitansie af. Hy vou dit om haar kaart en gee dit vir haar terug, maar toe sy dit by hom wil neem, laat hy nie los nie.

      “Getroud, C.M. Douglas?” fluister hy, ’n pragtige fronsie tussen sy wenkbroue.

      “Uhm . . . nee. En jy?”

      Hy skud sy kop.

      “Vaste kêrel?” kwaak hy, sy oulike frons nog dieper.

      Sy aarsel. Om te erken dat jy nie ’n kêrel het nie, klink so treurig, sies tog, foei tog. Maar om nee te sê vir ’n váste kêrel is iets anders.

      Sy skud haar kop, vol selfvertroue.

      “Koffie?”

      Is hy besig om haar koffie van die rak af aan te bied of nooi hy haar uit vir ’n koppie koffie?

      Hulle bekyk mekaar op en af, haarlyn na ken en terug, terwyl hulle aan die stukkie plastiek vashou, vingertoppe wat voel-voel aan mekaar raak.

      Sy gee ’n sagte kuggie. “Knik jou kop as ek die jackpot slaan. Nommer een: Probeer jy koffie aan my verkoop?”

      ’n Kopskud, die wys van pragtige tande, en ’n lag in sy oë.

      “Nommer twee: Vra jy my uit vir koffie?”

      Hy knik sy kop en los die kaart.

      Met meneer Groentjie, haar bio-degradable sak, vol eetgoed gepak en haar Marilyn Monroe-handsak oor haar skouer staan Cheryl by die deli se ingang en wag.

      Haar sel lui en sy vroetel in Marilyn Monroe se binneste. Dis Dae-Yung.

      “Haai, Dae? Wat doen jy?” Sotlike vraag, dink sy dadelik, sy weet presiés wat Dae doen.

      Sy hoor eers water loop en toe ’n stem bo die gedruis.

      “Hello, I pee. You hokay for now, my lovee?”

      “Ek het jou al honderd maal gesê moenie my bel as jy . . .”

      “You no hokay?” Skril, bekommerde stem.

      “Nee, nee, ek’s oukei.”

      “You no sound hokay. You want me to leave Feely and come?”

      “Nee, ek’s by The Mall. Ek het iemand in die deli ontmoet. O Dae, jy moet hom sien! Hy’s ’n engel!”

      “Angel no good. They have no handle. Wait . . .”

      Geluide van papier wat afrol, ’n toilet wat spoel en ’n vloekwoord in Engels – die enigste een wat Dae-Yung ken. Toe vrek die foon.

      Cheryl sug. Dis al die vyfde selfoon wat Dae-Yung op een of ander manier verwoes of verloor, die vrou leer nie. Dis óf ’n selfoon óf sleutels óf haar voorbehoedpille, maar iets word verlê of verloor.

      Sy draai skuins en loer oor haar skouer om te sien of die vleeswording van hemelse heerlikheid al op pad is. Hy is . . . op pad.

      Hy kom na haar toe aangeloop tussen die deli se rakke deur met ’n heupswaai en wippende krulle, sy kop vol idees. O nee! besef sy te laat. Been there, done that. Sny die toutjie nóú, vermaan sy haarself. Maar kan nie die tikkie vertedering keer toe hy eers ’n ouerige vrou en toe ’n ouerige man elkeen op die wang soen nie. Sy ouers, reken sy.

      Met ’n swenk van sy lenige lyf kom hy by die deur uit, buk rats en vat meneer Groentjie uit haar hande. Sy vingertoppe druk in die holte van haar rug om haar voort te stuur. Sy skop vas.

      “Luister . . . uhm, wat is jou naam?” vra sy verleë.

      “Angelo Fabrizi,” fluister hy hees en gee ’n sagte hoesie agter sy hand.

      Slanke vingers, sy naels perfek gemanikuur. Ma Dulcie sal só beïndruk wees. En hy is toe werklik ’n engel! Wel, soort van. Boonop eg Italiaans.

      “Engel . . . ek bedoel, Angelo, my naam is Cheryl. Dankie vir jou uitnodiging, maar miskien moet ons dit liewer uitstel tot ’n ander dag? Ek het skoon vergeet, my broer en sy vrou is op pad. Dis waarom ek al dié goed . . .”

      “Ek sal jou help met die kos,” belowe hy asof sy hom enigsins gevra het, asof hy genooi is.

      Hy neem haar aan die elmboog en stuur haar behendig deur die mensemassa soos een wat presies weet waarheen hy op pad is. Sy voel hoe sy hand van haar elmboog geleidelik by haar arm afbeweeg tot by haar hand, en vir een keer in haar lewe is sy sprakeloos.

      Koppe draai in hulle rigting en sy kyk elkeen vas in die oog. Sy reken sy en haar Italianer lyk nes enige ander paartjie wat inkopies doen. Nou op pad na hulle liefdesnessie vir ’n fees van vlees, by wyse van spreke.

      Hy kyk om, trek aan haar hand. “Kom nou, kom-kom,” fluister hy.

      Sy voel om te sterf. Dis net die Italianers wat ’n taal so dekadent kan laat klink, dink sy terwyl haar binneste bewe. Sy verkyk haar aan sy geribde T-hemp, smal heupe en stywe boudjies onder nog stywer verbleikte jeans. Sy weet nie of sy wil lag of huil nie. Van agter af lyk hy niks ouer as sewentien nie! Om die waarheid te sê, hy is ook korter as sy.

      Buite tref die koel luggie haar gloeiende wange en kom sy tot bedaring. Sy vroetel met albei hande vir haar motorsleutels. Hy sluit die kattebak oop en laai die sak met sy kosbare inhoud in, sluit weer toe, loop om na die passasierskant en maak die deur oop. Vir háár. Toe gaan klim hy agter die stuurwiel in, sluit die ratslot oop en draai die sleutel van die kar. Háár kar.

      Sy weet die alarm sal oor ’n minuut begin lui.

      Moet sy hom waarsku en sê waar die knoppie versteek is om dit af te skakel? Nee wat, besluit sy, laat hy dit self vind. Wat hy toe ook doen. Sy is omtrent beïndruk. Hy vind selfs die regte knop vir die radio, druk-druk tot hy Radio 5 kry, wat sy verpes, en draai na haar, die ene tande en blink oë.

      Sy gee haastig haar adres en skakel vir Ashwin.

      “Is julle ouens al op pád?” vra sy tussen geklemde kake deur.

      “Ons was al op pad toe ons jou gebel het, sus. Sien jou binne . . . sê tien minute?”

      Haar hart skop teen haar ribbes en sy sluk hard.

      “Is dit reg met jou?” vra Ashwin op sy besorgde manier toe sy aarsel.

      “Ek sal definitief oor drie minute by die huis wees,” sê sy beslis.

      En as ek nié daar is wanneer julle daar aankom nie, kontak die flying squad! Laat kom die weermag om my te soek! Asseblief!

      Hulle sit in sogenaamde stilte en luister na Allison-iemand wat kliphard sing: “Monday, Tuesday, we were cool, Wednesday I found out bout you, caught my heart by telling lies, you weren’t what you advertised . . .”

      Dankie. Sy sal dit in gedagte hou.

      Hy sit elke woord en saamsing, geluidloos, tik-tik met sy vingers teen die stuurwiel, skouers wat heen en weer wieg. Oukei . . . heel waarskynlik het sy niks meer as ’n tienerkrimineel op hande nie.

      Sy is cool daarmee, besluit sy, sy het met Billy the Kid grootgeword.

      Angelo sluit die voordeur oop en loop reguit kombuis toe. Hy sit meneer Groentjie op die kombuiskas neer en begin uitpak, maak haar yskas oop en druk ’n paar pakkies in. Sonder om te vra.

      Sy