Lucy kry lekker oor die kompliment. Sy het ’n vaalgroen langbroek aan en ’n paar enkelstewels vir die nattigheid van die lykhuis. Haar groen T-hemp, wat nie heeltemal so uitgewas soos haar langbroek is nie, hang lank en wyd en bo-oor het sy haar nuwerige rooi check-hemp aan. Sheena noem dit haar tafeldoekhemp.
“Ek kom net môre sê, want ek moet ’n paar minute vir Jacques wag. Hy kom my oplaai vir ’n lyk in Off Roxy . . .”
“Dulcie! Dulcie, kom hoor hiesa!” skree Doll kliphard. “Nou wie is die lyk wat julle moet oplaai? Julle tel mos net die unnaturals op, dan nie?” sak haar stem soos dié van ’n samesweerder.
Lucy glimlag goedig. “Dit ís ’n onnatuurlike dood, antie Doll.”
Voor sy kan uitbrei, kom Dulcie inderhaas die kombuis binnegestorm. Sy het haar koningsblou kamerjas en koningsblou pantoffels aan, en die handdoek om haar kop word in plek gehou deur ’n hand met mooi gemanikuurde naels.
“Mylord, Doll, mens sal dink jy word aangerand!” raas sy kamma. “Wat gaan aan? Môre, Lucy,” groet sy in haar gawe stem.
Sy draai na haar suster. “Doll, die brak is al weer in my kamer. Sy staan en bedel biltong by Dudley.”
“Nie ek nie, jou skoondogter het haar ingelaat,” sê Doll met ’n knipoog in Lucy se rigting.
Lucy trek haar skouers verskonend op. “Sy’t gevra om in te kom?”
“Ja, toe dan maar,” sug Dulcie. “Doll, hoekom skree jy so?”
“Die huis is so groot, mens móét skree om gehoor te word,” verweer Doll haar. “Kyk, in my huis innie Kaap kan mens nie eens kreun nie, dan hoor die kind in die kamer langsaan. Know what I mean?”
Sy lag lekker toe Dulcie toe-nou-beweginkies met haar hand maak en vir Doll wys om vir haar ook koffie te skink.
Lucy bekyk die twee susters.
Antie Dulcie is op een-en-sestig nog rietskraal, elegant en gesofistikeerd, en sy gedra haar altyd waardig. Sy straal ’n warmte uit teenoor haar geliefdes, medelye en behulpsaamheid teenoor minderbevoorregtes, sjarme in die geselskap van rykes en VIP’s. En sy het ’n kyk wat die Rooisee kan opdroog as sy uitvind dat jy jou aan die kant van die ongewenstes en kansvatters skaar. Ná sewe jaar is haar gevoelens teenoor haar skoondogter steeds vir Lucy ’n raaisel. Gaaf op slegte dae en vriendelik op minder slegte dae. Of miskien is dit net haar persepsie, dink Lucy.
Antie Doll is heelwat jonger. Sy is mollig en minder mooi, allesbehalwe gesofistikeerd, maar uitbundig en lewenslustig. Sy is Sheena se geselsmaat en hulle straat se lieflingbuurvrou.
“Ja, ja, ek skink,” sê Doll. “Koffie vir jou ook, Lucy?”
Toe Lucy haar kop skud, vra Dulcie: “Gaan jy my nou vertel waaroor die geskree was?”
“Sit ’n oomblik, Lucy, dan vertel jy ons,” nooi Doll hartlik. “Ja, Dulcie, ek wou jou net sê Jakkie is op pad. Daar’s ’n lyk in Off Roxy.”
“Wáár in Off Roxy?” Dulcie se stem het ’n hele oktaaf geklim.
“Toemaar, antie, dis ’n jong man,” antwoord Lucy. “Hy’s in die kop geskiet gedurende ’n inbraak. Dis in Bakerstraat.”
Dulcie sit terug in haar stoel, haar hand op haar hart.
Lucy besef sy het haar skoonma laat skrik. Dié het natuurlik aan oom Sparky gedink, wat ook in Off Roxy bly. Hy is Dulcie se swaer, haar eerste man se broer, en hulle is baie erg oor mekaar.
Lucy kyk op haar horlosie. Hoe lank nog voor Jacques opdaag? Sy trek die stoel oorkant Doll uit en gaan sit, langs Dulcie, wat aan die kop van die tafel sit.
Haar skoonma vat ’n sluk koffie en vroetel aan die handdoek om haar kop. Daar is altyd ’n effense ongemaklikheid tussen haar en Lucy, en die wedersydse wete dat hulle nie veel het om vir mekaar te sê nie. Meesal net die gebruiklike “hoe gaan dit?”, “dit gaan goed”, gevolg deur ’n paar niksseggende sinne, soms kop onderstebo geuiter, altyd haastig, besig of op pad.
“Nou maar . . .” por Doll en sit haar leë beker hard op die houttafel neer.
“Ag nee, antie, ek weet niks meer nie,” skerm Lucy. “Ons word mos nie alles vertel voor ons by die toneel aankom nie.”
“Toe nou, jy’s ook altyd so geheimsinnig! Ons sal mos nie gaan oorvertel nie, nè, Duls? Haai, wie ís daar om te vertel?”
Iets in Lucy verteder. Dié antie kan sy net so optel en in Gumaville sit. Sy is daar net so tuis soos in Athlone in die Kaap. Soos sy hier by die tafel sit, is sy die teenpool van haar suster met die handdoek in perfekte Hollywood-styl om haar kop gedraai. Doll se hare is in groot wit rollers wat sy nou een vir een uithaal en netjies op die tafelblad neerlê soos iemand wat daisies in ’n bak rangskik.
“Maar vertel tog vir ons iets, ons is ook ma’ nuuskierig, jy weet,” hou Doll aan.
Lucy het al agtergekom dat haar skoonma in antie Doll se teenwoordigheid al die vrae vir haar suster los. Alleen sal sy ook vra, eintlik skimp, en op so ’n afgetrokke manier dat jy nie sou dink dat sy enigsins belangstel in die detail van jou antwoord nie. Dié kamma ongeërgdheid het sy lankal vervolmaak.
Vanoggend is geen uitsondering nie. Lucy kan sien haar skoonma verlekker haar in antie Doll se nuuskierigheid. Vertel sal sy moet vertel, anders gaan sy nie vandag hier wegkom nie. Sy noem nooit name nie, vertel geen intieme besonderhede nie, net ’n geval met ’n effense gru daaraan of ’n hartseer stertjie om antie Doll te laat gril of ’n traantjie te laat wegpink.
Sy besluit op ’n geval van twee weke terug, die vrou wat dae lank morsdood voor haar TV gesit het voor iemand haar lyk gevind het. Die polisie het sedertdien haar dogter in die hande gekry en hopelik kom sy vandag haar ma eien.
“Ag shame, wys jou, nè?” snak Doll.
“Moenie worry nie, Doll,” sê Dulcie. “Ons is darem drie in die huis en nog drie in die woonstel. Ek dink darem nie een van ons sal dae lank dood voor die TV sit voor iemand ons kry nie.”
Doll ignoreer hierdie nugtere kommentaar. “Haai, Lucy, die ou antie het seker al begin ruik, of hoe?”
“Doll! Móét jy so graphic wees?” maak Dulcie beswaar.
Sy sit haar hand moederlik oor haar skoondogter s’n en Lucy weet die antie soek inligting. Maar voor sy kan vra, is Doll weer aan die woord.
“Seker al rigor mortis, of hoe?”
Dulcie kyk haar suster afkeurend aan.
“Gaan jy en Ashwin vanaand uit?” verander sy die onderwerp.
Lucy trek haar skouers op. “Ek sal maar hoor wat Ashwin sê.”
Hulle het daaroor gepraat om na Cheryl te gaan, maar sy wil dit nie vir haar skoonma noem nie, bang sy en oom Dudley wil saamgaan.
Skoonma Dulcie op haar eie en skoonsuster Cheryl op haar eie is hanteerbaar, maar saam is hulle ’n bietjie oorweldigend. Dis asof hulle mekaar gedurig wil uitoorlê, twee sterk persoonlikhede wat hulle voorkeure en afkere dan op mekaar en dan op ander probeer afdwing, terwyl die mense om hulle niks meer as stom toeskouers is nie. Ten spyte daarvan is dit duidelik dat ma en dogter lief is vir mekaar.
Gelukkig het Lucy en haar skoonma ’n relatief vreedsame verhouding, maar dis net omdat sy ’n goeie afstand tussen hulle hou. Antie Dulcie beskou steeds vir Ashwin as ’n eenling, so asof sy vrou ’n onsigbare aanhangsel is, deel van die meubelment. Sy is eintlik half verbaas as Ashwin eers Lucy se mening vra voordat hy ’n besluit neem.
“Hoe’t julle die antie gestraighten gekry om haar op die trollie te laai?” karring Doll voort. “Breek julle die bene of . . .”
“Doll! Mylord! Ek het nog nie gebreakfast nie!” stoom Dulcie.