Madeliefies van staal. Pat Stamatélos. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Pat Stamatélos
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795704253
Скачать книгу
voor te berei vir sy volgende show en hy hou hom maar eenkant. Ek en Ashwin sien hom skaars, maar volgens antie Doll kom en gaan hy baie.”

      Ashwin lag. “Volgens Ma brand hy glo kerse en wierook.”

      “Tannie Dulcie sê sy kon dit tot by die wasgoeddraad ruik, maar toe sê oom Dudley dis nie wierook nie, dis dagga . . .”

      Sheena kom nie verder nie, want almal bulder behoorlik van die lag.

      “Wel, ek het nog nooit van ’n Hindoe of ’n Moslem met die naam Savage gehoor nie,” sê Cheryl. “Dink jy dis sy verhoognaam?”

      “Ag, vir seker,” stem Ashwin saam.

      “Om te dink Shorty is al ’n jaar dood . . .” Sy mis die ou siel, hulle was erg oor mekaar. Eintlik was álmal erg oor Shorty.

      Ashwin knik. “Ja, Ma het ook nou die dag gesê. Sy’t spesiaal ’n bos blomme vir Shorty se graf gekoop.”

      ’n Kort stilte volg terwyl hulle eerbiedig na hulle skoene staar in nagedagtenis aan ’n ou dame genaamd Shorty Present. Eintlik is Cheryl besig om na Ashwin se skoene te staar. Haar oë rek. Is dit ’n paar Converse Chuck Taylor All Stars wat hy aanhet?

      Sy kyk op, merk sy gordel. Sy ril behoorlik. “Is dit krokodíl daardie, Ashwin?”

      “Ons is nie almal dierefanatikusse nie,” sê hy en beduie na die draadhok in die hoek met die skoendoos en McDonald’s-polistireenbakkie bo-op. “Anyway, alligators is koudbloedig.”

      Sy ruk haar op. Nogal ’n alligator. Los dit, Cheryl, maan sy haarself.

      Angelo rek sy nek om te sien wat in die hok is. “Waar’s die voël?” vra hy verward.

      “Moenie vra nie,” sug Ashwin. “Sy maak diere bymekaar soos ons geld bymekaarmaak.”

      “Daar’s nie ’n voël nie. Ek hou die hok en bokse byderhand ingeval ek op ’n beseerde diertjie afkom. Ek werk as vrywilliger by FreeMe, ’n rehabilitasiesentrum vir klein, beseerde wilde diere en ek moes al soms een huis toe bring om te versorg.”

      Angelo knik. “We have dogs and cats,” fluister hy. “Wie is Shorty?”

      Cheryl verduidelik van hulle buurvrou in Roxy se voormalige huishulp. Ná haar werkgewer se afsterwe het Shorty ’n miljoen rand van haar geërf, maar sy wou nie alleen in haar huis aanbly nie. Dus het sy in die woonstelletjie op hulle erf ingetrek, saam met haar wit hondjie genaamd Hoenertjie.

      Nou moet die naam Hoenertjie eers verduidelik word, en Angelo lag heerlik.

      Hulle kuier tot laat en Ashwin bied aan om Angelo terug te neem na die mall waar sy kar geparkeer staan. Sheena smeek om saam te gaan, net om die mall, die mense, die víbe te sien, asseblief, asseblief!

      Angelo bedank Cheryl met krakende stem. Met sy pinkie wat na sy lippe wys en sy duim na sy oor fluister hy: “Ek sal jou bel, wat is jou nommer?”

      Sy gaan haal haar Gucci-beursie (’n geskenk van Dae-Yung) uit Marilyn Monroe se binnesakkie en gee vir hom haar kaartjie. Telefoonnommer, selfoonnommer, e-posadres, posbus, werkadres, werktelefoonnommer. Sy reken hy behoort haar in die hande te kry.

      Toe maak Ashwin die voordeur oop en sleep haar stemlose gigolo by die woonstel uit, ’n opgewonde Sheena agterna.

      Cheryl kyk na die toe deur en probeer onderdruk die visioen van ’n pragtige jóng Italianer in haar bed.

      Lucy is reeds besig by die opwasbak. Cheryl vat ’n skoon vadoek en begin afdroog en wegpak.

      Sy dood om Lucy te vra wat sy van Angelo dink. Bekyk haar skelm waar sy soos een in ’n ander wêreld die prop uittrek en die verdwynende waswater agterna staar, druppende vingers wat oor die rand van die wasbak hang. Waaraan dink sy, so stil?

      Lucy is gaaf en pragtig en besit al die eienskappe van ’n sagmoedige Saint Teresa. Toegewyd, vroom en wys. Haar besemkoppie en maer, effens geboë skouers gee haar soms die voorkoms van ’n treurende. Vir iemand wat in ’n lykhuis werk, is dit seker gepas, maar wat Cheryl betref, is haar opinies oor alles en nog wat eenvoudig te afgewater.

      Sonder enige goeie rede voel sy altyd effe verlore in Lucy se geselskap. Asof Lucy iets weet wat sy nie weet nie. En dis heel waarskynlik waar. As sý Lucy was, sou sy lankal vir almal vertel het presies wat agter die geslote deure van ’n lykhuis gebeur.

      Maar nee, nie hiérdie Moeder Teresa nie. Haar lippies is gezip, en as sy iets móét sê, kom dit in een lang sin uit sonder om asem te haal en dan is dit dít.

      So lief en danig soos hulle oor mekaar is – dis die familia-ding – is hulle van uiteenlopende agtergronde. Ma Dulcie en pa Bennie was arm, maar hulle het ’n stabiele en liefdevolle huis vir haar en Ashwin geskep. Hulle pa is dood ná ’n ongeluk by die werk en die spoorweg het compensation uitbetaal, want dit was weens hulle agtelosigheid. Met dié geld het haar ma dadelik ’n paleis in Roxy gekoop en die huis in Gumaville verkoop.

      Lucy, aan die ander kant, kom uit ’n disfunksionele familie, om die minste te sê. En die hele lot bly nog net daar in Gumaville.

      Voor Cheryl kan keer, droog Lucy haar hande stadig en deeglik af aan die einste valletjiesvoorskoot wat so mooi om die Italianer se heupe gepas het. En sy sluk, hard. Want nou is Angelo se Armani-reuk ook in sy maai in.

      Sy maak die vrieskas oop en haal ’n bak roomys uit. Knipoog vir Lucy wat besig is om die bank se kussings terug in fatsoen te klop.

      “Wat dink jy, my skoonsuster? Sal ons . . .”

      “O nee, dankie, ek het regtig genoeg gehad om te eet,” sê Lucy vinnig en sit haar hand oor haar maag. “Ek dink nie hier is plek vir enigiets meer nie, maar skep gerus vir jou. Miskien sal Ashwin en Sheena kom saameet, jy weet hoe hulle dood oor roomys, eintlik enigiets soet.”

      Sy loop na die balkon se kant toe. “Ek gaan die liggies bewonder,” sê sy en stoot die deure oop.

      Cheryl rol haar tong om die lepel koue roomys. Dis seker tyd om vir Lucy en Ashwin te vertel van haar reis na Korea. Sy sal vanaand vir Ma bel om haar in te lig oor die vertrekdatum. En die verwyte en besware keer deur te vra wat sy vir haar en oom Dudley moet saambring.

      Haar gedagtes gaan terug na Dae-Yung. Sy wonder hoe haar vriendin vaar met die arrogante dunnek-mannetjie genaamd Philly. Hy lyk na niks meer as ’n Vienna in die bed nie – in vergelyking met ’n Boerewors of ’n Frankfurter of ’n Russian. Kyk, sy en Dae weet hoe om mekaar te vermaak.

      Natuurlik laat dít haar outomaties aan Angelo dink, daardie Adam van Eden, die Valentino van die silent screen. Sekerlik ’n salami tussen die lakens?

      Sy loop uit op die balkon, lek-lek aan nog ’n lepel roomys, en word in haar spore gestuit. Lucy se maag hang oor die balkonmuurtjie. Lucy met ’n bóép?

      “Lucy!” roep sy uit.

      Haar skoonsuster swaai om.

      “Jy’s swanger.”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим