Sy voel opnuut ’n warmte van liefde en deernis vir Ashwin, wat in sy wysheid besluit het om ’n bamboesafskorting voor hulle deur te laat oprig. Tot skoonma se (stille) ergernis, want nou kan sy nie meer haar skoondogter dophou nie. Maar Lucy kan genadiglik haar voordeur ooplos én voor haar eie wasbak staan sonder om in haar skoonma vas te kyk wanneer dié in haar groot tuin rondvroetel. Boonop is die black-eyed Susan en klematis wat oor die afskorting rank ’n lus vir die oog.
Die bakkie nader ’n imponerende dubbelverdiepinghuis.
Nuuskieriges staan in die straat regoor die oprit rond en nek rek. Jacques blaas die toeter om hulle te verjaag. Die versperring van geel lint is oor die lengte en breedte van die sypaadjie gespan, maar dis duidelik dat die mense hulle nie veel daaraan steur nie. In ’n ommesientjie drom hulle weer om die bakkie saam.
Twee polisievoertuie staan op die sypaadjie en nog een in die straat. Lucy en Jacques kyk vlugtig na mekaar. Dis hulle grappie: hulle tel altyd hoeveel polisiebeamptes om een lyk staan en hoeveel polisiemotors op die toneel is. Die rekord is vyf voertuie en sewe polisiemanne om een verkluimde boemelaar in ’n veld.
Jacques druk die toeter en ’n paar sekondes later gly die groot hek geluidloos oop. Mense dring vorentoe. Hy toet weer en laat die voertuig agtertoe spring. Die agies spat uitmekaar.
Die bakkie stop net binne die hek, want die liggaam lê op die gras naby die hoë muur. Hy is seker geskiet toe hy oor die muur probeer wegkom het, dink Lucy.
Aan die ontspanne houding van die polisiemanne wat om die lyk staan en grond trap, weet sy dat daar reeds gevoel, gemeet, foto’s geneem en notas gemaak is. Alle moontlikhede is bepraat en nou is hulle haastig om van die lyk ontslae te wees, om terug te gaan na hulle oggendkoffie en -roetine of om slaap te gaan inhaal. Die dood kom nooit tydig nie.
Die huismense staan in ’n groepie saamgebondel. Hulle wil ook ontslae wees van dit wat op hulle perseel lê. Tog bly hulle op ’n goeie afstand van die lyk toe hulle oor die grasperk naderkom.
Lucy kan sien hulle is steeds geskok oor die nagtelike gebeure by hul huis. Hulle vesting versterk met hoë mure, ’n hek van hout en traliewerk, ’n bordjie met die naam van ’n sekuriteitsmaatskappy en ’n paar groot herdershonde, nou in die agterplaas toegemaak. Die honde is ongeduldig geblaf en die bure ongedurig om te sien of iets uitgedra gaan word. Almal wil aangaan met hulle dag en sien uit daarna om te gaan oorvertel wat hulle dink hier gebeur het.
“Goeiemôre,” groet Jacques toe hy uitklim.
“Goeiemôre,” antwoord ’n koortjie.
Die mans stel hulleself vlugtig voor en bekyk Lucy toe sy uitklim. Dis seker die eerste keer dat hulle ’n vrou sien wat ’n lyk kom haal, dink sy toe sy met ’n kopknik in die rondte groet. Haar oë soek outomaties na ’n bekende gesig.
“Good morning, Lucy,” groet speurder-inspekteur Abel Tshabalala. “Nice to see you again.” Hy steek dadelik sy hand na haar uit en sy greep is sag maar ferm.
Tshabalala trek pensioen se kant toe, ’n no-nonsense mens en deeglik in sy werk. So het sy hom leer ken, van Gumaville tot by Roxy.
Die massiewe man langs Tshabalala is die diensoffisier. Lucy het hom al by ’n vorige geleentheid gesien, maar hulle is nie aan mekaar voorgestel nie.
“Lucy,” groet sy en steek haar hand uit.
“Gert,” antwoord hy.
Haar hand verdwyn omtrent in syne. Die ander drie polisiemanne tree ook vorentoe en groet. Dan tree hulle vinnig terug in hulle kringetjie en sit hulle fluistergeselsies voort. Een haal solank sy motorsleutels uit sy broeksak.
Speurder-inspekteur Tshabalala begin verduidelik wat gebeur het.
“A noise coming from the kitchen woke Mrs Jones up at four oh five this morning. Mr Jones then pressed the panic button and immediately called the police, who happened to be in the vicinity.”
Hy beduie na die groepie geselsendes en ’n lang, maer man lig sy hand in erkenning toe Lucy en Jacques in hulle rigting kyk. Dis dan seker sektorpolisiëring, dink sy.
“They arrived on the scene almost immediately, coming in from the back of the house. Shots were fired from the roof of the house and the police fired back. The burglars slid down the homeowner’s own ladder . . .” Abel trek ’n gesig en Jacques skud sy kop, “and once on the ground they made a beeline for the gate. One was hit, fatally.” Hy wys na die man op die grond. “The other two burglars jumped the adjoining wall.” Hy wys weer. “The police gave chase, but to no avail. A helicopter and dogs were called in, but they are still searching.”
Aan die ergerlike uitdrukking op Abel se gesig weet Lucy hy beskou dit as niks minder as ’n persoonlike belediging dat die inbrekers weggekom het nie. Die armed response het ook binne minute gearriveer, maar met die polisie op die toneel is hulle gou weer vort.
Lucy luister aandagtig, maar wat presies gebeur het, en hoe, en wie weggekom het, is nie regtig vir haar van belang nie. Sy is hier om ’n lyk op te laai.
Jacques maak die bakkie se agterdeur oop en saam haal hulle die trollie uit. ’n Ongewone wind laat sand en die vorige dag se grassnysels oor hulle neersif en Lucy knipper haar oë terwyl hulle die trollie tot langs die dooie stoot. Sy kniel by die noodkombers, gereed om dit vas te vat en van die lyk af te trek. Jacques gaan kniel aan die ander kant.
Toe sy die punt van die kombers oplig, verstyf haar hele lyf. Die kop lê rustig, amper gemaklik, in ’n plas bloed.
Liewe Heretjie! Dit kan mos nie!
’n Naarheid stoot in haar op en sy druk vinnig haar hande plat op die gras om te keer dat sy omkantel. Haar maag trek saam van totale weersin.
Rooi borreltjies kleef aan die man se woeste krulhare en hang soos taai druppels stroop aan die punte. ’n Yslike swelsel bo sy oë, ’n stuk van sy voorkop weggeskiet, sy lippe en neus vol bloed. Nog ’n koeëlwond in sy skouer.
“Is jy orraait?” fluister Jacques besorg en raak aan haar skouer, asof hy wil keer dat sy omval. Dan ruk hy die foeliekombers met ’n vinnige beweging heeltemal van die lyk af.
Die polisiemanne grinnik vir mekaar. Mompel iets van sy’s ’n vrou. Al ken sy hulle taal, lewer sy geen kommentaar nie. Dit maak nie saak wat hulle dink nie.
“You know him?”
Abel Tshabalala se geoefende oog vir menslike gedrag kyk niks mis nie, sy oor is ingestem op elke nuanse. Hy sak stadig op sy hurke af langs haar, bly sit skaars ’n armlengte weg.
Die vreeslike erkenning dreig om by haar mond uit te loop en sy is te bang om selfs een geluid te maak. Sy voel Jacques se warm asem teen haar nek. Sy nabyheid is vertroostend.
Jacques leun vooroor en draai die kop effens. “Hy’s in die agterkop ook geskiet. Die koeël is uit by die voorkop . . . groot gat.”
’n Stilte sak oor die groepie neer, die soort stilte wat mens in jou binneste bêre en later herroep en oor wonder.
“Lucy, do you recognise him?” vra Abel weer en wys met sy vinger na die lewelose figuur.
Hy weet sy is ’n oudinwoner van Gumaville, dat haar familie nog daar bly. Dis nie onwaarskynlik dat sy die rower ken nie.
“Sy gesig lyk ’n bietjie scary, dis al,” prewel sy.
Dan begin sy werk, vinnig en doelgerig. Sy druk die oog wat dreig om uit die oogkas te rol behendig terug op sy plek, trek die ooglid oor die nikssiende oog. Die omstanders moet kan sien sy’s gewoond aan dié soort ding.
Langs haar blaas Abel sy asem hard deur sy neusgate. Sy weet sy feillose instink het hom gewaarsku en dat hy haar in ’n hoek probeer dryf, maar sy verseg om op te kyk, werk net voort. Uiteindelik staan hy swaar