Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703294
Скачать книгу
en uit.

      Sy is bewus daarvan dat haar vriendinne van haar miserabele kinderdae weet – op ’n klein dorpie kan dit tog nie anders nie – maar hulle het nog nooit met haar daaroor gepraat nie. Dáárvoor is sy dankbaar. Sy deel daardie herinneringe nie eens met Gert of God nie.

      Wanneer haar pa daar was, het hy hul daaglikse bestaan normaal probeer hou, dit gee sy hom ter ere na, maar hy kon nooit opstaan teen haar ma nie. Hy kon háár nooit beskerm teen die sielkundige oorlog wat haar ma teen haar gevoer het nie. Daarom wou sy alles wees wat haar ma nie was nie. ’n Goeie vrou, ’n goeie ma, voorbeeldig. Iemand wat haar gesin eerste stel. En noudat sy dit alles vermag het, wil sy gaan werk . . .

      Hoekom kan sy nie tevrede wees nie? Daar is so ’n mooi Engelse woord: contentment. Dis wat sy wil wees: content. Dis wat sy behoort te voel. Sy sug hard, draai op haar sy, haar knieë teen haar bors opgetrek in die fetusposisie. Dalk as sy sou werk, haar eie geld sou verdien, dalk sal sy dan content voel.

      Sy wonder of Daleen besef hoe gelukkig sy is. In ’n gevestigde praktyk, met meer pasiënte as wat sy seker regtig kan hanteer, en vry. Vrý. Nie dat sy, Amelia, nie vry is nie. Sy wil ook nie noodwendig van Gert en die kinders vry wees nie, sy het hulle te lief. Maar vryheid beteken vir haar net een ding: om te kan doen wát jy wil wánneer jy wil. Om dorp toe te kan ry wanneer dit jou pas. Jou eie salaris te verdien. Jou kinders elke dag om jou te hê.

      Die afstand tussen haar en Riana word al groter, sy weet nie meer hoe om dit te oorbrug nie. Te veel al haar mond gehou wanneer sy moes gepraat het. Te veel gepraat wanneer sy moes stilgebly het. En Werner, haar groot boerseun, amper te groot vir drukkies, maar hy laat dit soms darem nog toe. Ook hy gaan eerder na Gert vir raad, laat haar soos ’n buitestander voel.

      Hoekom práát sy en Gert nie meer nie? Goed, hulle praat oor alledaagse dinge – as hy sy blik van die kassie kan wegskeur – maar óm hulle emosies, óm hulle begeertes en ideale. Wanneer sy wel die moed het om daaroor te praat, lyk hy bloot verveeld. Het sy so vervelig geword? Amelia, die vervelige huisvrou. Ten minste was haar ma se lewe opwindend.

      “Ek het ’n donnerse graad in huishoudkunde, ek het duur

       afbetaal aan my lening, nou sít ek net,” sê sy saggies die donker in. Sy móét met Gert praat. Of dalk moet sy tog eerder ’n brief skryf.

      Die probleem is dat sy met so ’n goeie man getrou het. Sy weet hy wil net die beste vir haar hê. Maar hulle idee van die beste verskil. Durf sy kla omdat sy ’n goeie man het? Hy is die een mens wat sy nooit wil seermaak nie, nooit wil teleurstel nie. Omdat hy nog altyd haar rots was. Dis snaaks, maar sy het hom onmiddellik as haar sielsgenoot geëien.

      Sy was skaars terug van Kovsies, graad stewig in die hand, en het by die laerskoolkoshuis gekook, ’n pos wat sy nie sonder die hulp van haar ma sou kon kry nie – dat haar ma haar gehelp het om werk te kry, was ’n groter skok as die lang ure wat die werk geverg het. Sy het dit vreeslik geniet: haar eerste werk, haar eerste salaristjek.

      Kathy, ’n onderwyseres wat in die koshuis gewoon het, het haar een Saterdag saamgenooi na die Boereverenigingdans. Sy wou nie rêrig gaan nie. As gevolg van haar kinderdae was sy taamlik antisosiaal; net Daleen en Karien kon haar uit haar dop laat kruip. Maar Kathy het so aangehou dat sy eindelik ingestem het.

      Hulle het skaars ingestap by die saal, wat soos ’n regte outydse barn gelyk het, toe sy hom sien. En dadelik besef het dis dít. Nie dat dit moeilik was, steeds is, om hom raak te sien nie; hy staan kop en skouers bo almal uit. Sy groot postuur het die saal gevul, sy donker hare het sag in sy nek gekrul. Waar sy en Kathy by ’n tafel gesit het, kon sy sy groot hande, sy mooi bene bewonder. Vreemd, het sy gedink, dat sy so aangetrokke tot hom voel. Haar tipe man was nog altyd skraal, amper fyn gebou. Nie só groot, met ’n effense boepmaag nie! Tog was daar iets aan hom wat haar eenvoudig aangetrek het. Hy lyk na die tipe man wat ’n vrou sal kan beskerm teen ’n inval. ’n Paar invalle, om eerlik te wees. Dís wat haar na hom aangetrek het, het sy later besef: ’n gevoel van veiligheid.

      ’n Sensasie soos sy nog nooit tevore ervaar het nie, het deur haar lyf getrek. Sy kon nie onthou of sy voorheen ooit eens aan seks gedink het nie. Sy en haar vriendinne sou dit soms laataand, giggelend en blosend, in die donker bespreek, daaroor spekuleer. Maar dis iets wat sy nog nooit eens probeer doen het nie; sy het nooit so daaraan gedínk nie.

      En daar sit sy by ’n grofgeskuurde houttafel op ’n ongemaklike plastiekstoel en staar openlik na ’n reus van ’n man met wellus in haar gedagtes. Sy het onmiddellik geweet dat sy vir hóm gewillig sou gaan lê. Hy het iets in haar wakker gemaak wat geen ander man nog ooit kon regkry nie. Hy het haar nie gesien nie; hy was te besig om met een van die ander jong meisies te gesels.

      Amelia het duidelik geweet dat sy hierdie man wil hê, verkieslik vir altyd, maar sy sou ook tevrede wees met slegs een nag van passie. Sy het gebloos vir haar gedagtes. En sy, wat met ’n afgewende, blosende blik gereageer het as ’n man net vir haar kyk, het iewers vandaan die moed bymekaargeskraap en na hom geloop.

      “Haai! Ek is Amelia, jy wil vir my vreeslik bekend voorkom. Ken ons mekaar?”

      Hy het sy kop stadig na haar gedraai, ’n frons tussen sy mooi oë, en ’n glimlag het oor sy gesig gesprei. “Ek is Gert. Ek ken jou, ja. Ons was saam op skool. Ek was ’n jaar of twee voor jou.”

      “Ek wou sê jy lyk bekend!” Sy het wragtig tóé gebloos, seker omdat sy so staan en lieg het, want sy kon Gert glad nie onthou nie. Hoe de donner was dit moontlik dat sy hóm nie onthou nie?

      “Doen my die eer aan en dans met my.” Hy het verspot voor haar gebuig, haar stewig aan die boarm gevat en na die dansvloer gelei, sonder ’n verdere blik na die blonde Barbie met wie hy gesels het.

      Sy en Gert het heelaand met mekaar gedans en gesels, terwyl Barbie dolke met haar oë na Amelia gegooi het. Teen die einde van die aand was sy tot oor haar ore verlief. Drie maande later het hulle begin trouplanne maak. Sy het vir haarself ’n droom geskep, aangevuur deur Gert se amper kinderlike vreugde oor hul toekoms saam. Luilekker dae op die plaas . . . sy hoef nooit weer te werk nie . . . haar lewe gaan so rustig wees, net sy en haar donkerkopreus.

      Haar droom het mettertyd haar nagmerrie geword. Verveling kenmerk haar dae. Wat aan die begin hemels was, het hel geword. Nee, nou is sy onregverdig. Sy is steeds verlief op Gert, dalk nog meer as destyds, en sy het twee wonderlike kinders.

      Dis nie haar huwelik wat hel is nie, dis haar omstandighede. Sy wil gaan wérk. As sy beroepsgewys gestimuleer word, weet sy, sal sy ook vir Gert die vrou wees wat hy verdien. Nie die patetiese huisvrou wat sy nou is nie. As sy gaan werk, sien hy haar dalk weer raak, praat hy dalk weer met haar. Reik hy dalk weer snags na haar lyf . . .

      All you need is l♥ve

      Daleen se selfoon lui net toe hulle by die padstal instap. Hulle het die stalletjie anderkant Aliwal-Noord op pad Queenstown toe raakgery. Dis in elk geval onmoontlik om dit nié raak te sien nie: pers, blou, groen en rooi, met ’n groot naambord: Piet se plek. Biltong, droëwors, vars vrugte en yskoue koeldrank, belowe die kennisgewingbord verder.

      Daleen voel haar hart agter haar ribbes skop toe sy Jan se naam op die skermpie lees. Sy verskoon haarself en stap na die ry peperbome aan die ander kant van die padstal.

      “Jan . . .” Sy voel hoe haar asem in haar keel stol, sodat dit byna onmoontlik is om te praat. Sy is oombliklik vies vir haarself. Sy gedra haar soos ’n verliefde tiener, en só ken sy haarself nie. Sy het nog nooit so opgetree nie.

      “Het jy al tot ’n besluit gekom?”

      Sy hoor die ongeduld in Jan se stem, wil haar eers daaroor vererg, besluit dan om dit te ignoreer. Hulle het hierdie rusreis tot satwordens toe bespreek. Dis háár tyd hierdie. Saam met háár vriendinne, sodat sy tot ’n ingeligte besluit kan kom. Sy gaan haar nie laat aanjaag nie.

      “Nee,” antwoord sy, sonder enige verdere verduideliking.

      “Ek wens jy wil. Dis eensaam sonder jou.” Die versugting is hoorbaar.

      “Ek wil ’n deurdagte besluit neem, nie ’n oorhaastige besluit wat op hormone gegrond is nie.”