Rivierplaas: Alba Bouwer-omnibus. Alba Bouwer. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Alba Bouwer
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624056119
Скачать книгу
Alie. Waar kom sy nou?”

      Dan maak Alie se voorkop eers ’n paar plooie en dan sê sy: “Sien, ou-Melitie, toe ek en Lulu vandag van die skool af kom, sien ek net hoe vlieg ’n groot swart valk, so groot soos Pa se grootste ploeg, met Kommetjie se nuwe kalfie weg. Toe hou ek my boeksak so voor my en ek sê: ‘Towertapyt, maak jou wyd, vat my na Noord, Oos of Suid.’ Toe word die boeksak so groot dat ek daarop kan sit en daar trek ek deur die lug agter die groot valk met die kalfie aan. Hoog, hoog op vlieg ek op my towertapyt tot by die valk. Toe sê ek: ‘Towergeweer, help my keer, maak die groot valk seer.’ Toe word my rooi leesboekie ’n sterk rooi geweer, en ek tel hom op en ek korrel net een keer en ek skiet bam! en daar val die valk so ploef! in die mielieland en ek skep die kalfie uit die lug uit op my towertapyt en seil weer tot op die grond met hom. Toe word die geweer weer ’n leesboekie en die towertapyt word weer ’n boeksak en ek het toe hierdie groot krap op my been waar die kalfie my geskop het toe ek hom moes vashou.”

      Ou-Melitie hou nooit eens een keer op met was as Alie so ’n storie vertel nie. Emily van Hoppies, ja, sy hou sommer op en dan sê sy: “Nonwe Alie, sos jy prat sô, jy lieg banja. Tokkielos sal jou vang.”

      Nee, nie ou-Melitie nie. Sy kyk nie eens op nie. Sy was net ’n slag hard oor die nuwe seerplek.

      “Eina!” skree Alie dan en sy probeer haar voet wegruk. Dan vee ou-Melitie saggies oor die nuwe seerplek en sy sê: “Nou ek was hard by darrie plek, nou jy weet des die valk, sy skop sos jy skiet hom. Sy skop net vor sy val, sy skop so hard!” Dan lag Alie so hard dat Piet, die ou grys kat, eintlik sy kop oplig waar hy voor die stoof lê en slaap. Ou-Melitie, sy raas nooit as jy daardie soort stories jok nie, sy weet tog dit is mos maar sommer stories en nie jok nie.

      As dit begin winter word, kom daar darem party aande amper-amper ’n ding met ou-Melitie by daardie voetewassery. Dan word Alie se voete so bruin-skurf by die hakke en op die enkels. Dan haal ou-Melitie ’n stywe wit mieliestronkie uit die houtkas langs die stoof uit, maak dit nat in die water en skuur die skurwe hakke en enkels daarmee.

      “Eina! Eina, ou-Melitie. O, jy’s lelik en …”

      Ou-Melitie hou nooit eens een keer op met was as Alie so raas nie. Emily van Hoppies, ja, sy hou sommer op en dan sê sy: “Nonwe Alie, sos jy prat sô, jy maak my banja kwaad. Ek sal nie meer was die voet nie.”

      Nee, nie ou-Melitie nie. Sy kyk nie eens op nie. Sy los net vinnig die stronkie en dan sê sy: “Nonwe Alie, sos ek sê vor jou wat wel jy banja, banja hê. Wat sal jy sê?”

      Alie dink glad nie eens nie en sy plooi nie eens haar voorkop nie, sy kan dadelik sê: “O, ou-Melitie, wat ek baie, baie graag wil hê, is vlegsels; lang dik ronde vlegsels wat so van my ore af vleg en tot by die plek hang waar juffrou Barnard sê waar my lewer sit. Dan sit ek onderaan elke vlegsel ’n groot blou strik, van die blink blou lint wat Lulu se pa in die plaaswinkel het. En as ek soggens skool toe stap, wikkel ek my kop so heen en weer dat die strikke soos twee blou swaels voor my swaai. Hoe kan ek dit kry, ou-Melitie?”

      Ou-Melitie skuur met die stronkie oor die skurwe voete, maar Alie vergeet om te sê eina, want sy dink aan die twee dik ronde vlegsels. Dan sê ou-Melitie: “Ek sal jou vortel wat jy moet maak, nonwe Alie, maar jy moet nog twee deng sê wat jy wel banja, banja hê,” en ou-Melitie steek twee vingers in die lug op dat die armbande weer so trienge-rieng, trienge-rieng.

      Alie dink glad nie eens nie en sy plooi nie eens haar voorkop nie, sy kan dadelik sê: “Die tweede ding wat ek wil hê, is ’n trompie, net soos joune, ou-Melitie, en ek wil net so op hom speel soos jy, só: woem-woem en dan weer so wiem-wiem, net so wil ek speel. En die derde ding wat ek baie graag wil hê, is,” en nou kyk Alie eers om na die middeldeur se kant toe en dan buk sy tot amper teen ou-Melitie se rooi kopdoek en sy sê: “Ek wil so ver en reguit kan spoeg soos Jantjies, so tussen my twee voortande deur.”

      Ou-Melitie los dadelik die stronkie. “Jôna whê, nonwe Alie, sos jy prat weer darrie deng van die spoeg, ek sal vortel by meneer Jaan van Jantjies by die stal by darrie perd. Jy praat banja lelik.”

      “Ag, jy sal nie gaan sê nie, jy sê tog nooit nie! Maar ek sal dan ’n ander derde ding sê: Ek wil net soos Diek kan klap met die voorslagsweep, so hard dat Ouma my op Brakfontein kan hoor. So, nou’s dit drie! Nou moet jy sê hoe kan ek al drie daardie dinge kry, toe, ou-Melitie.”

      Ou-Melitie het nou al klaar al twee voete gewas. Nou skuif sy die badjie weg en sy hurk met die strepieshanddoek oor haar wye sisrok voor Alie en vou al twee die rooigewaste voete toe. Saggies droog sy af, baie saggies sodat die ou seerplekke en die nuwe seerplekke niks moet voel nie. Dan vat sy ’n slag aan haar kopdoek, net daar waar sy die klein plat blikkie snuif bêre en sy sê: “Nou jy maak jou oog toe, al twee jou oog. Nou jy sê banja sag: ‘Ek wel hê die vleggesel, die dek vleggesel!’ Nou jy maak jou oog oop, al twee jou oog. Nou sos jy sien die roi os sos jy maak jou oog oop, jy sal kry die vleggesel.”

      “Ou-Melitie, is dit die waarheid?” sê Alie en haar oë rek groot en wyd.

      “Jy glo nie vor my nie, nonwe Alie? Dan ok ek glo nie vor jou by die valk nie.”

      Alie hoor nie eintlik wat ou-Melitie sê nie. Sy knyp haar oë styf toe en sê: “Ek wens, ek wens ek het vlegsels, dik vlegsels.” Dan maak sy vinnig haar oë oop, maar al wat sy sien, is Piet wat hom uitrek langs die stoof. “As Piet nou een van die Afrikanerosse was, was my wens waar?” vra sy.

      “Êwe, sos Piet sy was die roi os, jy kry die vleggesel,” sê ou-Melitie en sy smeer die lekker salf van lampolie en skaapvet wat tant Lenie in die ronde blik langs die stoof hou, lekker dik oor Alie se bene en baie dik oor die skurwe plekke waar die mieliestronkie rooi geskrop het. Nou trek Alie haar sandale aan en sy kyk hoe ou-Melitie se rok sulke kort draaitjies om haar enkels maak as sy die waslap uitspoel en die badjie uitdra. “Sjwieps!” sê die water buite oor die bossies waar ou-Melitie dit uitgooi. “Sj-ô-r, sjips,” sê die straal water wat ou-Melitie uit die Piet-fluit-ketel in die badjie gooi. Klinks! sit sy weer die ketel op die stoof neer en ghoemps! gooi sy ’n bietjie koue water by die warm water. “Trienge-rienge,” sê haar armbande as sy haar hand vinnig deur die water trek om te voel of dit warm of koud genoeg is. Dan tel sy met ’n swaai die badjie op die bankie. “Pakisa, nonwe Alie. Nou jy moet moi was by die gaseg.”

      Ou-Melitie kan nie saans wag totdat Alie haar gesig en nek en ore gewas het nie, nou kom die voete eerste, en dan moet Alie self agterna bo was. Buite op die gruispaadjie hoor Alie oom Jan se voetstappe, kwarts-kwarts maak sy skoene oor die gruisklippies. Sommerso flarts-flarts was Alie oor haar gesig en nek en wikkel-wikkel draai sy in elke oor ’n waslapvinger en sjloef-sjlaf spoel sy die seep af. As oom Jan sy regtervoet op die drumpel van die kombuisdeur sit, loer Alie oor die klein blou handdoekie se rand vir hom, blink gewas.

Alba-08-020.tif

      Dan vou ou-Melitie haar swart tjalie met die lang fraiings om haar skouers, vat ’n slag aan haar kopdoek, net daar waar sy die klein plat blikkie snuif bêre, en sê: “Nag, meneer Jaan, nag, nonwe Alie,” en haar blou sisrok maak sulke kort swaaitjies uit die vuur se lig uit, oor die drumpel en in die nag in.

      Dan luister Alie hoe maak ou-Melitie se kaal voete sjirts-sjirts op die gruispaadjie en by die kamervenster sê sy: “Nag, mevrou.” Net daarna skree die werfhekkie tjier-tjier, en dan het die swart nag ou-Melitie met haar swart tjalie met die lang fraiings en haar rooi kopdoek met die plat blikkie snuif en haar blou sisrok wat sulke kort swaaitjies maak, ingesluk.

      Die Kissie van die Boland

      Tant Lenie het grootgeword op Hartbeeskraal, ’n ou wynplaas in die Boland. Toe het sy onderwyseres geword en in die Vrystaat skoolgehou, en op die ou end is sy met oom Jan getroud en toe moes sy Vrystaatse boervrou word. Nou woon oom Koos en tante Magriet, tant Lenie se broer en tant Lenie se suster, op Hartbeeskraal. Maar as tant Lenie van die Boland praat, so dink Alie altyd, dan trek haar mond anders, anders as wanneer sy nou van seep kook praat of van die dae toe sy in Bloemfontein geleer het om onderwyseres te word. Dit het gemaak dat Alie eendag vir ou-Melitie vra: “Ou-Melitie, hoekom trek Mammie se mond