“Ag, my liewe,” sê tant Lenie, “dit lyk my iets het deur die boom van die kissie geloop en op die rokkie. Gee gou hier, Alie, kom ons kyk wat dit is.”
Alie is te bang om te praat, te bang amper om asem te haal. Sê nou daardie kol bly daar sit?
“Toe maar, Alie,” sê oom Jan, “vat vir jou en Lulu elkeen ’n lemoen. Ou-Melitie sal seker môre daardie kol kan uithaal.”
Toe hulle buite kom, sê Lulu: “Oe, dis mooi. So baie valletjies.”
Alie sluk en sluk, want dit voel of haar keel toe is en of haar ore seer is vandat sy daardie kol gesien het. Toe sê sy met ’n vaal stemmetjie, wat vir haar net so snaaks gaan soos die nuwe kalfie se eerste bulk: “Dink jy die kol sal uitgaan?”
“O, daardie kol? Ag, ja wat, dit sal mos uitwas!” sê Lulu en sy byt ’n groot stuk skil van haar lemoen af.
Toe roep ou-Melitie: “Nonwe Alie, pakisa!”
Lulu spring gou by die werfhekkie uit huis toe, en Alie drentel aan kombuis toe waar ou-Melitie al staan en wag met die badjie water en die strepieshanddoek vir die voete was. Sy het nie eens lus om vanaand stories te maak met ou-Melitie nie, sy dink net oor die blou rokkie met die baie valletjies en die swart kol op die rug.
Ou-Melitie praat ook nie, sy was net op en af teen die bene en rondom die skurwe hakke. “Jôna whê,” sê sy toe sy die twee rooigewaste voete in die strepieshanddoek toevou. “Nonwe Alie sy’s moeg, sy denk by darrie blou rok, sy prat nie.”
“Ag, ou-Melitie, dink jy daardie kol sal uitgaan? Dink jy regtig so?”
“Darrie kol,” sê ou-Melitie en sy vat aan haar kopdoek, net daar waar sy die plat blikkie snuif bêre, “darrie kol sy sal uitwas, môre ons sal hom vor jou was, nonwe Alie.”
“Ag, asseblief tog, ou-Melitie, asseblief tog, was hom skoon uit.”
Toe Alie die volgende middag van die skool af kom, gaan sy reguit na die bleikdraad toe waar die blou rokkie mooi opgevou lê sodat net die kol so nat-nat in die son bak. Ja-nee, die kol is uit, maar daar sit nou ’n groot vaal kol, groter as die swart kol wat eerste daar was.
“Haai, Lulu, kyk, nou is daar ’n groter kol,” sê Alie, en haar stemmetjie word weer vaal.
“Ag,” sê Lulu, “my ma sê die son maak alles reg. Môre sal daardie kol so waar soos skilpaddop weg wees. Kom ons gaan vanmiddag weer vlei toe.”
Alie belowe sommer, maar sy dink nie wat sy sê nie, want sy kan net aan daardie blou rokkie dink wat eers ’n swart kol gehad het en nou ’n vaal kol het.
Die derde dag toe Alie van die skool af kom, lê die rokkie nie meer op die bleikdraad nie. Tant Lenie wag vir haar by die kombuisdeur met iets in haar hand wat blou is, nie soos die valletjiesrokkie se pure blou nie, maar pesleintjie-blou soos die porselein-waskom en -beker in die vrykamer.
“Kyk hier, Alie,” sê tant Lenie, “ek het vir jou hierdie blou lappie- goed van die dorp af laat kom saam met oom Krisjan. Tant Ellie sal dit vir jou net so met valletjies maak soos die ander rokkie. Daardie kol wil nie uit nie, nou gee ek dit maar vir klein-Melitie, dan kan ons jou kolletjiesrokkie vir Sanna gee, anders huil sy nou weer.”
Alie staan ’n rukkie stil en sy weet nie of sy baie spyt moet wees oor die pure blou rokkie van tant Magriet en bietjie bly oor die pesleintjie-blou lappiegoed nie, of bietjie spyt oor die pure blou rokkie van tant Magriet en baie bly oor die pesleintjie-blou lappiegoed nie. Toe kom ou-Melitie by die kombuisdeur uit met die pure blou rokkie met die kol en die kolletjiesrokkie oor haar arm.
“Jôna whê, nonwe Alie,” sê sy en haar wit tande blink soos sy lag, “jy wel vor my gee die rok vor Sanna en klein-Melitie? Ek moet hom vat of ek moet hom weer vor jou breng?”
“Nee, nee, ou-Melitie, jy moet al twee die rokkies vat. Mammie sal vir my ’n ander valletjiesrokkie sonder ’n swart kol maak.”
“Jô, nonwe Alie, ke a leboha,” sê ou-Melitie, en toe weet Alie hoe bly sy is. As ou-Melitie bly is oor iets, sê sy: “Tanki”, maar as sy baie bly is, sê sy: “Ke a leboha”, dit beteken groot dankie.
Die volgende oggend toe Alie en Lulu skool toe stap, wag klein-Melitie by die hoek van die draad langs die grootpad. Van ver af waai sy vir hulle, en toe Alie by haar kom, druk klein-Melitie gou iets in haar boeksak en laat spat weer al teen die draad op soos ’n wilde springhaas. Baie nuuskierig is Alie toe sy die boeksakkie oopmaak om te soek wat klein-Melitie daarin gedruk het. Toe lê daar tussen Alie se rooi leesboekie en haar skrifboek drie bruin kruisbessies en ’n kiewieteier.
“O, daardie kiewieteier het sy sowaar soos skilpaddop van Hoppies gekry,” sê Lulu.
“Sowaar,” sê Alie, “maar nou is dit myne. Maar jy kan twee kruisbessies kry.”
Daar kom die twee by die skool aan, elkeen met ’n bruin kruisbessie in die kies. En daardie dag in die skool steek Alie kort-kort haar hand in haar boeksakkie om te voel of die kiewieteier nog lekker rond en glad onderin lê.
Wasdag by die Rivier
Elke oggend wanneer ou-Melitie Alie kom wakker maak en die groen blinding voor haar kamervenster so sjirts laat opgly, vra Alie dieselfde twee dinge: “Ou-Melitie, het jy ’n bietjie meer as twee teelepels suiker in my koffie gegooi, en watter dag is dit vandag?”
As ou-Melitie in Basoetoland gaan kuier, en Emily van ou Hoppies werk in die huis, dan vra Alie dit net een oggend of twee oggende of miskien drie oggende en dan nie weer nie. Emily sê altyd: “Nonwe Alie, ek set die twee lepel suiker by jou koffie, sos die mevrou sê. En hoekom jy vra elleke môre darrie deng van die dag? Gester dit was Densdag, nou jy weet vandag des Woensdag.”
Nie ou-Melitie nie. Nee, ou-Melitie klap haar lang maer vingers so teen mekaar, twee harde klappe en een sagte klappie, en dan sê sy: “So banja lepels ek set hom in, nonwe Alie. Nou jy sal moi loop die hele dag?”
Dan sê Alie: “Ke a leboha, ou-Melitie. Maar watter dag is dit vandag?” Dan kyk ou-Melitie deur die venster na die een ou pendoringboom wat naby die huis staan en sy sê: “Nou die mossie by die boom sy sê: ‘Dennesdag! Dennesdag!’ Maar sy jok, darrie mossie. Ou-Melitie sy weet des Maandag, nonwe Alie.”
Party oggende sê ou-Melitie: “Hoor nou, nonwe Alie, die kiewiet sy skree: ‘Vrydag-Vrydag-Vrydag-Vrydag!’ Glo jy hom darrie kiewiet?”
Dan sê Alie: “Glo jý hom, ou-Melitie?”
Dan vat ou-Melitie aan haar kopdoek, net daar waar sy haar plat blikkie snuif bêre, en sy sê: “Aikôna! My kop sy sê des Donnerdag.”
Op ’n ander oggend weer sê ou-Melitie: “Die wit haan sy kraai: ‘Woensdag!’ Die rooi hoenertjie sy kraai: ‘Donnerdag! Nou watter een sy sê reg?”
Dadelik sê Alie: “Die rooi hoendertjies sê reg! Ek hou nie van die ou wit hoenders nie, ou-Melitie. Hulle lyk vir my net so styf soos die kinders in die dorpskool.”
Dan klap ou-Melitie haar hande hard teen mekaar. “Jôna whê! Jy moenie darrie deng hard sê nie, nonwe Alie. Sos die wit hen sy hoor hom vor jou, sy sal vor die wit haan sê: ‘Jy moet hom skop, darrie nonwe Alie sos sy kom weer hier by die hok.’ Jô!”
“En sal die wit haan my dan skop?” vra Alie met groot oë.
“Net soos jy kom by darrie hok, darrie haan sy sal sy kop optel, sy sal blaas-blaas en sy sal so groot word sos Kommetjie of sos Prens. Dan sal sy vor jou seer skop. Jô!”
“Haai, ou-Melitie! Is dit regtig?”
“Des regtag, nonwe Alie.”
“En as hy my skop, sal hy my dood skop?” sê Alie en sy trek die komberse sommer stywer om haar nek op.
“Jô, net soos darrie haan sy skop, ek sal die snuif by hom blaas, sy sal klein word, darrie haan, klein sos die kiewiet, nog