Die boek van gelukkige eindes. Debbie Loots. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Debbie Loots
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795802041
Скачать книгу
die eerste deel van haar road trip op die N1 op pad Bloemfontein toe. Al het sy een ná die ander podcast oor positive thinking op haar foon geluister. Dit help gewoonlik, dit laat haar beter voel oor haarself, gee haar moed. Maar dit werk nie altyd nie.

      In Bloemfontein het sy petrol ingegooi en by die Wimpy ontbyt geëet. Die kar het tyd nodig gehad om af te koel. Toe’t sy hartseer begin raak, haarself jammer gekry. Tyd gehad om te onthou hoe swaar dit was om Mikey alleen groot te maak, hoe swaar dit nog steeds is met Salome ook by, en Mikey wat so sukkel om sy voete te vind. Hoe sy nooit gedate het nie – nie dat die mans nie hulle luck getry het nie. Sy was net nooit op die regte plek nie. Het net nog nooit lus gevoel nie. Dis dalk omdat Mikey ’n moeilike kind was. Sy kon hom nêrens heen vat nie, hy het alles en almal voor die voet gebyt, veral toe hy begin loop het. Die ma’s wat sy deur die crèche ontmoet het, het draaie om haar begin loop, en sy moes hom later uit die skooltjie haal. Gelukkig het haar ma opgehou werk en toe kon sy haar betaal om te help om na Mikey te kyk. Nie dat haar ma betaling wou hê nie, maar sy het aangedring.

      Gisteraand het sy op Colesberg in die Royal Hotel geslaap. Sy was doodmoeg, uitgeput ná die lang rit, die trokke, taxi’s en fancy four-by-fours wat haar heeltyd óf van die pad af probeer druk het om verby te kom, óf op haar gat gery het en op die toeter gelê het.

      In die hotel se restaurant het sy ongemaklik gevoel. Besef ’n vrou op haar eie is nie veilig in die wêreld nie. Sy het Newlands vir die eerste keer gemis. Die bekendheid, die gevoel van veiligheid. Die paar blokke huise, styf langs mekaar ingedruk op hulle lang, smal erwe, voel soos ’n skans rondom hare; die klein winkelsentrum op die hoek waar haar boetiek en die slaghuis is, en oorkant die straat, die steakhouse en die Chinese takeaway-plek.

      Die hotel het haar laat voel asof sy in ’n weird fliek is. In een van daai arty movies waarvan Mikey so baie hou. Toe sy aandete gaan eet het, was dit asof al die mans wat om die ronde eetkamertafels sit beurte gemaak het om haar te bekyk, dít terwyl een van Richard Clayderman se liedjies oor die groot ou speakers in die hoeke van die saal speel. Die waiter het haar gesê dis meestal trokbestuurders en travelling salesmen wat in die hotel oorslaap, min couples kom daar uit en as hy sy was, sou hy maar vroeg gaan inkruip, double-lock en nie verbaas wees as iemand aan haar deur kom klop nie.

      En dit was toe ook so, sy moes niks minder nie as drie keer ontvangs bel om mans voor haar deur te verjaag. Sy het gisteraand skaars ’n oog toegemaak, g’n wonder sy voel vanoggend nie haarself nie. Sy is moeg en kwaad. Van voor af opgewerk oor die voor-op-die-wa-houdings van die manlike geslag. Die cheek.

      Sy’t douvoordag by die hotel uitgecheck, sonder ontbyt. Op pad weer by ’n Wimpy gestop, die kar kans gegee om af te koel. Dis somer, die Karoo is nie ’n plek waar ’n mens wil gaan staan nie, het oom Boet gewaarsku voor hy die ekstra kannetjie petrol agter in die kattebak gelaai het. Dit, ’n ronde houer met ’n lang plastiekbuis om ’n soort vloeistof in jou band te spuit sou dié langs die pad pap raak, ’n spaarwiel en ’n sakkie gereedskap om ’n band mee om te ruil, is die noodhulp waarmee sy toe uiteindelik vort is.

      Dit was in die laaste deel tussen Colesberg en die Kaap dat sy koue voete begin kry het. Haar positive-thinking podcasts het hard deur haar oorfone gespeel, maar sy kan niks daarvan onthou nie. Sy’t paniekerig begin raak, oor alles begin twyfel. Gedink sy maak ’n fout. Sy moes nooit na haar ma en Mikey geluister het nie. Nooit toegelaat het dat hulle haar opwerk en ompraat nie. Sy was op pad na ’n vreemde stad sonder dat sy weet waar sy gaan bly, en dít om ’n man te gaan opsoek wat sy skaars ken. Maar sy’t aangehou ry.

      Toe sy uiteindelik in die Kaap aankom, het sy by Monte Vista afgedraai van die N1 af, gestop en op Google Maps gekyk hoe om by Cape Town CBD uit te kom. Dis waar hy bly. Toe soontoe gemik om daar naby blyplek te gaan soek.

      Sy staan met haar boude styf teen die kar en rondkyk. Haar handsak is onder haar arm teen haar lyf vasgedruk. Sy hoort nie hier nie. Sy het lank laas soveel mooi mense op een plek gesien. Jonges veral. Weird mans met baarde en meisies met kortbroeke wat diep in hulle boude in optrek. Sy’s nie presies seker waar sy is nie. Sy het Google Maps afgesit toe sy verby die Waterfront die stad inry, dit vreet data en maak die foon vuurwarm. Sy’t gedink sy sal die pad kry, onthou Google Maps het gewys dis net reguit aan en dan links in Buitensingelstraat af. Maar toe draai sy iewers te vroeg in ’n straat sonder ’n naambord in. En hier is sy nou. Sy sit haar donkerbril op en loop die kafee binne om airtime en ’n Coke Zero te koop, en batterye vir die klein waaiertjie wat oom Boet op een of ander manier in die middel van die kar se dashboard staangemaak het.

      Sy’t plek gekry in ’n hostel in Gardens. Dis klein. ’n Kamer met ’n badkamer op die eerste vloer. Twee enkelbeddens. Vandat sy die huis twee dae terug binnegeloop het, is daar ’n konstante gewerskaf in die groot deelkombuis onder. Dis asof mense heeltyd besig is om te kook, of koffie te maak, of skottelgoed te was, of met ’n besem teen die kaste te stamp terwyl hulle vee. Dit raas altyd. Dan is daar ook ander gereelde vreemde geluide wat haar in die nagte wakker hou. Die houtvloere wat onder voos ou matte kraak, sleutels wat in die kamerdeure se uitgeslyte slotgroewe krap. Die geritsel van iets wat soos rotpootjies klink in die plafon.

      Volgens die eienaar, Jolene, is die gebou oor die honderd-en-vyftig jaar oud en was dit eers die herehuis van vooraanstaande Engelse mense, lord en lady Baxter. Glo verlangs familie van haar. Sy’t Jolene goed uitgekyk en besluit met haar rooi gekleurde hare, plat gesig met sy potsierlike knopneusie, pienk vel vol sproete, en ’n kort, vet lyfie lyk sy allesbehalwe aristokraties. Maar sy’t niks gesê nie.

      Jolene vertel haar ná die geboorte van die Baxters se eerste kind is lady Baxter verlam, en het haar man oral in en rondom die huis paadjies vir haar rolstoel laat bou. Bultjies en skuinstes van sement, handvatsels en lendelam relings van koper. Mens sou dit eers nie dink nie, maar dit pas by die plek. Die saamgeflanste, growwe detail is ingeleef en gee alles ’n huislike gevoel.

      Bietjie soos haar eie huis se stoepie met sy groen geverfde metaalpale aan weerskante van die sementblad wat oom Boet en Mikey eendag gegooi het. Die afdak wat hulle op Gumtree gekoop en self afgeskuur, oorgeverf en opgesit het. Van haar stoepie af kyk sy graag oor die grasperk uit, oor die beddings wat haar ma vir haar teen die betonmuurtjie omgespit het. Haar ma met haar groen vingers. Mens kan haar ure lank alleen in die tuin los, dis haar gunstelingplek. Sy mis haar ma.

      As jy deur die hostel se kombuis by die agterdeur uitloop, is daar ’n tuin. En dis die ander rede waarom sy die kamer gevat het.

      By die agterdeur uit, teen die sementskuinste af, loop jy uit oor ’n sirkel gruis, omring met ’n ry netjies gepakte bakstene. Jolene noem dit die kring van die rokers. Daar staan ’n paar deurgesitte draadstoele en twee geroeste metaaltafeltjies rond, met asbakkies wat lank laas leeggemaak is bo-op.

      Maak jy jou oë toe, dan hoor jy ’n rivierstroompie iewers kabbel. En as jy die ou, gehawende sementpaadjie volg, net-net breed genoeg vir ’n rolstoel se wiele, verby die ou eikebome met voëlneste aan dun takke wat laag genoeg swaai om jou onverwags teen die kop te klap, verby ’n skarrelende eekhoring of twee, dan kom jy daar uit. By die stroompie, waar Jolene ’n bord opgesit het wat sê ’n mens mag nie rook nie. Daar gaan sit sy op ’n groot klip, haar klein asbakkie in die hand, en rook. En dink. Oor haar geld wat amper op is. Dat sy meeste van haar Thailand-kontant wat sy gespaar het, gebruik het om Jolene vooruit te betaal vir ’n maand se kos en slaapplek. Dat sy nie vir Mikey mis nie, Mikey wat sekerlik voor die televisie sit en kommentaar lewer oor alles, van die nuus tot die weer, tot die rugby.

      Mikey. Sy’t al opgegee. Sy los hom. Oorgewig, bleek, ongesond. Hy haal swaar asem as hy opstaan om van die sitkamer af na die kombuis toe te slof om nog ’n pak tjips te gaan haal en sy glas weer vol Coke te gooi. Hy rook nie, en drink ook nie, sê dis ongesond. Kyk haar skeef aan as sy buitentoe loop met haar asbak en pakkie Camels. Haar glas rooiwyn in die hand. En sy vermoed ook hy steek vreemde gewoontes vir haar weg. Sy kan hom nie altyd lekker peil nie. Party Saterdagmiddae, wanneer hy by die agterdeur inkom vir sy eerste koppie koffie, lyk hy soos ’n spook. As sy nie van beter geweet het nie, sou sy dink daar’s oorblyfsels van grimering om sy oë, sy gesig lyk bleker as gewoonlik, en daar’s ook soms wat lyk soos ’n ligte pienk skynsel op sy lippe. Sy vra nie wat hy met sy naweke doen nie, en sy wil liewer nie weet nie. Hy’s ’n grootmens, al bly hy by haar