Wat het geword van Dinsdag?. Tinus Horn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Tinus Horn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798178044
Скачать книгу

      En Telana? Ek weet glad nie wat van haar geword het nie. Dalk beteken prentjies vir haar niks. Sy is sekerlik lankal getroud, soos die meeste meisies wat saam met my op skool was, met snotneuskinders wat die kak uit almal by die Spur irriteer.

      Dante het net van sy Beatrice gedroom. En dit was vir hom genoeg.

      Ek is verdiep in my gedagtes en skrik effens toe Michael die stoel oorkant my met sy voet nader hark.

      “Skuus, man,” sê hy en sit ’n papierkoppie met koffie voor my neer. “Twee suikers, het ek geraai.”

      Hy gaan sit. Ek skuif die tekening wat ek van hom gemaak het, oor die tafel in sy rigting.

      “Ek lyk nie so nie!”

      “Natuurlik nie. Dis Albert Einstein.”

      Hy frons. “O.”

      “Ag, uitgeknip jy!” sê ’n meisie wat op pad uit verbystap. Sy lag.

      Michael vat die tekening en vou hom dubbel. Ek vervies my ’n bietjie, maar ag. Dis net ’n prentjie.

      Michael maak sy oë toe en gooi sy kop agteroor. “Net bietjie asemskep. Sjoe.”

      “Is jy voltyds kok hier … sjef?”

      “Voltyds?” Hy grinnik. “Nee, nee. Ek het dinge om te doen, my vriend. Jis, dis warm voor daai braaier. Die air-con werk nie behoorlik nie. Ek het al laas week vir Silvy gesê. Dis nou my baas. Phew!” Hy vee die sweet op sy gesig met sy hemp af. “So, hoe was jou eerste ervarings van die hel?”

      “Ag, die gewone goed. ’n Geween en ’n gekners van tande en so. Maar oor die musiek kan ek nie kla nie.”

      “Iets uit julle boek? Die geween en die gekners? Weet nie veel daarvan nie. Behalwe dat my mense Jesus vermoor het en dis basies my skuld.”

      “Toemaar wat, ek het jou vergewe.”

      “Good man. Dis nou jy. Ek bedoel … Jesus ook. Ek is seker. Ons Jode glo mos nie eintlik aan die hel nie. Ek bedoel … New York is die nuwe Kanaän. Oorvloed! Melk! Heuning! Rugelach! Maar … ons loop katvoet. Die ouer geslag waarsku ons van die môre tot die aand: Pasop, pasop. Die verkeerdste ding wat mens kan doen – ’n Jood, bedoel ek nou – is om jou soos ’n Jood te gedra.”

      “En hoe is dit?”

      “Winkels? Vergeet nou maar eers van winkels. Wil jy ’n karikatuur van ’n Jood sien? Hulle is almal saamgekoek daar in die omgewing van Times Square. Hulle kibbel en hulle stry en as jy uitloop by een van hulle winkels – hulle spesialiseer in elektronika en I Love New York-stickers – as jy uitloop sonder ’n laptop onder jou arm of ’n sakvol stickers, sal jy weet wat haat beteken. Hulle sal iets mompel. Wat dit is, sal jy nie weet nie. Maar jy sal weet dis woorde wat uit haat gebore is. Want hoe durf jy? Maar die ding is, die ding is, nè, hulle name is almal Italiaans en hulle voorsate kom van Sicilië af. Italianers moes die Mafia stig ingeval mense dalk dink hulle is Jode. Jy lag! Gaan kyk self. Jy sal sien ek is reg. Van winkels kan ons Jode hier in New York maar vergeet as ons weet wat goed is vir ons. Ons moet maar tevrede wees met musiek maak of boeke skryf. Miskien brode en bagels bak, ja. Veral bagels. Of eiers flip in ’n youth hostel.”

      “Hoekom is jy hier? In New York, bedoel ek.”

      “Een ding wat jy nie moet onderskat nie, Joe, is die dieper waarheid agter die mites van die Joodse moeder.”

      “Mites?”

      “Mites, ja. Party kloek en party kloek nie. Party dink hulle seuntjie is dalk die Messias, ander dink die Messias-ding is ’n pot kak. Party het ’n aparte eetstel vir die Pasga, ander eet cheeseburgers uit ’n papiersak van McDonald’s. Goed, nie cheeseburgers nie. Big Mac and hold the cheese. Party Joodse moeders – en hier moet jy oplet – is heel tevrede as hulle seuns prokureurs of professore word; die dokter-ding word geheel en al uit verband uit geruk. Behalwe … behalwe as die ma se suster, die mooie, se seun klaar ’n dokter is. Dan is Michaeltjie duidelik doktermateriaal. Die D vir wiskunde staan vir ‘dokter’. Vergeet maar van die sokker waarin hy so uitblink. En van die 800-meter, wat hy van standerd 7 tot standerd 9 by die interskole-atletiek gewen het. In matriek? Vergeet nou maar vir goed van al daai dinge. Hy kan gerus maar die sokkerbal en hardloopskoene onder sy bed hou. Gerus. Maar om ’n baan hardloop of ’n bolletjie skop smiddae terwyl daar ekstra wiskundeklasse te loop is? Nee! Nou ja. Uiteindelik is klein Michael, wat toe nie meer so klein is nie, ’n mediese student. Die res is te pynlik om te beskryf. Jammer. Dalk eendag.

      “Dis waar ek met die fietsryery begin het. Dit was my enigste vertroosting, my enigste hoop. Trap, trap, trap. Dis daar waar ek my droom ontdek het. Teen die middel van my vyfde jaar – vierde jaar akademies – het ek genoeg gehad. Ek het geweet ek sal nie verder kom nie. Twee maande later was ek op ’n vliegtuig, op pad New York toe. Jy wonder seker hoe. Dis maklik: geld.

      “My pa was deel van die komplot. Hy sou die nuus aan my ma breek. En my droom finansier. My eie droom. Nie die een wat my ma uitgedink het nie. En hy het ook. Drie jaar lank. Ons was welaf … en toe nie meer nie.”

      “Ja …?”

      “Móét jy weet?”

      “Nee, nee, ek …”

      “Toemaar, wat. Ek weet ek kan jou met my geheime vertrou. Hy is ’n juwelier. Was. En, ag – daar is versoekinge. Jy kan mos dink. Goud en diamante. Die res moet jy maar vir jouself uitwerk. Maar die geld was op. Op. Dit was ’n aaklige tyd. Ek was in ’n dwaal. Van my sinne af. Soos ek jou mos gesê het. Soveel so dat ek een middag my fiets buite teen ’n paal laat staan het. Lieflik, sê ek vir jou. Lieflik! Glad. Blitsig. Italiaans. Ek het ’n bier gedrink. Een. Ek drink altyd net een. Toe ek buite kom …”

      “Ai.”

      “Ag. Vandag beskou ek dit as ’n les. Ek het gespaar en hierdie Raleigh van my gekoop. Ek het ’n Chopper op skool gehad, so ek het maar gedink: ’n Raleigh. Goed soos nuut. Hom gehaat in die begin, en kyk nou. Nou is daardie Raleigh soos ’n broer vir my. En ek het weer reggekom. So.”

      Ek is effens verbaas. Ek het sommer aanvaar Michael is ná matriek land-uit. Soos ék wou maak. Maar ek het gebly, gespuis ten spyt.

      Gespuis? Ek praat van die ooms en tannies wat voor ons huis verby kerk toe mik – die oom wat die pad aandui, kordaat met sy snor, die tannie trots-onderdanig ’n breukdeel van ’n treetjie agterna. Ek praat van Dominee en Pastoor, van ouderling en diaken. Ag, enige skynheilige doos in wie se denkbeeldige weergawe van Jesus Hy ’n veer voel vir naasteliefde en vergifnis en daai tipe van kak.

      Ek praat van onderwysers wat jou ses houe met ’n rottang slaan omdat jou hare aan jou kraag raak. Hare wat die skoolreëls met twee sentimeter oortree, maak uit die aard van die saak van jou ’n ducktail (drie dekades laat), ’n hippie (tien jaar laat) en, les bes, ’n trassie.

      Ek praat van ’n polisieman wat in my ouerhuis sit en spog het dat hy die een was wat die eerste doodskoot by Sharpeville afgevuur het. Sy naam was Paul Steyn, en hy was vir ’n baie kort rukkie my mooiste niggie, Leah, se boyfriend. Ek het die Sharpeville-storie eers baie jare later gehoor; dit het twee jaar voor my geboorte gebeur. Ek was klein toe ek dit die eerste keer gehoor het en ek het nie geweet wat dit beteken nie. Lewe en dood was maar abstrakte konsepte, soos seevakansies en gesonde kos.

      Ek het wel op vier uit die bloute ’n groot verlies aan eie lyf ervaar toe die SPCA ons blinde bulldog, Max, in ’n lorrietjie kom haal het. Max, wat nooit in so ’n klein erfie soos ons s’n gelukkig kon gewees het nie, maar tog oneindig verdraagsaam was wanneer ek op sy rug duik.

      Dit was in skooltyd, wat beteken het my broers en suster het die trauma vrygespring.

      Ek het vooraf van niks geweet nie. Daar was ’n klop aan ons voordeur. My ma het oopgemaak. Dit was ’n swart man in ’n oorjas. Max het seker geblaf. Ma het vir die man gesê hy moet net wag. Sy het vir my oranje aanmaakkoeldrank geskink en dit na die kamer toe gevat wat ek met my broers gedeel het. Daar het sy dit op die vensterbank bokant my bed neergesit. Sy het my in die badkamer gehelp om my