Wat het geword van Dinsdag?. Tinus Horn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Tinus Horn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798178044
Скачать книгу
en ondertoe – jy freak my so ’n bietjie uit. Terloops, dis nie vir jou wat ek so aangetrek het nie. Dis vir die kliënte. Ek lyk elke dag so. Kunstenaars verkoop hulleself aan ons, nie andersom nie. My naam is Elrike. Hallo!”

      Sy het van die stoeltjie afgeklim en vooruit gestap na ’n vertrek met swaar leerbanke, skilderye en klein beeldhouwerke wat my oortuig het Lloyd en sy mense se smaak is onberispelik; die goeie goed hou hulle vir hulleself. Sy het gewys ek moet sit en vir my ’n groot glas rooiwyn geskink sonder om te vra of ek wou hê en haar eie glas met witwyn volgemaak. Ek het die vorige aand by die uitstalling rooiwyn gedrink.

      “Hou sommer die bottel by jou.”

      Sy het op dieselfde bank as ek kom sit, aan die ander end, haar skoene uitgeskop, haarself gemaklik gemaak met haar voete op die middelste sitplek en ’n slukkie wyn gevat.

      “Wat het jy in jou sak?” Sy het na my skouersak beduie.

      “Ag, stuff. Die gewone.”

      “Jou gewone en myne is nie noodwendig dieselfde nie. Pak asseblief alles op hierdie tafeltjie uit.”

      “Vir wat?”

      “Dis ’n privaat gesprek. Die hele land is in sy moer. Mense vang die vreemdste goed aan. Luister gesprekke af met die hoop dat hulle dit later teen iemand kan gebruik. Dis soos ek reken Rusland onder Stalin gevoel het. Duitsland onder Hitler. China onder Mao. Moenie PW Botha se psigotiese streep onderskat nie, Joe. So ek – ons – speel veilig. Pak gou uit, asseblief.”

      Ek het die sakkie leeggemaak. My ID-boek, ’n Afrikaanse skoolwoordeboek, kleingeld, ’n paar note, ’n tekenboekie, twee potlode, ’n skerpmaker, ’n uitveër en ’n boekie met ’n donkergroen kunsleerband en vergulde bladrande.

      Sy tel die boekie op. “Mmmm. Óf jy het kultuur, óf jy is verlief. Vir jou part hoop ek dis die kultuur-ding. Jy weet seker Dante was verlief op homself. Soos alle digters. En skilders.”

      Die boekie was die vorige jaar se Kersgeskenk van Nina. Ons eerste Kersfees saam. Ek was geskok toe ek sien Nina het R290 daarvoor betaal. My broer Dan se huurgeld vir ’n semi in Brixton was iets soos R200. En Nina was ’n student.

      Sy het ’n hele paar maande later, terwyl sy op die matras in my ateljee langs my lê en vir my ’n stukkie daaruit lees, sommer so terloops genoem sy het die boekie per ongeluk in Melville gesteel.

      “Per ongeluk?”

      “Ja. Ag, hy was vir my so mooi. Kyk hoe mooi is hy! Kyk! Die bladsye is verbleikte herfsblare. Amper deurskynend. Seker deur honderde hande vertroetel, negentig jaar lank. Ek het gedink hoe mooi hy op my bedkassie sou lyk. Ag, en toe vra so ’n sad sack met ’n dik tuisgebreide trui, wat nogal knus gelyk het – is knus die regte woord? – wat nogal knus sóú gelyk het as dit nie Desember was nie – of ek dit al gelees het. Ek was amper seker hy sou nog hartseerder lyk as ek nee sê, toe sê ek maar ja. Maar toe weet ek hy gaan die ding met my wil bespreek, my dalk selfs nooi vir ’n koppie koffie, so ek moes vinnig daar wegkom. Ek het so skuinsweg vir hom geglimlag en uitgeglip. Eers twee blokke later agtergekom ek het die boekie in my hand. En toe is dit te laat. Ek kon nie teruggaan nie. Dit was te gevaarlik: dalk was die outjie nog daar. En ek het geweet die geheime projek waarmee jy besig was, was my Kersgeskenk. Nou ja, wel, ek wou mos vir jou ook iets spesiaals gee. Ek weet dit gaan nie om geld nie. Of course weet ek dit. Maar ek was bly toe ek sien hy’t R190 gekos. Dit sê mos iets.”

      “R290.”

      “Nee. R190.” Sy het die boekie op die skutblad oopgemaak. “Kyk mooi: ek het die 1 in ’n 2 verander. Gelukkig is dit in potlood. Nogal ’n wonky 2 – kyk. Maar ek wou nie te veel peuter nie.”

      Sy het die boekie toegemaak en op die grond langs my matras neergesit, stywer teen my vasgeskuif, ’n arm oor my gegooi en my in my nek gesoen. “En daar is jou geskenk aan my toe sowaar ook ’n boekie! Met jou eie hande en jou eie woorde en jou eie prentjies. As ek geweet het jy maak iets wonderliks soos daai, het ek die 1 eerder in ’n 3 verander.”

      Ek het die boekie by Elrike gevat en saam met my ander goeters teruggesit in my sak. Sy het vir haarself nog ’n glas wyn geskink.

      “Goed,” het sy gesê, “hier is die reëls: Ek gaan alles sê wat jy hoef te weet. Niks is onderhandelbaar nie. Dis take it or leave it. Dus, geen vrae nie.”

      “Maar wat –?”

      “Het jy gehoor? Geen vrae nie. As daar vrae te vra is, sal ek hulle vra. As dit jou nie pas nie, sal ek verstaan. Dan kan jy jou wyn rustig klaar drink, sommer nog ’n glas of twee skink as jy wil. Was jy al in die tuin? Dis ’n oase! Jy kan daar tussen die beeldhouwerke op ’n bankie gaan sit en die hele bottel opdrink; ek gaan nog ’n tydjie lank besig wees. En dan stap jy uit en jy vergeet dat jy ooit hier was. Onthou net, dis die enigste kans wat jy gaan kry om te hoor wat ek wil sê. As jy wel bly sit, kan jy ‘ja’ of ‘nee’ sê wanneer ek klaar gepraat het.”

      En toe praat sy.

      Toe ek ’n uur of wat later uitstap, so iets tussen stap en huppel, eintlik, het ek nie meer vuil gevoel nie. Ek het rein gevoel.

      Witter, ja, witter as sneeu.

      Ek het my verbeel ek gaan by die Metropolitan Museum uitstap en oorloop van inspirasie en aan die werk spring met my lewenstaak. Hier is kilometers muur- en vloerspasie wat die hele opgetekende en vervoerbare geskiedenis van kuns, van omtrent 900 vC tot vandag, netjies opsom.

      Dit sou mens jare vat om elke keramiekskerf, rok, frok, skildery en stuk beeldhouwerk in die Met ordentlik te bekyk. Ek kies kortpad en die millennia vlieg verby.

      Toemaaktyd strompel ek uit, geheel en al oorweldig.

      Die einste Metropolitan Museum het Robert Rauschenberg eendag opgebel om te sê een van sy kunswerke val uitmekaar. Hy was nie verbaas nie. Hy het nie om verskoning gevra of aangebied om die skade te herstel nie. “There is too much goddamn art in the world anyway,” het hy gesê.

      * * *

      In ’n youth hostel is daar altyd een of ander donnerse early bird wat sesuur moet opstaan. Ek praat nie van mense wat vlugte moet haal of so nie. Ek praat van mense wat hulle wekkers elke oggend vir sesuur stel om seker te maak hulle loop niks mis nie. Ek sou hulle wou probeer ompraat om eerder New York by night te verken, maar dit sou nie nodig wees nie; hulle zip seweuur soggens uit, ná ’n lang, raserige stort en, as daar meer as een van hulle is, ’n fluistergesprek oor die dag se dinge; dan kom hulle terug vir ’n kort middagslapie, en daar trek hulle al weer. Hulle sien sonder twyfel meer van New York as ek, maar die hel alleen weet wat máák hulle seweuur die oggend.

      Ja, ek strompel snags drieuur in wanneer ek deur vreemde lande reis, maar ek sit net my goed stilletjies neer en klim in die bed.

      Nou is ek wakker. Minder as drie ure slaap. Ek staan maar op, geluidloos, en trek aan. Net my baadjie; ek het skoene en al bo-op die bed aan die slaap geraak. Iewers in die nag een kant van die deken oor my getrek.

      Ek sal later stort – as ek stort. Nee, ek sal moet. Ek het nie gister nie. Tienuur was al die warm water op.

      Ten minste gaan ek vandag die ontbyt kry wat by die prys ingesluit is. Die basiese ontbyt by Banana Bungalow in New York is uiters basies: twee snye brood met botter en heuning of konfyt en twee bekers koffie. Mens kan eiers en spek by die kombuis bestel, baie billike pryse, maar vir eers sal die gewone, met twee ekstra snye gesteelde brood by, genoeg wees. Ek is nie hier om te eet nie. Ek wil net my maag vol kry. Soos altyd. Dit sal my hou tot so vieruur, dan ’n enorme skyf pizza, wat vir twee maaltye kan instaan.

      Ek is verbaas om Michael met ’n voorskoot by die braaier te sien. En nog meer verbaas toe hy vriendelik vir my waai. Hy leun kruisbeen teen ’n kas. Daar is nog nie werk nie: dis net ek en die Argentyne, en hulle is blykbaar ook tevrede met toast en koffie.

      Hy stap nader, kyk om hom rond of iemand luister, en fluister vir my: “Hoor hier, moenie nou eet nie. Ek is tienuur klaar. Dan maak ek vir jou ontbyt en ons praat bietjie kak. Um, ek wil jammer sê oor ek nou die dag so nors was. Dis nie