Wat het geword van Dinsdag?. Tinus Horn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Tinus Horn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798178044
Скачать книгу
so iemand regtig toegang het tot allerhande duister magte. Ek het amper agter in ’n ander taxi vasgejaag. Was bewerig. Kon nie my beste lewer nie. Toe sit ek maar ’n ekstra uur in. Ek durf nie afskeep nie. Vier ure in die saal. Manhattan en Brooklyn en Queens, elke paadjie, oral heen, op en af.”

      “Ek sal tienuur terugkom vir ’n koffie saam met jou,” sê ek, “maar ek is nou rasend honger.”

      Hy knipoog. Fluister weer: “Ek bak vir jou ’n eier. En macon – jy weet, Joodse bacon. En hash browns. Kry solank jou toast en koffie. Dan skep ek vir jou op. My baas – sy’s agtien – kom eers negeuur.”

      Ek kry my ontbyt. Die eiers swem in die olie soos eende op Emmarentia-dam, maar ag. Ek is gewoond daaraan. My ma het alles in vet of olie gaargemaak.

      Toe ek so tien of elf se kant was, het my pa ’n groot hartaanval oorleef. Daarna moes my ma sy kos afsonderlik gaarmaak, geheel en al sonder sout en met die minimum vet of olie – of, verkieslik, daarsonder. Haar vaardighede in die kombuis was beperk, maar sy het haar bes gedoen. Raad by vriende en familie en ons huisdokter ingewin, my gestuur om kookboeke by die biblioteek uit te neem, daai tipe van ding.

      Daar is geen twyfel by my dat my pa se kos daarna gesonder was nie, maar ek was jammer vir die ou. Voorheen kon hy so lekker weglê. Ná die veranderinge het etenstye vir hom ’n straf geword. Hy’t na ons borde gestaar, oorlaai met steak en tjips, of pasta met kaas en maalvleis, of pasteie of varktjops of wat ook al, en stadig, o so stadig, die opgekookte vaal kos voor hom afgewurg.

      Later het hy gesê hy kan nie meer die sielestryd verduur nie; óf hy moes in die kamer gaan eet, waar hy nie ons kos kon sien of ruik nie, óf hy moes hom vergryp aan die dinge wat die dokter sê hom na ’n vroeë graf toe sal stuur.

      My pa het ook begin om soggens werk toe te stap en saans terug, en baie gewig verloor, en hy was hoogs in sy skik as iemand sê hoe goed hy lyk. Hy is baie handsome op sy oorlogsfoto, toe hy agtien was, maar sy afgryslike kinderdae en die oorlog het hom ingehaal. Hy was oud voor sy tyd, en boonop erg oorgewig voor die hartaanval. Die stappery en vaal maaltye het hom nog ouer laat lyk, diep plooie en so aan, maar ook nogal aantreklik met sy grys baard en slape.

      Hy is ses jaar later dood. Hartaanval. Die aand voor sy dood het hy ’n grappie met een van die verpleegsters gemaak. “Toemaag wat, nugsie. Daggem gaan ek ’n mooi lyk wees.” En hy was ook.

      Ek wonder nou hoeveel jaar al die tamaties en wortels en olywe en avokado’s en neute en piepklein hopies bruin rys en grys kookvleis by my pa se lewe gevoeg het, en of die opoffering die moeite werd was. Hy het nie eers gehou van die whisky wat hy elke aand teen slaaptyd moes drink om sy bloed te verdun nie. Tot op die einde het hy dit afgesluk soos bitter medisyne.

      En ek? Ek bly maar ’n hamburger-tjips-en-bier-tipe van ou. Wie wil nou vir ewig lewe?

      Ek besluit om sommer hier in die eetlokaal te bly sit tot Michael klaar gewerk het. Ek het altyd ’n sketsboek by my. Ek teken vir Michael as betaling vir die ontbyt, sy gelaatstrekke en postuur effens oordrewe. Ek moet fyn kyk en die toneel vinnig met ’n paar potloodlyne vasvang. Hy’s heeltyd heen en weer tussen die braaier en die klante. Hy’t ’n handlanger nodig. Ek teken die Argentyne. Want daar sit hulle mos. Hulle tekening hou ek vir myself. Dalk word dit eendag ’n skildery.

      Ek skeur my tekening van Michael uit en pak die boekie en potlode terug in my sakkie. Michael gaan nog ’n rukkie besig wees. Sewe, agt mense staan tou. Ek kry die ou jammer, en nie net omdat hy vanoggend so alleen moet swoeg nie.

      Ek voel-voel in die sakkie, haal Nina se geskenkboekie van lank gelede uit vir die eerste keer in ek weet nie hoe lank nie en glimlag weer oor die R290. Dit vat my ’n hele rukkie om te kry wat ek soek. My vertaling is derdehands, uit Engels:

      Jy sal alles agterlaat wat jy die liefste het:

      dit is die eerste pyl

      uit ballingskap se boog.

      Jy sal die soutsmaak

      van ’n ander se brood ervaar en die steilte,

      op en af, teen ’n ander se trappe.

      En wat die swaarste op jou gemoed sal druk

      is die dwaasheid van die gespuis

      saam met wie jy in die sloot beland.

      In matriek, terwyl ek planne gesmee het om diensplig te ontduik, het ek nog nie van Dante geweet nie, maar ek het geweet hoe lyk ’n gespuis en geweet mens gaan jou maar oral in hulle vasloop. Ek wou self gaan sien hoe die dwaasheid van dáárdie gespuis opweeg teen dié van die gespuis wat ek ten alle koste wou versaak.

      Ek pak die boekie weg. Michael is nog steeds besig.

      Daar staan ’n internetboks in die hoek. Ek sou graag vir iemand in Suid-Afrika ’n brief wou skryf, maar ek weet nie vir wie nie.

      Die boks lyk baie soos die Asteroids-videospeletjie wat die pinball-masjien in die winkel in St Domingolaan naby Brixton-swembad vervang het. Videospeletjies was vir my ’n teleurstelling. Ek was goed met pinball. Dis die enigste sport waarin ek uitgeblink het.

      Met Asteroids was my vriend Derek Lewies weer onoorwinlik. My wendae was verby.

      Die winkel was om die hoek van die mooiste meisie in die skool se huis. Telana. My eerste blind date. Frankie het haar suster geken en hulle het dit gereël. Telana was toe nog in ’n ander skool. Ek het haar een Vrydagaand te voet – hoe anders? – gaan haal vir ’n skoolfliek.

      By haar huis moes ek toestemming by haar pa vra, wat belaglik was; ek was immers al daar, en Telana was besig om klaar te maak. Hy’t met ’n glas in sy hand gesit. Dalk Coke, dalk brandewyn en Coke.

      “Jong,” het hy gesê. “Seker maar ja. Maar jy pas vir haar op of ek donner jou dik. Dík, sê ek vir jou. Dik.”

      Ek het lank gewag. Toe sy instap, was ek in ’n beswyming. Ek het opgestaan. Ek hoop ek het nie gebewe nie. Ons het haar ouers gegroet, en toe ons buite kom, het ek haar hand probeer vat. Sy het saggies weggetrek.

      By die eerste hoek het sy gaan staan. “Ek is jammer. Ek kan nie.” Toe draai sy om en laat spaander, terug huis toe.

      Ek was erg teleurgesteld en ’n bietjie kwaad. En tot oor my ore toe verlief, soos mens seker net op sestien kan wees.

      St Domingo’s het my vernaamste pinball-winkel geword. En elke nou en dan was Telana daar. Ek het net uit die hoek van my oog na haar geloer.

      Die volgende jaar was ek heel verbaas toe ek sien sy is in ons skool. Ons het mekaar nie ’n enkele keer gegroet wanneer ons mekaar teëkom nie. In die gange het sy gebloos en grond toe gekyk wanneer ek naby kom. Ek het net grond toe gekyk.

      Ek was simpel genoeg om aan Derek te beken dat ek verlief was. “Ag, is jy laf? Sy’s ’n kind.” Op sewentien – dit was ’n jaar ná die blind date – het ek my verbeel ek is ’n man, nes die stomme Romeo hom verbeel het. Telana was toe al veertien, ’n volle jaar ouer as Juliet, wie se pa haar aan die eerste die beste skarminkel uit die regte agtergrond sou afsmeer.

      Derek het fokkol van Romeo en Juliet geweet – wiskunde was sy ding – maar hy was toe al deur baie girlfriends en het hierdie dinge beter verstaan as ek. Toe laat vaar ek maar die gedagte om een pouse per ongeluk verby haar te stap, hallo te sê en te kyk wat gebeur.

      En dit was dit.

      Soms, bitter selde eintlik, wanneer ek baie ver van Suid-Afrika af is en erg alleen voel, en miskien ’n klein bietjie getrek, dink ek aan haar en verbeel my ek verstaan Dante se waansin oor sy Beatrice en die kalwerliefde wat hy lewenslank met hom saamgedra het, tot lank nadat sy met iemand anders getroud was, en ver verby die dood, waar sy hom uit die Vagevuur die Paradys in lei. Te hel met sy vrou, die ma van sy kinders! Te hel met elke ander vrou wat tussen hom en Beatrice durf staan! Te hel!

      Ek en Telana is lankal mooi groot, so nou mag ek maar lawwe gedagtes koester oor “ons”, wat saam in die Uffizi ’n traan wegpink, of net amper in my geval, waar ons voor Die Venus van Urbino staan en onsself later, skoon jags van al die skoonheid om ons, aan lyflike