Wat het geword van Dinsdag?. Tinus Horn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Tinus Horn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798178044
Скачать книгу
die hele afdeling, beter as ek geteken: Simone Butler. Met die model voor ons was daar min te kies, maar die menslike liggaam, uit elke denkbare hoek, naak of geklee, was in die fynste besonderhede in haar verbeelding afgeëts. Dis ’n helse verskil. Sy kon teken wat sy ook al wou. My moontlikhede was beperk tot dinge wat ek voor my oë kon sien.

      Tegniese vaardighede het destyds nie veel by Wits getel nie. Daar was burgeroorlog in die lug, en die kunsbrigade was aan die voorpunt van woedende aanslae op die regering. Aan die voorpunt? Nie rêrig nie. Dié wat aan die voorpunt was, het bomme geplant, in die tronk gesit of in die lykshuis gelê. As jy woedende prentjies maak, kan jy aan die voorpunt wees van woedende prentjies maak. Niks meer nie.

      Ek is aangepor om werk te lewer wat die aaklighede van ons tyd aanspreek. My antwoord was altyd dieselfde: Ek weet nie hoe verf op seildoek ’n einde aan boosheid kan maak nie.

      Die twee beroemdste skilderye wat gruwels uitbeeld is, sover ek weet, Die Derde Mei deur Goya, en Guernica deur Picasso.

      Briljante, skokkende kunswerke. Onderskeidelik die teregstelling van ’n Spaanse opstandeling deur een van Napoleon Bonaparte se soldate en ’n bomaanval op Spaanse burgerlikes deur Nazi’s en Italiaanse fasciste. Maar meer skokkend as die werklikheid?

      Dinge was anders in 1808; geen foto’s, twyfelagtige nuusbronne. Maar vir wie was Goya se meesterstuk bedoel? Hy het dit aangepak eers nadat die Franse invallers verdryf is.

      In 1937 was daar wel foto’s van die menseslagting in Guernica te sien in die media, maar weens Picasso se roem was dit die skildery wat die bekendste uitbeelding van die bomaanval geword het. Tog het dit nie die Spaanse Burgeroorlog met ’n enkele dag verkort nie. En die gehate generaal Francisco Franco, die poppemeester agter die bomaanval, was dekades later nog aan bewind.

      Teen 16 Junie 1976, tydens die Soweto-onluste, kon geen kunswerk dieselfde trefkrag hê as Sam Nzima se foto van die sterwende Hector Pieterson wat deur ’n mede-leerling van die moordtoneel weggedra word nie.

      Ek het agt jaar later niks nuuts gehad om te sê nie.

      Simone se werk was nie ooglopend polities nie, maar tog het sy iets van die oomblik raakgevat. Ek was veral meegevoer deur haar selfportrette as ’n gevalle engel, as die maagd Maria, as ’n slaaf, as ’n muse, as ’n heks.

      Dit was gerieflik om myself te oortuig haar werk praat ook namens my.

      Bill Chymes, ’n sagmoedige man en my gunstelingdosent, het eenkeer amper verwonderd, asof hy hardop dink en asof ek nie reg langs hom staan nie, na een van my skilderye gekyk en gesê: “Ai. Te laat, te laat. Honderd jaar te laat.”

      Ek het nie aanstoot geneem nie. Ek het geweet hy was reg. Hy het na my styl verwys. As mý werk ’n maatstaf was, sou mens kon sweer daar was nooit ’n Picasso of ’n Matisse nie, wat nog te sê ’n Malevich of ’n Mondrian – en dan trek ons by 1920. My studentewerk het geen aansluiting by die lewe in Suid-Afrika gevind nie en die styl was hopeloos uitgedien.

      Nie baie lank daarna nie was ek en Simone tegelykertyd in Parys. Sy in Frankryk, ek in die Vrystaat.

      Simone het in die vier jaar nadat ons afgestudeer het twee van Suid-Afrika se belangrikste kunspryse gewen. Ek? Ek was nêrens. En ek was oral.

      Die galery was vol en bedompig met die opening van ons laaste groepuitstalling by Wits. Ek het gewens dit wil reën. Nina was nie daar nie. Sy het die volgende dag eksamen geskryf.

      Iemand het ’n toespraak gelewer. Ek het uitgestap; die wyn was buite op die stoep.

      Ek en ’n oulike eerstejaar het aan die gesels geraak en ek het vir haar die verhaal van Racheltjie de Beer vertel. Sy het gesê dis beautiful and so sad, gou binnetoe gegaan om ’n sigaret te bedel en nie weer teruggekom nie.

      Die toespraak het uiteindelik end gekry. Net toe ek dink die aand is verby en ek kan nou maar gaan slaap, kom roep iemand my. So-en-so wil my graag ontmoet. “Big cheese,” het die boodskapper gesê.

      Die big cheese het homself aan my voorgestel. “Lloyd.”

      “Joe.”

      “Ek weet. Kan ons buite praat?”

      Ek het gewonder hoekom hy nie maar in die eerste plek buitentoe kon gekom het nie. Maar dis hoe hierdie dinge werk.

      Op pad uit het hy vir my met ’n nederige stem gesê hy besit een van die oudste en suksesvolste galerye in Suid-Afrika, en iemand het hom van my solo-uitstalling, twee weke vroeër, vertel. “Ek is gek na jou werk. Baldadig en vry! Deesdae projekteer hulle mos foto’s op ’n doek, trek hulle na en kleur hulle in. Versamelaars weet nie, of gee nie om nie, of albei. En dan is daar … wel … jy weet wat.” Hy het met sy duim in die rigting van die uitstalling beduie en sy kop geskud. Weemoedig.

      Hy’t my naar gemaak. Of, nee. Dit was die wyn en al die eetgoed, sout en soet, wat ek verorber het. Ek wou vir Lloyd in sy gesig sê net ’n bedrieër en ’n dwaas kan Simone Butler se meesterlikheid miskyk, maar ek kon vir ’n oomblik nie haar naam onthou nie. Een glasie wyn te veel. Meer as een. Baie meer.

      “Kan jy môremiddag by my galery ’n draai maak? So skuins ná vyf.”

      “Waarvoor?”

      “Kom net.” Toe glimlag hy vir die eerste keer. “Gratis wyn. Maar kom nugter, asseblief.”

      “Um, my kar is … my kar is, um, stukkend.”

      “Maak ’n plan.”

      By Wits het ek van die vorige jaar af skelm in my ateljee geslaap en by die sportklub se gym gestort. Ek sê my ateljee. Dit was eintlik ’n M-student s’n; die derdejaars het ’n groot gemeenskaplike ateljee gebruik. Sy het ’n ateljee by die huis gehad en wou nie een by Wits hê nie. Bill Chymes het in my oor gefluister ek moet haar vra of ek dit kan oorneem. En sy het ja gesê. So maklik soos dit. Die admin by Wits was chaoties. Niemand het vrae gevra nie. Die volgende jaar het ek net aangebly. Simone Butler het min of meer dieselfde deal gehad. Ons was Bill se witbroodjies.

      Die aand nadat ek Lloyd ontmoet het, kon ek nie my sleutel kry toe ek wou oopsluit nie. Gelukkig was die ateljee op grondvlak. Ek kon omloop, ’n venster breek, oopmaak en inklim. Die sekuriteitswag se hond het aan die blaf geraak net toe ek deurklim. My balans was nie van die allerbeste nie, en ek dink die geblaf het my ontsenu. My voet het aan die vensterraam vasgehaak en ek het die teëlvloer kop eerste getref en my oogbank oopgeval.

      Die wag en sy hond het aangedraf gekom en ek kon sien hy’s geskok toe hy sy kop deur die venster steek en my so bebloed in die maanlig op die grond sien sit.

      Alpheus het my geken en ons het soms ’n grappie gedeel. So halfpad deur my derde jaar het ek hom een aand ’n paar rand betaal om hom blind te hou toe ek my beddegoed indra. Hy kon in die moeilikheid kom daaroor, maar ek het klaar ’n antwoord gereed gehad as iemand sou vra: dis vir die model. En dit wás ook, wanneer die model wou oorslaap.

      Toe ek daardie aand bebloed en so half deur die mis opsukkel, het die sleutel langs my op die vloer gelê.

      “Jy moet by Joburg Gen uitkom,” het Alpheus deur die venster gesê. “Jy bloei te erg.”

      “Nee, Alpheus, nee. Gaan nou okay wees.”

      “Jy moet gaan!”

      Ek het net my kop geskud. Dít was ’n fout: vir ’n oomblik was die pyn nie net in die omtes van die wond nie, maar my hele kop vol.

      Alpheus is onder protes weg. Ek het ’n hemp van die grond af opgetel, in repe geskeur en my wond daarmee verbind.

      Vroegoggend, lank voor sonop, het ek natgesweet wakker geword en gewonder of dit die wyn of die val of al twee was wat die skuld vir my hoofpyn moes dra. Toe ek regop sit, het ek gesien – uit een oog, die ander een was toegeswel – my hele kussing is met bloed deurweek.

      Ek het uitgestap na die badkamers toe en my gesig afgewas. Die sny was nie naastenby so erg soos wat al die bloed my laat vermoed het nie.

      Ek het besluit ek kort ’n haarsny. Ek