Wat het geword van Dinsdag?. Tinus Horn. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Tinus Horn
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798178044
Скачать книгу
“meneer” was, terloops, nie ’n teken van respek nie, maar eerder so ’n halwe gespot met my pa omdat hy haar altyd berispe het wanneer sy die woorde gebruik wat so gladweg van die meeste Afrikaners se tonge gerol het, woorde wat sy nie áltyd gebruik het nie, maar wel wanneer sy kwaad was.

      So, ja, ek moes wag terwyl sy met die meneer praat. Toe haal sy die groot boek vol stories en prentjies waarvan ek so baie gehou het uit die kas en sê ek mag maar alleen by die lessenaar daardeur sit en blaai, maar nie voor ek my koeldrank op die bed opgedrink en weer my hande gewas het nie.

      Dit was ’n duur boek wat antie Petro vir my van oorsee af saamgebring het. Ek was opgewonde oor die boek en het die koeldrank vir eers op die vensterbank gelos. Nadat ek ’n rukkie geblaai het, het ek iets gehoor. ’n Tjankie.

      Ek het opgespring en by my kamerdeur uitgehardloop. Ek het geweet iets was nie reg nie. Toe my ma my in die eetkamer sien, het sy die sifdeur voor die kombuisdeur toegeklap, maar ek het deur die sif gesien hoe die man en sy handlanger Max agter in die trokkie laai.

      Ek wou uithardloop, maar my ma het my ferm aan my skouer teruggehou.

      “Max!” het ek geskree. “Max-Max-MAX!” Hy moes my gehoor het, daar was weer ’n tjankie. Die man het die trokkie se swaaideure toegemaak. “Ma,” het ek gesê. Gepleit. “Ma.”

      My ma het niks gedoen nie. Nie eers toe sy die lorrietjie met Max agterin sien wegtrek nie. Niks. Net langs my kom kniel en my teen haar vasgedruk en op my agterkop gesoen. Niks.

      Ek het myself hees gehuil terwyl ek aan die deur se handvatsel klou, met my wang styf teen die sifdraad. Ek het my van my ma af probeer losruk, maar ek kon nie. Later het ek afgesak ondertoe en net daar bly lê en snik. My ma wou my optel en dalk vashou, maar ek het gespartel en geskree sy moet my uitlos, en sy het.

      Dis waar ek later wakker geword het, met ’n klein kombersie oor my. Ek was nog steeds kwaad vir my ma. Ek het verby haar geskuur waar sy besig was om deeg vir scones te meng. Gewoonlik was scones net vir Sondae, nou en dan.

      Ek is na my kamer toe en het die deur toegeklap, wat onder ander omstandighede vir my ’n harde plathandhou op die gat sou verwerf het. Ek het die koeldrank in die vensterbank sien staan, op my bed geklim en ’n slukkie gevat. Toe klim ek van die bed af, stap na die lessenaar toe en gooi die res van die koeldrank uit op die duur boek van oorsee. Ek het beter gevoel. Daar het ek bly sit.

      Later het my ma ingekom en gesê: “Hallo, my engeltjie.” Toe sien sy die boek en gee twee lang treë tot by my en gryp my aan die skouer. Maar haar greep het amper dadelik versag. “My liefietjie, my lief,” het sy gesê en my saggies opgetel en teen haar vasgedruk. Eers toe sy my gesig teen haar gesig vasdruk, het ek gehoor sy huil en gevoel haar wang is nat.

      Toe begin ek van voor af huil, en daar huil ons toe saam en ons huil en ons huil. Ek was weer lief vir my ma en ek het nie meer gewens die meneer het háár eerder in die trokkie gelaai nie. Ek het haar op haar rug geklop en gesê: “Toemaar, Ma, toemaar.”

      En toe soen sy my hard op my mond, soos sy gemaak het wanneer sy ekstra, ekstra lief was vir my, en sy begin lag deur die trane en ek begin ook lag.

      “Kom,” het sy gesê, “kom, my groot seun, ek maak vir ons koffie, dan eet ons lekker scones.”

      “Ma kan my maar neersit,” het ek gesê. “Ek sal self loop.” Ek was my ma se groot seun.

      Toe my broers en suster van die skool af kom, het my ma hulle van Max vertel. Net my suster het gehuil. Toe sê ek sy moenie huil nie, want nou is Max in die hemel en hy is nie meer blind nie en daar is die lekkerste kossies, ek dink viennas en frikkadelle en tjoklitkoek, en daar is baie plek om rond te hardloop en baie kindertjies om mee te speel. My ma het voor hulle gekom het gesê ander honde ook, maar daarvan het ek stilgebly, want Max speel nie met ander honde nie. Hy byt hulle. Ek het gehoop hy kom nie in die moeilikheid nie.

      Ek kan nie sê dit het my veel van die dood geleer nie. So toe my broer Frankie die storie van Paul Steyn in ons kamer vir een van sy vriende vertel – van die man wat teen ’n telefoonpaal opgeklim het om die polisie beter te kan tart, en dat Paul se vinger gejeuk het op die sneller, en dat hy homself later net nie meer kon inhou nie, en hoe die koeël die man in sy keel getref het, en hoe die man van daar bo teen die paal tot onder op die grond heelpad bollemakiesie geslaan het, en hoe die ander polisiemanne sonder bevel op die mense onder op die grond losgetrek het, en hoe die kaffers begin weghol het en Paul vir oulaas twee of drie in die rug geklits het – het dit vir my maar geklink soos die soort van ding wat Trinity met die Rooihuide gemaak het in die vorige Saterdag se double feature wat ek en Frankie by die sopkombuis in die dorp gekyk het. (Ons het van die Johannesburgse middestad as “die dorp” gepraat.)

      Toe ek ouer was, seker so twaalf of dertien, het ek begin wonder waddehel fout was met my pa dat hy nie vir Paul Steyn op sy neus by die voordeur uitgefok het nie.

      Daar is nog ’n stukkie van die storie wat ek gewoonlik probeer weglaat wanneer ek daaraan terugdink. Ek het gehoop Frankie het die hele storie opgemaak, veral daardie stukkie wat ek probeer vergeet, maar ek het hom gevra en hy het gesê nee, dis presies soos hy dit onthou het. Frankie was nie die storie-opmaker in die huis nie. My ma was.

      “Daar was hierdie meid,” het Paul Steyn in Frankie se vertelling gesê. “Vet. Met haar tiete soos beach balls wat op en af spring terwyl sy so dans en skree en met ’n piekanien in ’n kombers op haar rug vasgemaak. Sy het omgedraai en weggewaggel met die koeëls wat so klap, en toe dink ek mos: Daai klein kaffertjie gaan eendag ’n groot kaffer word. En dan gaan hy ook die polisie tart terwyl hy dans en skree. Pow! Een skoot. Piekanien en atta. Klaar. Finish en fokken klaar.”

      Was die Paul Steyn van my kleintyd vir my net ’n karakter in ’n storie? Hoe is dit dan dat ek die allerfynste details van sy storie kan onthou, maar amper niks van die Man Sonder Naam in A Fistful of Dollars nie? Ek weet nie wat om hiervan te maak nie. Ek sukkel om my reaksie te meet op goed wat ’n week gelede gebeur het. En hierdie storie was – hoeveel-en-dertig jaar gelede? Hoedehel? Kan mos nie.

      Ek het nie die moed gehad om my pa oor sy slapgattigheid uit te vra nie en my maar getroos aan die feit dat hy partykeer uitgestap en in die kamer gaan lê het met sy koerant wanneer hy stories gehoor het waarvan hy nie hou nie. Nie besonder heldhaftig nie, maar darem ’n flouerige protes, wat beter is as ’n stille goedkeuring langs die kombuistafel.

      Ek wonder ook hoekom ek my ma nie daarvoor verkwalik nie. My enigste verklaring is dat my ma maar my ma was. Sy was vriendelik genoeg met die mense wat by ons in die huis of tuin gewerk het; Paulina het selfs saam met haar langs die kombuistafel koffie gedrink (uit ’n spesiale beker wat my ma onder die sink gebêre het). Maar my ma se gelyke? Never! My ma het Nasionaal gestem en dalk geglo Paul Steyn het die swart massas ’n welverdiende les geleer.

      Sy het ons ’n keer of twee vertel van haar oupa, haar ma se pa, wat in 1938 met die honderdste herdenking van die Slag van Bloedrivier sy geweer – darem seker nie ’n sanna wat my ouma moes laai met ronde koeëls wat sy self gegiet het nie – uit die kas gehaal het. Hy het die olielappie wat die roes moes uithou afgedraai en die geweer in die hoek van die sitkamer staangemaak en gesê “die kaffers gaan opstaan”.

      Hulle het hom vreeslik gespot daaroor, en my ma het jare later nog gedink dis laf genoeg om oor te vertel. Maar miskien, net miskien, het dit ’n saadjie geplant wat enige dag kon ontkiem.

      My ma verwerf ook nie kwytskelding omdat my pa kamma die hoof van die huis was en ons morele gids moes gewees het nie. Glad nie. Sy was duidelik in beheer van sake en het van niemand kak gevat nie. As sy gewetensbesware teen Paul Steyn se spogtery gehad het, sou hy donnerswil gou moes verkas het, sonder om sy brandy en Coke klaar te drink.

      Die enigste ander geloofwaardige verklaring vir haar vrypas was dat ek baie lief was vir haar. Ek het nie juis van my pa gehou nie. Waarvan moes ek hou? Hy het hom afgesonder van ons almal, verskans agter die Rand Daily Mail, The Star, Die Vaderland … elke koerant waarop hy sy hande kon lê.

      Aan die etenstafel het hy en my ma soms oor die politiek gestry. Niks heftigs nie, maar my ma het haar nou en dan vir hom vervies. Hy was uitgesproke oor goed soos geregtigheid. Gereeld gesê