Triomf. Marlene van Niekerk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene van Niekerk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780795801150
Скачать книгу
staaldeur. Pop wip op op sy krat.

      “Man about Town! Daar’s hy. Daar het ek hom. Man about Town! Dis wat op die label staan. Ek onthou nog. Die koelie by die Plaza het vir ons gewys, agterin.”

      “Kan ek nou aangaan?” vra Lambert. Politiek is erg, maar nie so erg soos die broek nie. Hy kan nie help hy’t so vet geword nie. Dis van die pille.

      “Máár …” lees Lambert, “daar’s ’n rooi lyn wat deurloop vanaf die beginjare van die NP tot vandag toe.”

      “Ping pong poloniebóúd!” sê Treppie. Hy kom sit weer op sy krat.

      “Ons eerste prioriteit bly ons eie, ons eie minderheid, ons eie taal en kultuur, ons eie Christelike geloof.” Lambert lees haak-haak, want hy sien groen voor sy oë.

      “En ons eie pósbus!” skree Treppie hard.

      Lambert hou sy hand op vir stilte. Hy lees: “Dis wat ons noem beskerming van minderheidsregte. Alle minderhede. Sodat daar geen dominasie deur ’n swart meerderheid …”

      “So, kóóp jy nou daai storie, Lambert?” vra Treppie.

      “Well, e, tot ’n mate,” sê Lambert.

      “Tot ’n mate! Jy klink al nes daai pamflet, jong.”

      “Well, as dinge nie uitwerk nie, dan het ons mos ’n plan!” sê Lambert. “Jy’t mos gesê, dan vat ons vir Molletjie en ons laai die petrol in die neus en op die roof-rack en in die dicky, en dan ry ons rég Nóórd. Almal van ons, én Gerty én Toby. Zimbabwe toe of Kenia toe. Waar mens weer kan leef soos ’n wit mens. Met meide en kaffers om rond te order soos jy wil! En hulle is goedkoop daar!”

      Treppie kyk vir Lambert. Lambert kyk vir Treppie. Vir wat kyk hy dan nou so vir hom?

      Hy’t dan sélf daai plan uitgedink. Eendag toe hy wat Lambert is, hier agter gelê het, toe hy nie kon regkom ná ’n fit nie, en al wat hy kon doen, was om sy draad te trek en dit wou ok nie eintlik lekker werk nie. Toe sy ma siek was in die hospitaal. Van die asma, het hy gedag. Maar Treppie het gesê dis ’n nervous breakdown oor hy so aanmekaar fit en so niks het om te doen nie en vir haar so gedaan maak. Toe’t Treppie hier kom sit op ’n krat en gesê hy’t nou net die regte ding om vir hom mee besig te hou: die Groot Noodplan vir die Noorde. Ja, hulle moet begin petrol opgaar, het Treppie gesê, want mens weet nooit. So, hy wat Lambert is, moet ’n kelder grawe onder die huis om dit weg te bêre, want petrol kan nie bogronds gestoor word by hulle nie. Daar’s te veel vonke wat rondspat van al die geweldery in hulle jaart. En lat daai silwer sakke in die wynbokse die beste is om petrol in te sit. Vat die minste plek. Kan jy opvou as jy klaar is en weer later volmaak. Daai het hy gedink was nou regtig ’n stroke of genius. Treppie het baie planne. Maar dis nie al wat hy baie van het nie en hy moenie nou staan en lol nie. Hy’t nie verniet ure op die rubbish dumps gaan rondkrap agter wynbokse aan nie. En ok nie Maandagaande as die mense hulle rubbish uitsit nie. Straatop, straataf het hy geloop om daai sakke te check vir wynbokse. Dan haal hy die silwer sakke uit en sit die bokse weer terug. Lekker gestink het hy as hy by die huis kom, na ou wyn en rubbish. Dan hoor die mense die gevroetel voor hulle hekke en dan het dit al ’n paar slae gebeur lat hulle uitkom met hulle ketties en hulle sambokke. Want dan dink hulle dis die honde wat die sakke vreet en dan lat waai hulle voor hulle nog mooi gekyk het wat dit is. Eendag ’n ou met ’n pellet gun ok so. Pot hom op sy boud waar hy daar in die sak staan en krap. Hy’t hom nooit eers gesien nie. En hy’t hom maar liewer nie gaan soek nie, anders moes hy weer ge-please explain het wat soek hy dan daar in die sakke. En hy sê nie vir buitemense van hulle plan nie, netnou doen almal dit en dan’s die petrol nog gouer op, en dis waar wat Treppie sê, as daar ’n krisis is in hierie land, is dit altyd wat eerste opraak, die petrol. En hy wat Lambert is, kan ’n voorbeeld vat van ’n NP-regering, het Treppie gesê, hulle spaar al jare petrol oor hulle die land sonder ophou in ’n krisis dompel. So is Treppie oor politiek. Eintlik oor alles. Jy weet nooit of hy bedoel iets is nou goed of sleg nie. En as jy hom vra, dan sê hy hy stel nie belang in daai twee woorde nie, dinge is soos hulle is en klaar.

      Was ok niks eers jammer vir hom met daai pellet in sy boud nie. Net daar gestaan en lag waar hy die torch vashou lat sy ma en Pop kan sien om dit uit te haal. Met ’n tweezer en ’n naald en goed. Dit was nou seer, fok! Hy’t seker ’n hele bottel Klipdrift lê en uitdrink daar in die voorhuis op die los blokkies met sy gat in die lug.

      “Lambert.” Treppie skuif ’n bietjie nader. “Sê nou sy wil saamgaan …”

      “Wie nou?” vra Lambert. Pop lat sy kop sak. Hy lyk of hy weet wat kom. Well, dan weet Pop meer as wat hy weet.

      “Jou girl, natuurlik, man. Die een wat ons vir jou verjaarsdag bestel het.”

      “Nee, gôts!” sê Lambert, maar hy fancy die idee. Nog nooit daaraan gedink lat sy sal wil saamgaan nie.

      “Ja, man, miskien like sy jou so sterk lat sy wil saamgaan. Net ná die verkiesing, as die kak begin spat.”

      “Maar, e, Molletjie … Daar sal nie genoeg plék wees nie.”

      “Sy sit op jou skoot, man! En ás jy moeg is,” wienk-wienk, “dan sit sy weer ’n bietjie voor, ons sit vir Pop op háár skoot. Kyk, hy’s so lig soos ’n veertjie, man, hy’s reg vir opstyg.” Treppie tel een dun armpie van Pop op en lat dit terugval op sy skoot.

      “Jirre, dit sal darem ’n ding wees,” sê Lambert. Hy kom ’n bietjie regop op sy bed.

      “Ja, man, dit sal tog sports wees, dan net daar anderkant Beit Bridge, net as ons oor die grens is, dan koop ons ’n Coke en ons gooi Klipdrift by en dan span ons ’n bietjie uit, en jy en sy gaan kuier so ’n bietjie agter die bosse.” Wienk-wienk.

      Pop skud sy kop. “Treppie,” sê hy, “Treppie.”

      “Ja, Pop, man, ék dink sy sal. Wat sê jy? Jy’t haar ok mos gesien, man!” Treppie pomp vir Pop in die ribbes. “Kom, Pop, kom ons wys vir Lambert hoe’t sy gedans in daai disco onder in Smitstraat. Kyk, Lambert, dis nou so ’n soort display cabinet waar al die girls so staan en maak-maak op so ’n klein dansvloertjie met ’n strobe en sulke lekker musiek.”

      Treppie staan op. Hy ruk vir Pop ok op. Hy stoot sy heupe vorentoe en wikkel sy skouers.

      “Kom, Pop, dans ’n bietjie, só, só, lat Lambert ’n idee kan kry!”

      Pop roer sy lyf diékant toe, daaikant toe. Of hy wil wegdraai van iets af. Hy kyk vir Lambert met ’n dowwe kyk. Of hy wil inkyk by iets wat toe is.

      “Sien, daar het ons hulle ’n bietjie gaan deurkyk. Window shopping, kan jy maar sê. Dis waar ek en Pop haar toe gaan uitsoek het. Nè, Pop? Lat sy vir haar kan reghou!”

      Treppie stamp-stamp aan Pop en hy wienk-wienk vir Lambert. “Cleopatra’s Queens. Cater vir alles. Doen alles wat jy vra. Vir almal. Diskresie gewaarborg. Gaan ok uit op die job. By die customer se huis is die goedkoopste. Anders moet jy nog ’n kamer ok byhuur, én room service, handdoeke, lakens, kussings, daai klas van ding.”

      Treppie steek ’n cigarette op, blaas die rook uit. Hy kyk vir Lambert met sy oë op skrefies.

      “Dit was móéilik om te kies, jong. Pop en ek het daar gestaan en wik en weeg. Dán sien ek ’n lange met blonde hare en ek dink dís Lambert se girl! En dan sê Pop nee, Lambert hou nie van lank en dun nie, hy hou van kort en rond, en dan wys Pop só met sy vinger, dié ronde een en daai ronde een, hè, Pop? En dan sê ek moenie so wys nie, Pop, dis slegte maniere.”

      Treppie lag en stamp vir Pop lat hy byna afval van sy krat af.

      Pop sê niks. Hy skuif net weer reg.

      Treppie maak keelskoon. “Nou ja, die een wat ons op die ou end vir jou gekies het … Sal ons vir hom sê, Pop? Kom nou, wees ’n sport, jong, Pop, jong …”

      “Pop?” vra Lambert.

      “Ag, jy ken hom mos, man, hy’s te oud. Hy moet gaan slaap. Hy’s te oud vir dié soort dinge. Uitgeboer en opgedroog. Dooie rankie. Vergeet van hom, man, Lambert. Waar