Triomf. Marlene van Niekerk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene van Niekerk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780795801150
Скачать книгу
die lawn. En Lambert sê: “Taraboemdery, oupa het ’n várk gery,” en hy sit alleen en verder lag daar in die voorhuis, met sy brandewyn. En hy keer haar as sy kombuis toe wil loop, en hy sê: “Toe, Ma, vertel nog, vertel van die speeches, en van hoe die mense die tienrande uit hulle sakke trek en net so vir julle gee as hulle my sien.” En dan vertel sy maar vir hom, vertel sy maar wat hy wil hoor. Arme Lambert. Die arme ou skewe kind van haar. En dan tel Pop sy kop op en hy help vir haar en hy sê Verwoerd se speech op kompleet of hy self daar was.

      “En ek sê vir u vandag, volksgenote, dat die Gemenebes van Nasies vir ons níks in die sak gaan bring nie. Nie ’n bloue duit nie. En dat ons beter af is op ons eie. Niemand het met ons iéts uit te waai nie. Niemand hoef hul neus in ons sake te steek nie. Ons sal ons eie heil uitwerk hier aan die suidpunt van Afrika by die lig wat ons het en met die leiding van die Allerhoogste.”

      Dan kom Treppie weer in met nét so ’n vet grinnik op sy gevreet en dan sê hy nou dít klink vir hom reg. Dít klink mos na besigheid, sê hy. Niemand moet hier kom bodder met hulle nie. Nie met die volk nie en ok nie met die volksgenote nie.

      En Pop kyk vir hom vas in die oë en hy sê: “Ja, dít was nou vir jou ’n eersteklas staatsman daardie.”

      “Ja-nee,” sê Treppie dan, “ja-nee, ou swaer,” en hy maak sy stem so soet as hy sê “ou swaer”, en hy gee so ’n dywelse laggie.

      En Lambert sê: “Ja-néé,” en skud sy kop en draai sy brandewynglas so om en om in sy hande.

      En dan sit hulle so en sê niks verder nie, en sy staan in die deur in en kyk vir hulle soos hulle daar sit.

      4 Polishing the brass

      Woensdagoggend. Lambert skree almal wild en wakker van vroegdag af. Want als moet gefíx kom. Nou op die daad. Dit kan nie soos ’n varkhok lyk by die Benades as die NP kom nie, skree hy vir hulle agter uit die den uit. Want wat moet hulle dink? Van die gordyn wat nog altyd oor die pelmet hang, en van die posbus wat Treppie in die straat gaan optel het en net daar voor op die lawn gegooi het, vol duike, die silwer paint plek-plek af?

      Hy’t op sy matras in sy den gelê vanlat hy geblack-out het. Dit het hy gefigure. Daai hele Sondag en die hele Maandag, want dit was al Dinsdagoggend toe hy eers weer kon regop sit. Toe wil hy Coke hê. Net so skoon. Coke kry hom altyd by ná ’n fit. Als is beter met Coke, sê hulle en dis wat hy ok sê. En hy’t vir sy ma gesê sy moet vir hom ’n Kyk en ’n Scope gaan koop by die keffie in Thornton. Hulle verkoop Kyks, die een onder in Toby het net kaffergemors. En Dinsdagaand het hy ’n halwe witbrood met Sunshine D en golden syrup en polonie geëet. Treppie het kom sê hy kan nie so baie witbrood wil eet nie, hy moet in sy leathers in kom vir sy verjaarsdag, wienk-wienk.

      Treppie het hom baie geleer, en hy skuld hom seker ok baie, maar hy kan dit nie fokken vat as Treppie so vir hom wienk nie.

      Hy’t al ’n keer opgestaan vanoggend om te kyk lat sy ma die gordyn aan die hakies oor die ringe op die railing ryg, maar toe zing sy ore. Toe kom lê hy maar weer hier agter op sy bed. As hy ’n fit gehad het, help Coke vir sy maag, maar dit help nie vir sy ore wat zing nie.

      Hier kom Treppie in die gang af. Hy weet dis Treppie, want hy sleep nie sy voete soos sy ma nie en sy een voet klink nie harder as die ander een soos Pop s’n nie. Treppie loop lig. Jy kan maar sê Treppie bekruip hom. Moenie my so bekruip nie, sê hy altyd vir Treppie, want dit voel ál Treppie staan vlak langs hom en kyk in sy kop in, alles wat hy fokken dink, lánk voor hy hom raaksien.

      “Wat lees jy, ou perd?” vra Treppie. Hy leun teen die den se binnedeur. Hy sê “ou perd” met ’n draai in sy stem of hy eintlik bedoel “ou pêrepiél”.

      Treppie sê hy het die langste, dikste piel wat hy nog ooit aan iemand gesien het. Hy weet nie hoe Treppie dit kan weet nie, want hy was nog nooit kaal voor Treppie nie. Maar as hy dit sê, dan sê Treppie hy wat Lambert is, is so fokken mal in sy kop, hy weet nie wanneer hy kaal rondloop en wanneer hy klere aanhet nie. Treppie praat kak. As Treppie weet hoe lyk sy voël, is dit seker as sy broek afval as hy ’n fit kry. Hy weet sy ma steek wasgoedpennetjies tussen sy tande om te keer vir sy tong. En partykeer word hy wakker, dan’t hy nie ’n broek aan nie. Dan hang sy broek aan die wasgoedlyn. Hy pis in sy broek as hy ’n fit kry, sê sy ma. Hoe kan hy dit fokken help? Sy kan bly wees hy kák nie in sy broek nie.

      “Ek sê, wat lees jy, ou pérd?” kom Treppie weer.

      “Sommer,” sê Lambert. Hy’t nie lus vir Treppie nie. Hy kan voel hy’s nog nie reg nie en as hy nie reg is nie, kan hy nie ’n geneuk handle nie. As hy dán uithaak, weet hy, dan jaag hy régtig kak aan. Gróót kak.

      “Ok maar ongeskik vanmôre. Mens kan nie eers vrá wat léés hy nie.” Treppie kom met ’n bekruiphouding vinnig nader en gryp die pamflet uit sy hande. “So, lat ons ’n bietjie sién.” Treppie het lankal gesien wat hy lees, maar nou sit hy ’n hele fokken act op.

      “Jirre, hierie skrif is so bónt en skééf g’n hónd kan dit lees nie. Wát? ‘Die konstitusionele beskerming van minderhede. Punt een: taal en kultuur’. Gits, Lambert, maar dis da’m high falutin’ goed wat jy hier lees, jong. Watse ‘minderhede’?”

      Treppie hou vir hom dom. Hy kén die game al, want Treppie speel dit baie. Net om hom te treiter. Hy weet hy moet hom nie antwoord nie. As hy hom antwoord, dan vat Treppie die antwoord en drop-kick hom op in die blou lug, in sy moer in, weg, en dan vra hy: Waar’s hy nou? En dan maak hy of hy ok die antwoord soek. Treppie het nie end nie. Sy ma is reg. Treppie is ’n fokken dywel. Maar nie ’n reguit ene nie; hy’s een wat met ’n draai kom. ’n Draai-draai-dywel met ’n skouer wat ruk. ’n Nervous tick, soos Treppie sê.

      “Is daai posbus al gefix?” Hy moet nou probeer uit dit uit kom. Hy kom ’n bietjie regop. Sy ore zing. Hy sien groen as hy sy oë toemaak. Sy tong voel ok nog ’n bietjie lammerig. Onder in sy rug ok. Lam.

      “Hè, is hy al gefix, vra ek.”

      “Vir wat?” sê Treppie.

      “Die NP’s. Hulle kom vandag.” Lambert weet dit klink seker snaaks. Treppie gee altyd die NP hel as hulle hier kom. Wat kan die posbus hom skeel?

      “So what?” sê Treppie.

      “Pop!” skree Lambert, “Pop!” Pop help hom altyd met Treppie. Maar deesdae ok al hoe minder, want Pop is moeg. Dan moet hy self sien en kom klaar. Hy hoor hoe kom Pop die gang af. Een voet hard en een voet sag. “Klíks-klaks, klíks-klaks,” maak die blokkies soos hy kom.

      “Pop, vat bietjie hier vir Treppie en kry die welder en die tools en gaan fix ’n bietjie daai posbus. Die plaat sit mos nog.”

      Pop sê niks. Hy trap-trap al in die rondte soos hy kyk waar is die welder.

      “Jy lat vir jou maklik rondorder deesdae, ou swaer!” sê Treppie en hy lat dráái sy stem op “ou swaer”.

      “Toe nou, Treppie, skei uit,” sê Pop. Hy sê dit sag, want hy kan nie meer hard praat nie. Hy het vir Treppie aan die mou beet, maar Treppie ruk vir hom los.

      “Hoor hier, ou swaer, moenie aan my kom staan en trék nie, ek sê. Ek praat hier met ou Lambert. Ons praat oor ‘minderhede’, minder héde, minder verléde, minder toekoms. Fokken diép, hoor. Eers mors die NP tyd vir Afrika en nou probeer hulle dit minder maak. Óók vir Afrika. Beats me. Te diep vir my, hoor. Maar as mens so diep in die kák sit soos onse Lambert hier,” sê Treppie, en hy skop-skop so teen Lambert se scrapysters wat regop staan agter die deur, “dan dínk ’n mens ok sommer baie diép …”

      “Treppie,” sê Pop, “kom nou.”

      “Ou Lambert hier,” sê Treppie, en hy maak of hy vir Pop ’n nuwe ding verduidelik, “ou Lambert hier is ’n ou wat altyd sy húiswerk doen, sien. Hy’s bang hy sit weer met sy bek vol tanne as hy daai stukkie met die kaal skouertjies sien, daai oulike enetjie van die varsity van die Rôndse Ôfrikônse Universiteit. So nou swót hy daai bont pamfletjies.”

      Treppie, dink Lambert, is nes ’n brommer teen