En Vrydagaande en Saterdagaande neuk dit meestal met langsaan. Met langsaan links, of langsaan regs. Of partykeer met agter. Lambert sukkel ál met langsaan, hy sukkel om en om, in die bleddie rondte in, dis wat. Tot daar ’n geneuk is, tot hulle hom wil moer. Dan gaan bel hy die polieste van oorkant en oorkant wil hom ok al moer oor hy so wil bel aanmekaar. Dan kom die polieste en maak die gemoer uitmekaar, en as Lambert dan nog moer in hom het, dan moer hy vir háár.
As hy so begin, bid sy altyd hy moer hom moeg, anders kry sy dit.
En die laaste is altyd die bitterste, die jirre weet.
En verder neuk dit oorlat sy ding aanmekaar styf is deesdae. Oor hy amper veertig is en hy’t nie ’n vrou nie. Nog nooit een gehad ok nie. Maar wat kan sy nou daaraan doen? Hy is soos hy is. En hy’s nie geskik vir trou nie, oor die stuipe en goed. En daar’s natuurlik ’n rede voor. Dit weet hulle almal. Net hy weet dit nie. En die jirre behoed hulle as hy dit die dag moet uitvind.
Sy en Pop probeer net goed hou met hom. Hulle doen wat hulle kan. En sy doen nog méér as wat sy kan. Sy’s dit verskuldig, voel sy.
Dis net Treppie wat so sukkel met Lambert. Treppie is ’n dywel. Hy soek vir kak en as die kak daar is, dan soek hy vir meer. Treppie sê hy wil nie mense hier hê nie. Sy en Pop ok nie. Nie die Getuies nie, nie die NP’s nie, nie die polieste nie. Niemand nie. Dis beter so. Hulle is beter op hulle eie. En hulle is maar soos hulle is. Dis wat sy vir die welfare gesê het en dié bly gelukkig nou weg.
Maar dis Lambert. Hy soek gesels. Hy sê hy kan nie net die heeltyd in hulle gesigte in vaskyk nie, hy’t geselskap nodig. En dan nooi hy hulle in.
Lat hy wragtag op die sypaadjie in die bloedige son staan en fluit vir die Jehovas om in te kom.
Sy’t hom gesien toe hy daarmee begin het. Hy was toe sestien, net voor hy uit die skool gegaan het. Toe’t hulle die eerste keer ingekom. En as hulle eers in is, is hulle in. En as hulle afsterwe, stuur hulle ander, vrouens met pienk rokke wat kom sit en na laventel ruik hier op hulle stoele op Sondagoggende.
Die stapels Wagtorings in Lambert se den kom al byna tot by die ceiling. Dit is in die een hoek. In die ander hoek is die nuwe NP-pamflette. Bo-op dié in die boks van toe hulle laas gestem het. Hulle is gekom haal in ’n grys vantjie. “Ja” het hulle toe gestem. In hulle eie jaart maak hulle soos hulle wil, maar buitentoe sê hulle altyd “Ja”. Soos een man. Treppie ok. Dis die beste so.
En nog die stapel Western Telegraphs. En Scopes. En die Kyks. Hy lees alles, hy wat Lambert is. Los goed, wat vinnig lees. Hy sê dis om sy brein wakker te hou. Nie boeke nie. Hy sê dit maak hom slaap. Maar dis wat hy by Treppie hoor. Praat mos alles agter Treppie aan en Treppie het vreeslik baie boeke gelees op sy jongdag toe hy op skool was en so. Maar toe hou hy op ’n dag net so woeps op en vandag het hy nog altyd daai selfde storie. Hy sê mos hy scheme as jy tien Afrikaanse boeke gelees het, het jy almal gelees, en die beste stories staan in elk geval in die koerant. Hy kyk liewer video’s saam met Lambert, maar dis ok nie altyd goed nie. Baiekeer sit hy en slaap as hulle video’s kyk. En Lambert ok maar partykeer.
Sy wens Lambert slaap aanmekaar, soos nou. Want hy’s heeltemal te wakker in sy brein in en oralster. Wat hy nie alles op daai mure van hom paint nie. Piele. En molle, met goeters in hulle annerplek. Paaie vir Afrika. Karre en yskasbinnegoed en mensbinnegoed. Alles bo-oor mekaar. Hy paint die heeltyd by. Baie kan sy nie uitmaak wat dit is nie. Hy seker ok nie, want hy skryf by alles wat dit is: ster, wolk, by, karpyp, bars, fok, poes, pomp, hart, roos, roes, evaporator.
Sy brein was nog altyd te wakker. Dis wat sy vir Pop gesê het toe hy sê die kind is dan vertraag. Hy’s g’n niks vertraag nie. Hy kry fits oor hy te slim is. Oor sy brein te lewendig is.
Dis moeilik om hom rustig te kry as hy eers begin neuk. Die liewe jirretjie weet, dis moeilik. Daar’s net een ding wat help. Dit het sy uitgevind toe hy nog klein was. Net drie jaar. Toe’t sy eendag toe hy weer so geskrou het soos ’n maer vark sy ou dingetjie vir hom gevryf, dit was nog in die huis in Vrededorp. Toe word hy skielik heeltemal rustig daarvan en hy smile vir haar met sulke groot, blou oë.
En later van tyd toe hy so begin vloek en te kere gaan het, en hulle goed flenters breek, lat Treppie vir Pop agter die badkamerdeur gaan uithaal waar hy wegkruip en sê hy moet sy goed pak, lat hulle kan wegkom vir ewig en altyd van hierie malhuis af, dan het sy maar altyd vir hom gesê hy moet by haar in die agterkamer kom lê lat hy tot ruste kan kom.
Dan het sy sy ding gevryf tot hy klaar was en dan was als weer goed. Maar dit was lateraan ok nie meer goed genoeg nie. Hy wou ín. Hy wou sélf. Wat kon sy doen? Sy’t maar gaan lê vir hom. Gaan lê het sy. Housecoat en al.
So het sy hulle almal bymekaar gehou, vir Pop en vir Treppie en vir Lambert en vir haar.
Want hulle kan nie sonder mekaar nie. Wat as hulle eendag uitmekaar moes gaan? Hulle sal vrek op ’n hoop. Almal van hulle. Dis wat. Vrek soos kafferhonde op rubbish dumps.
So sy’t maar gaan lê vir hulle. Vir Pop, maar hy was goed vir haar. Hy was sag. Altyd nog.
En vir Treppie, die dywel. Wat vir haar sy hele lewe lank so beetkry. Van voor en later van tyd, die Here help haar, van agter. Want, sê hy, sy’s in haar moer in gerek.
Dis nou net meer as ’n maand laas lat hy wou. Seker Peace Day se dinge. Werk seker op sy gewete. Ás hy so iets het. Wel, sy hoop net dit hou. Hy kan maar versies ok skryf. Enigiets. As hy haar net uitlos.
Mol kyk op van haar breiwerk na Treppie se gedig op die muur waar sy dit opgeplak het by die ander goed.
“En mede daarby is dit vrede,” lees sy die laaste reël hardop.
Hmmff, nooit gedink Treppie sal sy weë verander nie.
“But never say never, nè, ou Gerty,” praat sy met die hondjie wat by haar voete sit, “dis wat Treppie mos altyd vir ons sê.”
En dan is daar nog Lambert ok. Lambert wat vir haar kláármaak, hééltemal gedaan en kláár.
Want hy wil nie klaarkry nie, nee, hy wil nog stories ok voor vertel word. Stories wat sy nie ken nie, van spy-vrouens met guns in hulle suspenders in treine, in tonnels, onder berge in ander lande oorsee. En van cowboy-vrouens.
Dié ken sy darem ’n bietjie beter. Arme cowboy-vrouens met lang rokke wat alleen woon op plase en met lang gewere deur die kombuisvenster skiet op Indiane. Lambert kyk te veel video’s, dis wat. En sy moet saam kyk en byhou lat sy kan weet wat om te vertel.
Want anders, as dit nie werk nie, is dit haar skuld. Bitter moeilik is dit vir haar.
Dan as dit doptyd word, steek sy maar ’n dop saam met hulle. Klipdrift en Coke. Dan sê hulle: “Heit, ou Molletjie, jou lekker ding!” en dan klop hulle haar op die boud. “Vertel vir ons ’n storie, jong!”
Dis weer anders. Dis dan óú stories wat hulle wil hoor. Dan vertel sy van die rose. Hulle ken dit, maar sy vertel dit nogtans, vir die lekker. Want dit was die lekkerste tyd wat hulle nog ooit gehad het. Toe hulle net hier ingetrek het van Fietas af uit Oupop se huis uit. Die hele Triomf was vol nuwe mense. Hulle het niemand geken nie. En niemand het hulle geken nie, maar dit was okay. Almal was jonk en almal wou kom voor begin hier. Dit was lekker jolly. Die lokasie was platgestoot en die kaffers was weg. Dit was die dae toe die kaffers nog hulle plek geken het. Toe die Nasionale Party nog gedoen het wat hy sê hy doen. Nie soos nou nie, nou sê hulle een ding en doen ’n ander ding en sy weet nie meer wat is wat nie. Nie lat dit haar eintlik kan skeel nie. Die Nasionale Party het nog nooit gekeer lat drie mans haar op een oggend beetkry nie. Die Nasionale Party moet sorg lat daar hoere is, as hulle wil help. Goed betaalde, vet gevoerde, opgetofde hoere om vrouens soos sy uit die verdrukking uit te red. As hulle genoeg geld het om staatsmoordenaars te betaal, soos Treppie sê, vir wat kan hulle nie ok staatshoere betaal nie? Dít sal niemand vrekmaak nie. Dit sal net keer lat vrouens soos sy nie met messe gesteek word en in yskaste toegesluit word saam met Peking Ducks nie. Miskien as sy eendag genoeg Klipdrift gedrink het, sal sy dit