“Ons sal maar sien, ou maat, ons sal maar moet sien,” sê Treppie. Hy wienk nog ’n keer.
Dis toe lat Lambert sy krag voel terugkom. Toe Treppie hier onder sy neus vlak langs hom by die deur wil ingaan huis toe. Dis toe lat hy ’n tree vorentoe gee, reg in ’n stuk glas in. Maar toe voel hy al niks nie.
Hy gryp vir Treppie agter die nek. Sommer so ’n ou dún nekkie, hy vat sy gorrel vir hom lekker tóé. Hy sleep vir hom spartel-spartel binnetoe, déúr die kombuis, waar Treppie die primus met koue Jungle Oats en al op die linoleum omskop. Af met die gang sleep hy vir hom lat die los blokkies oplig en uitspring, verby die agterste kamer, verby die badkamer, verby Pop-hulle se kamer tot in die voorhuis waar sy ma op ’n bierkrat staan om die gordyn se hakies weer op die railing te kry en die railing weer in onder die pelmet. Gerty sit by haar. Hy hoor hoe gee Gerty ’n benoude blaffie. Hy sien hoe kyk sy ma om. Haar mond is oop. Sy swaai met die railing van skrik.
“Hei! Julle!” skree sy. Treppie kry die railing vol teen die kop. Sy swaai nog ’n keer. Sy moenie hier kom swaai met railings nie. Hy voel hoe gly die railing oor sy blaaie. Hy smyt vir Treppie teen die muur vas.
“Hik!” maak Treppie soos hy teen die muur val en afsak tot op sy boude.
“Staan jy nou eers ’n bietjie dáár!” sê Lambert vir Treppie. Hy gee één tree tot by sy ma. Hy ruk die railing uit haar hande. Gerty spring teen hom op. Hy skop vir Gerty lat sy “Tjou!” sê en dáár trek. Toby kom ok by. Hy dink dis sports. Hy gaan aan die blaf. Hy kry twee skoppe. “Tjou, tjou!” sê hy.
“Julle dink julle kan vir my lieg, nè!” sê hy en hy buig die railing dubbel oor sy knie met gordyn en al. Dit voel soos ’n draadjie.
“Mense liég nie vir my nie!” sê hy. Hy spring vir die pelmet en vat hom raak. Sy een kant kom los uit die muur uit. Hulle wil mos.
“Gaan maak vir jou maar rég, Ma, want ek sien vir jou nóú in die agterste kamer.”
Hy vat Gerty se groen ribbing en halwe geel rugpant bymekaar van die stoel af en breek die penne en strip die steke weerskante af. Fokken gemors! En hy loop by die voordeur uit tot op die lawn waar die posbus lê en hy skop dit met sy kaal voet tot teenaan die prefabmuur.
Hy voel niks. Hy voel fokken heeltemal niks. Hy tel die posbus op en gooi dit tot op die bure se sinkdak waar dit “boem!” op die sink val en “daf-daf-daf!” omrol tot by die geut en oortiep en afval. Hy hoor iemand vloek. Lat hulle fokken vloek.
Dan stap hy terug in die huis in. Verby Treppie wat nog in die gang teen die muur sit. Hy los ’n bloedspoor so ver soos hy loop. Reguit agterkamer toe.
Pop, sien hy, gee vanself pad voor. Good for him. Hy gaan sit mos altyd agter die badkamerdeur. Lat hom. Hy wil mos lieg. Sy ma is klaar agter. Sy ken haar plek. Nou sal hy eers daai stink hond van haar moet uitgooi, want dié sit mos altyd so en kyk. Hy lat nie honde vir hom kyk waar hy besig is nie. En sy ma moet haar bek hou. Skree mos deesdae of sy vermoor word. Well, sy moet net oppas of hy druk haar gorrel vir haar pap. Hulle moenie hier kom maak of hy ’n fokken idioot is nie.
Pop het ’n lang ruk met sy kop teen die koue middelste skarnier van die badkamerdeur gesit, sy vingers in sy ore. Toe hy hulle uithaal, was Mol weer stil. Hy’t net ’n gesnuif gehoor uit die agterste kamer. Maar daar was ander geluide voor, ’n gepraat van mense. Lambert en ander mense. Toe’t hy nog ’n lang ruk vir homself in die badkamerkassie se halwe spieël gekyk. Hy was blou en wit soos klippe. Toe’s hy vorentoe om te kyk wie praat, maar hulle was al weer weg. Dit was die NP’s. Net hulle pamflette gelos en gevort. Ok g’n wonder nie. Die sitkamer het gelyk of ’n orkaan hom getref het. Lambert het ’n lap om sy voet gehad waardeur die bloed ’n helderrooi kol uitgeslaan het. Treppie het ’n diep sny op sy oogbank gehad wat hy met sy hand probeer toehou het. En toe kom Mol van agter af met Gerty in haar arms en sy gaan sit stadig met hond en al in haar stoel, baie stadig en versigtig, of sy seer het.
Later daardie selfde aand het hy na Treppie toe gegaan toe hy hom sien voor, besig om die voorhek vir die nag met die ketting toe te sluit.
“Treppie, jong, jy kan darem nie so werk met Lambert nie. Ons beter ’n plan maak en vir hom een gaan soek. Regtig. Anders maak hy nog vir ons almal vrek hier,” het hy gesê.
En toe het hy die ingeduikte posbus opgetel van die grasperk af waar langsaan dit weer teruggegooi het, en dit deurgedra agtertoe, swaarder en swaarder soos dit in sy hand geword het, en dit op Lambert se voetenent gaan neersit.
“Hier’s jou posbus, ou Lambert, jong, ons fix hom môre,” het hy gesê. “First thing in the morning. Ek sal jou help, ek en Treppie.”
Vir Mol het hy toe maar niks gesê nie, want sy het geslaap, op haar sy in haar housecoat, heeltemal op die randjie van hulle deurgeslaapte dubbelmatras. Met Gerty in haar arms en met die lig wat helder bo haar kop in die kaal gloeilamp brand.
5 Soet is die dag
Toe hy wakker word en hy kry nie die reuk van batterysuur van Industria se kant af nie, toe weet Pop dit word ’n goeie dag. En toe hy sy kruisbande oor sy skouers haak voor Mol se driestuk-spieëltafel voor die middelste paneel wat nog oor is – toe doen hy dit versigtig, uit respek vir die gevoel wat hy gekry het. Want deesdae voel hy meestal vir homself na ’n plek wat hy nie ken nie, vol vreemde geluide wat deur dik mis aankom. Versigtig blaas hy die stof van die geel plastiekrose af. Dit walm om sy kop, maar hy staan nie weg nie. Hy wag net so gebukkend vir die stof om te gaan lê. Op sulke dae moet ’n mens versigtig wees.
En toe hy in die kombuis kom, toe kry hy vir Lambert daar wat vra: “Pop, wil Pop ok ’n poloniesandwich hê?”
Toe sê hy okay en toe sê Lambert hy moet kom, hy moet hulle join, hulle sit hier agter in die jaart.
En toe hy om die draai kom, sit hulle daar. Met hulle bolywe in die skadu en hulle voete in die son, op Coke-kratte teen die den se muur. En Treppie sleep vir hom ok ’n sitding uit die den uit aan en Lambert bring sy koffie en sy poloniesandwich, kan jy dit wragtig glo?
Rústig sit hulle daar. Treppie knip sy naels en Mol voer vir Gerty klein stukkies van haar sandwich. En Lambert het Flossie se wieldoppe wat hy ’n tyd gelede uitgeklop het voor hom in ’n ry en hy verf silwer verf op die nerfaf kolle met ’n fyn kwassie.
“Hoe’t Pop geslaap?” vra Lambert.
Kan nie wees nie.
“Huh?”
“Ek sê, het Pop lekker geslááp?”
Ja, wraggies. Daar word gevra of hy lekker geslaap het.
“Goed,” sê hy, “ek het goed geslaap.”
Pop sien hoe Mol se kop waar sy vir Gerty sit en voer eers vorentoe en dan weer agtertoe ruk. Nee, ruk is die verkeerde woord. Dit was nie ’n ruk nie, ok nie ’n skud nie, ok nie ’n knik nie. Dit was ’n soort bewerasietjie. Maar sy kyk nie op nie.
“Goed,” sê Pop weer en hy hoor sy eie stem of dit uit ’n ver plek deur dun wolkies aangewaai kom. “Goed, dankie, ou seun,” sê hy nog ’n keer.
Treppie hoes so ’n hoesie. Almal bly vir ’n lang ruk stil.
Mens hoor net Lambert se kwassie “tsjiep-tsjiep” oor die wieldop, en Treppie se naelknipper aan sy mes “knips-knips”, en Gerty se asem wat swaar kom tussen die happies wat Mol vir haar voer.
En rondom hulle, ver weg en naderby, hoor hulle die gedruis van die karre, op Ontdekkers net hier anderkant, en Victoria net duskant, en Thornton se opdraand waar die karre in ’n laer rat oorgaan en Empire se laaste stuk waar hulle reisies jaag tot by die ligte.
“Kyk,” wys Mol, en almal kyk waar sy wys. Dis iemand wat sy homers laat vlieg in die oggend. ’n Groot swerm wat witkant, donkerkant draai. “Swierieriep” kom hulle oor, en nog ’n keer, laer, “whiede-whiede-whiede”.
“Dit kom reën as hulle so vol sights is,” sê Treppie