Triomf. Marlene van Niekerk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene van Niekerk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780795801150
Скачать книгу
nie. Miskien moet hulle dit ’n slaggie sien. Miskien kry hulle dan respek vir haar. Dan staan sy op en sy maak ’n speech en dan sê sy: “As julle die verkiesing vir die Nuwe Suid-Afrika wil wen, dan moet julle ’n hoerhuis bou in Triomf. Uitgeverf van buite en binnekant uitgeteël soos ’n badkamer. Met ’n blomtuin voor en plante met blink blare in potte voor by ontvangs. Die H.F. Verwoerd-hoerhuis. ’n Helder-oordag-hoerhuis wat niemand sal skaam voel om by in te gaan nie. Net so sal die geneuk ophou in die Nuwe Suid-Afrika.” Ik heb gezegd, soos Oumol altyd gesê het.

      Ag shame, sy sien al hoe rek daai dingetjie met die kaal skouers se oë. Nog niks gesien van die lewe nie. Hulle staan al klaar soos pierings in haar kop as sy hier inkom met haar pamflette. Dán sal sy wat Mol is, lag. Dán kan hulle almal én die NP sien hóé ’n lekker ding sy is.

      Sy was nog altyd ’n lekker ding. Sy’t nog altyd gehou van sports. Dit was groot sports om vroeg op ’n Woensdagoggend saam met Pop in die ou Austin-lorrietjie mark toe te gaan, om te gaan rose koop. Dit was ná sy haar werk verloor het in Fordsburg nog. Toe’t hulle eendag op die idee gekom. Hybrid Teas was dit nog daai dae, Old Hybrid Teas, sy onthou nog. Lady Silvia, Madam Butterfly, Ophelia. En dan nog die Prima Ballerinas en die Whisky Macs. Outydse lekkerruikrose was dit. Sy en Pop het eers lank geloop en ruik aan die verskillende soorte voorlat hulle besluit het. Sommer vir die lekker. “Soos perskes,” het Pop gesê ruik party. “Soos vanilla,” het sy dan gesê. Ure lank kon hulle daar rondloop en vir mekaar sê hoe die rose ruik. Dit was belangrik, lekker ruik, en ’n lang, stewige steel ok, en ’n knop wat net-net begin ooptrek. Dit was ’n lekker plek, die mark. Al die mense, en al die blomme, en die deurmekaar ruik van groente en vrugte en rose onder die hoë dak. En spotgoedkoop. Twee sjielings vir ’n bos dertig Red Alecs daai dae. Want rooi was tog maar die favourite. Nie hare nie, sy’t gegaan vir geel. Maar die customers, hulle het gehou van rooies. Wat sy dan vir ’n sikspens stuk verkoop het aan die mense in die restaurante, of voor die stadsaal ná die konserte, of laat in die nag wanneer die flieks uitkom.

      Dan koop hulle drie bosse, en partykeer het Pop dan gesê: “Moenie vir Treppie sê nie, nè, maar is jy nie nou ok dors nie?” Dan gaan sit hulle in die keffie met die rose op hulle skote en bestel cream soda floats.

      En dan’s dit huis toe. Dan vat sy vir Lambert by Treppie en sit hom in sy loopring en sy gaan sit op die steppie agter by die kombuis en sy maak die rose op, elkeen met sy eie sellofaan met ’n lintjie om die stingel. Pop en Treppie help. Treppie knip die sellofaan in strips en Pop trek die lintjies oor die skêr lat hulle kan krul. En as daar genoeg lintjies is wat krul, dan spring hy op en gaan haal sy bekfluitjie en speel vir hulle “The yellow rose of Texas”. Dan speel Pop vinnig solat Lambert aan die trap-trap gaan in sy loopring in. En dan speel hy weer stadig en treurig en hy draai-draai so met sy bolyf, en dan raak Treppie kriewelrig en los alles net so en sê watse vroumenswerk is dit, en hy en Pop moet liewer loop yskaste haal.

      Dis Treppie wat begin het met die yskaste. En wat hulle saamgetrek het Triomf toe. As sy met haar rose kan aangaan, kan hy met sy yskaste aangaan, het hy gesê, al is Triomf ’n baie ordentliker plek as Vrededorp. Wou kastag ryk word.

      En kyk hoe lyk hy nou. Sit en suip by die Chinese die ganse dag. Sy glo tog nie lat hy ’n steek werk daar verrig nie, al sê hy wat. Dobbel, ja. Perde speel, ja. Maar daarvoor het jy nie Chinese nodig nie. Ander mense se boeke is duister.

      Sy het nog altyd vir Pop gesê sy hoef nooit ryk te wees nie. En Pop het gesê hy ok nie en hy’t maar nog altyd net vir Treppie gehelp en dan weer vir haar. Gesê as hy maar net kan besig bly en kan eet, is hy nie oor geld geworry nie. Nie lat hy hoef te geworry het nie. Die yskaste was ’n moerse flop.

      Die rose was ok nie ’n danige sukses nie. All in all het hulle net gelykgetrek, as ’n mens die Austintjie se petrol en die lint en die sellofaan alles bymekaargetel het. Maar dit was ten minste sports en hulle was jolly.

      Saans los sy dan weer vir Lambert by Treppie en dan ry Pop vir haar rond. Hulle kyk eers in die koerant wat’s aan daai aand en dan trek sy haar smart geel linne-roosverkooprok aan met die swart omboorsels en sy sit rooisel aan en trek haar polvye aan. Met haar housecoat bo-oor lat sy nie nat spat as hulle die emmers agterin die Austintjie laai nie. En sy trek hom eers weer uit as hulle stilhou voor die stadsaal.

      Dan sit sy vyftien Red Alecs en vyf geles en vyf pienkes in die rottangmandjie en sy vra vir Pop: “Hoe lyk ek, Pop?” En dan sê hy: “Soos die yellow rose of Texas, Molletjie.” En dan’s sy reg.

      Dan gaan park Pop die vaal Austintjie om die hoek lat dit nie hulle besigheid wegjaag tussen al die ander blink karre nie, en sy gaan staan voor die stadsaal se groot houtdeure, so vyf minute voor die mense uitkom, lat sy haar eers kan regkry.

      Sy sing “The yellow rose of Texas” lat sy haar kop kan skoonkry. Skoon van die jaart vol stukkende yskaste en die kind wat so moeilik is.

      Sy sing lat sy kan vergeet hoe sy haar oë toemaak en oopmaak en weer toemaak as sy die diep, rooi brandsere op sy beentjies sien.

      Sy sing lat sy Treppie se hoë stemmetjie kan vergeet soos hy allerhande verskonings maak. “Nee, ek was hier agter besig om te weld en toe ek weer sien, toe gryp hy die warm welder en druk dit teen sy been.”

      Sy sing lat sy kan vergeet van Treppie wat vir haar beetkry as Pop net sy rug draai en haar naai terwyl Lambert sy longe uitskree in sy loopring in die jaart in.

      Sy sing “The yellow rose of Texas”, twee, drie versies, tot sy begin beter voel, tot sy voel hoe word sy self ’n roos, ’n gele, net so effentjies oopgetrek lat jy kan sien waar dit oranjerig word binnetoe. ’n Lekkerruikroos op ’n lang stingel, toegedraai in blink sellofaan, lat sy lyk of sy vonkies afgee in die stadsaal se stoeplig. Dan is sy reg. En as sy dán vir iemand ’n geel roos uit die mandjie aangee, wat nie baie gebeur het nie, want meestal wou hulle rooi hê, dan was dit vir haar kompleet of sy haarself aangee. Haar beste self wat sy buitentoe kan wys vir die jintelmanne met die wit boordjies en die opgetofde vroumense aan hulle arms. Daai self wat sy vir haarself kan aangee en sê: Dis okay! Dis okay! Dis okay! Só hard lat sy nie die ander stem hoor nie, die een wat sy meestal hoor as dit so neuk. Die een van Oumol wat sê: Slég! Slég is wat julle is! En julle word al hoe slégter!

      Maar dít vertel sy nie vir die ander drie nie. Sy hou daar op wanneer Pop die Austintjie om die hoek trek. Daar waar sy uitklim en voor die deure gaan staan met haar mandjie. Dan bly sy stil en sluk haar Klipdrift en Coke.

      En dan vertel sy eers weer verder waar die mense uitkom en hoe sy moet Engels praat, want Afrikaners het daai tyd maar min rose gekoop. Sy los maar liewerster die stuk van hoe sy ’n roos geword het. Daai drink sy maar weg. Want dit sal ’n neukery afgee. For sure. Sy’t dit in any case al amper self vergeet. Daai van voel soos ’n roos en als.

      “Toe, en hoe sê jy dan vir die mense, Molletjie?” vra Pop altyd om haar weer op haar storie te kry.

      Dan sê sy: “Good evening, sir, would you like to buy a rose for the charming lady at your side?”

      Dan val Lambert byna van sy stoel af soos hy lag en hy sê agterna: “The charming lady at your side,” en Pop smile ok saam.

      “We have here a Red Alec, a pink Prima Ballerina and a yellow Whisky Mac,” sê sy dan.

      “We,” sê Treppie dan. “We, watse stront!” En dan loop hy partykeer uit en gaan drink verder op die gras voor.

      Treppie sê hy’t genoeg ellende deesdae. Hoekom nog dink aan gister s’n? Hy wou ryk word van yskaste, maar hoe kan jy ryk word van fokken enigiets in Vrededorp of Triomf as ander mense jou geld uitgee op rose?

      Dis wat hy tóé ok altyd gesê het, in Vrededorp al: “Mol, jy mors ons geld. Ek werk my hande deur, en wat doen jy? Jy gee dit uit op stront. Wat bring jy nou eintlik in? Boggerol! Red Alec, my voet! Jy mors net tyd, dis al. Kos en klere en ’n kar wat loop, dís wat ons nodig het. Nie rose nie. En nou’t jy nog die kind ok. Madam Butterfly! Hoekom gaan char jy nie eerder by die rykes in Parktown nie. Of gaan lat hulle jou leer om stamps te verkoop in die post office. Dan doen jy ten minste iets nuttigs! Ons werk mos hier by die huis. Ons sal agter Lambert kyk vir jou. Hy luister ten minste na my, die klein bogger.”