“Moenie worry nie, Pop,” sê Treppie. “Als is okay hier. Ek guy maar net ’n bietjie met ou Lambert hier. Kom,” sê hy, “kom wees ’n sport en join ons.”
Treppie ruk vir Pop voor aan sy bors vinnig by die den se deur in; sy voet haak aan die drumpel. Hy gryp hom agter aan sy broek se belt soos hy verbykom en ruk hom weer regop.
“O gôts,” sê hy, “ok al nie meer so steady nie, of wat sê ek, Pop?”
As hy so is, dink Lambert, is Treppie soos iets wat gears change. Jy hoor sommer hoe gaan sy revs op.
Treppie sleep twee kratte nader. Hulle is vol leë liter-Cokebottels. Hy keer die kratte met een hand om. Die bottels val oor die den se sementvloer. Lambert kan nie sien hoeveel gebreek het nie.
“Dis my empties daai, Treppie, een en negentig sent een,” sê hy. Maar nie te hard nie.
Hy druk homself regop teen die muur. Hy check waar is sy skoene as hy hulle moet kry om vinnig oor die glasstukke te kom.
“So, Lambert,” sê Treppie en gaan sit op die een krat. Hy trek vir Pop af aan sy mou. Pop sak stadig op die ander krat neer. Hy vee sy neus met sy mou af.
“So, wat is nou supposed to be die issues, jong? Waaroor gaan hierie verkiesing nou eintlik? Toe, explain dan ’n bietjie, jong.”
“Ag nee, wat,” sê Lambert. Versigtig en saggies sê hy dit. Hy voel nog nie reg nie. Hy moet nou net vanoggend Treppie se vrae doodgegooi kry. Versigtig sê hy: “Hier, julle kan self lees.” Hy gee ’n pakkie pamflette na Treppie toe aan. Treppie klap die pamflette uit sy hand uit. Hulle val op die grond.
“Ag, ’skies tog, man. Nie bedoel nie,” sê hy. “Ongelukkie gewees.” Hy skop die pamflette met sy voet weg. Pop buk van sy krat af en tel hulle op. Hy sit hulle op Lambert se matras se voetenent waar Treppie hulle nie dadelik kan bykom nie.
“Toe, wat sê jy, Lambert? Dinge lyk darem ’n bietjie aan die deurmekaar kant.”
Treppie kyk in die den rond, eers oor die vloer wat vol stukke van Flossie se enjin lê. Vol los spanners en wieldoppe en stukke ou silencer en deurgeroeste exhaustpype. Dan kyk Treppie vir die dak waar die goed aan hang.
“Een, twee, drie, vier, vyf, ses,” tel hy die strips vlieëpapier.
“Lastig, die vlieë, nè,” sê hy. “Eendagsvlieë, lyk of hulle hou van ’n deurmekaar plek.”
Dan kyk hy vir die rol tweedehandse lemmetjiesdraad.
“It will stop the intruder, maar dit sal nie fits uithou nie,” sê hy.
En dan sê hy: “Tst, tst, tst, sies tog,” toe hy die cooler-grid van die ou Austintjie sien. Wat Pop gesê het hulle moet hou vir ’n keepsake en wat hy vir Lambert gegee het om op te hang in sy den.
Treppie is vol sights. Nou kyk hy vir die kalenders van Tuxedo Tyres wat hulle elke jaar in Ontdekkers gaan afhaal. Vir die pin-ups. Hulle is op die mure van die den opgesit, vlak langs mekaar, net onder die ceiling, solat hy wat Lambert is, kan pick en choose as hy op sy bed lê. Hulle is almal daar, van 1971 af.
Maar Treppie wil nie pick en choose nie, hy wil neuk. Hy maak sy nek styf en draai sy kop aks vir aks terwyl hy klein klikgeluidjies maak, nes die fan se kop wat vashaak. “Kliks-kliks,” maak hy vir elke kalender soos hy hulle op ’n ry af bekyk.
Al die kalenders is dieselfde. Boaan elkeen is daar ’n vet lorrietyre met TUXEDO gestencil op die grip. Onder elke tyre sit ’n girl met ’n bikini aan. Mens sien net haar kop tot by haar middellyf, reg van voor af teen ’n helderblou agtergrond. Die girls lyk almal dieselfde, net hulle hare is anders en die kleur van die bikini’s.
“Tyres en tiete, tyres en tiete, die wind is in die bome en die vinke in die riete,” sê Treppie en skud sy nek los.
Pop wil opstaan, maar Treppie sit sy hand op Pop se skouer. Pop sê niks. Hy bly sit. Daar’s weer ’n druppel aan sy neus.
Treppie kyk vir die Fuchs en die Tedelex wat oop staan agter in die kamer. Daar is bokse en tydskrifte op hulle gestack tot teen die dak. Binnekant is hulle vol swart vingermerke, en altwee se seals is deurgevrot. Lambert se halwe witbrood en ’n bak margarine lê onderin die een en in die ander een se deur staan ’n halwe bottel Coke.
Treppie skuif sy krat en leun vorentoe. Nou kyk hy vir die paintings op die mure. Lambert kyk waar hy kyk. Sy den lyk vir hom na ’n vreemde plek as Treppie so kyk, hy moet nou ophou daarmee.
Treppie kyk of hy alles die eerste keer sien. Suid-Afrika se buitelyn, al byna heeltemal weggefade. Koki’s fade so op na ’n ruk. Hulle huis, met die posbus voor, die afdak en die Volla onder die afdak. En die stippellyn boontoe. En al die goed op die lawn en in die lug. Hy frons en skud sy kop.
“Deurmefokkingkáár! Wat’s dié?” Hy wys teen die muur. Dis ’n drawing met pyle en bygeskryf.
“Daai’s al lánkal daar,” sê Lambert. “Dis hoe ’n yskas werk.” Lambert maak keelskoon. Sy keel pyn van sy stem wat hy so moet gelyk hou. “Jy’t dit nog sélf daar geteken, toe ons begin het hier agter!”
“Jy weet hoe ’n yskas werk, nè Lambert?” sê Treppie.
“Dan moet jy mos weet hoe die NP ok werk. Kompressor: warm. Evaporator: koud. Dun gas, dik gas, ál in die rondte: prrrr, tjoerietjoerrie-tjip: áf.” Hy slaan met altwee hande op sy bene, ernstig.
“Kom nou, Lambert, ons tyd is min. Wat is nou die vital issues in hierie verkiesing?”
“Well,” sê Lambert, “dis die grondwet, dis die ouens wat die nuwe grondwet moet skryf. Ons kies hulle.”
“En?” Treppie se oë blink.
“Well, e,” Lambert kyk na Pop. Pop moet nou help hier. “Ons was nog altyd NP …”
“O ja?” sê Treppie vinnig. Hy klap na die vlieë. “Ons was nog altyd met Sunlight ok. Dis hoe mens vlieë uithou, jy was jou met Sunlight. Jou gát en jou kóp en jou vlóér en jou kóói, die hele lót, witter as sneeu.”
Lambert beur om regop te kom. Dit gaan te ver. As Treppie hom soek, gaan hy hom kry. Maar sy kop zing. Pop wys: toe nou. Hy sê asseblief. Lambert maak sy oë toe, miskien help dit vir sy kop. Pop se stem is so sag, hy hoor net “blief”. Dan is dit weer Treppie. Hy praat met Pop. Hy klink soos ’n dominee.
“Al wat ek sê, Pop, is lat die NP is ’n vúil spul. En behalwe dit, is hulle ok nog deurmekáár en hulle raak ál hoe deurmekaarder. Een groot fokken scrap-yard, sê ek jou. Nou sê hulle hulle gaan hulle huis in órde kry. Hóé, vra ek. Hóé? Wáár gaan hulle begin? Hulle moet eers hulle víngers uit hulle hólle kry. Dis wat. En met Súnlight afwas. Dis al wat ek sê, Pop. Dis die harde werklikheid. Ou Lambert hier, hy weet goed waarvan ek praat. Hy léés daai pamflette. En hy’s nie stupid nie.”
Lambert maak sy oë oop. Al wat mens hier kan doen, is saamspeel.
“Hulle het darem een ding wat soos ’n rooi lyn deurloop van die begin af,” sê hy.
“O ja?” sê Treppie. “Dit klink beter! Watse rooi lyn?”
Lambert leun vorentoe om sy pamflette te kry. Pop skuif hulle nader.
“Sal ek dit lees?” Hy soek deur die pamflette tot hy die regte een kry. Hy kyk op. Pop kyk grond toe. Treppie kyk reguit vir hom. Hy lees.
“Die Nasionale Party van vandag is nie meer die Nasionale Party van gister nie, máár …”
“Máár se gát, sê ek jou!” Treppie staan vinnig op en gryp die pamflet uit Lambert se hande. “Dis nie eers die een waarvoor jy laas Ja gestem het nie! Onthou jy, jy kon toe nog maklik in jou kisklere kom, jou swart charcoal broek met sy blinkleerbelt en daai boots sonder veters. Wat staan nou weer op daai broek se label? So ’n smart broek!”
Treppie