Triomf. Marlene van Niekerk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene van Niekerk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780795801150
Скачать книгу
maar dan sê hy niks. Hy draai weer om en skuifel by die deur uit, gangaf, “klíks-klaks” oor die los blokkies.

      “Sal jy dit like as sy saamgaan, Lambert?” vra Treppie.

      “Well, dit hang af of sy wil, of sy game is.”

      “Ek belowe jou sy’s game vir álles.”

      “As sy saamgaan, dan het sy nie meer ’n job nie.”

      “Nee, maar dan het sy mos vir jóú, man,” en Treppie lag agterin sy keel. As hy ophou lag, is hy skielik weer doodernstig. Sy oë blink.

      “Maar, Lambert, ek wil nou ernstig met jou praat, ou maat. Jy moet ’n plán maak met dié péns van jou,” en hy druk-druk so aan Lambert se pens.

      “En daai boude,” en hy vat-vat so na Lambert se agterkant toe.

      Lambert stoot sy hand weg.

      “O, gôts,” sê Treppie en hy kyk in Lambert se mik, “lyk my jy wil daai hoer hê, my ou maat, hê wil jy haar! Kyk hoe staan daai horing van jou net van ’n bietjie praat! Jy wil hê sy moet haar job los en sáám met ons kom, nè!”

      Treppie staan op van die krat af. Nou’s hy business-like.

      “Nou kom, lat ons kyk na jou klere, jong. Kyk, jy’t daai boxer shorts en nog ’n ander een en drie T-shirts. Dis al wat ek ooit aan jou lyf sien. Só gaan ’n man mos nie Noorde toe nie. Des te minder met ’n vrou aan jou sy. Jy moet in jou kisklere inkom, in jou Mán about Tówn’s.”

      Treppie roer sy heupe.

      “Kyk, jy kan ’n hemp van my leen, maar jy sien hoe lyk ek. Soos ’n plankie.” Hy slaan op sy maag. “En dan nog jou mock leather jacket wat jy gekry het op jou twenty-first. Kom!” Treppie ruk weer aan die staalkabinet se deure. “Kom maak ’n bietjie óóp hier!”

      “Los my net uit!” sê Lambert.

      “Well, Lambert, please yourself, maar as ek nou moet sê wat ek dink is die belangrikste issue van hierie verkiesing, dan sê ek dis lat jy verjaar ’n dag voor die verkiesing. En lat jy veertig word, en lat ons vir jou van Pop se pensioen en van my verdienstetjie ’n héle jáár al aan die spaar is vir ’n girl. Vir jou alléén vir ’n hele nag. Lat ons kan rus en vrede kry in hierie huis. Veral jou ma. Sy word nou oud. Sy kry swaar. Dis jou enigste kans, man. En dan wil jy dit opfok met witbrood en polonie. En Coke. ’n Bleddie skande, sal ek sê. Kom, maak nou óóp hierie kas!”

      “Los my net uit!” sê Lambert. Hy swaai sy bene weer terug op die bed en gryp sy pamflette. Treppie moenie nou oor sy ma begin nie. Wat weet hy in elk geval?

      “Daai wat jy daar lees, is pure stront, Lambert, jy gaan sien hoe backfire al daai praatjies.”

      “Ja, maar ons het tog ’n plán! Ons bogger off tog hier!” sê Lambert.

      Treppie draai stadig weg van die kas af waar hy staan en kom stadig na Lambert toe gestap. Hy gaan staan voor hom, hande in die sye, en kyk vir hom.

      “Stupid fokking fitvanger wat jy is,” sê hy, “jy glo dit ok nog wragtag, nè?” Lambert kyk vinnig op. Meer oor hóé Treppie dit sê, as oor wát hy sê.

      “Huh,” sê hy, “huh,” en hy voel hoe sy gesig deurmekaartrek.

      “Dis kák daai,” sê Treppie, “dis kák daai wat ek vir jou vertel. Dink jy nou regtig ’n Volla met ’n deurgeroeste chassis sonder shocks om van te praat, met ’n clutchplaat so dun soos foil en gears wat aanmekaar uitpop van hier tot by Ponta do Sol, dink jy nou wragtag sy sal die vier van ons, lat staan nog al daai tonne rubbish oor vroumense wat jy in jou kop het, verder as twee blokke van Triomf kan vat, dink jy dit nou wragtag? Jy’s fokken mál, man!”

      “Maar, jy’t dan self …” Lambert kan homself skop. Treppie het hom al weer aan die balle beet.

      “Ja,” sê Treppie. Sy oë skiet vonke. “Ek weet ek het self die plan uitgedink. Wil jy weet hoekom, hè? Wil jy weet hoekom? Om jou uit die pád te kry, onder my vóéte uit, uit die húis úit lat hier kan rus en vrede wees. Dís hoekom. Lat jy kan sjáddap en ’n gát grawe, ’n lekker moeilike een vol pype en bakstene van die kaffers. Lat jy so in jou moer in moeg is saans lat jy op jou gat in jou kooi val en bly lê en niemand hinder nie. Lat jy kan ophou sukkel met ons. Lat jy liewer in jou malle moer in dae lank op die rubbishhope kan sit en rondkrap. Lat ek rus vir my siel kan hê. Rús, sê ek. En Mol en Pop ok. As ons eendag vir ’n party sal stem, sal dit vir die een wees wat jou soort sal opsluit, in ’n malhuis, vasgestrap op ’n harde bedjie met ysterwieletjies en ’n prop in jou bek!”

      Treppie skiet sy cigarettestompie op die vloer neer en trap dit met ’n harde draai van sy skoensool dood. Sy skouer ruk ’n keer wild.

      “En as hulle jou hande losstrap een keer in ’n maand, dan mag jy prentjies van vredesduifies inkleur wat Pop en Mol vir jou bring, al vrek hulle van banggeit vir jou.”

      “Treppie, dis my ma en pa daai. Jy hou jou bek oor hulle.”

      “O ja, raait, jou ma en pa, natuurlik is dit jou ma en pa. Dis oor hulle lat ons vandag in ons moer in is met jou saam. Jy dink hulle is beter as ek, nè. Nou, lat ek jou vertel, ou seunie. Hulle liég ok vir jou, nés ek. Hulle liég vir jou om jou ’n dunk van jouself te gee. Hulle liég vir jou fókken lang stories, die arme fokkers, tog.”

      Treppie gaan staan by die agterste venster wat vaskyk in die prefabmuur. Lambert sien hoe sy hele lyf effens aan die bewe gaan. Hy staan op van sy bed af en moet aan die muur vashou, want sy kop zing.

      “Soos wat, Treppie, soos wat lieg hulle oor?”

      “Sal jy wil weet, nè? Okay.”

      Lambert kyk vir Treppie. Daar’s ’n vloer vol stukkende Coke-bottels tussen hulle. Hy sien hoe kyk Treppie vir die bottels. Hy’t ’n vies trek op sy gesig. Méér as vies. Hy lyk of hy iets stinks ruik. Skielik ruik hý dit ok. ’n Pisruik. En ’n ruik van sy kom wat hy altyd afsmeer aan die ou T-shirt. Ysters ruik hy, en olie. Hy voel vir homself te veel. Hy sluk-sluk aan ’n warm ding wat hier begin opstoot in sy keel. Daar is kolletjies voor sy oë. Hy hoor wat Treppie sê, maar dit zing in sy ore.

      “Daai storie van republiekwording, van die skouerruikers en goed wat jou ma vertel as sy gesuip is, dis als gelieg daai. Ten minste, ons het hulle gemáák ja, dít wel, maar daai aand toe gooi jy mos jou eerste fit. Net toe dit begin lekker gaan. Ons guy nog so lekker, toe dop jou oë om for real en jy rol binne-in die skinkborde vol skouerruikers en jy spoeg en pis en kak en kots, als gelyk, bo-oor die hele spul. Wat weet ons? Daar lê jy en kry die een stuip op die ander. Jou rug hol getrek soos ’n hoepel. Toe gryp ek en Pop jou en strap jou arms en bene vas met ons broeke se belde en vat vir jou hospitaal toe. Toe kyk hulle vir ons op en af en trek hulle neuse op en toe sê hulle jy’t te veel brandewyn in, en mens gee nie brandewyn vir epileppe nie, hoe’s ons dan? Maar as jy weer fit, met of sonder brandewyn, dan moet ons ’n ice-cream-stokkie in jou bek druk lat jy nie jou tong afbyt nie.”

      Treppie steek nog ’n cigarette op. Hy trek hard en blaas bollings rook uit.

      “En van toe af spoil jy elke fokken paartie wat ons het. En jy breek elke fokken ding in die huis en jy veroorsaak kák so ver jy gaan.

      “Ja,” sê Treppie. Hy skud die vuurhoutjie dood wat nog al die tyd in sy hand brand. ’n Blou swaelrokie bly hang in die lug. “En oor republiekwording: niémand het daai dag Pretoria toe gegaan nie, en niémand het seshonderd rand gemaak nie, en jy’t niémand uit hulle papiergeld uit gecharm met jou mal act en jou donasiepapier nie. Want jy was nie dáár nie. Dís wat. Pop het daai skinkborde vol ruikers, bekak en bekots soos hulle was, net so gevat en hulle hier agter in die jaart begrawe. Lintjies en al. Al die moeite en al die geld, óns geld van die yskaste, moer toe in one go, oorlat Baba Benade, die lam van ons lendene, oorlat Lambertus die derde, oorlat hy toe – surprise, surprise! – ’n genetic cul-de-sac is. Maar dis te moeilik vir jou, so dink maar liewer aan ’n bulldozer in ’n sinkgat!”

      Treppie stof sy hande af of hy aan stof of