Triomf. Marlene van Niekerk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marlene van Niekerk
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780795801150
Скачать книгу
nie stupid nie. Hulle weet wanneer mense jags is en hulle weet wanneer hulle kaffers is. Gerty en Toby raak net so moerig van kaffers. Van die oumeid met haar stootkarretjie, “patatas, patatas, miesies, pampóén!” op en af in die straat hier voor. Treppie sê sy’t vroeër tyd hier gewoon, sy kom check net of hulle haar plek goed oppas.

      Treppie kan so baie kak praat. Treppie keer altyd as Toby-hulle die kaffers wil byt. Al is hulle ok hoe astrant. Soos die Nelson-kaffer met die besems en stoffers. Groen besems en pienk stoffers wat hy so op en af in die lug stoot of hy mure skoonmaak wat net hy kan sien is vuil. “Brooms, Madam, brooms! Sweep your yard and dust your walls and prick up your ears when Nelson calls.”

      Dan sê Treppie vir sy ma sy beter ’n besem koop, dis nou die Nuwe Suid-Afrika. Maar hulle het nog nooit een gekoop nie. Hulle gaan kyk net as die kaffer so skree en fluit in die straat, want al die mense kom kyk en al die honde blaf en die besems is die hele wêreld vol.

      Daar skiet pyne deur sy stuitjie. Hy skuif-skuif op sy krat. Die krat se grid vreet in sy boude in. Hy maak keelskoon. Die lug is dik. Die fan waai die dik lug rond in die kamer. Skielik kom daar ’n by in by die venster. Seker ’n verdwaalde een van die klomp wat onder die huis boer. Die by is deurmekaar van die fan se wind. Hy draai deurmekaar as hy in die wind se stroom kom. Die Getuies sien nie eers die by raak nie. Hulle raak al hoe meer opgewerk. Die pienk onderrok slaan donker deur onder die Getuie se arms. Sy vee met haar hand oor haar bolip. Elvis gee vir haar sy sakdoek. Hy hou haar hand ’n rukkie vas. Sy kry warm. Te warm vir enige fokken sakdoek of fan. Sy hou haar regterhand met die sakdoek op in die lug.

      “En in sy regterhand het hy sewe sterre vasgehou,” lees sy.

      Haar ooglede flikker. Sy lyk soos iemand wat in rooi lig moet wees. Van dinge sién. Van wil náái. Van gedrúk voel. Van wil máák en wil bréék, van êrens wil úitkom.

      As hy aan die paint raak, dan sit hy die rooi bulb in. Nie dadelik nie, eers as hy ’n begin gekry het, as hy into dit raak met sy spray-cans. Into die painting sonder einde. Dan moet die bulb in. As hy die kelder onder die den se vloer uitgrou vir die petrol, het hy dit dag en nag aan, die heeltyd, soos die hoop kaffergemors hoër raak: bakstene, bottels, vensterrame, dreinpype. Die goed blink so in die rooi lig.

      Dit pyn agter sy oogballe. Dit kom. Hy weet dit kom. Hy probeer keer. Hy focus op die vloerlys agter Treppie. Op die strepie miere. Party loop diékant toe, party daaikant toe. Maar hulle bly in een rytjie. Almal behalwe diés wat reën ruik.

      Van ’n skerp tweesnydende swaard wat by sy mond uitgaan, lees die Getuie. Van sy gesig wat skyn soos die son.

      Arme Seun van die Mens.

      Klink ok maar na ’n fokop.

      Toby begin saggies te knor en kom regop tussen Pop se voete. Sy oogbanke roer soos hy check wat gaan gebeur. Lambert voel hoe sy hande binne-in begin sweet. Sy ma kyk sonder ophou vir hom. Die merk wys wit waar hy haar met die mes gesteek het toe sy sy spanner in die gras weggegooi het. Sy’t daai snaakse trek op haar gesig. Of sy dink hy’s ’n fokken dywel uit die hel uit. Hy hou nie meer vas nie. Hy begin ruk onderaan sy stuitjie waar dit altyd eerste begin.

      “Fok,” sê Treppie. Hy staan vinnig op en loop reguit by die voordeur uit. Hy weet altyd as dit kom. Toby weet eerste en dan weet Treppie. Hy loop tot onder die afdak en ruk Molletjie se deur oop en klim in en rev haar lat sy skree soos ’n vark. Dit alles sien Lambert terwyl die skuim warm en koud in sy mond kom. Hy probeer dit inhou. Hy voel hoe sy rug hol trek en hoe hy stadig van sy stoel begin afgly. Daar’s ’n burn-out in sy kop.

      Dis begin Oktober op die kalender. Oor minder as ’n halwe jaar is hy veertig. Einde April. Op die kalender. En dan is dit verkiesing, net die volgende dag. Op die kalender. “’n Toets vir Triomf,” soos die girltjie van RAU sê. Wanneer die son oor almal gaan skyn, soos tyd, soos ’n vuurvlam, soos die stem van baie waters. Met die afsak van die krat af sien hy nog net by die venster uit hoe reverse Treppie vir Molletjie in die hekpaal vas. Die posbus val af en hy hoor hoe rol hy twee keer om tot in die pad. Maar hy kan nie te goed sien nie. Want die fan waai die punte van die gordyn wat oor die pelmet hang, heen en weer voor sy oë. Dit lyk of die gordyne uit die Getuies se rûe groei, en of die pelmet uit die gordyn groei, en die ceiling uit die pelmet, en die kol op die ceiling waar die overflow lek. Die hele voorkamer lyk of die goed in mekaar in loop, soos binnegoed van mekaar, die binnegoed van die Getuies, die porseleinkat met die roos vir ’n kop, die Chinese se fan, die symuur met Toby en Gerty se skuurmerke op kniehoogte, die sideboard, die blokkiesvloer wat lig, die voordeur met die gat in wat hy laas week daarin geskop het, die lawn tot op die nerwe kortgesny, die afdakkie, die hek, die hekpaal met die posbus wat op sy dak in die pad lê. Pop en sy ma wat stadig regop kom. Treppie wat buite staan en kyk vir Molletjie se ingeduikte boud. Alles een stadige binnegoedpappery. Die binnegoed van die Getuies wat by hulle rugstringe uitloop en opstyg soos papierflenters bokant ’n vuur. Die binnegoed van Triomf. Pienk binnegoed. Dit brand agter sy oogballe.

      “Happy birthday, honey,” hoor hy haar stem, op ’n megaphone, dit eggo-eggo weg. “Happy birthday, honey, honey, honey.”

      Die vloer is hard onder sy kop. Hy sien die Getuie van onder af. Haar skouers is hoog. Haar mond is verkeerdom. Oop en toe gaan haar lippe soos sy lees: “die eerste die laaste die lewende”. Soos ’n perd wat water drink. Sy hou haar een hand uit oor hom, of sy iets uit hom uit wil trek: sy binnegoed, sy brein. Op vlerke in warm lug hang sy. Soos ’n vampire roer sy op een plek. Maar hy’s weg, los. Vinnig raak sy klein. Tussen sterre bly sy spartel, ’n satangwyfie in Star Wars. Die swart skeur oop, wit gedruis kom in sy ore, sewe sterre in sy hand.

      3 Brei

      Mol sit op haar stoel in die voorhuis. Die huis is stil, want Pop en Treppie is dorp toe en Lambert slaap. Hy slaap so as hy ’n fit gehad het, dae agtermekaar. Sy sit en sit steke op vir Gerty se trui. Vir die rugpant. Dis die maklikste, want vir die penspant moet jy altyd steke verminder. Vir die middellyfie. Lat hy styf kan pas, al rek hy. Anders sleep hy. Elke winter kry Gerty ’n nuwe trui. Sy’s hard op truie, maar dis nie haar skuld nie, dis Toby se skuld. Hy’s jaloers, dan kou hy haar trui. End van die winter, dan’s daai trui afgekou. Dan hang hy flenters.

      Maar eintlik brei sy lat sy kan dink. Dis die vroegste wat sy nog begin brei het aan Gerty se trui, maar dit maak nie saak nie, want sy móét gedink kry.

      Die moeilikste van dink is waar begin jy.

      As sy brei, kry sy aanmekaar beginne, te veel om te tel. Nog nie as sy steke opsit nie, want dan moet sy oplet. Maar as hulle eers op is en sy kry haar slag, dink sy lat sy nie kan voorbly nie. Dan brei sy ’n stink spoed agter die dink aan. So vinnig lat die steke by die trosse val en sy ’n paar vet lere brei voor sy dit raaksien.

      Dan’s dit stop vir eers en ’n ent uittrek. Maar dis ok okay, want mens kan nie aanmekaar so hard dink nie.

      Nou eers die ribbing. Dis groen. Van laas jaar se wol wat oor was. Toe was die trui groen en die ribbing pienk. Van voorlaasjaar se pienk wol wat oor was. Tóé was die trui pienk en die ribbing blou. Almal goedkoop los bolle van die wolwinkel in Main Street, Fordsburg. Hulle ken haar al daar, daai koeliemeide. Hulle hou al hulle uitskotte vir haar, nogal nice van hulle, hulle hoef seker nie. Maar hulle like van Gerty. Sy vat altyd vir Gerty saam as sy gaan wol koop. Pop sê altyd oppas, netnou pie Gerty op die wol, maar Gerty pie nooit in plekke in nie. Net Toby. Want hy’s ’n mannetjieshond. Hulle is so, die mannetjies.

      Dié winter gaan dit ’n geel trui wees met ’n groen ribbing. Toe sy netnou die wol uithaal net voor Pop-hulle uit is, toe sê Treppie sy moenie vir Gerty in ANC-kleure opdress nie, die Zoeloes moer vir haar vrek net daar waar hulle haar kry stilstaan. En dan, sê Treppie, sal hulle nog wil weet wie dit gebrei het ok en dan moer hulle vir haar wat Mol is ok vrek waar sy stilstaan, want sy’s al een in die huis wat brei. Asof hulle nie mekaar al genoeg moer nie. Brei of nie brei nie, dit neuk ál moer toe met hulle deesdae.

      Dit neuk as die Jehovas kom, maar daarvoor kan sy haar reg hou. Saterdagaande al sit sy altyd ’n wasgoedpennetjie in haar housecoat se sak, lat sy nie vergeet nie. Want Lambert begin altyd neuk nog voor hulle klaar gelees gekry het. Mens sal dink hy leer, maar nee. Dis daai