Annelize Morgan Omnibus 8. Annelize Morgan. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624083313
Скачать книгу
nie. Geen flikkering om haar hoop te gee nie, geen talmende handdruk wat haar hart onstuimig laat klop nie. Daar was net daardie een keer se sagte aanraking van sy lippe op Kersaand toe hy nie ’n geskenk aan haar kon gee nie. Miskien het sy meer in daardie aanraking gelees as wat hy bedoel het; miskien was dit maar net ’n skuldgevoel by hom omdat hy nie vir haar ’n geskenk mag gegee het nie.

      Die musiek en vreugde verdwyn uit haar hart …

      Oujaarsaand kom tant Hanna na Rosalie se kamer toe.

      “Ek het my kaste vanmiddag reggepak en hierop afgekom.” Sy hou ’n vergeelde stuk papier en ’n verdroogde roosknop na Rosalie uit. “Dit behoort aan jou.”

      Rosalie neem dit onbegrypend by die ou dame.

      “Ek verstaan nie.”

      “Dit was in jou wiegie toe jy voor die deur gelaat is.” Haar gesig verhard. “Dis al waaruit jou erfenis in werklikheid bestaan. Geen geld behoort werklik aan jou nie … net daardie droë roosknop en daardie sentimentele brief.” Sy draai vinnig om en laat Rosalie alleen.

      Toe die deur agter tant Hanna toegaan, vou Rosalie die papier oop en lees die briefie stadig deur. Haar hart klop dof en swaar in haar binneste.

      Sy laat die brief stadig sak en tel die verdroogde roosknop op. Dit het vergeel soos die brief, en ook die geur het verdwyn ná al die jare.

      ’n Traan biggel oor haar wang. Sy het iets van haar moeder … ’n geskenk van geluk en die wete dat sy ook eens kosbaar vir iemand was. Sy het eens aan iemand behoort wat haar liefgehad en vertroetel het. Haar moeder leef nie meer nie, maar vir Rosalie beteken die brief en roos meer as al die geld in die wêreld. Haar sieklike moeder het haar lief genoeg gehad om uit te gaan en te gaan soek na iemand wat na haar sal omsien. ’n Eenvoudige roos het vir haar moeder geluk gebring, maar ’n geluk só groot en mooi dat sy dit met ’n enkele blom aan haar kind wou oordra …

      3

      Rosalie kyk met nuwe oë na die rose in tant Hanna se blomtuin. Daar is vir haar nou iets anders as perde en die buitelewe wat haar belangstelling wek. ’n Roos het vir haar moeder geluk beteken. Dit het vir haar die moed gegee om moeilike dae tegemoet te gaan … maar waarom? Sy wens dat sy haar moeder geken het en haar verstaan het. En wie was haar vader? Hy het nooit weer na haar moeder teruggekeer nie. Hoekom het hy dit nie gedoen nie?

      Daar is egter geen antwoorde op al haar vrae nie. Die geheim is saam met haar moeder graf toe.

      Vandag is Nuwejaarsdag en nie ’n tyd om te broei oor dinge uit die verlede nie. Hulle gaan vandag na Rusoord soos die vorige jaar en die jaar tevore om die nuwe jaar met vrolikheid te vier.

      Rosalie verwag nie te veel nie. Die vorige jaar het oom Julius haar die hele tyd dopgehou en gesorg dat sy en Renier nie te veel van mekaar sien nie. Dit het haar opgewondenheid heelwat gedemp. Nie een van die ander gaste het iets agtergekom nie, maar sy het geweet waarom hy haar uit Renier se pad probeer hou. Vir hom is sy ’n naamlose mens sonder ’n toekoms of ’n verlede.

      Vir Rosalie het hierdie lugleegte waarin sy leef ’n swaar las begin word. Mense is gesteld op jou afkoms en herkoms en as jy dit nie het nie, is jy net eenvoudig nie in tel nie.

      Die afgelope paar dae was sy van Charles Bennet se aandag verlos, maar hy duik weer op Rusoord oor die Nuwejaar op.

      Rosalie se misnoeë is duidelik op haar gesig te lees toe sy Charles raaksien. Dit gaan ’n baie moeilike dag vir haar wees met oom Julius de Koning wat haar met valkoë gaan dophou, Clara wat al om Renier gaan draai en Charles wat ’n oorlas van homself gaan maak. Dis werklik nie ’n dag met aangename vooruitsigte nie.

      Die rok wat Rosalie vanoggend dra, het oom Markus spesiaal vir haar by ’n vrou op Harrismith laat maak. Dis ’n diep roomkleurige rok van ligte katoen. Voor sit dit glad teen die maag, en agter is dit in ’n massa plooie ingevat sodat ’n weelderige, wye sleep agter haar voete vorm. Kantinsetsels versier die gladde moue, en dieselfde kant is vir ’n breë kraag gebruik wat soos ’n sagte manteltjie om haar skouers hang. Sy dra ’n wit strooihoed daarby wat met ligroos blomme versier is. Haar sonsambreeltjie is van dieselfde kant as die kraag en rond die uitrusting pragtig af.

      Markus Leyds loop trots langs sy aangenome dogter. Hy is terdeë daarvan bewus dat sy vandag oral aandag trek met haar skoonheid, en dit maak hom gelukkig.

      Charles Bennet kom haastig, opgewonde na hulle toe aangedraf. Hy val dadelik langs Rosalie in terwyl hy oom Markus ook groet.

      “’n Geseënde Nuwejaar vir u, meneer Leyds. Ek vertrou dat hierdie jaar ’n beter een as die vorige jaar sal wees. Ons volkie is deur donker dae, en nou kan dit net beter gaan.”

      “Geseënde Nuwejaar vir jou ook, Charles,” antwoord oom Markus toe die jong man asem skep.

      “Dankie, meneer Leyds. As alles goed gaan, het my pa gesê kan ek my eie gemeente teen die einde van die jaar hê.” Hy kyk betekenisvol na Rosalie, en toe sy nie reageer nie borduur hy ’n bietjie verder. “Ek het my studie al twee jaar gelede voltooi. Op dertig moet ’n man darem al aan jou toekoms begin bou. Ek sal ’n gemeente op Vrede of op Bethlehem stig. Dis nuwe dorpe, en daar sal baie geleenthede wees.” Hy bly stil asof hy self ook eers moet dink watter geleenthede sulke nuwe dorpe ’n predikant kan bied. Dan hervat hy: “Op Bethlehem is daar ’n groot huis wat as pastorie gebruik sal word. Dit kos ’n bietjie aandag, maar dit kan gou reggestel word. Dan sal ek kan intrek as volwaardige dominee van die dorp.” Sy oë blink by die vooruitsig.

      Rosalie kry hom effens jammer. Sy is godsdienstig grootgemaak, maar sy is nie in die wieg gelê om predikantsvrou te word nie. Charles moet liewer ’n ander vrou vir hom soek.

      “Wanneer beplan jy om te gaan?” wil oom Markus weet.

      “Net ná die winter, meneer Leyds. Alles is gereed, maar ek het nog ’n paar dinge wat ek hier moet afhandel.” Weer eens kyk hy na Rosalie asof hy iets vir haar wil sê, maar hy praat nie oor wat hy eintlik op die hart het nie.

      Oom Markus maak verskoning en laat hulle alleen.

      Rosalie soek naarstiglik na ’n verskoning om van Charles af weg te kom, maar daar is niks waaraan sy kan dink nie.

      Daar is skielik ’n ongemaklike stilte tussen hulle. Rosalie kan nie aan iets dink om te sê om die stilte te verbreek nie, en dus bly hulle maar net daar in die koelte van die bloekomboom staan.

      “Jy lyk mooi vandag, Rosalie,” sê Charles eindelik en knipper sy oë agter die dik brilglase.

      “Dankie …” Sy wil hom nie aanmoedig om op hierdie trant voort te gaan nie.

      “Was jy al ooit op Bethlehem?” vra hy skielik.

      “Net een keer. Dis maar ’n vaal ou plekkie. Daar is maar skaars tien huise.”

      “Dis nog ’n nuwe dorp. Dit sal uitbrei en ’n groot plek word, en ek sal die dominee daar wees. Al daardie mense wat soontoe gaan kom, gaan na mý kyk vir leiding, en ek dink ek is bevoeg om hulle leiding te gee.”

      “Ek is seker jy is, Charles,” sê sy afgetrokke.

      “My vrou sal ook aansien geniet. Sy sal die voorsitster van die vroueverenigings wees.”

      “Ja, Charles,” sê sy byna met ’n sug.

      “Daar sal nooit ’n tekort in my huis wees nie. ’n Dominee ken nie so iets soos ’n tekort nie.”

      Rosalie byt op haar tande.

      “Ja, Charles.” Sy sien Renier na hulle kant toe kom en sug byna van verligting.

      “Maar ek moet ook kan trots wees op my vrou,” gaan Charles ongesteurd voort. “Ek moet ’n hardwerkende vrou hê wat nie sal skrik vir armoede en ellende nie. Sy moet allesopofferend en edel wees. Sy moet alles veil vir haar naaste hê en nie skroom om te help wanneer dit van haar verwag word nie. Sy moet alles doen ter wille van haar liefde vir haar Skepper.” Charles is nou in vervoering oor sy relaas, en hy let nie eens op dat Renier by hulle aansluit nie. “Sy