In die opstal self word voorbereidings vir die aand se formele ete getref. Die De Konings is vir die aand oorgenooi, en tot Rosalie se ergernis is Charles Bennet ook genooi. Dit is genoeg om haar die Kersfeesstemming te laat vergeet en haar broeiend in haar kamer te laat sit.
Samuel wou Harrismith toe gaan vir die aand, maar oom Markus het hom die dood voor oë gestel indien hy nie by die ete is nie.
Rosalie se tabberd is van suiwer sy. Dis ’n diepblou skepping met wye moue wat bo die elmboog uitpof. ’n Breë strook om die soom van die tabberd en die wye gedeelte van die pofmoue is met ry op ry wit kantvalletjies versier. In plaas van die gewone wye kraag is daar ’n kunstige insetsel van wit kant en blou strikkies voor die bors. Sy dra net ’n enkele borsspeld hoog teen haar nek.
Clara is uitgevat in ’n skepping van ligroos satyn met ’n menigte valletjies en strikkies om die hals, moue en soom van die tabberd. Haar pragtige bos hare is kunstig in ’n verleidelike kapsel gekam waarin daar ook ’n paar strikkies uitloer.
Vir Rosalie is Clara se tabberd ietwat oordoen, maar sy sê niks. Tant Hanna kan kritiek nie verdra nie en veral nie van Rosalie nie.
Charles daag eerste op, en Rosalie is opsetlik laat om by die ander aan te sluit. Oom Markus hou die jong man geselskap totdat Rosalie ook na die sitkamer toe kom.
Charles se oë blink toe hy haar sien. Sy is en bly vir hom die mooiste meisie in die hele omgewing van Harrismith, en hy kan sy opgewondenheid beswaarlik bedwing. Hy is nie bewus daarvan dat Samuel en Renier hom ietwat geamuseerd betrag nie.
“Jy lyk pragtig,” fluister Charles toe Rosalie hom groet.
Sy bloos liggies. Haar verleentheid verskerp toe Charles ’n pakkie in haar hand druk.
“Dis vir Kersfees.”
Sy kry dit reg om te glimlag.
“Dankie, Charles, dit was dierbaar van jou om daaraan te dink.”
Hy glimlag ingenome, en agter die glase van sy bril lyk sy oë onnatuurlik groot.
Rosalie groet Renier terwyl Julius hulle met valkoë dophou. Hy maak geen geheim daarvan dat hy sou verkies dat Renier in Clara belangstel nie. Sy seun mag nie met ’n pennielose vondeling trou nie.
“Ek sal jou Kersgeskenk later vir jou gaan wys,” sê oom Markus aan Rosalie net voordat hulle na die eetkamer toe gaan.
Clara kom sluit by Rosalie aan.
“Renier het vir my dié pragtige silwerarmband gegee.” Sy hou haar arm na Rosalie uit. “Kyk, is dit nie lieflik nie?”
Rosalie sluk.
“Dis pragtig. Dit moes baie duur gewees het.”
Clara glimlag dromerig.
“Ek dink amper dat ek al die huweliksklokkies kan hoor lui.”
Rosalie word ’n antwoord gespaar toe die gaste hulle plekke aan die tafel inneem. Sy sit aan oom Markus se linkerkant met Charles langs haar. Oorkant haar sit tant Hanna en oom Frank. Dan volg Clara en Renier. Julius de Koning en Samuel sit langs Charles. Dis ’n baie formele rangskikking van sitplekke, maar ook slinks gedoen sodat Rosalie niemand naby haar het behalwe Charles en die ouer mense nie.
Charles val weg met ’n bespreking van die geregte, hulle voordele en nadele, totdat almal hartlik sat en verveeld is. Samuel bly sinies glimlag asof hy die hele petalje terdeë geniet. Clara se wange het ’n bekoorlike blos op terwyl sy sag met Renier langs haar praat. Hanna is tevrede en kan die selfvoldane glimlag nie van haar gesig afkry nie.
“My koring sal teen Nuwejaar van die lande af wees,” sê Julius terwyl hy sy bord vol skep. “Renier en ek het self ingeklim en gesny. Twee paar hande maak ’n groot verskil.”
Markus se gesig versomber.
“Nee, hier is daar nie iemand wat bereid is om sy hande uit die moue te steek nie.”
Samuel kyk gesteurd op.
“Is dit op mý bedoel, oom Markus?” vra hy parmantig.
“Dit is, ja. Ek glo nie eens jy weet hoe om ’n sekel vas te hou nie.”
Samuel se gesig verstrak.
“Die werkers het nie respek vir die baas van ’n plaas as hy self soos ’n arbeider moet werk nie. Dis vernederend.”
“Jy is nog nie die baas van die plaas nie, mannetjie,” kap oom Markus terug.
Die atmosfeer is skielik gespanne. Renier volg die gesprek met soveel belangstelling dat hy nie eens hoor wat Clara nog klets nie.
Julius kyk met ’n somber gesig na Samuel.
“Niemand het hom nog ooit hoef te skaam vir ’n dag se harde werk nie. Ledigheid maak ’n man lui. Dis iets wat die eienaar van ’n koringplaas nie kan bekostig nie.”
Samuel sit sy mes en vurk op sy bord neer.
“Ek het nie nodig om te werk nie, en ek sal ook nie werk nie.”
Frank kyk op na sy seun.
“Jy bederf die Kersete, Samuel.”
“Dis nie ek nie! Oom Markus het eerste begin!”
Frank kyk na sy swaer.
“Jy soek altyd skoor met die seun, Markus. Hoekom laat jy hom nie maar met rus nie? Hy hét gelyk. As die toekomstige baas van Leydshoop moet hy darem ’n sekere waardigheid behou.”
Markus ontplof byna.
“Het ék van mý waardigheid verloor deur op die plaas te werk?”
Samuel spring op.
“Ek weier om langer hier te sit en te luister na hoe ek beledig word!” Hy stamp sy stoel agteruit en verlaat die vertrek woedend.
Hanna wil hom volg, maar Markus keer haar.
“Bly waar jy is, Hanna.”
“Jy het sy eer gekrenk!” sê sy woedend. “Jy het hom seergemaak!”
Markus byt op sy tande.
“Die waarheid maak altyd seer. Sit nou. Ek verbied jou om die tafel te verlaat! Hier is ek nog baas en niemand gaan my plek inneem voordat ek dood is nie!”
Rosalie steel ’n kykie na hom. Hy het ’n onwrikbare trots en waardigheid wat niks en niemand ooit sal kan verander nie. Sy wonder dikwels hoe hy werklik voel oor die Wepener-kinders wat Leydshoop eendag sal erf. Oom Frank of Samuel het nie oom Markus se sin vir regverdigheid nie. Hulle het nie sy insig of doelgerigtheid nie, ook nie sy deursettingsvermoë en sy sin vir wat reg of verkeerd is nie. Dit is byna asof hulle totale vreemdelinge hier op Leydshoop is.
Sy kan nie een dag onthou dat oom Frank moeg gewerk die aand by die huis aangekom het nie. Sy kan nie eens onthou van een enkele besluit wat hy ooit gewaag het om te neem nie. Wat sal van Leydshoop word as hy en Samuel eendag die leisels moet oorneem?
Haar blik dwaal na Hanna, en sy kry weer die eienaardige gevoel dat haar tante ongelukkig is. Sy verafgod haar kinders, maar dis byna asof sy en oom Frank by mekaar verbyleef. Hulle praat soos vreemdelinge met mekaar, en tog moes daar ’n tyd gewees het dat hulle mekaar liefgehad het. Somtyds is sy teenoor oom Frank soos teenoor ’n kind, maar sy het nie veel respek vir hom nie. Sy sien nie na hom op soos wat ’n vrou na haar man behoort op te sien nie. Al waaroor hulle saamstem, is dat hulle kinders teen alles en almal beskerm moet word … veral teen oom Markus wat in hulle oë ’n tiran is. Arme oom Markus …
Charles begin weer langs haar te teem oor die een of ander siekte wat hy in ’n boek raak geloop het, maar sy luister net met ’n halwe oor. Oorkant haar het Clara weer haar verhaal hervat, en Renier luister afgetrokke daarna.
Renier