Hy het nooit rekening gehou daarmee dat die huiswerker dalk nie dieselfde begeerte sou hê nie.
Teen dié tyd het hy uit die voorstede ontsnap en is hy op pad na William Nicol, die verstopte vierbaanpad na Sandton. Die verkeer kruip teen ’n slakkepas voort toe hy uit die hoek van sy oog beweging sien in die motor langs syne. ’n Mooi rooikopvrou met ’n groot glimlag waai vir hom. Dit neem hom ’n paar oomblikke om haar te herken as die nuwe PA in die kantoor. Hy kan nie haar naam onthou nie, maar lig sy hand en groet terug. Sy trek ’n gefrustreerde gesig en beduie na die opgehoopte verkeer. Hy rol sy oë en trek sy vinger oor sy keel. Dit laat haar lag en hy lag saam voor hy die woordelose gesprek beëindig deur tot siens te waai en terug te kyk pad toe. Vir die volgende dertig minute is hy egter bewus daarvan dat hulle motors neus aan neus bly terwyl hulle al twee probeer maak of die ander een nie daar is nie.
Chris sit weer sy sonbril op en draai die musiek harder, maar nou is hy te selfbewus om soos gewoonlik kliphard te sing op pad werk toe. Hy kan sweer die vrou kyk ’n paar maal na sy kant toe, maar hy maak asof hy niks agterkom nie.
* * *
Rachel staan en bekyk die oorblyfsels van die Jordaans se ontbyt. Dit is eintlik vandag nie so erg nie. Daar is net ’n paar bakkies en twee bekers. Nadat sy dit in die masjien gepak het, skakel sy die ketel aan om vir haar tee te maak. Sy kyk in die broodblik of Michelle se beloofde croissants daar is. Daar is twee en sy haal hulle uit en sny dit middeldeur. Sy druk hulle in die broodrooster om effens warm te word.
Vir die mikrogolf het sy ’n heilige ontsag nadat die enigste ete wat sy daarin wou warm maak, ontplof het. Chris het verduidelik dit is omdat sy ’n metaalbakkie gebruik het, maar die blote gedagte aan die vonke daardie dag laat haar wegskram van dié gerief.
Hugo kyk vol verwagting op na haar, sodat Rachel die deur na die tuin oopmaak en hom laat uitgaan om haar ontbyt in vrede te geniet. Sy sit ’n teesakkie in ’n beker en gooi kookwater oor. Die croissants spring uit die rooster en sy smeer hulle met botter en konfyt. Toe maak sy haar tuis by die tafel in die ontbythoekie.
In haar daaglikse roetine is dit die oomblik wanneer sy stil word en haar gedagtes bymekaarkry.
Terwyl sy haar eerste slukkie tee neem, kyk sy by die groot glasskuifdeure uit oor die pragtige tuin agter die huis. Die grasperk is perfek gesny en die blombeddings is beplant met laventelbosse in skakerings van pers en silwer. In die middel van die grasperk is ’n langwerpige swembad wat lyk asof daar nie ’n muurtjie aan die verste kant is nie, waar die water in ’n waterval oorstort en onder opgevang en teruggepomp word. ’n “Infinity pool”, het Chris vir haar verduidelik. Die uitsig oor die noorde van die stad is so mooi dat sy dikwels teen skemer, voor die Jordaans huis toe kom, op die trappies by die agterdeur sit en kyk hoe die liggies aankom.
Chris en Michelle gebruik die swembad eintlik slegs wanneer hulle gaste het en die res van die tyd is dit net daar vir die mooi.
Terwyl sy haar tee sit en drink, sien sy hoe Richmond, die Zimbabwiese tuinman, ’n koppie chloor in die kristalblou water gooi. Richmond waai vir haar voor hy weer al sy aandag gee aan die water wat hy so pragtig helder en skoon hou. Sy moedertaal is Ndebele, maar hy kan redelik Engels praat en daarom is dit die taal wat hulle gebruik om met mekaar te praat. Richmond is al langer by die Jordaans as sy. Hy kom Maandae, Donderdae en Saterdae en sy werk is om die gras te sny, die swembad skoon te maak en enige ander take wat nodig is op die werf. Op daardie dae maak Rachel vir hom middagete, maar hulle het nie veel met mekaar te doen nie, en hul gesprekke is selde meer as ’n paar sinne.
Vir ’n paar oomblikke sit Rachel nog en kyk hoe die wit poeier in die water val. Dan maak sy haar oë toe en verbeel haar die soutwater van die diepblou see waar sy grootgeword het. Die water hier is dood en net blou oor al die chemikalieë wat seker mens se oë brand en jou vel uitdroog. En maak nie saak hoeveel chemikalieë Richmond ook al in die swembad gooi nie, die kleur is glad nie soos die blou van haar see nie. Vir Rachel is die swembad ’n simbool van die bestaan wat sy in die Johannesburgse voorstede sien – pragtig en skoon, maar sonder lewe of kleur.
Die afgelope tyd vra Maia haar aanhoudend of sy kan leer swem. Rachel het haar belowe hulle sal ’n plan maak, maar nie voor sy ouer is nie. Sy het vir haar gesê sy moet geduldig wees en wag tot Desember, wanneer die Jordaans gewoonlik weggaan vir vakansie. Hulle het die afgelope somer tuisgebly en Rachel was nogal verlig. Die regte rede waarom sy die swemlesse uitstel, is omdat sy self nie kan swem nie. Op die een of ander manier sal sy moet leer voor sy Maia kan wys hoe. Miskien sal Chris kan help. Al het sy langs die see grootgeword, is swem iets wat die vissermanne en die toeriste doen en sy het as kind geen begeerte gehad om verder as kniediep in die water te gaan nie. Dit lyk asof al die kinders in Maia se kleuterskool al kan swem. Hulle word seker almal groot met ’n swembad in die agterplaas, miskien ’n “infinity pool” soos dié een.
Na nog een slukkie tee staan Rachel op en maak haar gereed vir die dag se take.
Hoofstuk 3
—
Maandag 7 April 2014
Rachel staan in die kombuis met die stuk papier waarop haar lys take neergeskryf is. Die vier weke wat sy weg was, het ’n berg werk veroorsaak wat sy nie vinnig afgehandel sal kry nie en sy maak haar klaar vir ’n moeilike week.
Terwyl sy weg was, het die Jordaans se gewone chaos byna handuit geruk. Die lys is in Michelle se netjiese handskrif, maar toe sy die papier omdraai, is daar ’n gekrabbelde boodskap. Sy herken Chris se handskrif: Welkom terug, Rachel. Ons het ’n afspraak by die dokter, maar op die lys sal jy alles sien wat gedoen moet word. Jou salaris is in die koevert. Chris & Michelle.
Rachel tel die koevert op van die kombuistoonbank en maak dit oop. Die R100-note is in ’n netjiese stapel. Sonder om dit te tel, weet sy dis haar maandelikse loon van R4 500 wat volgens Suid-Afrikaanse standaarde nie sleg is nie, veral omdat die Jordaans haar verblyf en Maia se kleuterskool dek. Hulle was nog altyd vrygewige werkgewers en daarom kon sy haar ouers in Mosambiek onderhou en nog elke maand so R200 of wat spaar, as daar geen noodgevalle was nie.
Maar nou voel hulle vrygewigheid aangetas, asof die geld in haar hand ’n goedkoop uitkoms is.
Uit gewoonte skakel Rachel die ketel aan en terwyl sy wag dat die water kook, begin sy die stapel skottelgoed afspoel en in die skottelgoedwasser pak. Dit lyk asof elke enkele mes, vurk, bord en beker wat die Jordaans besit in die wasbak is, terwyl ’n hoop wegneemkoshouers en pizzabokse langs die vullisblik ’n storie van hul eie vertel.
Sy skakel die eerste lading aan en gooi kookwater in haar beker terwyl sy die broodblik oopmaak om te kyk of daar enigiets te eet is. Met haar roetine wat daarmee heen was, het sy die afgelope tyd nie ontbyt geëet nie en eerder soggens dertig minute langer bly lê. Die broodblik is leeg. Sy gee nie regtig om nie. Saam met haar roetine het sy ook haar eetlus verloor. Wanneer sy wel geëet het, was dit omdat sy geweet het sy moes en nie omdat sy wou nie.
Rachel gaan sit op haar gewone plek in die ontbythoekie en kyk soos altyd oor die tuin uit. Die winter is beslis aan die kom. Die gras is nog groen, maar dis omdat Richmond drie maal per week natspuit eerder as dat die tuin hom teësit teen die seisoen. Binnekort sal bruin en geel skakerings oorneem, kleure wat altyd vir haar so mooi was teen die blou van die Hoëveld se lug in die winter.
Rachel sien nie uit na nog ’n koue seisoen nie. Sy kyk hoe ’n goue blaar loskom van die eikeboom wat hom tot hiertoe gevoed het en afdwarrel na ander blare wat reeds in die swembad dryf. Die swembad was altyd kristalhelder, maar nou is dit ’n effense groen skynsel aan die kry. Sy onthou Chris het op ’n keer vir haar verduidelik dit gebeur altyd na baie reën of wanneer die seisoen draai. Uit die hoek van haar oog sien sy Richmond by die pakkamer uitkom met die blaarvanger.
Rachel stoot haar stoel terug en staan vinnig op. Sy wil nie hul gebruiklike stil gesprek deur die venster hê nie. Nie vandag nie.
* * *
Hulle sit in dokter Pieterse se kantoor. Michelle kyk op haar iPhone hoe laat dit is en toe na Chris in die stoel langs hare. Hy knipoog vir haar en sy glimlag effens. Sy het pas haar eerste skandering gehad